In haar kamer verklee sy haastig en laat sy in haar moegheid haar klere net so op die vloer lê. Sy skuif tussen die yskoue lakens in. In die donker lê sy en kyk na die ligpatrone wat deur die venster se kantgordyne val. Slaap. Sy moet probeer slaap, dwing sy haarself, maar gedagtes begin nagmerrieagtig deur haar oormoeë brein warrel: By Mitzie’s Gold gee die waterpompe probleme. Dit sal Maandag se hoofprobleem wees … of is dit? Sy sal moet besluit of hulle wel ’n nuwe sygang moet oopskiet by die Gloriana-myn. Omdat dit een van die ouer myne in Langlaagte is, het Kurt hoop gehad dat die erts moontlik van beter gehalte sou wees. Maar enige nuwe skuinsskag sal die onkoste nog meer laat ophoop. Tog, sy moet die myners besig hou … Wat sou Kurt besluit het? Sy dink aan die oorverdowende geluid van die stampmeulens, meulens wat skaars kan volhou om die hope erts te verwerk, en waarvoor? Bloot in die hoop dat hulle met die nou ontoereikende kwikproses daardie geringe dertig persent goud daaruit kan reduseer? Hoekom koop die drogbeleggers op tussen die Kettings? Dit terwyl hulle ander almal vrees vir die toekoms van die stad? Wat is aan die gang by die Salisbury-myn?
Uitgespook en moeër as tevore, sit Deborah uiteindelik weer orent en steek die kers langs haar op die bedtafeltjie aan. Dit flikker warm en gerusstellend. Sy staan op en trek haar kamermantel aan. Dalk het Karl nou al teruggekeer, maar nee, sy sou hom tog gehoor het as hy in die gang af gekom het.
Miskien sal dit haar help om aan die slaap te raak as sy lees. Sy tel die kers op. Sy sal ’n boek gaan soek in haar skoonpa se studeerkamer, hy sal nie omgee nie.
In die studeerkamer, met die onmiskenbare reuk van die eienaar wat die vertrek vol hang, soek haar oë oor die boekery. Maar sy weet sy sal skaars haar gedagtes by ’n boek kan bepaal. Meeste van haar skoonvader se boeke is boonop tegnies van aard. Nietemin haal sy een uit die rak, ’n boek oor geologie en die vorming van gesteentes. Sy gaan sit by die skaaktafeltjie en probeer hard om daarop te konsentreer, maar daar kom niks van nie, want haar aandag word getrek na die skaakbord.
Die rangskikking van die skaakstukke dui vir haar daarop dat die spel wat gespeel was, nie voltooi is nie. Swart is in die sterkste posisie, want die koningin van die wit skaakstukke word bedreig. Sou ’n flink Rochard-beweging die situasie verander? Nee. Dit sou min help, want die ridder wat deur die swart koning beskerm word, beperk die wit koningin se beweeglikheid. Haar oë som die skaakbord op vir ’n uitweg terwyl haar verstand ander paaie loop …
Rosenberg, wat sy nou daagliks tussen die Kettings opmerk, tree op as makelaar vir Kit. Hoe lojaal sou hy teenoor Kit wees? Sou sy hom kan nader? Omkoop, miskien? Skok ruk deur haar. Waaraan dink sy tog! Om so laag te daal om agter Kit se rug inligting uit te vis?
Byna instinktief reik haar hand uit na die skaakstukke. Die enigste uitweg sal wees om die wit koningin op te offer. Daarom troef sy die swart ridder met die wit dame, en die swart ridder word verwyder. Na verwagting slaan die swart koning dadelik toe en die wit koningin word ook van die skaakbord afgehaal. Dit stel Deborah in staat om nou die Rochard-beweging toe te pas en so die swart koning vas te keer in skaakmat …
Wat de duiwel is jy besig om te doen? vra sy haarself af. Waarom sit sy hier? Drie-uur in die môre en sy speel skaak teen haarself!
Sy leun agtertoe en sit ’n paar oomblikke lank baie stil. Skielik val dinge in plek, presies soos die skaakbord se skuiwe nou net vir haar in plek geval het. Sy kom orent, bewus van die kalmte wat oor haar daal noudat sy weet wat haar te doen staan en hoe sy die probleme die volgende dag gaan benader.
“Jy wil op die myne gaan rondflenter in dié tabberd, missie?” roep Fytjie geskok uit toe sy na Deborah kyk wat reeds die rooi kreukelfluweel-en-kantrok aanhet, die een wat sy nog nooit tevore buitenshuis gedra het nie.
