“Natuurlik. Jy moet jou tuismaak.”
“Ek sal, ja.” Sy bestudeer haar hande. “Hoe gaan ons … e … hoe wil jy hê moet ek kos koop en … en … daardie soort van ding? Sal ek koop wat nodig is en vir jou die strokies gee?”
“Nee, nee,” sê hy haastig en haal sy tjekboek uit sy binnesak. Hy skryf ’n tjek, skeur dit uit en stoot dit oor die tafelblad na haar toe. “Betaal dit sommer in jou bankrekening in. Ek sal met Peter reël dat ’n bedrag maandeliks in jou rekening inbetaal word. Jy kan hom net bel en jou rekeningnommer vir hom gee.”
Sy kyk na die bedrag en trek haar asem in. “Dis gans te veel,” sê sy flouerig.
“Ja, maar jy … ek bedoel, jy het tog seker ander goed ook nodig, soos klere of so iets.” Hy wys na die bord voor hom. “Die kos is heerlik, hoor. Eva was nie eintlik ’n kok nie en teen die tyd dat ek saans by die huis gekom het, was alles altyd verdroog.”
“Dit kan gebeur,” sê sy nugter. “Ek kan uit die aard van die saak nie vir jou voorskryf wanneer jy saans by die huis moet wees nie, maar as jy my kan laat weet hoe laat jy kom, kan ek toesien dat jou kos nie uitdroog nie.”
“Goed,” sê hy. Hy lig sy wynglas en drink ’n sluk. “Wil jy nie ook wyn hê nie?”
“Nee, dankie, ek gaan nou slaap.”
“O,” sê hy en onthou dan nog iets. “Gee my jou pa se adres en telefoonnommer. Ek gaan oormôre Kaapstad toe vir die dag. Ek het gedink miskien kan ek hom te siene kry.”
Sy is getref hierdeur. “Hoekom?” vra sy.
“Wel, dis seker niks minder as reg nie, al doen ons dit ’n bietjie agterstevoor. Ek moes mos eintlik voor die tyd sy toestemming gevra het om met jou te trou.”
“Ek is ag-en-twintig, ek het niemand se toestemming nodig nie. Maar dit is … hy sal dit op prys stel. Ek het hom oor die telefoon vertel, natuurlik, en hy het …”
“Het wat?” vra hy.
“Bietjie skepties geklink. Miskien omdat dit so onverwags is. Hy het nie gedink ek sal ooit trou nie.”
Hy lewer nie hierop kommentaar nie, leun net terug in sy stoel en draai die wynglas tussen sy vingers rond. “Ek het geen familie hier naby nie,” merk hy afgetrokke op. “Maar dit beteken nie ek wil sulke bande ignoreer nie. Jy moet die vrymoedigheid hê om jou familie te sien of oor te nooi, of wat ook al.”
“My suster Marlise was verlede naweek by my,” sê sy.
“As sy weer kom, nooi haar om hier te kom kuier.”
“Dankie,” sê sy en staan op om sy leë bord kombuis toe te neem. “Wil jy nog iets hê? Koffie?”
“Nee, dankie. Ek sal self later maak, want ek het nog baie werk om te doen.”
Sy stap kombuis toe, skeur ’n bladsy uit die notaboek waarin sy die koslys geskryf het en skryf haar pa se adres neer. Sy neem dit terug na die eetkamer en gee dit vir Roland.
“Dankie,” sê hy, lees dit en druk dit in sy sak. “Dit sal jou pa miskien gerusstel as hy sien wie ek is.” Hy besef dat dit dalk arrogant kan klink, en voeg haastig by: “Ek bedoel, dat ek ’n normale soort van man is.”
“Mm,” sê sy. “Dis waaroor Marlise haar kwel – my veiligheid. Sy’s bang jy’s ’n pervert of iets.”
Hy lag. “Ek hoop jy het haar gerusgestel.”
“Ek ken jou nie, maar ja, ek het haar verseker jy lyk normaal.”
“Ek ís normaal,” sê hy gekrenk.
“Mens weet nooit nie.” Sy tel die sout- en peperpotjies op en bêre hulle in die buffet. “Ek het my al vasgeloop.”
“In perverse mans?” vra hy tergend en lag.
