“Moenie te ver gaan nie, Nieds.”
“Nieds is my pa se naam vir my. Noem my Nida.”
“Hoe ook al. Ek en jy moet nog ’n ver pad saam loop. As skoonma en skoondogter.”
“Dink jy ek sal nóú …?” Nida stik in haar woorde.
“O ja, jy sal. Want op sy eie sal daardie broer van jou net so uitboer.” Sy klap haar vingers. “As Boel nie hand bysit nie, gaan julle almal nog in die grootpad sit.”
“Dan sit ons daar.” Sy spring op.
“Jy kan nie so gaan nie. Drink jou koeldrank.”
“Ek sal stik.” En dis waar. Haar keel is te dik om te sluk.
“As jy vir Boel nou wegstuur, terwyl jy hom eintlik klaar toegeneë is, watter rede sal jy hom gee? Hy sal weet dis nie oor die onderwyser nie, dié is geholpe.” Daar lê ’n trek van oorwinning in die ouer vrou se oë.
“Weet Boel nie? Van jou en my pa?”
“Ai, nou is die liewe tant Bella sommer jy en jou. Maar nee, Boel weet nie. En as jy hom heeltemal wil breek, as jy wraak wil neem, vertel hom dan.”
“Ek sal hom nie vertel nie.” Sy stoot moeisaam die gaasdeur oop, hoor duideliker die ruising van die rivier. Dis hierso nader as by hulle eie huis. Hoe half ontsteld was Nelis Hoffman toe hy daaroor uitgevra het. Sy blik was vertroebel, en in die hitte het sy digte kuif oor sy voorkop begin hang.
“Kan ek jou woord vat? Boel is al wat ek het. Hy moenie sy ou Bella verag nie.”
“Ja, vat my woord. Ek sal hom nie vertel nie. Maar of iets tussen my en hom kan oorleef, weet ek nie. Dit verstaan jy tog, tant Bella.” Sy het haar beskaafde toon teruggekry, maar daar is niks liefdevols meer, soos in al haar onkundige jare van verafgoding nie.
Toe Nida deur die groengeurige aand langs die grootvoor begin terugstap, sien sy Boel se lorrie huis toe aangery kom. Sal hy weet sy was daar? Sal Bella hom vertel?
Sonder om dit te kan verklaar, ervaar sy ’n dringende verlange na hom, so sterk dat dit eintlik fisiek is. Om teen sy groot lyf vasgedruk te word, sy sweet en pyprook in te asem. Is Bella dan reg, dat sy reeds liewer vir hom is as wat sy weet?
Naby hulle eie werf kyk sy ver links, die rant op, na die twee gewitte geboutjies langs mekaar, skool en skoolhuis. Nelis Hoffman werk dikwels daar, skynbaar beangs oor die vooruitsig om soveel grade in een vertrek te moet onderrig. Word dit donker, gebruik hy die skool se gaslamp wat Dewald aan die gang gekry het met nuwe gaassakkies en paraffien. Nelis is trots dat hy die werking onder die knie gekry het. Wanneer sy dan, soms reeds donker, vanuit hulle kombuisdeur die lig daar bo sien doof, weet sy dat hy met die voetpad langs na sy buitekamer sal kom.
Toe sy die warm huis vanuit die koelte binnekom, sit haar ma langs die kombuistafel. Die stoof is dood, genadiglik. “En hoekom loop Ma nie deur stoep toe nie?” vra sy, nie onvriendelik nie.
“Hiervandaan kan ek die pad teen die rant af dophou,” erken Leen. “Om sy ligte te sien. Hy is oppassend op sy kar, lyk dit vir my. Hy moet maar die waenhuis gebruik en Arno kan nog altyd die bakkie onder die boom trek.”
“Arno hou in elk geval graagter buite as binne stil, minder moeite as hy wil ry,” stem Nida saam. Sy gaan teenoor haar ma by die kaal kombuistafel sit.
“Ek het gewag om te hoor wat jy wil eet. Hier is vir Arno ’n stukkie koue vleis en brood as hy inkom.” Niks oor haar dogter se besoek aan Bella Meyer nie. Sodat Nida wonder: het my gesig iets verklap? My vriendeliker-as-gewoonlik-houding?
Maar Leen dink nog oor die loseerder, want sy voeg by: “Vir hom het ek ’n koue aartappeltjie gehou.” Dit was ’n wonderlike meevaller om uit te vind dat Hoffman, behalwe kênfroet-perskes, suurroom op sy brood en vleiskluitjies, ook van koue aartappel hou. Daar staan min of meer altyd een, op ’n kleinbord met ’n omgekeerde bakkie oor.
“Ek wil tog regtig nie eet nie, dankie, Ma. As ek later honger word, sal ek vir my ’n broodjie kom smeer en melk drink.”
