Die blinding klap, dink hy. Hy kan dit hoor. Maar die blinding is toe. Hy maak sy oë oop. Lê ’n hele ruk bewegingloos en nat van die sweet. Hy het vergeet om sy klere uit te trek. Dis aan die lig word.
En toe, dié middag net na twaalf.
Gusta het by Sara gesit en ’n storie gelees. Haar ma lê stil en toe-oë. Sy hou die spieëltjie voor haar neus, sien dat die asem min is.
Wakkie loop deur die donker bos. Hy soek en hy soek en hy soek. In die boom sit ’n ou uil en Wakkie vra vir hom. Maar die uil antwoord: “Nooit gesien nie, nooit gesien nie.” Hy skommel sy nek terug op sy verekraag en slaap. Toe vra Wakkie vir die boom. Die boom kreun: “Nooit gesien nie, nooit gesien nie. Jammerrrr.”
Sy hoor haar eie stem, maar dis asof iemand anders die woorde sê. Daar is nog twee bladsye oor. Maar die sieke het haar oë oopgemaak. Gusta trek die kombers hoër onder haar ken op en begin weer lees. Later staan sy op om die venster toe te maak. Met die boek in haar hand. Maar toe sy omdraai, sien sy dat dit nie meer nodig is nie. Sara is dood.
Hulle het haar gekis. Almal het gekom en gesimpatiseer. Teen die aand was alles afgeloop. Hulle het geëet, toe elkeen weer na sy eie kamer toe gegaan.
Die volgende dag is Sara begrawe. Dié aand is weer soos twee aande tevore. Gusta se kers brand weer. Jan stap oor die blink werf. Hy gaan sit eenkant op die bed, praat nie veel nie. Later gaan hy koffiewater opsit.
Gusta vee oor haar voorkop met haar natgeswete hand. Sy het die hele dag niks gehuil nie; dit het gelyk of sy die mense nie raaksien nie.
“Hier is nog ’n brief wat Maureen saamgestuur het. Ek het dit gehoor toe ek by die huis aankom. Sy het kans gehad om die brief te skryf,” sê hy en haal sy vrou se brief uit sy binnesak. Dit bly op die stoel lê.
Hy maak koffie, gee vir haar ook. Sy roer dit lank, sê later toonloos: “Sy was dood voordat ek klaar was,” en blaai die oefenboek toe.
Dan is dit weer stil.
Sonder dat hulle van mekaar se gedagtes weet, dink albei aan eergisteraand. Hoekom het ek haar nie vertel nie? dink hy, en sy dink: ek het hom verkeerd geoordeel. Ek het hom nie kans gegee om te praat nie.
Dis asof daar nou geen rede meer is om te praat nie. Sy voel leeg. Al sou hy nou in trane voor haar uitbars – hoeveel keer het sy dit nie gewens nie? – sou sy niks daarvan voel nie. Hy is vry om te doen soos hy wil. Om te wees wat hy wil. En soos hy wil.
“Ek was altyd bang dat dit sou gebeur,” sê sy. “Noudat dit gebeur het, is dit asof ek die voorafgaande totaal nie kan verstaan nie. Asof ek vry is; waarvan vry weet ek nie.”
Hy sit na haar en kyk, knik onsigbaar en moeg met sy kop. As hy iets sê, mag sy hom verkeerd verstaan. Of hy mag begin praat van homself. Daarom bly hy stil.
Agter haar deur die venster kan hy Die Dal sien lê. ’n Plaas soos baie ander. Met mense daarop, wat glo – of nie glo nie – in ’n God. Maar almal in die reën, wat die smoorlug bros en vry maak.
Die muise
Hy word die afgelope drie weke elke oggend vyfuur wakker. As die son opkom, skyn dit reg in sy gesig en dit het al gebeur dat hy met ’n stekende hoofpyn opstaan. Hy wil die bed draai, maar hy het nog nie so ver gekom nie. Hy sal dit vandag doen, dink hy.
Daar is muise in sy solderkamer. Snags in die donker kan hy hulle agter die behang hoor. Terwyl hy soggens wakker lê, breek hy altyd ’n stukkie brood af en gooi dit in die hoek. Dan kom die muise uit en hy lê doodstil om te sien hoe hulle om die krummel brood veg. Hy breek nooit ’n groot stuk af nie.
As hy die bed draai, kan hy nie meer die muise sien nie, dink hy. En dan sal hy ook die stoel op ’n ander plek moet skuif om die vrou te sien. Sy sit op die stoel onder die venster en sy sê niks wanneer hy die brood vir die muise gooi nie. Miskien slaap sy nog, dink hy dan.
Adolf is etaleur by ’n dameswinkel in die stad. Die vrou op die stoel het hy een aand met hom saamgebring na sy kamer toe. Hy moes haar steel, maar hulle het nooit agtergekom wie dit gedoen het nie, en hy voel trots daarop.
