Martine snak fyntjies na haar asem. Adele verstil merkbaar.
Sy ma kyk bloot ondersoekend na hom.
“Jy is net ooreis, Dai,” sê sy gelykmatig.
Hy buk sonder ’n woord, tel sy baadjie op en stryk aan huis toe. Binne die groot dubbele deure slaan hy oor in ’n draf en hardloop die trappe op na sy kamer. Hy sal sélf graag Hugo se brief wil lees . . .
In sy kamer steek hy vas, voel hoe ’n magtelose woede oor hom kom. Op sy bedkassie staan Martine se handtas, en op die leerleunstoel by die venster lê haar klere. In die kopkussing van die driekwartbed is ’n duik waar haar kop gelê het, en die geweefde bedsprei het diep voue in. In die vertrek is ’n fluistering van haar parfuum.
Dai stap na die vensters, wat soos gewoonlik wanneer hy tuiskom, dig toe is, en maak dit oop. Eers toe die bokhaargordyne begin bol in die ligte windjie draai hy hom om en gaan tel die brief op, wat intiem naby Martine se handsak lê. Met ongewone drif skeur hy die koevert oop. Hy weet, hy wéét met groot sekerheid dat die brief oopgestoom en gelees is. Vandaar die vroue se strategie vanmiddag.
Die opreg vriendelike trant van Hugo se brief laat hom ontspan. Hugo Malan is ’n ou vriend; hulle het saam oorsee gewerk en ook saam gestudeer. En voor dit was hulle saam op skool. Sowat ses maande gelede het hy in die koerante gelees dat Hugo in ’n bomontploffing in Londen beseer is, en nog dieselfde aand, harsingskudding en al, in die huwelik getree het! En nogal met Sanet Bornman! Dit het Dai tegelykertyd verbly en verbaas. Sanet was eers verloof aan Hugo se losbolbroer, en hoe die saak reggekom het, weet hy nie, maar hy is dankbaar dat ou Hugo uiteindelik getroud is met die meisie van sy drome. In elke woord van die brief lees hy hul geluk, en dit bring ’n sprankie hoop. Dan is daar tóg mense wat ongekompliseerd kan liefhê, dink hy. Hy wonder of dit ooit vir hom beskore sal wees. Hy gaan met Martine breek, dit weet hy. Miskien het hy dit diep binne-in hom geweet selfs voordat hy en Rieta nog gesels het. Hy is lief vir ’n gesellin, vir ’n vrou in sy lewe. Dit bring sagtheid en warmte, maar hy was nog nooit werklik verlief nie. Hy kon nog altyd darem op ’n manier die graad van sagtheid en warmte reguleer.
Hugo se brief is ’n skertsende beskrywing van al hul doen en late en van hul lekker vakansie in Venesië. Maar die laaste paragraaf bevat ’n ernstige versoek. Charles-Henry Mounthallow het hulle besoek om Dai se hospitaaladres in die hande te kry. Hy het hulle gevra om hom solank in die oor te fluister dat hy ’n formele aanbod gaan kry om Charles-Henry se praktyk vir twee jaar te kom oorneem, want dié gaan na Kanada vir verdere navorsing in ortopedie. As Dai oor sowat ses weke kan kom, sal Charles-Henry nog daar wees om hom persoonlik touwys te maak. Hugo weet dis bietjie skielik, maar sal Dai tog nie maar daaraan dink nie? Hy moet egter die formele aanbod definitief te wagte wees. En terloops, Sylvia Saunders was saam met Charles-Henry by hulle. Dai onthou haar seker?
Dai frons in herinnering. Ja, natuurlik onthou hy haar. Swart hare in ’n bolla, smal gesiggie, groot oë. Skraal. Niks watwonders nie. Hy en sy het tydens ’n roeipiekniek aan die Teems begin gesels. Soms gaan dans. En een aand het hy haar selfs na ’n Shakespeare-opvoering geneem. Dis al. Sy is heeltemal ’n oulike aster. Maar met dié goedige gedagtetjie vergeet hy weer dadelik van haar.
Dai vou die brief toe en sit dit ingedagte neer. Hy steek ’n sigaret op en val skuins op die bed neer. Hy sou eerder in die stoel wou sit, maar hy is nie lus om Martine se klere daar weg te neem nie. Hy rook met lang teue. Dit krap aan hom dat hy Martine en sy ma verdink dat hulle sy brief gelees het. Maar die gesprek daar op die grasperk het op iets afgestuur, hy kon dit aanvoel. Martine en sy ma is moeg gewag. Hulle wil sake tot ’n punt stuur tussen hom en haar.
