Hans steek die Rubicon oor. Rudie van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rudie van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Юмористические стихи
Год издания: 0
isbn: 9780795801488
Скачать книгу
staar verstom na hulle. Die mense laat hom baie aan Etosha se aasvoëls dink. Nie een gun die ander ’n krummeltjie nie.

      Hy leun vorentoe, trek die teepot nader en skink sy koppie vol. “Kasaterwater,” mompel hy ná die eerste sluk en stoot die koppie vies weg.

      Sy oë skeer oor die vertrek. Hier en daar is ’n geselliger tafel as die gevrekte een waarby hy sit. ’n Vrou lag hie-hie-hie vir een van die mans se grappies.

      ’n Man by ’n naburige tafel wink en beduie daar is ’n oop stoel langs hom, maar Hans is nie doodseker hy wink vir hóm nie. Die man is erg skeel. Een oog in die pot en die ander een in die skoorsteen, soos Hans se ma altyd gesê het van die tannie wat desjare ’n sopkombuis op die dorp gehad het.

      Hy kyk om, maar daar is ’n muur agter hom. Die man wink beslis vir hóm. Hy staan op en gaan sit langs die kêrel.

      “Vasie Knoetze,” sê dié en steek sy hand uit om te groet. “Die Vasie word met ’n ‘v’ gespel. Het in my kleintyd ses van my ma se Oosterse vase gebreek, vandaar die bynaam.”

      Hy beduie na die tafel waar Hans gesit het. “Sê ek vir myselwers dat jy darem nie op jou eerste dag hier by Madies in dáái dal van doodskaduwee kan verkeer nie.”

      Hans glimlag. Hy hou dadelik van Vasie.

      7

      Vasie bly net ’n paar kamers van Hans af. Hy stel ná ete voor hulle drink koffie in Hans se kamer, want syne is ’n bietjie te deurmekaar vir besoekers.

      Hy loop na sy kamer en kom minute later terug met twee stomende koppies koffie. “Ek het ’n ketel in my kamer, maar bly maar stil daaroor,” fluister hy toe hy een koppie aan Hans oorhandig. “Dis teen die reëls.”

      Hans beduie na die sitplek langs hom op die bed. “Hier’s te veel reëls,” sê hy en neem versigtig ’n slukkie.

      Vasie sak op die bed neer. “Sê ek vir myselwers ook!”

      “Daarom gaan ek nie lank hier bly nie. Ek soek na ’n woonstel. Daar kan ek my eie reëls maak.”

      “Ai, dis nou ’n jammerte dat jy net tydelik hier is,” sug Vasie.

      ’n Ligte klop aan die deur laat hulle opkyk. Vasie spring flink op om oop te maak. Hans skat hom ’n paar jaar jonger, want hyself kan nie meer so vinnig uit die blokke kom nie.

      Vasie maak die deur oop. “Baby! Kom in, kom in. Ek kuier vanaand hier by Hans, ons nuwe intrekker.”

      ’n Gróót vrou kom met ’n loopraam ingeskuifel. Haar hare is yl en vetrolle peul oral by haar stywe rok uit. Sy het ’n trippelken.

      “Gedink jy k-kuier hier,” sê sy en lag. “En ek sien jou onwettige k-keteltjie het ook al weer g-gewerk vanaand.”

      Hans onthou hy het daai hie-hie-hie-laggie in die eetsaal gehoor.

      “Baby van Wyk,” stel Vasie haar voor. “Boesemvriendin van my.”

      Hy tik Baby op die skouer. “Staan net so, dan bring ek vir jou ’n stoel uit my kamer. Ek neem aan jy wil nie koffie hê nie?”

      “Nee, jong, jy weet mos, anders moet ek v-vannag weer vir die vale k-knyp.”

      Vasie is gou terug met ’n riempiestoel. Hy help Baby om steunend te gaan sit. Die stoel kreun onder haar gewig.

      “Ek en Baby het in die ou dae ’n tydjie saam in die Transvaal gewerk,” sê hy vir Hans. “En toe loop ons mekaar weer hier raak.”

      “En glo dit nou as jy w-wil, maar ek en Vasie verjaar net een d-dag uitmekaar. Ek is ’n d-dag ouer as hy.”

      Vasie sug. “Ja, volgende maand word ons ook al vyf-en-­tagtig.”

      “Julle is nog uilskuikens, ek is al negentig,” sê Hans.

