“Hoe bedoel jy?”
“’n Onderneming dat jy nie weer jou attensies op my sal afdwing nie.”
Henning pluk ’n sitplekgordel wat skeef oorkruis lê in posisie. “Hoekom gaan jy nie polisie toe en doen dit behoorlik nie? Kry ’n inperkingsbevel teen my, Arabel. Maak dit tweehonderd meter wat ek van jou af moet wegbly, anders sluit hulle my toe. Of kry vir jou ’n dubbelloophaelgeweer. Dan behoort jy veilig te wees.”
Sy ruk haar op. “Wie is nóú sarkasties?”
“Wie het daarmee begin?”
“Nee, dit was mos nooit jy nie! Alles was altyd my skuld.”
“Ek wou nie skei nie, dit was jý.”
’n Diensklokkie pieng agter hulle in die kombuis. “Passasiers op pad!” roep die senior kelner oor die interkom. “Kajuitpersoneel na jul stasies!”
Henning marsjeer in die gang af. Hy het meer ontsag vir ’n 747-makrostraler as vir ’n eenslaapkamerwoonstel in Langebaanweg – die stuurkajuit se deur word sagter agter hom toegeklap.
“Heil Hitler!” salueer Arabel hom en plak haar pet op haar kop. ’n Hele week hiervan … Laas kon sy haar tasse pak en uitstap. Maar hoe stap jy uit tienduisend meter bokant die see? Veral as swem nie jou sterk punt is nie? Sy glo nie Henning sal hierdie keer ’n vinger verroer om haar te red nie. Hy sal eerder haar kop onder die water indruk.
“Sitplek 16D?” vra ’n manstem.
Arabel diep van iewers ’n verwelkomende glimlag op. “Goeienaand, meneer. Welkom aan boord! Die vierde ry, die venstersitplek regs.”
Die man hou sy selfoon op. “Ek weet hy moet afgeskakel bly tydens die vlug, maar kan ek nou nog gou bel?”
“Sekerlik, meneer,” stel Arabel hom gerus. “Elektroniese apparaat is toelaatbaar solank die kajuitdeure nog oop is.”
’n Eksentrieke ou dame met ’n pers-en-oranje kaftan en ’n kierie hinkepink die trap op. “Wat moet ek uithou, poppie: my bril of my slaapmasker?”
Arabel verstaan nie.
“Ek wil weet: om te kyk of om te slaap? Watter film gaan jy vir ons wys?”
“Troy, met Brad Pitt.”
Die fletsblou oë blink. “’n Fraaie man.” Sy dop haar handsak om, gooi die slaapmasker terug en haal ’n brilhuisie uit. “Ai tog, net jammer die fraaies is gewoonlik die befoeterdes.”
Arabel bars uit van die lag. “Dit kan u weer sê!”
“Niks ge-ú nie! Die waardinnetjies sê sommer vir my tant Lily.”
“Reis tant Lily baie?”
“Met nege kleinkinders die wêreld oor wat gebore en gedoop word, verjaar en trou, kan hierdie ouma nie anders nie. Daar is juis nou weer ’n nuwetjie. Nóg ’n Lilith Ann. My seun is by die konsulaat, en sy vrou bestuur ’n gastehuis waar ek altyd oorbly.”
“’n Naamgenoot?” raai Arabel. “Veels geluk!”
’n Bebaarde man klim op, ’n bottel vodka onder die arm. Dan ’n opera-diva met ’n skouerruiker van orgideë wat sy wil vars hou. Arabel gaan soek of daar plek is in die koelkas.
Is dit elke keer Henning wat die argument begin? vra sy haarself af terwyl sy die salm en garnale bo-op die botter pak. Of is sy te liggeraak? Hy is versot op duik, maar het dit prysgegee, ver geloop om haar te kom soek en sopnat gereën sonder om te kla. Hy was vriendelik en sonder verwyte. Hy het gesê sy het mooi bene en dat hy deur al die jare haar parfuum onthou. Op Johannesburg-lughawe was hy die minste, én op die vliegtuig en by die hotel. Jakaranda-lugdiens vlieg nie Australië toe nie, maar sy kon darem ook ’n keer of wat groete gestuur het via sy ma.
