“Hy het nie gedink ek is hier nie,” sê Jan nadenkend.
Onder in die kraal blêr die boklam. Dit klink hard oor die kalkwerf. “Ek sal môre vir Sara van die bies gee,” sê Gusta. “Sy is lief daarvoor.” Sy hoor weer die lam. En daar kom ’n ou opstandigheid in haar wat sy lank nie geken het nie. “Nou sal die vervloekste ding mens vannag weer nie laat slaap nie.” Sy glimlag wrang toe sy haarself dit hoor sê.
Hulle het niks meer vir mekaar te sê nie. Jan drink sy koffie stadig. Gusta skink vir haar ’n tweede koppie. Sy wil vir hom sê dat sy jammer is dat sy oor die gemeentelid gepraat het, maar iets in haar weerhou haar daarvan.
“Wat makeer Raaia?” vra hy. Dit tref haar. Dis die enigste wat hy gehoor het. Omdat Klaas bygelas het dat hulle bid!
“Jy moet maar self gaan kyk,” antwoord sy barser as wat sy bedoel het.
“Jy is die een wat praat van verwydering,” antwoord hy na ’n rukkie. “Ek wonder nog waarom.”
“Ag, Here, Jan, moet nou nie nog op my gevoel ook speel nie. Ek is klaar. Ek is jammer dat ek dit só gesê het.” Sy dink: Breek! Breek! Wys ’n paar oomblikke lank terwyl daar niemand anders by is nie dat jy ’n méns is. Nie net die spotprent van ’n mens nie.
Sy weet dat sy te veel verwag. Sy weet dat sy nie reg optree teenoor hom nie. Hy lyk amper seunsagtig klein daar op die bed. Sy wil haar hande uitsteek, vir hom vertel dat sy hom nie hier hou om, soos hy dink, hom aan ’n sterwende te bind nie. Dat alles, alles presies omgekeerd is van wat dit lyk, alle gevoelens, alle optrede, alles. Maar sy is onmagtig om dit te doen. Daar is iets tussen hulle, iets, iets … Sy vat ’n sigaret, bied hom ook een aan. Waarom bly hy nog sit? Hy bring die kers nader; sy sien ’n moeë uitdrukking in sy gesig en iets verwilderds in sy oë wat sy nog nie vantevore daar gesien het nie. Waarom bly hy nog sit?
Sy hand bewe as hy weer die kers op die stoel terugsit. Hy haat haar. Voel benoud in haar teenwoordigheid soos altyd. Waarteen stry sy? dink hy. Waarom verwag sy dat hy ook uiteindelik sal breek soos wat sy sal breek?
Jy begin moeg, het sy gesê.
Dit was altyd so. Vir alles wat hy dink, herinner hy hom aan iets wat sy gesê het. Dan kom hy in opstand daarteen, vergeet hy ’n oomblik van die dinge waaraan hy dink wanneer hulle nie by mekaar is nie, wanneer hulle nie stry nie. Hy kan nie besluit wanneer die geveg makliker is nie: as hy teen haar stry of teen homself?
Ek het hom daardie aand nie gehelp toe hy om hulp kom soek het nie. Hoe kon ek? Ek het self hulp nodig gehad. Nou nog. Maureen. Die kinders. En die blink voetpad van die konsistorie af na die voordeur van die pastorie toe. Alles bind my, ek is deel van alles. Snags kan ek magteloos wakker lê en stry, stry … waarteen? Teen dit waarin ek lank nie meer glo nie, maar wat ek soos op blink skinkborde aan die mense gee. Teen die uitdrukking op my gesig – hulle sê altyd dis rustig. Teen my optrede: die manier waarop ek my motor se wiel vashou, die stadige oorskakeling van die ratte; teen die manier waarop ek (ook rustig) die aandgebed aan die tafel doen, vir die kinders uit die Bybel voorlees; waarteen?
“Nie soos slote wat langs mekaar loop nie. Ons dam teen mekaar,” sê Jan. “Altyd.” Hy staan op en vir die eerste maal groet hy haar nie toe hy uitstap nie.
Anderkant die rivier staan ’n paar huisies wit. Die mense van Die Dal. Gusta: “As ek in God moet glo, moet ek hom só ken soos wat ek Chris Voorberg en Klaas-hulle ken. Maar dis nie so nie en ek kan dit nie ontken nie. Ek kom altyd net daar aan wanneer die gesprek tussen jou en God afgeloop is. Soos wat met jou gebeur as jy by die plaasmense instap. Hulle krimp toe vir jou.”
Buite op die werf gaan hy staan. Dan stap hy ’n draai om die huis. Soms kom die wind teen die voordag op en dan kan die blindings irriterend klap.
Gusta in haar kamer. Waarom het hy netnou nie gegroet nie? Dit verwar haar. Alles ín haar verwar haar ook. Waarom tree sy teenoor hom op soos ’n vreemdeling? Soos iemand wat sy lewe vir hom wil bestuur. Dis tog nie wat sy wíl nie. Dis presies andersom. Die bekende dinge in die kamer sluit weer om haar in. Sy gaan skuins op die bed lê, sien hoe die kersvlam heen en weer swenk asof dit vir iets onsigbaars wegswaai, wegvrees. Oor die kalkwerf en tussen die takke van die moerbeiboom deur kom die eerste windvlaag bedompig-droog.
