Sirkus. Irma Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798174428
Скачать книгу
rond of ek haar sien, merk niemand op nie. Toe ek terugkyk, is daar ’n pistool in die man se hand.

      My pa gaan staan botstil, sy lyf snaarstyf gespan. Hy druk my met een arm agter hom in.

      “Wag, wag nou …” sê hy paaiend en soek in sy broeksak. “Net ’n oomblik … my beursie.”

      Die man kom nog ’n paar tree nader, lig die pistool. My lyf raak yskoud.

      My pa stamp my weg. “Hardloop, Adriana!”

      Ek gryp na hom. “Nee … ”

      “Hardloop! Nou!”

      ’n Harde plofklank.

      My pa val op die teer.

      Die man met die pistool is dadelik by, soek deur sy sakke.

      Ek dink nie, spring op sy rug, slaan na sy gesig. “Wat maak jy? Los hom!”

      Hy skud my van hom af.

      Ek val, proe bloed in my mond. Kruip na my pa.

      “Pa? Pa!” Ek hoor myself skree. My stem klink dun en hoog.

      Die man gryp note uit die beursie, gooi dit weg en hardloop.

      Ek stoei om my pa se lyf omgedraai te kry. Sy bors is vol bloed, ’n rooi vlek wat al groter en groter word.

      ADRIANA

      1

      Johannesburg, vandag

      Dis onnatuurlik stil in die riete. ’n Paar rooivinke klou kordaat aan die wuiwende groen stele. Hulle roer nie, kyk net stip na my.

      Ek staan enkeldiep in grys modder en afval uit die besoedelde Jukskeirivier wat deur Johannesburg kronkel. As die twee polisiemanne my nie skiet nie, gaan die E. coli my opvreet.

      My asemhaling het bedaar. Ek luister. Draai my kop nes die voëls op soek na beweging, voetstappe. Hoor die verkeer bo in Marlboro, mense wat opgewonde praat.

      Ek haal die bottel water uit wat ek altyd in my handsak saamdra en gooi daarvan in my bak hand, vryf aan my oor en nek om die bloed af te kry. Gelukkig het die bloeding gestop. Ek drink die bottel leeg en gooi dit neer. Voel of my foon nog veilig is voor in my rok. Dan vat ek die oorblywende mes vas en druk my lipstiffie langs die foon in my bra. Ek laat die handsak val, niks anders daar­in sal nuttig wees nie.

      Waar is die polisiemanne? Wag hulle vir my om uit die riete te kom? Of dink hulle ek het na die ander kant toe gehardloop, in die rigting van die Gautreinstasie?

      Ek oorweeg my opsies. Ek kan hier wag, of regs deur die riete na die oopte skiet en tot by Woodmead en die M1 hardloop, of ek kan oor Marlboro na die stasie of Alexandra se naaste huise hardloop.

      Regs van my is nog net ’n entjie vlei en dan ’n stuk afgebrande grasveld. Dis te min skuilplek, so nee vir opsie 2. Ook nie opsie 3 nie, die stasie is ’n te ooglopende keuse.

      Dan moet ek jag eerder as om gejag te word. Dis in elk geval hoe ek dit verkies.

      Snaaks hoe dinge verander. Hoe ’n mens verander.

      ’n Vink fladder op, vlug. My oë soek deur die riete na waar hy gesit het, maar ek sien niks.

      Ek sak op my hurke af en kyk weer na die snelweg. Ek sien nie sirenes flits nie, maar ek hoor hulle: die dringende wap-wap van ambulanse en die korter, skril klank van polisievoertuie. As daai twee manne nie regte metropolisie is nie, sal hulle moet padgee, anders gaan hulle uitgevang word.

      Nog ’n vink skiet boontoe. Dan hoor ek dit, onder die geloei van sirenes en die riete wat ritsel in die wind: voetstappe in modder. Voete wat nie vasgesuig word nie. Kaal voete?

      Ek maak my oë toe. Luister. Is dit die ouer man of die jonger een met die skouerwond?

      Die voetstappe kom van regs, van die gebrande veld af.

      Nog vinke vlug voor die afgemete, versigtige treë.

      Ek sak laer af in die riete, soek na waar hy is.

      Daar. ’n Wit hemp. ’n Derde man?