“Dis stil sonder hom,” mymer Leen. “Al werk hy net in sy buitekamer. Hy stel so in alles belang. Die stukkie aluin aan ’n toutjie om die troewel water af te sak.”
“En die perskepit,” stem Nida saam. En hoe verwonder hy hom aan die grootvoor wat so stil vloei, met die geil groeiende ballerjak wat hy wilde kruisement noem. Sy sien hom saans in die skemer daar sit, hande om sy opgetrekte knieë, peinsend. Hy het hom verbaas oor hoe alle honde begin blaf as die volmaan opkom; hoe die lig so helder skyn dat jy daarin kan lees; hoe dit vir almal dan moontlik word om later as gewoonlik met die buitewerk voort te gaan.
Die melkery van die bokke na sononder, in die takkraal. Hy wou weet of almal nog takkrale het, moes verneem dat die meeste ander boere hulle eie groot sementstene maak en krale bou. Die skaap slag van enkele dae gelede het hom soos ’n magneet getrek. Hy het hom eers vergewis van die feit dat almal hier rond self slag. Hy wou die keelafsny nie sien nie en het sy rug ferm daarop gedraai, maar daarna die kleurvolle binnegoed van die slagdier bewonder. Die geel buikvet, die groen van die galblaas. “Dalk moes ek ’n snydokter geword het,” het hy gereken. Hy het nogtans goed weggelê aan die niertjies en lewer in ’n suurderige meel- en asynsousie, dik geskep oor ’n sny soetsuurdeegbrood. Nida het hom geterg dat ’n sjirurg darem seker nie sy pasiënt sou opeet nadat hy sy binnekant bewonder het nie.
Hy weet nie dat dit spesiaal vir hom is dat ’n skaap geslag word nie, anders is dit bokvleis. Oor hulle werfhaan wat saans so fladderend en skreeuend sukkel om op die stellasie te kom, het hy nie gelag nie. Daar was vreemde mededoë in sy blik. Oor die motte en besies wat saans teen die lampglas tik, kla hy nie. Alles boei hom. “Dit lewe,” sê hy meer as een keer, sodat sy wonder wat sy beheptheid met die dood dan is.
“Jy moet tog maar bietjie meer met hom gesels, my kind. Anders begin hy al hoe meer geselskap op die dorp soek. Veral as hy sy kar het.”
“Hy het reeds geselskap op die dorp, Ma.” Nida hou haar stem simpatiek. “Sy meisie. Dis sy wat sy kar gebring het. Sy werk glo op die sentrale.”
“O,” sê Leen, met al die verydeling waartoe ’n moederhart in staat kan wees. Sodat Nida haar jammer kry. Sy kyk om haar heen na die redelike bar kombuis, maar in haar ontstemming kan sy vir die eerste keer die adel van eenvoud raaksien. Die blinkgeskuurde panne en die spane teen die muur, alles nodig en bruikbaar. Die houtkas, die dankbare stoof, die saf gewaste gordyne wat die basiese doen: beskutting teen die elemente bied.
Bella met haar valletjies en voerings, gordyne oorgetrek met pienk kunssy wat sy trots “rayon-silk” noem. Die kunsblomme, vasies en mooigoed wat vir ’n dogtertjie so betowerend kon wees. Dis waar dat Bella se oordaad later jare vir Nida begin opval het, maar haar toegeneentheid was te groot om te veroordeel.
Goed, vervreemding van so ’n aard kom selde net van een kant. Haar ma moes noodwendig ook skuld gehad het aan die onvolkome huwelik. Deur haar gebrek aan spontaneïteit, haar geneul oor klein dingetjies, geld en kos en hoenders, haar onbuigsaamheid. Maar as mens so wil redeneer, sal alle gevalle van ontrou en egbreuk goed te praat wees. En haar ma het ’n sagter, dieper pit waarvan haar eie man tog moes weet.
Sy verstaan nou beter waarom haar ma Arno feitlik verafgood. In hom moes die mislukte vader herskep word, hy moes bewys wees van Leen Thirion se toewyding en haar vermoë tot opoffering en trou.
Daar is een vraag wat by haar spook: noudat sy in Bella ontnugter is, noudat aanbidding omgeslaan het in veragting, waarom verlang sy vanaand na Boel met ’n gloed wat haar wil verteer? Is dit omdat hy eindelik nie meer vaar onder die erevaandel wat sy ma omvou nie? Sy lorrieligte het oor die werf aangevee gekom en daar agter die stuurwiel sou hy self wees, die swaar kop, die hare deur die hoed verlê, die dreunstem en ou pyprook, die reuk van sy dagsweet. Saans dompel hy hom in die grootvoor om skoon te kom, onbegaan dat mense laer af die water moet drink. Want almal