Vir die Kompanjie was hierdie verlies telkens beduidend, op die uitreis omdat die skepe dikwels groot bedrae goud en kontantgeld na die Ooste geneem het: so het die Vergulde Draak byvoorbeeld naby die kus van Australië vergaan met ’n lading ter waarde van 185 000 gulden. Op die retoerreis weer moes die waarde van die kosbare goedere waarin die Kompanjie op sulke groot skaal handel gedryf het in rekening gebring word. Toe die Arnhem en drie ander skepe saam in ’n storm in die Indiese Oseaan ondergaan, het die inkoopwaarde van die handelsware aan boord byna 2 miljoen gulden verteenwoordig, sonder om rekening te hou met die aansienlike wins wat tydens die jaarlikse veilings in Nederland verwag kon word.
Soms het die voltallige bemanning saam met hul skip ondergegaan, soos die Prinses Maria met 250 man, die Liefde met 300 of die Hollandia met al 276 opvarendes; dog mans kon makliker vervang word as goedere, of selfs skepe.
Wanneer mens uit die betreklike veiligheid en gerief van ’n later tyd die matroselewe in die era van seilskepe betrag, voel jy dat slegs besonder sterk nood of avontuurlus ’n man tot ’n bestaan sou kan drywe soos dié van ’n seeman uit Texel in ’n beroepskets wat in die resolusies van die Here XVII bewaar gebly het.
Dit gaan om ene Lourens Teunissen of Laurens Teunis—want selfs in name bestaan daar geen sekerheid nie,
wat op 29 Desember van verlede jaar met die skip Brandenburg as loods uit Tessel vertrek het na die Kaap en van daar met Langwijk weer teruggekom het, en ’n verhaal gedoen het eerstens van oorgroot ongemakke en gevare, en voorts siektes en sterftes wat hulle op die uitreis besonderlik ten noorde van Skotland gehad en uitgestaan het.92
‘Wat leyd een Zeeman al verdriet’, het ’n agttiende-eeuse seemansliedjie dit bondiger gestel, alhoewel die verdriet in hierdie spesifieke geval tot liefdesavonture beperk was.
Een van die mees onmiddellike gevare wat die seeman bedreig het, was meestal natuurlik dat sy skip sou ondergaan, deur storm of strukturele skade, maar in elk geval alléén op die oop see buite bereik van hulp, en daar bestaan talle variasies op verhale van dramatiese skipbreuk, tragiese ondergang en wonderbaarlike ontkoming.
’n Goeie voorbeeld van die verlies van ’n skip is die Vlissingen, ’n kleiner vaartuig van die Kamer Zeeland, wat in 1747 saam met sy bemanning van 227 op die uitreis verdwyn het en nooit die Kaap bereik het nie. In die Atlantiese Oseaan was dit moeilik om te weet waar om te begin soek, en daar was ook geen nabygeleë kus waar oorlewendes ’n heenkome kon vind nie, sodat die Vlissingen waarskynlik taamlik gou afgeskryf is en vergete.
Hierdie duistere verdwynings word vandag dikwels aan fratsgolwe toegeskryf, wat veral in die Indiese Oseaan voorkom, maar in die geval van die Vlissingen noem die maritieme argeoloog Bruno Werz ook die swak fisieke toestand van die skip, en die feit dat daar juis op hierdie tydstip ’n hoë siekte- en sterftesyfer op die skepe van die VOC was, wat ewe goed tot ’n ramp sou kon gelei het. Vir baie jare reeds word agttiende-eeuse Nederlandse munte verspreid aangetref op die strand by Meobbaai tussen Lüderitz en Walvisbaai aan die Namibiese kus, asook meer onlangs ’n groot fragment van ’n koperkoksketel. Dit lyk dus moontlik dat die oorblyfsels van die Vlissingen hier in die nabyheid gevind sal kan word.
Interessant genoeg is dit ’n gebied waar daar volgens Werz ook ‘extensive middens’ as herinnering aan ’n ou, voorkoloniale kultuur voorkom, ‘containing potshards, bone, ostrich egg material and stone tools’.93 Nogmaals: niks is toeval nie.
Onder die verdere gevare waarmee die seeman van die sewentiende en agttiende eeu as normale deel van sy werk te make gekry het, was veral aanvalle deur kapers en seerowers, wat generasies lank ’n werklike en wesenlike bedreiging uitgemaak het vir alle skepe op pad na of van die Kaap en Batavia.
Kaperskepe is in oorlogstyd deur privaat persone uitgerus om jag op die vyand te maak en ‘pryse op te bring’, soos die gebruiklike formulier gelui het, synde buit in die vorm van koopvaardyskepe, met ander woorde om die vyand soveel moontlik skade te berokken en self materiële voordeel uit die transaksie te behaal. So is die Wes-Indiese Kompanjie, teenhanger van die VOC, vernaamlik gestig vir aanslae op Spaanse skepe in die Karibiese gebied.