Deborah knik en draai om sodat Ma-Fytjie vir haar kan vasmaak. “Ek moet eers ’n ander draai gaan maak, Ma-Fytjie,” verduidelik sy. “By die myne hou ek mos my werksklere aan. Ek sal nie droom om daar in dié rok rond te dwaal nie!”
In die stilligheid dink Fytjie dat die myners hulle flou sal skrik – die rok is vir die aand en haar nooientjie lyk soos ’n bruid daarin. Maar sy spreek die gedagtes nie uit nie en in stede daarvan sê sy slu: “Maar waar gaan jy dan heen, missie?”
Deborah huiwer, dan systap sy die vraag netjies. “Kettings toe, daar is iets wat ek moet gaan uitvind; daarom wil ek hê die koetsier moet ’n briefie gaan afgee by meneer Rheed, om te verduidelik dat ek laat gaan wees, dat hy solank moet voortgaan met sake soos gewoonlik. Die meeste van meneer Mannheim se mynbestuurders weet nog nie eens dat hy siek is nie.”
“Hulle weet, missie, in dié ou duiwelstad weet almal van almal se kom en gaan. Van vroeg af aan was die hoofmanne van die myne hier. Almal van hulle, so sê Sam Naudies my. Hy sê hulle het kom hoor hoe dit met die ouseur gaan.”
“Hoe op aarde sou hulle weet?” roep Deborah verstom uit terwyl Ma-Fytjie haar sitmaak op die boudoirstoeltjie voor die spieëlkas om haar hare te skik.
“Dit wis ek nie, maar Sam sê –”
“En nou, prinses? As jy so aangetrek is? Jy sal die koningin van Skeba jaloers laat voel!” sê Karl se stem agter hulle. Hy kom nader, kom staan agter haar, sodat sy hom in die spieël kan sien.
Deborah herken met ’n sinkende gevoel die eienaardige helderheid in sy oë – hy moes weer opium gebruik het.
“Het daar iets uitsonderliks gebeur waarvan ek nie weet nie? Is dit jou verjaardag wat ek vergeet het?”
Deborah kom orent en sê stil: “Ma-Fytjie, sal jy ons asseblief alleen laat? Ek sal self my hare opsteek.”
Fytjie gee Karl net een kyk, dan gee sy bes en verlaat die kamer.
“Waar gaan jy heen, prinses? Só mooi aangetrek op ’n Maandagmôre?”
Sy beantwoord sy vraag met ’n teenvraag. “Was jy weer in Happy Valley?”
Hy lag, skud sy kop. “Wat gee jou dié idee?”
Sy kyk hom in stilte aan, want toe hy nader kom, word sy ook bewus van iets anders: die reuk van ’n vrou – dit, en van goedkoop parfuum – wat hom nog omgewe. Vreemd hoe koud dit haar laat, dink sy verbaas. Die man voor haar is tog die vader van die ongebore kind in haar skoot en dit skeel haar skaars dat hy by iemand anders was, dink sy nou effens skuldig.
“Karl, ek en jy moet praat, sake finaal uitsorteer … Daar is ’n belangrike kwessie oor Mannheim Enterprises wat jou pa …”
Deborah se stemtoon laat Karl vassteek. “Daarmee wil ek niks te make hê nie!” roep hy nors uit.
“Miskien nie, maar dis nodig dat jy sekere dinge moet weet, met jou pa se siekte is dinge in chaos. Ek het gehoop dat jy Saterdag terug sou wees sodat ons koppe bymekaar –”
“Is dit ’n verwyt, prinses?” Hy glimlag spottend. “Of behoort ek geëerd te voel daaroor?”
Deborah besluit om sy smalende opmerking te ignoreer. Sy sê saaklik: “Ek gaan nou om sake te probeer uitpluis. Daarna moet ek ’n draai maak by al die myne, maar ek behoort teen vieruur terug te wees. Kan ons … mag ek jou dan sien, Karl?”
“Wil jy oor jou en my praat, of oor Pa se myne?”
“Oor albei. Om hemelsnaam, Karl, ons het ’n krisis op hande! Jy moet my help, jy kan jou pa help!”
“Ek?”
Die verstomming op Karl se gesig frustreer Debora mateloos. “Ja, jy! Sal jy hier wees?”
Hy haal sy skouers op, maar knik tog uiteindelik. Waarheen sou sy op pad wees, wonder hy, veral soos sy nou aangetrek is? Na Malloy? Die ou jaloesie vreet weer aan hom. Hy wil haar met die vraag troef, maar besluit daarteen en draai woordeloos om voordat hy die vertrek verlaat. Miskien het hy slaap nodig. Die naweek saam met Eliza was lank en plesierig