Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede). André le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Юмористические стихи
Год издания: 0
isbn: 9780798176958
Скачать книгу
veel Mum for Men is ook uit, dit laat haar neus krie­wel. Jy kan netsowel TV gaan kyk.

      Maar nie in die slaapkamer nie! Dink vir jouself: Jy sit met die afstandbeheerder in jou hand en sy met niks. Dan verander ’n vrou self van kanaal – een met baie sneeu. Al wat jy hoor, is ’n ontevrede gesuis.

      Jy glip eers ietsie romanties Afrikaans in die CD-­speler – verskeie kunstenaars – en die musiek spoel bo-oor julle albei met strelende vingers, Glenn Miller vir eers vergete. Dan, skielik, blêr dit: “Delarey! Delarey!” Dit kon erger gewees het: “Ou ryperd, ons ryyy die pad tesame…”

      Dis glad nie volhoubare musiek nie en bring haar polsslag af na nul. Daar lui die telefoon ook nog.

      “Dis seker weer jou ma,” sê sy. “Sy bel altyd op on­geleë tye om te hoor hoe dit met haar seun gaan. Kyk sy nog goed na jou, my kind?” Nou voel jy soos Mamma-­se-seuntjie. (Dit kon mos netsowel háár ma gewees het wat bel.)

      ’n Groot passiedoder vir vroue – waarvan min mans weet – is die een waar die man vra of hy maar kan nader skuif, nog nader, nog nader… daar’s hy! Jy sou dink dis goeie maniere om darem eers te vra – onthou net, om te vra is nie voorspel nie – maar vir haar is dit onromanties. En “Hoezit?” of “Hoelykkit?” is bloot onsensitief.

      Want as jy moet vra, beteken dit jy is nie “in voeling” met haar of haar vroulikheid nie.

      Daarom help sy jou reg met: “Moenie vra nie, voel net!”

      Moderne agterryer

      Ongelukkig is daar nie ’n behoorlike Afrikaanse woord vir back-seat driver nie. In haar geval is dit iets soos ’n moderne agterryer, wat voor sit.

      “Ry!” sê sy. “Daai ou moet stop.”

      Dis immers soos vroue in motors redeneer. Die vraag: Maar gáán daardie ou stop? kom nooit by hulle op nie.

      “Dan is dit tog duidelik sy skuld as hy in ons vasry,” is haar verweer. Die antwoord: Ja, dan is dit sy skuld as ons met gipsbene in die lug lê, kom ook nooit by hulle op nie.

      “Pasop daai vragmotor!” Die ding is so groot soos… wel… ’n vragmotor, jy kan hom nie miskyk nie, dan sê sy: “O, ek’t gedink dalk sien jy hom nie.”

      Jy’t hom gesien soos jy parkeerplek in die stad sien. Drie oop plekke, dan sê sy vat die agterste een dan kan jy makliker weer uitkom. In ’n mall ondergronds sê sy vat die een naaste aan die ingang, dis tog logies. Met ’n vrou in die motor kan ’n man nie eens sy eie parkeerplek kies nie.

      “Nee, man, so kan g’n mens sukkel nie, gaan hierdie ou verby, hy ry te stadig.” (Vragmotor van voor!)

      Een of ander tyd sal jy vra: “Wie bestuur, ek of jy?” Sy gee jou nie eens ’n antwoord nie. “Sal ek stilhou, dan bestuur jy?”

      Jy gee nie om dat sy bestuur nie, maar dit lei tot sy eie onsekerhede en senuwees. Want sy kyk soms links terwyl sy regs draai. Wie se skuld sal dit dan wees? wonder jy. Maar sy herinner jou daaraan dat sy laas in Februarie 2000 ’n ongeluk gemaak het toe sy (per ongeluk) in ’n paal ­– en ’n ander ou se 4x4 – vas-gereverse het.

      Sy bestuur asof elke ander motoris in haar pad is, en hulle is gewoonlik. Eenkeer het selfs ’n minibus-taxi gestop dat sy eers kon verbykom.

      Nes vir minibus-taxi’s beteken ’n oranje verkeerslig vir haar daar’s nog oorgenoeg tyd om gou oor te ry – as jy net vet gee. As iemand vir haar toet, sê sy die mense ry onbeskof.

      “Ek onthou spesifiek ek het oor die oranje lig gery, maar toe slaan dit gouer oor na rooi as wat ek gedink het. Toe stop ek, want ek wou terugry tot agter die wit streep, maar toe begin karre uit alle rigtings vir my toet (onbeskof).”

      Streng gesproke was die verkeerskaartjie dus nie haar skuld nie.

