Hans steek die Rubicon oor. Rudie van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rudie van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Юмористические стихи
Год издания: 0
isbn: 9780795801488
Скачать книгу
skerp fluitgeluide deur sy neus.

      Hans trek die deur toe. Die daggakoekies het vir Vasie en Baby omtrént uitgeskop. Maar dit was so ’n lekker paartie, hulle moet sommer gou weer so maak.

      9

      Toe Hans uit die badkamer kom, is Boerbok en Baby vort uit sy kamer. Hy loer eers in die hangkas en is verlig om die blik koekies nog daar te sien.

      Hy gaan sit op die bed en begin sy hare met die handdoek droogvryf. Dit was goed gewees om saam met ’n klomp mans van sy jare in die storte te wees. Hy voel nie meer sy lyf het so erg agteruitgegaan dat hy daaraan as ’n murasie hoef te dink nie.

      Die ander het ook almal speekbeentjies. En party se mae hang so laag af dat geslagsuitkenning onmoontlik is. Eintlik lyk hy nog goed vir sy ouderdom, gegewe dat hy seker die oudste van die lot is.

      Hy trek sy broek sukkel-sukkel aan, druk sy voete in die slip-ons. As hy klaar ontbyt geëet het, sal hy die eiendoms­agent in die hande moet kry. Die heidense herrie wat Van Dussen vroegoggend in sy kamer opgeskop het, het maar net weer bevestig hy is nie ouetehuismateriaal nie.

      Die selfoon op sy bedkassie lui. Hy gryp dit en soek naarstig na die groen knoppie. Hy hou die ding onderstebo vas en draai dit reg, vee met sy vinger liggies oor die groen knoppie soos Ben hom laat oefen het.

      “Dis Carla hier, Pa.”

      “Is jy nie op die vliegtuig nie?” Haar ysige stem voorspel niks goeds nie.

      “Ek staan oor in Johannesburg. My vlug is vertraag.”

      “Jy wil seker weet hoe dit met my gaan? Baie lekker aand en ’n goeie nagrus gehad, dankie.”

      “Hou op snert praat, Pa! Matrone Van Dussen het my nou net gebel. Ek het eintlik nie woorde nie. Wát het in Pa gevaar? Dis mos onmoontlik vir ’n man van negentig om nóú eers sy midlife crisis te beleef.”

      “Niks is onmoontlik nie.”

      “Stop Pa se slimpraatjies! Matrone sê daar was vanoggend ’n vrou in Pa se bed. Is dit waar?”

      “Ja, Baby het hier oornag.”

      “Baby! Gee my krag!”

      “Sy’t gisteraand in my kamer uitgepaas. Toe het ek en Vasie haar op die bed getel en …”

      “Spaar my die detail. Volgens Matrone kan die storie in die hof gaan draai.”

      “Sy kan prosedeer soos sy wil. Hier het niks onwelvoegliks gebeur nie.”

      “Is dit op Pa se erewoord?”

      “Op my erewoord.”

      “Dank die Vader!”

      “Jy kan ontspan.”

      “Wat van … van die … Viagra? Het Pa regtig sulke goed?”

      “Ja, dit staan hier oop en bloot in my kamer. Of eerder, dit hét hier gestaan, maar Esmerasmus het dit gekonfiskeer as bewysstuk nommer een.”

      “Wat op dees aarde doen Pa met sulke goed?”

      “Ek drink elke oggend ’n pil.”

      “Vir wat? Of nee, moet eerder nie verduidelik nie, ek verkies om nie te weet nie. Matrone sê sy vermoed daar was ook sterk drank betrokke.”

      “Nie ’n druppeltjie kromhoutsap in my kamer nie.”

      “Praat tog verstaanbare Afrikaans, Pa! Watse kromhout­sap?”

      “Jy bly al te lank oorsee. Die anderstalige invloede doen jou nie goed nie.”

      “Nee, dis Pa wat ’n argaïese Afrikaans praat wat niemand onder sewentig sal verstaan nie. Moet ek aanneem kromhout­sap is sterk drank?”