Sy lag nie, kyk hom net ’n oomblik lank deurtastend aan. “Iets in dier voege,” sê sy kalm en stap deur toe. “Goeienag. Hoe laat eet jy ontbyt?”
Daar is ’n effense frons tussen sy wenkbroue en sy moet die vraag herhaal voordat hy antwoord.
“Goed,” sê sy. “Lekker slaap.” Sy draai om en haar dun rok swiep geluidloos om haar enkels voordat sy in die gang af verdwyn.
Hoofstuk 5
“Sy’s ’n liewe kind,” sê Peter vir Roland toe hulle in die direksiekamer sit en wag vir die ander mense om by hulle aan te sluit. Hulle is te vroeg, maar Roland het so pas teruggekom van ’n ander vergadering, en hulle is dankbaar vir hierdie kwartier se ruskans.
Roland kyk vinnig op. “Wie?”
“Victoria.”
“Victoria?” vra Roland en sy oë vernou effens. “Jy bedoel my …”
“Ja,” sê Peter geduldig. “Victoria, jou vrou.”
“Wat bedoel jy, ’n liewe kind? Sy’s ag-en-twintig jaar oud.” Roland se stem is aggressief.
“Mens sou dit nie sê nie. Sy lyk vir my agtien.”
Roland skud die papiere voor hom gelyk. “Wat laat jou so sê? Waar sien jy haar dat jy so dink?”
“Jy stuur my elke tweede dag soontoe om iets by haar te kry.”
Roland antwoord nie, slaan net die lêer voor hom oop en dwing Peter so om sy aandag by die agenda te bepaal. Maar toe Peter daardie aand huis toe ry, kan hy nie help om weer aan sy vriend en sy ongewone huwelik te dink nie. Roland probeer van die begin af maak asof alles normaal is, maar hy oortuig Peter nie. Vandat hy die twee die dag in die magistraatskantoor gesien het, weet hy iets is nie pluis nie. Dis nie net dat Roland nie eens onthou het om ’n ring te koop nie, selfs nie die feit dat die twee nooit aan mekaar geraak het of mekaar gesoen het nie. Dis meer. Roland se leefwyse het op geen manier verander nie. Hy gaan nie vroeër huis toe of werk minder oor naweke nie. Sy lewe het onveranderd gebly. Hy neem nie sy bruid op ’n wittebrood nie – liewe aarde, hy neem haar nie eens saans uit nie!
Wat vir Peter nog vreemder is, is dat dit nie lyk asof dit Victoria enigsins hinder nie. Hy is seker hy sien haar meer dikwels en gesels meer met haar as Roland, want daar is heelwat papierwerk om af te handel. Haar paspoort moet in orde kom, en daar is die banksake en ander formaliteite.
Victoria lyk altyd bly om hom te sien en gesels gemaklik met hom. Sy lyk nie asof sy afgeskeep voel nie. Wanneer hy daar kom, is sy gewoonlik in die kombuis besig, soms in die tuin. Sy vra nie uit na Roland nie en lewer geen kommentaar op sy reise of veeleisende werk nie. Die enigste ding waarteen sy kapsie gemaak het, is die groot som geld wat Roland haar maandeliks gee vir die huishouding.
“Dis regtig te veel,” het sy ernstig vir Peter gesê toe sy die bankvorm moes teken. “Ek is ’n baie ekonomiese huisvrou.”
“Roland kan dit bekostig. Moenie sleg voel nie.”
“Dit maak my ongelukkig om geld te mors. Ek sal die balans elke maand spaar, dan kan ek dit later vir hom teruggee.”
“Nee, nee,” het Peter gekeer. “Dit sal alles kompliseer. Gebruik dit vir iets anders. Koop vir jouself klere.” Die oomblik toe hy dit sê, kon hy sy tong afbyt, maar dit het nie gelyk asof sy dit as ’n belediging beskou nie.
“Ek maak gewoonlik my eie klere.”
“Maar miskien wil jy jouself ’n bietjie bederf?” het hy vrolik voorgestel.
Sy het bekommerd aan haar lip gebyt. “Dink jy so?”
Hy het na die paspoortvorms gewys. Die reis na Praag moes uitgestel word omdat sy nie ’n paspoort gehad het nie. “Dis nou winter in Europa. Bitter koud. Het jy nie warm klere nodig nie?”
Haar mooi groengrys oë het geskitter. “Ek sien so