      As dit jy is wat bestuur, sal sy sê: “Toe, die lig is groen, moenie sit en slaap nie.” Jy’t nie gesit en slaap nie, ’n swaar vrou was nog besig om – teen die rooi mannetjie in – oor die pad te stoei. Jy moes dus kies tussen geduldig wag of die swaar vrou omry, toe wag jy maar (gedagtig aan die potensiële skade aan die motor).

      Spoedkaartjies, nes rooi ligte, kan sy ook verduidelik. Sy ry nog 120 soos die bordjie sê, toe staan daar ’n ander bordjie wat sê 100 en toe sy weer sien, het hulle ’n bordjie geplant wat sowaar sê 80. Die een wat sê 60 kyk sy toe heeltemal mis.

      “Hoe kan ’n mens binne die spoedbeperking bly as hulle heeltyd die bordjies verander?” Sy reken hulle doen dit aspris om spoedgetroue padgebruikers soos sy uit te vang, dit wys jou spietkops is skelm. Oor ’n bos is hulle net so erg soos ’n hond wat sy been wil lig.

      Dan is sy die een wat jou elke tweede kilometer maan terwyl sy die spoedmeter probeer raaksien: “Ry jy nie te vinnig nie? Onthou, op dié stuk pad vang hulle, hier’s baie bosse.”

      Julle nader ’n verkeersirkel, jy slek af.

      “Ry!” sê sy. “Daai kar is nog ver.”

      Jy sien duidelik hoe ’n vrou in daardie motor vir haar man sê: “Ry! Daai ou moet stop.”

      Toe stop jy liewer.

      Die telkaart in haar kop

      Dis nie iets wat ’n man maklik verstaan nie, maar ’n vrou hou telling in haar kop. Van wat die man doen, of nie doen nie.

      Dít verstaan jy. Wat jy nie verstaan nie, is hóé ’n vrou punte toeken.

      Want enigiets wat ’n man doen, tel een punt. Net een punt. Enigiets wat jy nié doen nie, tel ook net een punt: minus een. Plus of minus. Nul of volpunte. Slaag of druip. Positief of negatief. Als een punt.

      ’n Man kan nie score nie…

      Enigiets gratis tel ’n punt. Dus enigiets wat jy vir haar gekoop het en present gee sonder dat sy die geld hoef terug te gee. Een punt.

      Bemarkers verstaan dit. ’n Gratis sepie of handeroom-­sampletjie saam met ’n tydskrif of by ’n advertensie binne-­in tel ’n punt. ’n Vrou sal ’n hoop geld uitgee om iets verniet te kry, al is die waarde van die geskenk net ’n rand of twee. Sy sal R20 se petrol uitry om R10 te bespaar.

      Net so werk die buy one, get one free-faktor.

      Jy verstaan dit ook nie.

      Jy dink hoe duurder die geskenk, hoe meer punte. Maar ’n vrou heg nie monetêre waarde aan die punte wat sy toe­ken nie. ’n Duur string pêrels behoort baie punte te tel (dink jy), terwyl sy jou vir al daardie moeite en geld net mooi nul gee: Jy’t nou nog nie agtergekom sy hou niks van pêrels nie! ’n Gesteelde roos uit iemand se tuin sou meer punte getel het.

      Hulle sê almal wil iets verniet hê. Alle vroue, ja, nie alle mans nie.

      Mans laat hulle nie heeltemal so maklik flous nie. Koop vier nuwe motorbande en kry ’n GPS gratis. Hy sal net daar­voor val as hy werklik vier nuwe motorbande nodig het.

      Vir ’n vrou is die gratis-faktor belangriker as die waarde-­faktor. Dis wat dit so onverstaanbaar maak vir ’n man: Groot of klein, duur of goedkoop, solank dit verniet is. As jy vir haar ’n motor koop, tel dit ewe veel punte as sjokolade of blomme.

      Net een punt!

      “Ek koop vir jou ’n kar, en net ’n dag later kla jy omdat ek per ongeluk jou beste blompot gebreek het. Jy’s blêrrie ondankbaar!” (Jy wou die blomme self rangskik, toe werk dit nie. Toe trek sy onmiddellik een punt af vir die gebreekte blompot en die blomme tel niks.)

      Nee, sy’s nie ondankbaar nie, en vir lank gaan sy nog die motor waardeer. Maar die negatiewe (blompot) het die positiewe (motor) eenvoudig uitgewis op die telkaart. Dis ’n chronologiese ding: Die pluspunt word uitgewis deur die minus, en die huidige minus sal uitgewis word deur die volgende plus, maak nie saak wat die waarde is nie.

      As jy dink dit sal help as jy net stilsit en niks doen nie, gaan dit jou