Krismis van Map Jacobs. Adam Small. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Adam Small
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Зарубежная драматургия
Год издания: 0
isbn: 9780624068594
Скачать книгу

      MAP: Maar Apostel George sê ook vir my, Miss Africa is reg …

      Weer geluide in die tronk.

      MAP: ’Is in die kombuis …

      Stilte.

      Map se oë reis.

      MAP: Die warder sê visiting tyd is verby, so … Ma moet seker weer gaan …

      Antie Grootmeisie knik.

      MAP: Sê tog vir Blanchie …

      Sy knik.

      MAP (roep): Okay, warder …

      Antie Grootmeisie het opgestaan om te gaan, maar bly kýk na Map, en wanneer sy omdraai, roep hy agter haar aan.

      MAP: Ma sal nie vergeet om vir Blanchie te sê nie … Ma!

      Stilte.

      MAP: Vir Blanchie! … (Hy skreeu dit agterna. Dan hartstogtelik, sy oë opgeslaan.) Blanchie … Ons het saam skoolgegaan, in die Elsiesrivier … Ek het … vir haar … liefgehad … Kan Ma nog onthou?

      Maar Antie Grootmeisie is reeds weg. Die lig verander, die tronkmure verdwyn.

      Vier

      In ’n terugflits, Map en Blanchie as tienderjarige seun en dogter, nog op skool. Blanchie op ’n afstand, kom nader. Map sit, miskien op ’n bankie in ’n speelpark. Blanchie het haar skooluniform aan.

      Hulle glimlag vir mekaar.

      MAP: Haai, Blanchie …

      BLANCHIE (skaam): Johnnie …

      MAP: Jy all right?

      BLANCHIE: Ja …

      MAP: Kom sit …

      BLANCHIE: Ek’s al laat al, Johnnie …

      MAP: Hoe mien jy laat?

      BLANCHIE: Daar was so baie mense in die winkel, man …

      MAP: O …

      BLANCHIE: Ek het cigarettes gaan koep, vir Antie Maud …

      MAP: O ja?

      Hulle sit nou, langs mekaar, skamerig.

      BLANCHIE: Aag, sy’s all right, al is sy my stiefma …

      MAP: Ja …

      BLANCHIE: Sy’s eintlik … baie all right moet my …

      MAP: Julle … kom aan …

      BLANCHIE: Mmmm …

      Stilte. Hulle sit net, skamerig. Dan wil Map Blanchie se hande vat en haar soen.

      BLANCHIE (hou hom halfhartig weg): Johnnie … Nee …

      MAP: Aag, Blanchie …

      BLANCHIE: Ek moet nou loop …

      MAP: Maar …

      BLANCHIE: Hulle wag vir my …

      MAP: Hulle?

      BLANCHIE: Daddy en Antie Maud …

      MAP: O …

      BLANCHIE: Daddy moet weer yt vanaand, man …

      MAP: Moet die canvassing?

      BLANCHIE: Ja …

      MAP: Hy’s ’n werksamige man …

      BLANCHIE: Aag, jy wiet hoe is Daddy …

      MAP: Ja, hy wil vir julle hierso ytvat, yt die township yt …

      Ek niem hom nie kwalik nie …

      BLANCHIE: Hy’s all right … Eintlik ’n goeie man …

      MAP: Blanchie …

      BLANCHIE: Ek … moet nou gaan …

      MAP: Blanchie …

      BLANCHIE: Mmmm?

      MAP: Ek … Ek … Het jy … Ek mien …

      BLANCHIE: Johnnie, moenie …

      MAP: Blanchie …

      BLANCHIE: Johnnie …

      Hy raak aan haar. Sy aan hom. Hulle soen mekaar. Breek.

      MAP: Blanchie …

      BLANCHIE: Johnnie … Ek … Antie Maud … Daddy … wag …

      MAP: Ja … Blanchie … Okay …

      BLANCHIE: Bye … Okay …

      MAP: Okay … Sien jou, môre-oggend … op die bus … by die busstop …

      BLANCHIE: Okay, Johnnie …

      Blanchie beweeg stadig af, terwyl sy bly terugkyk. Die lig verander. Ons is terug by Map in die tronk, waar hy afskeid geneem het van Antie Grootmeisie – en dan eers sien ons vir Blanchie heeltemal verdwyn.

      MAP (lag, sinies): Johnnie … Klink mooi, Johnnie … Johnnie … (Lag.)

      Die lig verander oor sy sagte maar bitter gelag.

      Doof uit.

      Vyf

      Die straat, sonder die orkes. Daar is Cyril en Richie-hulle wat kerrim speel; twee, drie voetbalspelers; en so meer.

      CYRIL: Hê, ek siet vir Antie Grootmeisie vi’effe …

      RICHIE: Ek ’t ge-notice …

      Hulle speel.

      RICHIE: Sy’t seker weer vi’ hom ge-visit …

      Stilte.

      RICHIE: Ek hoor hy kô nou yt, enige dag …

      CYRIL: Ja …

      RICHIE: Shit!

      CYRIL: God, hy’s lucky vir parole nou al!

      Hulle speel.

      RICHIE: Maar daa’ was mos extenuating circumstances, daai tyd, jy wiet …

      CYRIL: Ga!

      RICHIE: Anyway, ’is seker oek nie ons biesagheit nie …

      CYRIL: Shit, hoe praat jy dan nou nes ou Tommy! (Lag. Hulle speel hulle kerrim. Die kerrimskyfies is “kinders”.) Hê, my kinners is darem weer stout vi’dag!

      RICHIE: Stoot, jong, stoot!

      Hulle speel.

      CYRIL: Hê, die ou-lady het toe nooit weer eintlik gepraat nie, nè?

      RICHIE: Ja! Sy loep ma’ altyd so silent-silent …

      Hulle speel.

      CYRIL: Hulle sê sy’s stom, ek mien, lat sy haar praat ge-verloor het daai selfde aand nog toe dit gebeur het … Sy sê glo net ’n woord hier en daar, ma’ dis al …

      RICHIE: ’Is hearty …

      CYRIL: Ja.

      Hulle speel.

      RICHIE: Hê, my kinnertjies, kom dan nou, kom dan nou!

      Hulle speel.

      RICHIE: ’It was die shock van die ding, daai aand, sê hulle …

      CYRIL: Concentrate op die game, man!

      RICHIE: ’It kán so gebeur, sê hulle …

      CYRIL: Ek sil nie wiet nie, man, ek is nie ’n fokken psychiatris’ nie! Speel!

      Hulle speel.

      RICHIE: ’It was glo daai anner vark, Gappie Martin, se skuld eintlik … daai aand … Hulle’t altyd gesê ’is hý wat die hele ding begin het, daai aand …

      CYRIL: Ma’ Map was die leader, man … Hy was mos altyd die

      leader … Ennie leader moet die