“Toemaar,” sê Peter, “ek sal.” Hy verstel haar sitplek en haar oë fladder oop. Sy gee hom ’n dankbare, slaperige glimlaggie.
Roland voel nie baie gelukkig oor die glimlag nie, maar bepaal sy aandag opnuut by die werk. Die oomblik as hulle in Praag land, wag daar ’n rits afsprake en vergaderings en hulle moet voorbereid wees.
Van tyd tot tyd kyk Roland na Victoria, maar sy slaap rustig. So vas, sien hy na ’n halfuur, dat sy effens op haar sy gedraai het en haar kop nou teen Peter se skouer rus.
“Ek dink ek en jy moet omruil,” beveel hy vir Peter. “Victoria gaan jou pla.”
Peter kyk na die blink donkerkop wat teen sy skouer rus. “Ag, sy pla my nie,” sê hy ongeërg, maar Roland het reeds opgestaan en hy het geen keuse as om te gehoorsaam nie.
Victoria word gesteurd wakker en knip haar oë verward. “Ek is so dors,” prewel sy.
Roland, gesoute reisiger wat hy is, haal die blikkie sodawater en glas wat hy vroeër by die kelner gekry het uit en skink vir haar. Sy drink dit dorstig, maar dis duidelik dat sy baie vaak is. Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar mond, knip haar oë ’n laaste keer en raak weer aan die slaap. Roland trek die kombers oor haar skouers en besef dat sy gemakliker sal lê as sy sitplek ook teruggekantel is. Hy maak sy tas toe en laat sy sitplek sak.
“Wil jy slaap?” vra Peter verbaas. Roland kla altyd dat hy nie op ’n vliegtuig kan slaap nie.
“Ja, ek is nogal moeg.” Roland skik Victoria se kussing so dat sy nou slap teen sy skouer lê en maak sy oë toe.
Peter draai na die venster toe en kyk na sy eie weerkaatsing. Die beeld in die ruitjie lyk ewe geamuseer. Hy probeer onthou watter tipe meisies Roland deur die jare uitgeneem het. Daar was baie, maar hy is doodseker nie een het nog ooit Roland se hartsnare geraak nie. En daar was beslis niemand soos Victoria nie.
Hulle was almal baie gesofistikeerd en wêreldwys. Modieus ook. Sover hy kon sien, het hulle Roland ook maar gebruik. Gehou van die aansien wat hulle gehad het as metgesel van so ’n man.
Daar was een wie se naam hy nie eens meer kan onthou nie, wat ’n laspos geword het. Sy het Roland tydig en ontydig gebel. Geneul as sy nie van hom hoor nie, en soms sommer ongenooid by die kantoor opgedaag. Ja, hy onthou haar. Toe hy eenkeer in Roland se kantoor ingekom het, het sy op sy lessenaar gesit en in Roland se rigting oorgeleun. Hy onthou nog hoe benoud Roland gelyk het. Daardie meisiekind wou met Roland trou en sy het alles probeer. Hoe hy op die ou end van haar ontslae geraak het, weet Peter nie, maar sy het later van die toneel verdwyn.
“Nee, dit help nie,” het Roland na die tyd vir hom gesê. “Sodra ek ’n meisie saamnooi na ’n ete toe, dink sy ek wil met haar trou. Ek dink dis beter as ek op my eie gaan. Gasvroue nooi altyd ’n ekstra meisie, en alhoewel dit op sigself ook ’n komplikasie kan word, is dit beter. Moreel gesproke skuld ek daardie meisie niks nie. Ek hoef haar nie huis toe te neem en dan al daardie drama te hê van kom-in-vir-’n-laaste-drankie nie. Vroumense wil te veel van my hê. Ek het nie tyd daarvoor nie.”
Is dit hoekom hy met Victoria getrou het? wonder Peter nou. Beskerm sy huwelik hom nou teen al die ander vroumense wat agter sy lyf en veral sy posisie aan was? Hy hoop nie dis die geval nie. Victoria is te onskuldig om so gebruik te word. Aan die ander kant lyk sy vir hom allesbehalwe veeleisend. Miskien weet sy waarvoor sy haar ingelaat het en is sy tevrede met die reëling. As dit die geval is, sal hy wat Peter is nie inmeng nie, maar hy gaan nie staan en toekyk dat sy afgeskeep of seergemaak word nie. Dit sal wees soos om ’n klein katjie te skop; ’n hulpelose, weerlose klein …
Peter slaan sy gedagtes hok en kyk na die twee langs hom. Dit lyk asof Roland slaap. Sy kop is weggedraai van Victoria af, maar sy lê opgekrul op haar sy, haar kop teen Roland se skouer genestel. So aan die slaap lyk sy vir hom selfs jonger as gewoonlik, haar wimpers syerige halfmane teen haar wange.
