Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louisa du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083283
Скачать книгу
van hierdie spreekwoord sal sê. Hy, wat so deur water geboei en ontroer word dat hy nie kan wag om by die drie bruisende kolke uit te kom nie. Hy het nou ’n kar, hy kan sy meisie saamvat om te kyk. Die pad is rybaar tot in die vlak kloof tot naby die sluise waar die grootvoor ontspring.

      Nida skrik toe Leen vra: “Hoekom huil jy dan, my kind?”

      “Ek?” Sy vee oor haar wange, en dis klam. “Ek verlang sommer na Pa,” sê sy die eerste ding wat in haar kop kom.

      Want sy kan geen beter naam vind vir die naamlose, skreiende weemoed in haar nie.

      6

      Vreemd hoe bekend die dorp Roosville al voel, dink Nelis. Hier het hy op die stasie gearriveer, hier was hy die dag daarna weer saam met Dewald. Dis nou die derde keer, maar hy ken reeds die afdraaipad, die geteerde hoofstraat (die meeste systrate is nog kalkwit), die winkel, kantore, die pad lusernstoor toe.

      En die poskantoor.

      Moet hy eers hier na Reinet soek? Hoe werk haar skofte? Sal sy al by die hotel wees? Maar dis na genoeg dat hy kan stap. Moes hy haar gewaarsku het dat hy kom? Hy wou egter nie weer op die partylyn bel nie. Hy weet sy weet hy sal kom, en so spoedig moontlik daarby. En toe tref dit so dat Dewald vanaand kerkraadsvergadering op die dorp het en hom ’n geleentheid kan bied.

      Om te weet Reinet is hier, bring weer al die pynlike gemoedsprobleme na vore. Maar indien sy dan so sterk vir hom omgee dat sy die vreemde invaar, sonder toestemming met sy motor, wat haar ’n verdiende skrobbering op die hals sou kon haal, dan moet hy dit respekteer.

      Hy het vir Dewald net die minimum vertel. Dat ’n geleentheid opgeduik het om sy kar hier te kry. Dewald weet tog dat hy sukkel, te wyte aan sy gewillige misverstand dat die Driekolk-skool op Roosville self is. Benewens skoolraadsvergaderings sal hy gedurig iets op die dorp nodig hê: skryfbehoeftes vir die skool, ’n brief wat hy moet pos, geld by die bank trek, ander nodigheidjies.

      Gelukkig is Dewald nie die nuuskierige soort nie. Hy het op pad rustig vertel van sake op die agenda vanaand, en hoe alles wat op die dorp gebeur maar in die konsistorie uitspoel. Sonder om vertroulikheid oorboord te gooi of name te noem, het hy bygevoeg: “Al die sukses, al die mislukkings. Die nuwe lewe, die nood en die dood, die lief en leed. Vanaf die lusernoes tot by ’n kind wat afdwaal of presteer. ’n Huwelik tussen buurkinders, ’n rusie tussen bure.”

      Nelis moes wonder of hy na die Thirions en Meyers verwys. Want duidelik hou Leen nie van Boel vir haar dogter nie, maar dit lyk ook of die koeël deur die kerk is.

      “Laai my sommer voor die poskantoor af,” besluit hy en gee nog ’n brokkie prys: “Die nuwe meisie op die sentrale sal my kar se sleutels hê.”

      Dewald gee sy heel eie laggie toe hy stilhou, sy motorbande skraperig op die gruisblad voor die geboutjie. “Jy weet mos almal hier weet alles.” Dan voeg hy by, bedagsaam: “As iets skeefloop of jy kom nie reg nie, wag vir my buite die kerk. Daar is tuinbanke. Onthou maar net dit raak soms laat.”

      “Reg so, dankie.”

      Die telefoonsentrale agter die poskantoorgebou is die enigste plek waar lig brand, en Nelis mik soontoe. Deur die glasdeur sien hy vir Reinet sit, hande heen en weer flitsend oor die skakelbord. Koorde se punte in sokke druk om lyne te verbind, ander uittrek as ’n gesprek beëindig is. Hande moet apart funksioneer. So ingewikkeld soos klavier speel, het hy laas gedink. Of soos om jou maag te vrywe terwyl jy jou kop krap.

      Hy weet goed dat sy hom uit die hoek van haar oog gesien het, maar dat sy uitstel soek. Haar hare onder die kopstuk is nie keurig salon-gekam soos voorheen nie. Daarvoor is die klimaat hier te anders, warm en sweterig. Haar krulle lê plat, wat haar soos ’n filmsterretjie uit ’n vergange era laat lyk. Sy moet moeg en onklaar wees, het seker nog nie haar koers in die dorp kon vind nie. Die romp wat sy aanhet, moet die een wees wat haar ma gemaak het, die “flare”, van blouerige materiaal met ’n skaduweeblom. Die bloesie is wit en mouloos.

      Oomblikke lank kan hy met deernis en nuwe perspektief kyk. Sy het die groot ding gedoen net om naby hom te wees. Of soek sy die avontuur?