Toe hy destyds weg is Engeland toe, was Martine ’n eerstejaar. En hy het gehoop dat sy – en sy ma – sou vergeet dat daar ’n paar vakansieweke was toe hy net vir die mooi rooikopkind oë gehad het. Maar hulle het nie. Sy ma het tydens haar besoeke aan hom nooit nagelaat om hom alles van Martine du Plooy te vertel nie. Toe sy ma eenkeer vir hom gaan kuier het, het sy ’n kolossale foto van Martine as joolkoningin aan hom geskenk, en dit sommer self in sy kamer laat aanbring. Hy was woedend. Een middag, toe hy moeg uit die operasiesaal kom, was die foto maar net daar – ’n pragtige Martine in ’n spierwit rok en ’n skitterkroon, agter dik glas vasgeskroef teen die muur. Dit het ’n geweldige rusie tussen hom en sy ma veroorsaak, waartydens Anne Deetlefs dramaties verklaar het dat hy niks waardeer wat sy vir hom doen nie, en sal hy asseblief in sy onnadenkendheid onthou dat hy bevoorreg is om so sonder studieskuld te kan studeer. Toe sy weg is, het hy eenvoudig nie die moed gehad om die portret te verwyder nie – en later ’n soortgelyke rusie te ontketen nie! Hoewel hy goed geweet het, net soos nou, dat hy nooit ’n ernstige verhouding met Martine sal aanknoop nie, was hy nie fisiek in staat om enigiets aan die toestand te doen nie. Want dit is steeds hoe hy dit sien – daar is niks reëels tussen hom en Martine nie, net ’n soort toestand wat homself moet uitwoed . . .
Hy swaai sy bene van die bed af en druk die sigaret dood in die koperasbak op die bedkassie. Hy leun vooroor en stut sy kop in sy hande. Dit het nie eens gehelp om die foto met opset in Londen te vergeet toe hy terugkom Suid-Afrika toe nie, dink hy. Martine het haar bloot teen hom aangevly en gesê sy sal hom maar ’n nuwe foto gee. Maar hy was so besig, so betrokke by sy nuwe werk dat hy dit afgelag het. Dit het hom egter min geamuseer toe hy eendag sy kamer binnestap en ’n soortgelyke foto teen die muur sien. Hy het dit gedetermineerd afgehaal en in die gangkas gebêre. Sy ma was ontstig, nee, hewig ontsteld, en het dit terstond weer laat terugsit. Hom gevra of hy enigsins besef hoe seergemaak Martine sal voel, en gevra of hy dan nooit aan ander mense dink nie. Hy het stilgebly en die saak daar gelaat. Hy was trouens so besig en uithuisig dat sy verset nooit werklik tot ontplooiing gekom het nie. Sy opstand het net gevonk, nooit gevlam nie. Tot vanmiddag. Of miskien het dit al eerder begin, hy weet nie. Sy hele probleem is dat hy altyd die saak in der minne wil skik.
Hy hoor sy ma se trippelstappie op die trappe. Dan maak sy die deur oop sonder om te klop.
“Dai!” sê sy sonnig, haar klein handjies voor haar uitgestrek. “Ek is so bly jy het ’n bietjie gerus!” Sy draai om en roep in die gang: “Kom, Martine! Die verspótte kind! Sy’s nou bang omdat jy netnou kwaad was! Jy is mos weer goed, nè?”
Dai staan op en strek hom tot sy volle lengte, voel hoe die woede in hom klim en sy woorde losmaak:
“Nee, Ma, ek is nie góéd nie, en soos ek nou voel, dink ek nie ek gaan ooit weer góéd word nie! Ma, ek . . .”
Sy ma loer weer by die deur uit en Dai weet dat sy niks gehoor het nie, want sy wóú nie. Sy humeurigheid verdamp. Wat hélp dit tog . . .
“A, hier is jy, Martinetjie!” lag sy ma haar skerp laggie. “Kyk nou self, hy was net moeg!”
Dai ignoreer Martine se kamma-druipstertfiguurtjie geheel en al. As sy nou maar regtig bang was! dink hy ergerlik.
“Ma!”
“Dai, dis vanaand my beurt om die musiekkring te onthaal,” gaan sy dwarsoor sy protes aan, en hy sien dat sy nie wil hoor wat hy sê nie. “Ek het gesê jy sal vir hulle sing!” Sy hou ’n handjie op toe hy wil praat. “Net twee arias en so drie Duitse liedere. Pappa het self gesê Meyer en Du Preez sal jou uithelp as daar dalk ’n krisis is . . .”
Enigiets wat met die hospitaal te doen het, is vir haar ’n krisis wat haar persoonlike wêreldjie bedreig. Sy is baie trots daarop dat sy Dai se pa so van die hospitaal gespeen het dat hy nou sy tyd hoofsaaklik bestee aan sy eksklusiewe privaat kliniek. Sy beskou dit as ’n besondere prestasie en vergeet skoon dat dit net tot stand gekom het deur Deetlefsgeld . . .
Dai staan haar sprakeloos en aankyk en word dan doodkalm.
“Ma, ek sal nie vanaand kan sing nie. Ek is juis op pad na Meyer toe.”
“Nou maar dan kan jy hom mos sommer sê om vir jou in te staan as . . .”
“Nee, ek gaan reël met hom en professor De Koker in verband met my pos vir die twee jaar wat ek in Londen sal wees. Ek gaan Charles-Henry se praktyk vir hom behartig. Hy gaan na Kanada vir navorsing, maar ek veronderstel julle het so iets vermoed . . .”
Hy sien hoe Martine verstar