“Ja, Meester. Nag, Meester.”
Sy buk by die tent in, hou vir Daniël die flap oop, staan eenkant en kyk hoe hy die waswater in die kom gooi. “Jy moet aanneem,” sê sy.
“Ek is onseker.”
“Ek nie. Vir my is daar niemand beter as jy nie.”
Hy sit die emmer neer. “Ek weet nie, Anna. Wat kan ek nog vir jou doen?”
“Niks, ek wil net was en slaap. Gaan ons môreoggend na die vroeë biduur?”
“Nes jy wil.”
“Ons los die kinders tot ons terug is, dan maak ons hulle wakker vir die elfuurdiens. Oormôre moet die seuns voor ontbyt by my pa afgelaai word. Tant Georgina verwag my en die meisies teen agtuur. Wil jy afklim en groet?”
“Liewer nie. Die bank maak agtuur oop. Ek kan nie veel later daar aankom nie.”
“Dis reg,” sê sy. “Ek verstaan.”
“Moenie vir my wag nie, slaap solank.”
Hy soen haar op haar mond, sonder hartstog, sonder enige teerheid selfs.
“Nag, Anna.” Hy draai so vinnig om, hy verloor byna sy balans.
“Nag, Daniël,” sê sy meer vir haarself as vir hom.
Sy hou haar kop skeef, luister hoe hy wegstap. Sy voete sleep harder as hy moedeloos is.
•
Die tafel is ver genoeg van die tente dat hulle kan gesels sonder om iemand te steur. Meester Elie is besig om witblits in twee blikbekers af te meet. Daniël sit die lantern eenkant neer, kies ’n bankie en wag vir hom om klaar te skink.
“Meester gooi versigtig,” sê hy gemoedelik.
“Eerste sopie. Wie weet of ons ná dese steeds versigtig sal wees. Of miskien wag Anna vir jou?”
“Sy is te moeg om wakker te bly.”
Meester Elie hou die beker na hom toe uit. “L’chaim.”
“L’chaim.” Daniël neem die eerste sluk, ook versigtig.
Meester Elie sluk te groot. Hy hoes, vee die trane uit sy oë, kry eindelik sy asem terug. “Voel soos die ou dae toe ek en jou pa snags gesit en filosofeer het.”
“My pa het sy mening oor sake.” Daniël moet keer of hy raak ook aan die hoes. “Noem Meester dit filosofeer?”
“Menings lug, filosofeer, wat ook al. Gesels.”
“Ek dag hy sit by jou omdat hy nie kans sien om langs my ma te slaap nie.”
“Dit was ter wille van haar, om háár kans te gee.”
“Het julle haar bespreek?”
“Nie veel van wat ek kan onthou nie.”
“Wat hét julle bespreek?”
“Politiek, kerksake. Duitsland, waar jou pa gaan perde koop het. Rusland, waar ek vandaan kom. Jy was by toe jou pa my lewe gered het. Ek het na hom opgesien, hy was my goeie vriend, my held.”
“Was?”
“Ons werk saam, eet saam, hou huisgodsdiens. Voordag melk ons, ek lui die skoolklok om seweuur. Die dag is vol, tyd is min.” Meester lig sy beker, hou die volgende mondvol ’n paar tellings lank vas voordat hy insluk. “Jou pa het verander. Hy is swartgallig, ongeduldig met die werkers.”
“Hy was altyd streng.”
“Nie só nie. Moet sê, hy is beter vandat hy gehoor het Anna verwag jul eersteling, my nogal tuiekamer toe genooi vir ’n knertsie van sy Transvaalse mampoer. Ons het helaas nie meer veel om met mekaar te deel nie.”
Daniël neem ’n sluk uit sy beker, wag vir die vuur om in sy keel af te loop. “Wat van jou en my ma?”
“Jou ma? Ek en sy het gedeelde belangstellings, boeke om te lees, die kinders se skoolwerk.”
“Haar bed?”
“Ekskuus?”
“Slaap jy by haar?”
Meester Elie vat die witblitsbottel vas asof hy dit in ’n slaanding gaan verander. Hy gooi vir elkeen nog ’n sopie en mors op die tafel, stoot Daniël s’n hardhandig na hom toe oor. “Het jy geen respek nie?”
“Ek is nie meer ’n kind nie. Ek is ’n getroude man en ek is nie blind nie.”
“Jy kyk verkeerd.”
“Help my dan reg.”
“My kamer is agter die skool, jou ma s’n is in die huis op die tweede verdieping. Ek het my bed, sy het haar bed.”
“Het jy nog nooit huis toe gesluip nie?”
“Nee.”
“Selfs nie toe my pa op Ysterberg gekamp het nie?”
“Ek het my lewe aan hom te danke. Ek sal my nie regte aanmatig wat my nie toekom nie.”
“Niks nie, nie een skelm soen nie?”
Meester Elie skreef sy oë. “Hoekom beskuldig jy my?”
“Omdat ek sien hoe jy na haar kyk en sy na jou.”
“Ons is sielsgenote en dis al.” Hy gooi die laaste sluk uit sy beker in sy keel af, knyp sy oë toe en gril. “Ek dag ons praat oor jou verkiesing as diaken.”
“Ek is nog verlief op Adrie Janse.”
“En jy kyk na haar soos ek na jou ma kyk? Met begerige oë?”
Daniël hou asem op, pers sy lippe. Miskien kon hy die gesprek anders aangevoor het, maar dis hoe dit uitgewerk het en hy gaan niemand om verskoning vra nie, nie oor sy vermoede wat hier en nou bevestig is nie.
“Jy het vanaand ook nagmaal gebruik.”
“Is dit hoekom jy by my raad soek?”
“Ek moet Saterdag vir Dominee sê of ek aanneem. Oom Barend is my ouderling, ek gaan meer dikwels met die Janses te doen kry. Ek is bang ek loop my in haar vas. Sy kuier by haar ouers, tant Adriana kan oor niks anders praat as Adrie en haar kinders nie. My kop is verkeerd, ek word mal.”
Die ouer man sug, dit lyk of hy sy waardigheid darem halfpad herwin het. “Wanneer laas,” vra hy, “het jy haar in lewende lywe gesien?”
“Kersfees verlede jaar, van ver af in die kerk.”
“Het jy ná die diens met haar gaan praat?”
“Ek het gemaak dat ek wegkom. Ek wil nie soos my pa wees nie.”
“Dan moet jy hierdie Adrie-vroumens uit jou sisteem uitwerk. Jy sal dit net regkry as jy ophou drome droom. Dink aan dit wat sy jou aangedoen het, hoe sy dit gedoen het.”
“Ek kan haar nie haat nie.”
“Dis nie wat ek voorstel nie. Beheer jou, groet haar en vergeet van haar. Steek die kers op volgende keer wanneer jy en Anna liefde maak.”
Daniël voel bloed na sy kop vloei. “Hoe weet Meester? Ek dag Meester ‘maak nie liefde’ nie.”
“Ek lees boeke wat ek nie vir jou ma aangee nie. Dit daar gelaat.” Hy stoot die witblitsbottel eenkant toe. “Ek is ’n gebore Jood, dis my nasie, maar ek is ’n Christen, nes jy en jou mense. My vader, rus sy siel, het vir ons die voorbeeld gestel, ons kerk toe gevat, die keuse aan Moeder en aan my en my suster oorgelaat.”
“Ek het nie geweet Meester het ’n suster nie?”
“Esther, ja. Oor haar …” Sy stem raak so sag, Daniël hoor skaars. “Oor haar praat ek nie nou nie.”
“Meester se ouers?”
“My ouers