      Miskien moes hy in ’n meer positiewe gees van haar afskeid geneem het. Daar is baie groeiruimte tussen hulle. Maar nou ja, dan kry hy nou ’n tweede kans, want sy het uit haar pad gegaan om die bande wat hy wou laat val, opnuut en vaster te knoop.

      Hy moet haar eintlik in sy vertroue neem oor die rede vir sy vertrek hierheen. Die gebeure met Banie Hougaard. Die vretende skuld. Hoedat hy sy eie heling kom soek het. Deur haar in sy vertroue te neem, kan hy reeds sy gemoed verlig. Maar hy bly die gevoel behou dat sy te lig is om die las op haar skouers te neem. Dat hy haar onnodig sal beswaar, haar ligtheid demp.

      Reinet se gesin is aangenaam en ontwikkeld genoeg, maar in haarself het sy geen besonderse mate van wysheid of menskunde nie. Sal sy alles in perspektief kan sien? Sal sy nie op loop gaan en hom nog twyfelmoediger stem nie? Of, en hiervoor sien hy amper nog minder kans, sal sy nie dalk beweer dat hy alles oordryf, dat hy geen werklike skuld het nie? En dit terwyl sy skuld onbetaalbaar groot is. Niks, geen mag of kennis waarvan hy bewus is, kan hom van die teendeel oortuig nie.

      En wat as sy tog tuis loop praat? Haar ma in haar vertroue neem, een treetjie weg van mevrou Hougaard se dampkring? Daar was reeds genoeg hartseer en leed aan die saak verbonde. En as dit dan moet uitlek dat Banie nog kon bly leef het … Of sy kan dit per telefoon uitblaker. Ma moet vir niemand vertel nie, want ek het vir Nelis belowe, maar …

      Dit was seker onvermydelik dat die gesprek in die personeelkamer een oggend gegaan het oor ’n driedubbele verdrinking in die Oranjerivier. Die nuusberig het die aandag getrek omdat Banie se verdrinking so vars in die geheue was. BH was natuurlik nie by nie, maar in sy kantoor waar hy hom na die ramp graag afgesonder het. Net afkondiginge kom doen, daarna sy koppie tee saam met hom gedra. Of die sekretaresse neem dit vir hom.

      “Ek wonder tog,” het die LO-onnie opgemerk, “as die Oranje al sy slagoffers moes teruggee; dit sou seker genoeg wees om ’n nedersetting mee op te rig.” Elke keer wat Nelis daarna deur geadverteerde poste gesoek het, het hy uitgekyk vir rivierdorpe. In sy toestand van ontwrigting het dit vir hom logies voorgekom: stel jou bloot aan standhoudende water, ontleed jou gedrag, vind ’n antwoord. Net so, het hy gedink, sal hy sy gewete kan versoen met die skreeuende aanklag van ’n onskuldige, hartsgeliefde eenlingkind se onnodige waterdood. Aandadig deur daadloosheid … hoe kan hy hoop dat Reinet dit moet verstaan? Haar verbind aan hom wat dalk lewenslank geknou is?

      Eindelik sien sy hom kastig raak. Beduie hy moet inkom. Die glasdeur is nie gesluit nie. Daar is ’n dakwaaier wat die klimaat binne leefbaar maak.

      Hy sit sy hand op haar koel skouer en sy knak haar kop om dit ’n rukkie daar vas te druk. “Is jy kwaad?” vra sy.

      “’n Man se kar is sy kar.”

      “En sy vrou is sy vrou, so sê hulle.”

      Hy ignoreer die skimp. “Jy is onmoontlik.” Hy sien die motorsleutels lê, reggesit vir hom. Ook ’n faktuur wat aandui, toe hy dit vlugtig bestudeer, dat ’n herstelplek op Kenhardt sweiswerk aan die petroltenk onderneem het. “Opspattende klip in die grondpad,” verduidelik sy kripties tussen flitsende liggies en wisselende koordpunte.

      Hy het sy wrewel oorwin. “Dit moes later gebeur het, met sulke paaie. Maar ek sou verkies dat dit met my gebeur en nie met jou nie.” Hy kan dink hoeveel ongerief en angs sy moes verduur het, sy, haar ouers se beskutte dogter.

      Dan neem hy op die enigste beskikbare stoel plaas. Geen verdere groet, verwyt, verontskuldiging nie. Dalk is dit voorlopig die beste so. Natuurlik optree, asof daar geen tussenspel was nie. Sy is bes moontlik bang dat hy haar die kop kan was, en dit sal ook haar verdiende loon wees.

      “Ek gaan nege-uur van diens af,” deel sy hom mee asof hy gevra het. Die gehoorstuk het sy tydens ’n klein verposing afgehaal en sy lig haar hare met die vingers van haar kopvel af weg. “Sit hier tot dan, en gaan saam hotel toe. Hulle hou my kos. Ek sal met jou deel, of iets prakseer.” ’n Nuwe rooi liggie, ’n vibrasie wat haar aandag benodig. Daarna vervolg sy: “Dit sou ideaal wees as ek nagskof werk.” Haar