In sy solderkamer kom nooit mense nie. Eers het hy alleen hier gewoon, voor die vrou hier was. Dan het hy soggens, as hy moeg is vir die muise, opgestaan en liggaamsoefeninge gedoen, dié wat hy geleer het terwyl hy in die militêre kamp met sy verpligte opleiding besig was. Nou sit die vrou elke oggend met welgevalle en kyk na hom. Hy het al aan haar sy drome van ’n oorlog vertel. Omdat die ruk toe hy onder militêre opleiding was hom laat voel het dat hy bestemd was om eendag nog baie te verdedig en gróót te word, probeer hy dit so lank as moontlik onthou. Soms swaai hy met sy arms en vloek op denkbeeldige rekrute. Snags as hy droom, dan is dit altyd van mense wat veg.
Hy het nie vriende nie. Daarom is die vrou veilig in sy kamer. Sy hospita, ’n ou dame met ’n mank been, klim nooit die drie-en-vyftig trappies na sy kamer toe op nie. Hy het die kamer gehuur met die verstandhouding dat hy dit self skoon sal hou. Eintlik stel sy ook nie daarin belang of hy dit skoon hou of nie. Sy stel belang in die geld wat hy elke maand betaal. Maar omdat hy netjies is op sy persoon, vertel sy aan haar vriendinne van die huurder by haar wat altyd sy kamer so pragtig aan die kant hou.
Gisternag het hy gedroom. Hy het gedroom dat dit al vanoggend was en dat hy die brood vir die muise gooi. Hy het doodstil gelê en kyk hoe die muise om die brood baklei. Die een muis het die gesig gehad van die bruinman wat in ’n fabriek werk en wat net onder sy kamer – teen die wet, maar met instemming van sy hospita – ’n kamer huur. Die ander muis het die gesig gehad wat hy soggens in die spieël sien wanneer hy hom skeer.
Waaroor hulle baklei het, kon hy nie sien nie. Daarom bly hy lê en probeer verder droom. Dis Saterdag en hy hoef nie vandag te werk nie.
Adolf haat die bruinman van een-laer. Gisteraand het hy hom op die trappe teengekom. Onder sulke omstandighede weet hy nie wat om te doen nie. Die bruinman het gegroet, en hy het gemaak asof hy hom nie raaksien nie. Hy haat hom nie omdat hy saans laat tuis kom en dan hard praat nie. Dis die manier waarop die man na hom kyk, asof hy van die vrou in sy kamer weet, wat hom die bruinman laat haat. Sy hospita het hom vertel van die huurder. “Hy is stil en amper wit. Ons het nie baie las van hom nie,” het sy gesê, op ’n manier wat dit vir hom duidelik gemaak het dat hy nie vir ander daarvan moes vertel nie.
Miskien het die bruinman eendag na sy kamer toe gegaan terwyl hy nie daar was nie en die vrou daar gekry. Daarom haat hy die man. En omdat hy onseker is. Hy kan ook nie met sy hospita daaroor praat nie, want hy vermoed dat sy ’n verhouding met hom het. “Harold is ’n halwe Jood,” het sy eendag vir hom gesê en die manier waarop sy van hom gepraat het, het hom die gevoel gegee dat sy hom beskerm.
Naby Adolf se kamer is ’n klein kroegie. Hy gaan elke aand soontoe. Vir die ander gereelde besoekers is hy ’n snaakse mens wat nie baie praat nie en altyd ernstig is. As hy praat, luister hulle na die gemartelde klank in sy stem. Wat hom martel, kon hulle nog nooit agterkom nie, maar hulle vermoed dat dit iets met sy vrou te doen het, want as hulle na haar vra, kyk hy op sy horlosie en loop weer kort daarna. Daarom vra hulle in die laaste tyd nie meer hoe dit met sy vrou gaan nie.
Die storie dat sy vrou bedlêend is van ’n skok, het hulle self versin. Hy het dit nie vertel nie. Hy het net vertel dat sy vrou in die stoel sit en hy het die vrou in sy kamer bedoel.
As hy die kroeg uitstap, gaan hy selde reguit huis toe. Hy kyk na die vensters langs die straat, waar die mense vergeet het om hul gordyne toe te trek. Soms staan hy lank aan die oorkant van die straat in die skaduwee van die bome en kyk in die huise in. Daar het nog nooit iets gebeur nie, maar elke keer as hy kyk, voel dit vir hom asof daar iets gáán gebeur. Soms as hy ’n vrou in een van die kamers sien, en ’n man, kyk hy sonder om asem te haal na wat hulle doen en hy sien in hulle geluidlose gebare teenoor mekaar ’n bedekte sinspeling daarop dat dit aand is en dat hulle bed toe sal gaan.
Adolf het die vrou in sy kamer self aangetrek omdat sy naak was toe hy haar gevat het. Partymaal, nadat hy van die kroeg af gekom en na die vensters gekyk het, trek