Hy het immers probeer, terwyl sý niks gedoen het nie. Behalwe om te kla. Jonk en onervare is nie ’n verskoning om selfgesentreerd te wees nie. Hoe het Dave gesê? ’n Huwelik is soos ’n huis wat jy bou. Jou fondasies moet sterk wees en jy moet elke dag ’n paar bakstene inmessel. Sy het nie; eerder elke dag ’n paar afgebreek, en toe die mure intuimel, haar man geblameer. Het sy ooit besef wat dit hom gekos het om die Rooi Arende, sy loopbaan en sy land prys te gee? Sy het net oor haar eie griewe getob. Oor oom Gerber van die apteek, koskook en stryk en wanneer laas sy ’n nuwe rok en ’n vakansie gehad het …
Ná die egskeiding het sy darem haar suster-hulle gehad, terwyl hy siek en alleen in die vreemde was. Sy is dankbaar oor die oogarts en dat hy weer kan vlieg, al is dit lomp passasierkarweiers in die plek van vegvliegtuie. As sy destyds opreg vir hom omgegee het, moet sy bly wees as daar ’n spesiale vriendin in Henning se lewe is. Maar hoekom is die blote gedagte daaraan vir haar ’n skok? Henning skuld haar niks. Hy het met haar getrou en was bereid om die res van sy lewe saam met haar deur te bring, maar sy het hom weggestuur. Ses jaar is lank. Dis te verstane dat hy ’n nuwe lewe gebou het. Wie sê hy is alleen hier in Suid-Afrika? Hy het dalk die vriendin saamgebring. Of ’n vrou en kinders …
Pleks dat hy sommer netnou die data vir haar aankondiging gegee het en sodoende ’n besoek aan die stuurkajuit uitgeskakel het. Sy is nie lus vir nog ’n konfrontasie nie. Hy sal nie verstaan waarom sy gevra het dat hy van haar moet wegbly nie. Sy kan begryp dat hy beledig gevoel het. En sy durf nie verduidelik nie …
Sy help Vince in die kombuis totdat hulle oor die laaiblad begin taxi. Dan kan sy nie langer uitstel nie. Sy weet nie hoeveel vlugte die beheertoring in lyn het nie. JA 636 is dalk volgende vir opstyging en Henning kry die piep as sy dan nog met haar aankondiging besig is.
Selfondersoek is ’n goeie ding, al hou mens nie van dit wat jy in die spieël voor jou sien nie. Arabel voel skaam. Nie net oor die verlede nie, ook oor die hede en hoe sy Henning behandel het vandat hy die oggend in die kafeteria opgedaag het. Hy het ’n olyftak aangebied en sy sal dieselfde doen: dankie sê dat hy haar motor sal versien, haar pa gebel het en haar suster wil groet; haar vir die visbraai wou nooi en haar sandale onder die skuit gaan haal het.
Met dié goeie voornemens sit sy parfuum aan en klim die wenteltrap op stuurkajuit toe.
7
Waar hy dwars gedraai voor sy elektroniese paneelbord sit, kyk Phil Davies op toe Arabel die stuurkajuit instap. “Hi, bloeiseltjie! Jy lyk goed genoeg om ’n kiekie van te vat!”
Arabel lag. Phil is altyd goeie medisyne vir ’n vrou se moreel. Sy is vriende met sy dogter, wat pas klaar is met haar opleiding as lugwaardin. “Hoe gaan dit met Tracy?” vra sy. “Het sy al haar eerste vlug gedoen?”
“Sprinkaan-hop. Durbs – Oos-Londen – PE – Kaap, en dit baie geniet.”
Hul bevelvoerder sit met oorfone aan, blykbaar in gesprek met die beheertoring, en Arabel wil nie steur nie. Sy gesels nog ’n rukkie met Phil terwyl sy wag, en glimlag toe Jaco oor sy skouer vir haar knipoog.
“Wat doen jy môreoggend vir ontbyt?” vra hy.
“Ek eet.”
“Kan ek saam met jou eet?”
“Solank dit nie haaivinne is nie.”
“Knoffelslakke?”
Sy sidder. “Solank jy agterna jou tande borsel en wind-op van my af bly.”
Jaco wik en weeg. “Nee wat, dan eet ek liewer droë brood. Want jy is dit werd.”
Phil lag, maar hul kaptein stoot skielik sy oorfone weg. “Meneer De Wet,” sê hy kil, “wat was daardie koersaanpassing wat die beheertoring pas gegee het?”
Jaco skrik en gryp na sy kopstuk wat hy afgehaal het. “Is dit 31° noord-noordoos? Of 41° … Ek weet nie, ek het nie mooi geluister nie …”
Henning draai skuins om sy eerste-offisier