En sy probeer dink, dink, dink, staan naderhand op, gaan voor die spieël staan, draai weer om. Wat is aan die gebeur? Wat is Sara van my, van ons? ’n Oujongnooi-kind. Dis miskien wat Jan dink. Sy self het dit ook al gedink. Maar êrens, naamloos, is Sara méér. Meer as haar kind wat sy nooit sal hê nie. Meer as haar moeder. Méér. Maar wat?
Toe sy begin siek word het, het Gusta haar van voor af geleer spel. Dit was ’n speletjie, eintlik méér as ’n speletjie, want terwyl sy daarmee besig was, het dit haar afgesonder van die wêreld om haar. Soms het die sieke geglimlag. Dan het Gusta gevoel dat sy verstaan. Maar wát verstaan? Elke keer wat dit gebeur het, het Gusta gevoel Sara glimlag oor iets wat sý nie verstaan nie.
Jan verstaan haar ook nie. Maar wat is daar in hóm aan die gebeur? Die kyk in sy oë vanaand. Hy het nie gegroet toe hy geloop het nie. Wat verstaan sy dan nie van Jan nie; eers het sy gedink sy begrip voel teen ’n glasruit wanneer sý praat. In die laaste tyd is dit al hoe meer háár begrip wat soek na helderheid tussen al dié naamlose vrese wat haar omring.
Voel hy dit miskien ook? Maar nee … hy het altyd skelm agter die kraalmuur gerook toe hy klein was. En toe hy grootgeword het, het hy die kraalmuur met hom saamgeneem. Oral. Sy het nooit nodig gehad om dit te doen nie. Want sy het nooit, soos hy, probeer om mense te verander nie. Sy het hulle aanvaar soos hulle is. Toe hy uitgevind het dat hy mense nie kan verander nie, het hy die kraalmuur saamgeneem.
En nou?
Die laaste maande is dit al asof daar iets in haar span soos dun draad. Jan dink nog dat sy ernstig is wanneer sy praat oor haar liefde vir hierdie mense, wanneer sy hulle aan hom voorhou vir alles wat eg is. Hy kom dit nie agter nie – liefde is vir hom iets soos geloof – eenders, met ’n kabbelinkie hier en daar. Hy het nooit agtergekom dat sy van hierdie mense so ver staan soos hy nie. Daarom het sy Sara geleer lees. Dit het háár beskerm. Daarom lees sy nou vir haar stories, daarom skryf sy die stories.
Dit het alles met Sara se siekte begin.
Sara is ’n soort naelstring, die versekering dat al die dinge van Die Dal wat sy ken, sou voortbestaan. Sara was haar lewe lank vroedvrou op Die Dal. Sý het Die Dal in die lewe gehelp. Want wat is Die Dal sonder sy mense?
Sara het van Jan altyd gepraat as haar predikantjie, van hom ’n predikant gemaak. Vir haar het Sara nooit iets in dié rigting gesê nie. Nooit met woorde nie. Sara het net altyd stilgebly wanneer sy praat, asof sy met haar aanwesigheid iets uit haar wou uittrek, haar wou dwing om te gee, gee.
Gusta staan weer op, vee krampagtig die sweet van haar voorkop af. Probeer dink … dink. Toe sy weer gaan lê, is dit byna dag.
Jan staan op die preekstoel. Daar is niemand in die kerk nie, maar as hy ondertoe kyk, sien hy Die Dal soos van die Vaalrant af. Al die mense is buite. Hulle kyk almal na hom. Hy probeer praat. Hy kan nie. Dan sien hy dat húlle praat. Hulle wys na hom. Hy kan nie hoor wat hulle sê nie.
Sara kom by die agterdeur uit. Die son is wit op die voetpad. Sara wys met haar vinger na die wolke toe. Hy kyk op, maar hy sien die mense. Hulle is oral, drywe soos wolke almal met hulle vingers voor hulle uit.
Dan weer Sara. Sy fluister iets vir Gusta. Hulle lag agter hul hande. Hy loop op die werf en hy sien dat hy sy manel aanhet. En die velskoene wat in die plaaswinkel van die swaaibalk af gehang het. Hulle praat met hom, wys met hulle vingers, maar elkeen wys in ’n ander rigting.
Sara kom nader na hom toe. Hy kan haar gesig sien, maar haar gesig is Die Dal soos dit bo van die Vaalrant af lyk. En daar is oral mense … Hulle sien hom nie raak nie. Hy roep, maar niemand kyk na hom nie. Hulle drom om iets saam. Dis om Sara se bed wat hulle drom. Dan noem iemand sy naam. Hy hardloop, kyk om en sien dat hulle hom volg. Sara is voor en haar vinger wys boontoe. Hy hardloop en hy hyg. Sy asem brand.
Hy wil gaan staan, maar hulle volg hom. Dan