Wat kaapvaart van blote seeroof onderskei het, was dat dit deur die owerheid van die betrokke staat gemagtig moes word en volgens bepaalde reëls geskied het.
In gevalle waar een van die groot seevarende nasies die mikpunt was, soos Nederland, Engeland of Frankryk, kon kaapvaart skouspelagtige resultate oplewer. In die vroeë sewentiende eeu het die besonder ywerige Duinkerkse kapers gemiddeld 229 skepe per jaar buitgemaak, ongeveer die helfte daarvan uit die Nederlandse Republiek, terwyl die bekende of berugte Jean Bart van Duinkerken eiehandig 81 Nederlandse handelskepe verower het, en Franse kapers in die enkele oorlogsjaar 1789 vir 4200 vreemde skepe verantwoordelik was. Aan die ander kant het ’n Nederlandse skeepskaptein uit Hoorn oor die jare 1665–67 nie minder as 32 skepe gekaap nie, en die Zeeuwe was veral aktief in die kaapvaart, wat vir Zeeland in tye van oorlog ’n belangrike bron van inkomste uitgemaak het.
Kaapvaart was klaarblyklik ’n doelgerigte proses waarby daar geweld gebruik is en sterftes voorgekom het, maar weens die element van avontuurlus en persoonlike winsbejag wat daarby betrokke was, en die tipe man wat waarskynlik daardeur aangetrek is, het ’n lughartige beeld daarvan ontstaan wat voortleef in saamsingliedjies oor die onderwerp. Teen die einde van die agttiende eeu het selfs die digtende predikantsweduwee Elizabeth Wolff-Deken haar vry gevoel om by hierdie gees aan te sluit:
Matroozen, komt, naar boort, gaan terstond uit kaapen:
Daar slaat de Trom! Voort, voort …94
Terwyl kaapvaart ’n verskynsel van oorlogstyd was en kapers amptelike status geniet het, was die nóú verwante verskynsel van seeroof ’n saak van eie inisiatief en persoonlike winsbejag. Seerowers kon dus oral en ten alle tye raakgeloop word, en het ’n groter gevaar as kapers uitgemaak, aangesien hulle deur geen reëls of voorskrifte gebonde was en aan geen gesag onderhewig nie.
Waar die werksaamhede van die seerowers aanvanklik in die Karibiese gebied gekonsentreer was, het hulle teen die einde van die sewentiende eeu na die gebied oos van Kaap die Goeie Hoop begin uitbrei: soos die argivaris Michal Wanner opmerk, ‘Piracy had become [a] global phenomenon for the first time.’95 Nie net het seerowers nou die skeepvaart en handel van álle nasies bedreig nie, maar verskeie Europese moondhede het hulle ook probeer gebruik om vir hulself toegang te verkry tot handel in die Ooste wat deur die Nederlanders, Franse en Engelse oorheers is.
Aan die Kaap het die owerheid hoofsaaklik te make gekry met die seerowers wat hul basis in die Comore of die noordooste van Madagaskar gehad het, van waar hulle Moslemskepe met pelgrims op pad na Mekka in die Indiese Oseaan aangeval en beroof het. Op een tydstip was ten minste 14 rowerskepe na bewering hier aktief, die kleinste daarvan met 30 kanonne bewapen. Ook die werksaamhede van die Engelse Oos-Indiese Maatskappy is hierdeur bedreig, en in 1696 het die Britse Parlement reeds aandag aan hierdie ‘pirates, free-booters and sea-rovers’ begin skenk.
Die welslae wat Britse skepe op hierdie gebied behaal het, was slegs gedeeltelik, en in 1722 het 3 van hierdie seerowerskepe, met ’n totaal van 900 man aan boord en meer as 100 kanonne, nog die VOC se buitepos by Delagoabaai oorrompel, wat ’n bemanning van 76 met slegs 10 kanonne gehad het. Die Nederlanders het geen kans gestaan teen die oorvallers nie, wat meer as twee maande lank daar oorgelê het terwyl hulle hul skepe herstel, die pos geplunder en die palissade van die fort vir brandhout opgebreek het, en weg is met 18 lede van die Nederlandse bemanning wat vrywillig by hulle aangesluit het.
Ten alle tye het daar dus wesenlike gevaar bestaan dat ’n skip wat alleen uitseil of van sy metgeselle afgeskei geraak het, die prooi sou word van seerowers, en vir skepe van die VOC het dit spesifiek gegeld vir Moslemrowers met ’n basis langs die Barbaryse kus van Noord-Afrika, wat vir die skepe van Christennasies ’n besondere gevaar was.
Vir die inwoners van Algerië en Tripoli was seeroof hul vernaamste bron van inkomste, sodat hulle oor ’n wye gebied rooftogte geloods het, en aangesien hulle die beskerming van die Turkse sultan geniet het, het hulle as Turke bekendgestaan. In eietydse seemansgebede kom daar gereeld verwysings van die tipe ‘Zee-roovers, Vrybuyters, Turcken, Wilden of andere vyanden’ voor.
Uitseilende