Die mense sal dink julle praat vingertaal met stiltes tussenin.
As jy vir iemand ’n storie vertel wat sy ook ken, val sy jou in die rede deur jou sinne te voltooi. Jy vertel nie die storie met genoeg smaak nie en jy los belangrike detail uit (al het dit niks met die punt van die storie te doen nie).
“Wie vertel die storie, ek of jy?” vra jy vasberade.
“Oukei, gaan aan. Ek sal jou nie weer in die rede val nie.” ’n Nuwejaarsvoorneme wat verdwyn soos mis voor die Februarie-son. Want twee sinne verder sê sy jy moet bysê die verkeerskonstabel was vet. (Detail, onthou?) Wat niks te doen gehad het met die feit dat sy te vinnig gery het, of dat sy…
“Dis belangrik dat hy vet was!”
. . . oor die arme man se voet ge-reverse het nie. Sy’t ’n paar knope van sy uniform saamgevat.
“Dis buitendien my storie… Dit sou nie so snaaks gewees het as hy nie vét was nie! Jy moes sy gesig gesien het toe ek eers met die agterwiel oor sy voet ry en toe sowaar met die voorwiel ook. Oor sy ánder voet! So kadoef-kadoef.”
Jy steek een vinger op.
“Wat nou?” vra sy.
“Kon jy nie kyk waar jy ry nie?”
“Kon hy nie kyk waar hy stáán nie?”
* * *
Jy kry ’n SMS: 2% melk.
Dis maklik. Jy moet melk koop op pad huis toe.
Jy tik terug: Sal nie… toe’s daar nóg ’n SMS: Dis die bottel met die BLOU label. En tjoklits.
Sy’t jou sowaar in die rede geval per SMS!
Byna dadelik lui jou foon.
“Wat bedoel jy met Sal nie… as ek jou vra om melk te gaan koop?”
Jy verduidelik jy wou nog sê: Sal nie ’n probleem wees nie, toe val sy jou in die rede en toe stuur jy die halwe SMS per ongeluk. (Hoekom het sy nie in die eerste plek gebel nie? Dan was dit nie nou nodig om…)
Sy val jou ná ’n kort stilte saaklik in die rede met: “Onthou die tjoklits.”
Jy onthou dit, maar by die huis steek jy vyf vingers in die lug en sê dis g’n wonder mans en vroue verstaan mekaar nie (een vinger), want mans kry nooit die kans om iets te sê sonder om in die rede geval te word nie (twee vingers) en kenners sê dis belangrik om reg te kommunikeer (drie vingers), elke ou moet kan sê hoe hy voel (vier vingers) en… (vyf vingers).
Dis die meeste sinne wat jy in ’n lang tyd kort ná mekaar kon sê, toe val sy jou sowaar weer in die rede. Dié keer sonder om ’n woord te sê!
Want toe jy omdraai, staan sy daar teen die kosyn gedrapeer met net die sjokolade in haar hand – en Chanel No. 5.
Die lipstiek-faktor
Resessies en gerugte van resessies. En wat doen vroue?
Hulle koop lipstiffie.
Dit word die lipstiek-faktor, -aanwyser of -indeks genoem. As jy dus wil weet in watter finansiële toestand die wêreld is, kyk net hoeveel lipstiffie vroue koop. Leonard Lauder, voorsitter van Estée Lauder, het die afleiding gemaak toe dinge donker was ná 9/11 en hy gesien het hoe lipstiffie-verkope styg.
Niks wat ’n vrou so maklik opbeur in slegte ekonomiese tye as ’n bietjie kleur op die lippe nie. Moet ’n vrou en haar lipstiffie dus nooit onderskat nie.
“Sowaar!” sê sy en gaan koop nog lipstiffie. Daar’s g’n keer aan ’n vrou met rooi lippe nie.
Die redenasie is: Lipstiffie – of lipglans – is ’n klein vergrypie vergeleke met ’n nuwe handsak of skoene om jou gemoed te lig. Altyd ’n winskopie, dit voel nie eens of jy geld uitgee nie. Dis baie goedkoper as petrol: As jy dus by die huis moet sit omdat jy nie geld vir petrol het nie, doen dit met rooi lippe. Jy sal met plesier by die huis sit, jy en jou lipstiffie.