“Waarna kyk jy?” vra Roland sonder om sy oë oop te maak.
Peter gee ’n oordrewe gaap, tel sy kussinkie op waar dit tussen sy voete geval het en druk dit teen die venster. Hy kan netsowel ook probeer slaap.
Hoofstuk 6
Victoria word vroeg wakker, haar lyf styf van die vreemde posisie waarin sy moes slaap. Sy lig haar kop, vryf oor haar oë, wat dor en sanderig voel, en besef dan waar sy is. Baie van die passasiers slaap nog, maar Roland is ook wakker. Hy wys na Peter wat omgedop teen die venster lê en slaap, en fluister: “As jy bietjie wil gaan opknap, stel ek voor jy gaan nou, voordat almal wakker word.”
Sy knik, tel haar handsak op en stap met die gangetjie af. Haar voete voel geswel in die steweltjies en sy wens sy kan kaalvoet loop. In die piepklein badkamertjie spat sy hande vol koue water oor haar gesig en nek, borsel haar tande en hare en voel sommer beter. Terug by haar sitplek is Roland nie daar nie, maar hy kom minute later terug, sy skeersak in sy hand, sy vingers tastend oor sy ken asof hy nie seker is of hy ordentlik geskeer het nie.
“Luister,” sê sy vir hom toe hulle weer sit en rondkyk hoe mense steunend en knorrig wakker word, komberse opvou en hulle verkreukelde gesigte vryf. “Ek wou nog vir jou sê hoe my pa dit waardeer het dat jy hom opgesoek het.”
“Dis ’n plesier,” sê hy. “Ek hou van hom. Ek het nie jou stiefma ontmoet nie, want jou pa moes in die stad wees en ons het mekaar in ’n restaurant gekry vir koffie.”
“Ja,” sê sy. “My pa sê jy kom vir hom ordentlik voor en hy wou weet of Eric van jou hou.”
“Wie is Eric?” Hy vat die glasies lemoensap aan wat die kelner vir hom gee.
“My swaer. Marlise se man.”
“Hoekom is dit belangrik of hy van my hou of nie?”
Sy lag. “My pa is baie erg oor Eric. Hy reken as Eric iemand goedkeur, moet hy meriete hê.”
Roland weet nie hoe hy dit moet opneem nie, maar Peter het intussen wakker geword en by die tou voor die toilette ingeval. “Dan moet jy hierdie Eric een of ander tyd oornooi,” sê hy.
“Hy boer,” vertel sy. “Hy rits nie rond nie, maar Marlise het gesê hulle kom een van die dae weer stad toe as sy die ginekoloog moet kom sien. Sal ek hulle nooi om by ons oor te bly?”
“Ja.” Hy kyk haar ondersoekend aan. Haar oë lyk rooierig, maar andersins lyk sy so vars en fris soos altyd. “Vertel my van jou stiefma. Is ek reg as ek sê julle kom nie goed klaar nie?”
Sy haal haar skouers op. “Ag, dis nie so erg nie. Vandat hulle in die Kaap is en ek op my eie, gaan dit heeltemal goed. Dit was net aan die begin … en dit was seker te verstane.”
“Wat was te verstane?”
“Ek het mos gesê: Na my ma se dood het ek die huis oorgeneem en vanselfsprekend het ek … wel, die vrou van die huis geword. Toe my pa met haar trou, het sy nie daarvan gehou nie. Sy wou baas wees.”
“Ek sien.”
“Dit was gelukkig nie vir lank nie,” voeg sy by. “’n Jaar of twee. Ek het maar padgegee. Dit was die beste.”
“Ja,” stem Roland saam. Hy vertel haar nie hoe kwaai haar pa met hom was nie.
“Jy moet mooi na haar kyk, boet,” het hy gesê. “Sy was nog altyd die een wat vir almal moes regstaan; op wie almal geleun het. Dis tyd dat sy bietjie bederf word.”
Peter kom terug en lyk wakkerder toe hy by hulle verbyskuur en gaan sit. “Liewe aarde,” sê hy. “Daar’s ’n vrou in die tou wat lyk asof sy enige oomblik gaan kraam. Ek weet nie wat maak sy op die vliegtuig nie. Ek is nie lus om daardie advertensie in lewende lywe mee te maak nie. Praat ook geen herkenbare taal nie.”
“Siestog,” sê Victoria belangstellend. “Miskien is sy Tsjeggies en is sy op pad huis toe.”
“Moontlik,” gee Peter toe. “Maar ek is nog steeds