      “Jy jok!” roep Vasie uit.

      “Jinne, maar jy d-dra jou jare goed!”

      “Dankie,” sê Hans. Hy hou nou van Baby ook. “Ek stap nog gereeld. Dit hou my jonk.”

      “My ou b-bene wil nie meer nie. Die dokter sê ek het t-te lank gerook. Dit het my are v-verkalk.”

      “So jy’t darem seker nou opgehou?” vra Hans.

      “Ja, ek het die b-bosluis so twee jaar gelede afgeskud.” Sy glimlag. “Nou doen ek niks meer v-verkeerd nie. Rook nie, kan nie meer a-agter mans aanhardloop nie en ons mag nie a-alkohol hier gebruik nie.”

      “Hans, vertel ons nou eers waar jy was.” Vasie slurp aan sy koffie. “Jong, hierdie plek het omtrent gegons toe ons hoor die nuwe intrekker het soos mis voor die son verdwyn!”

      “Hie-hie-hie!” lag Baby. “Ek het daai g-gifmerrie nog nooit so k-kwaad gesien nie. Sy’t amper haar h-handperdjie Esme­raldus gefire.”

      Hans vertel hulle alles. Ook van die Amerikanertjie en die daggakoekies. En van die beampte op die lughawe wat hy so uitgevang het.

      Vasie klap op sy been en gooi sy kop agteroor soos hy lag. “Jou ou biesiepol!” roep hy uit.

      Hy vee die lagtrane uit sy oë en kyk na Baby. “Sê ek vir myselwers dís nou die soort man wat ons hier nodig het. Iemand wat hom nie aan al die reëltjies en regulasietjies steur nie.”

      Baby knik. “Haal jy die w-woorde so uit my m-mond.”

      Vasie draai na Hans. “Ons kort juis ’n onverskrokke leier wat ons demokratiese regte hier in die ouetehuis vir ons kan terugkry. Dit klink of jy nét die man kan wees.”

      “Ja, die gifmerrie het almal in z-zombies verander. Hulle aanvaar maar net al die belaglike reëls wat sy in hulle k-kele afdruk.”

      Vasie vryf sy hande teen mekaar. “Sê ek vir myselwers dat ’n glasie jenewer of twee darem nou goed sou afgaan. Mos alte lekker om oor ernstige dinge te debatteer as jy so ’n bietjie in die hoenderhemel is.”

      Hans staan op. “Nou waarvoor wag ons?” Hy maak die hangkas oop, haal die koekblik uit en neem drie van die daggakoekies.

      “Dis nou nie jenewer nie, maar dié goed vat jou reguit hoenderhemel toe,” sê hy en oorhandig die koekies. “Glo ekstra sterk om die plesierwaarde te verhoog.”

      “Daggakoekies! Jou ou biesiepol!”

      “Hie-hie-hie!”

      “Dis maar bitter hard, doop dit in die koffie,” gee Hans instruksies.

      Vasie hou sy beker na Baby uit sodat sy haar koekie ook kan doop. “Nogals nie s-sleg nie,” sê sy tussen die kouery deur.

      Toe die koekies op is, sê Vasie hy voel nog presies dieselfde. “Tipies my geluk om nie deur die goed aangetas te word nie.”

      Hans glimlag. “Jy’s te haastig. Dit kweek maar eers so met die tyd saam loslippigheid.”

      “Dan praat ons eers besigheid,” sê Vasie. “Om terug te kom na die reëls – daai klein diktator het mos nou die dag speelkaarte in die speletjieskamer verbied. Sy noem kaarte die duiwel se prenteboek. Dis nou nadat sy ou Jan Doppies, Professor en Maatjie Calitz gevang het dat hulle vir geld speel.”

      “Hie-hie-hie! Voel nou k-kompleet of ek hot f-flushes begin kry!”

      “Sê ek vir myselwers my kop draai ook nou effe.”

      “Wag maar, die jolliegeit vat jou eers ’n bietjie later.” Hans skakel sy transistortjie aan. RSG klink te gewyd en hy draai die knoppie totdat hy by vrolike musiek uitkom.

      “Lekker, lekker!” Vasie klap sy vingers op die ritme.

      “As dit nie vir my loopraam was nie, kon ons nou d-dans.”

      Die sirene se gelui maak hulle stil.

      “En dié klok?” vra Hans.

      “Dis