      Nee, dis die ouer man. Hy het sy polisiehemp en stewels uitgetrek en dra ’n wit T-hemp. Nou lyk hy soos enige voetganger. Of ’n mal sekuriteitswag, pistool in die hand en kaalvoet.

      Ek skat die afstand tussen ons. Twintig, vyf-en-twintig meter. Hy het sy tyd gevat en om die vleiland geloop, gesorg dat hy die polisie en nuuskierige omstanders vermy.

      Hy loop soek-soek; hy het my nog nie gesien nie.

      Ek hou die mes gereed, tussen duim en voorvinger. Waar’s die ander man? Het ek hom seer genoeg gemaak dat hy moes gaan hulp kry?

      Ek hou die wit hemp deur die riete dop. Kom nader, por ek hom aan. As jy uit die pad is, kan ek hier uitloop, ’n taxi vang en Liesbet gaan kry.

      My foon vibreer lank en aanhoudend. Plaas ek die ding netnou afgesit het.

      Nader, bid ek. Kom nou. Gee my ’n groter teiken. Maak oop jou skouers.

      In Marlboro skel toeters soos die verkeer sukkel om op die N3 te kom. Die voetgangers naby die Gautreinstasie word meer. Mense bly staan om te kyk wat aangaan, hoop daar gaan nog drama wees.

      Die man kom nader. Hoekom gee hy nie op nie? Wat het Yasen hom as beloning aangebied?

      Weer vibreer my foon. Vyftien meter.

      Weer.

      Ek vis dit met my linkerhand uit my hals, my oë vasgenael op die man.

      Dis Ranna. Twee oproepe en toe ’n sms. Liesbet gevat. Ek sal haar kry. Sweer.

      Nee …

      Nee, nee, nee!

      Ek byt die vloekwoorde terug. Wat nou?

      Ek kan Liesbet nie alleen los nie. Nie weer nie.

      Ek kom regop, laat val die mes en hardloop. Riete kraak en breek. Ek nael oor die stuk oop gras tot by Marlboro-afrit. Swenk regs, weg van die snelweg, tussen die toeskouers deur tot by die swetende, vloekende bestuurders wat uit hulle motors geklim het om te sien hoekom die verkeer stilstaan.

      Wie sal my help?

      Nie die Mercedes nie. Ook nie die BMW nie. Taxi? Nee. Die wit Tazz met vyf mans in oorpakke.

      Ek haal die lipstiffie uit, hardloop om die Tazz. Koes en skryf Ranna se nommer op die agterste syvenster, en langsaan: YASEN TODOROV VIKTOR DE KLERK.

      “Hey! Wat de hel …” Die bestuurder klim uit en loop om die motor.

      “R10 000 as jy hierdie nommer bel.” My oë smeek. “Sê vir die vrou om hierdie man te soek. Sê sy moenie die polisie bel nie.”

      ’n Gil laat my opkyk. Die polisieman is vier motors weg, pistool in die hand.

      Ek ruk my Cartier-horlosie af, prop dit in die stomgeslaande Tazz-bestuurder se hand. “Vat solank dié. Ry nou. Ry!”

      Ek hardloop om die motor en op met die pad. Ek moet die polisieman van die Tazz af weghou.

      Verby nog ’n motor, twee. Ek struikel kamstig. Val op die teer sodat hy kan sien my hande is leeg. Jaag my asem aan tot ’n bang vrou se gehyg.

      Deure klap soos mense vervaard in hulle motors spring as hulle die gewapende man gewaar.

      Hy kry selfvertroue en hardloop tot by my, hou die pistool op my gerig. “Lê stil,” sis hy. Roep dan hard op Engels: “Polisie! Dis als reg. Ons het haar.”

      Hy trap op my rug, trek sy T-hemp uit en gooi dit oor my gesig.

      Ek lig my kop en loer onder die sweterige materiaal deur, soek na die Tazz. Die bestuurder het regs gedraai, uit die ry motors uit. Hy jaag oor die middelmannetjie, teen die aankomende verkeer in, Alexandra se kant toe. Twee voertuie volg hom, asof hulle dink dis ’n goeie plan.

      Ek laat sak my wang op die warm teer. Waarvoor wag die