Dis so lekker kompak en lig, jy kan dit oral met jou saamdra om jou lippe op te top, enige tyd, enige plek (baie vroue doen dit in die motor op pad werk toe). Dis ’n noodsaaklike bykomstigheid as jy byvoorbeeld toilet toe gaan, by die fliek of by die huis. Dit pas in enige (ou) handsak, groot of klein. En as jy al ’n paar bewoë lyntjies om jou mond het, laat lipstiffie jou jonger lyk, want jou lippe blink soos dou. Boonop bevogtig dit en voel lekker op die tong.
Om te dink Cleopatra het haar lipstiffie laat maak van fyngekapte kewers en miere. Ga!
Gelukkig smaak vandag se lipstiffies glad nie na kewers of miere nie, eerder na vye en vanielje. Elkeen het ewe sy eie unieke nommer met ’n klinkende naam soos Hot Mango, Lavish Burgundy, Animal Instinct, Raspberry Rush, Cool Watermelon, Juicy Nude Glow en Va Va Voom.
Alles baie soenbaar, klink dit vir jou, ’n paar selfs eetbaar. (Dis net sleg as jou vet antie van Kuruman jou soen met haar rosyntjiemondjie – die kleur is Rich Raisin – en jý sit met die goed op jou wang of agter jou oor as jy jou kop subtiel probeer wegdraai. Op dié manier spoeg sy altyd in jou oor as sy jou groet – omdat Kuruman so ver is en sy so bly is om jou te sien.)
En mans? Wat doen mans in slegte ekonomiese tye?
Hulle worrie – en gaan koop dan allerhande elektroniese goetertjies, gadgets, as die petrolprys ’n slag weer daal.
Dan kry sy “net gou” haar lipstiek as julle uitgaan. Sy verwys altyd daarna as “my” lipstiek: “Wag, ek kry net gou mý lipstiek.” Sy’t ’n verhouding met haar lipstiffie, ’n baie beter verhouding as met jou, voel dit soms. (Trouens, partykeer dink jy sy sal sowaar sonder jou kan klaarkom, net nie sonder haar lipstiffie nie.)
Hoeveel keer ’n dag vra ’n vrou: “Het ek nog lipstiek aan?” Dis nie ’n vraag nie, dis ’n noodkreet.
Lipstiffie is amper soos mooi onderklere. ’n Vrou sal haarself bederf met mooi onderklere al weet sy niemand in die wêreld gaan dit sien nie, dis immers onderklere, net die bandjies steek soms uit. Hoekom dink jy koop ’n vrou G-strings? Dis omdat sy haar rieme dun sny.
Want met mooi onderklere – en lipstiffie – loop ’n vrou op wolke, trap sy hoër as die inflasiekoers, volg sy haar hart en haar beste bra met vasberadenheid.
Dis seker die onderklere-faktor, dink jy.
En jy’t nogal gedink dis spesiaal uitgekies vir jou eksklusiewe aandag en waardering, maar sy’t die lig afgesit om elektrisiteit te bespaar. Nou lê jy daar in die donker en wonder of sy die badkamer se lig ook gaan afsit.
“Moet ek nou alleen hier in die donker lê en worrie?” vra jy.
“Ek’s nou da-h-aar,” koer sy. “Ek sit net gou my lipstiek aan.”
’n Man van agter
Vir vroue lyk mans glo sexy van agter. Hulle kyk sodra ’n man sy rug draai, en erken dit selfs.
“In stywe jeans, dit doen net iets aan ’n vrou,” beaam sy terwyl ’n tinteling deur haar gaan. Jy oorweeg dit om om te draai, maar dan wonder jy: Is dit toevallig dat ’n man se beursie gewoonlik in sy agtersak sit?
“Veral met ’n voorskoot aan terwyl hy die skottelgoed was,” skimp sy.
Dis waaroor dit gaan. Huiswerk.
Onlangse navorsing in Brittanje het gewys 59% van mans word met ’n groot doofheid geslaan sodra hulle gevra word om in die huis te help, hulle hoor niks. En blykbaar, wanneer ’n vrou trou, kry sy ’n ekstra 7 uur se huiswerk per week by – natuurlik veroorsaak deur die man (seker los klere op die vloer en so). Die man, daarenteen, het op sy beurt 1 uur per week minder huiswerk.
Maar dis nie asof jy nie probeer nie…
Dan sê sy: “Dis nie soos ’n mens ’n bed opmaak nie. ’n Mens trek nie net die duvet reg nie.” (As die duvet reggetrek