      “Ja. Nie ’n druppel oor ons lippe gehad nie.”

      “Op Pa se erewoord?”

      “Op my erewoord.”

      “Dis ’n verligting,” sug Carla. “Het Pa al hierdie goed vir Matrone gesê?”

      “Sy’t my nie ’n kans gegun nie. My hier op my donderment kom gee sonder dat ek myself kon verdedig.”

      “Donderment! Sy’t tog seker nie handgemeen geraak nie?”

      “Nee, my net bek gegee, terwyl ek myne moes hou.”

      “Ai, Pa het daar op die verkeerde voet begin. Gaan vra nou mooi om verskoning en verduidelik presies wat gebeur het.”

      “Ek sal dit by my voorverhoor doen. Verduidelik, ja, maar ek bied nie verskonings aan nie.”

      “Pa is ’n ou korrelkop.”

      “Sy sê ook so.”

      “Ek moet gaan, hulle roep die mense vir die Vancouver-­vlug. Maar asseblief, gedra Pa net. Ek bel sodra ek daar anderkant land.”

      Hy skud sy kop toe sy die verbinding verbreek. Dat Van Dussen nou sy dogter ook op hol moes jaag met haar loskruitskietery.

      In die hangkas kry hy ’n skoon hemp wat darem nie te warm is nie en trek dit aan. Hy kyk na die bultende wasgoedsak agter die deur. Sy somerklere moet nou dringend gewas word.

      Die deur gaan oop en daar staan Vasie, koerant in die hand. Sy oë is vanoggend weer oral, sien Hans. Die koekie het nie ’n blywende effek gehad nie.

      “En toe, Hans? Ek hoor die diktator het jou vanoggend kom invlieg!”

      Hans knik en vertel hom alles.

      “So ’n ou knormoer!” sê Vasie. “Moenie worry nie, ons het niks om voor te bewe nie. Sê ek vir myselwers sy sal tog nie van die daggakoekies uitvind nie. En Baby sal nie praat nie, dit beloof ek jou.”

      Hy hou die koerant op. “Maar ek het eintlik hierdie vir jou kom wys. Wonder bo wonder word ek darem nog toegelaat om dit soggens afgelewer te kry.”

      Hy blaai die koerant oop op bladsy drie, tik met sy vinger op ’n gesigfoto van ’n man. “Herken jy dié ou?”

      Hans bespied die foto. “Lyk dan nou so al na gister se doeanebeampte.”

      “Einste hy! Lees net daar.”

      Hans neem die koerant en lees. Daar word berig ’n doeanebeampte het gistermiddag amok gemaak op die lughawe toe hy ná sy koffiepouse baie vreemd begin optree het. Hy het goed uit passasiers se tasse gegooi en vroueonderklere oor sy kop getrek. Tydens ondervraging het hy beweer hy is die oggend ’n Suidwes-koekie aangebied deur ’n bejaarde passasier. Hy het dit saam met sy koffie geëet en is toe daardeur bedwelm, sodat hy nie aanspreeklik gehou kan word vir sy dade nie. Die man is tydelik geskors, hangende ’n ondersoek.

      “Die arme kêrel,” sê Hans. “Ek sal die lughawe moet bel en skuldig pleit.”

      “Is jy nou laf? Hulle sal jou opsluit.”

      Hans peins ’n rukkie daaroor. Vasie is reg. Hy kan dalk net van Huis Kgosi Mampuru oorgeplaas word na Kgosi Mampuru-gevangenis. Dán sal Carla rede hê om haar speelgoed rond te slinger.

      “Is seker so,” gee hy toe.

      “Sê ek vir myselwers die ou sal niks oorkom nie. Hy’t maar net jou koekie geëet en toe bietjie laf geraak.” Vasie lag. “Nes ons gisteraand gedoen het.”

      Hy klap Hans op die skouer. “Kom ons gaan eet ontbyt sodat ons die klein diktator op vol mae kan trotseer.”

      Hy vryf sy hande teen mekaar. “Ek kan amper nie wag daarvoor nie!”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, Скачать книгу