Klaas het gister geslag en Bet het gekrap. Spierwit en skoongeskraap lê die pens in die skottel. Caroline eet nie afval nie, nog minder kook sy dit. Sy vlug gewoonlik voor die kenmerkende reuk haar inhaal.
Elie sit teen die koel kant van die huis, onder die yl skadu van die uitgerafelde druiweprieel. Dis vanjaar so warm, die druiwe het in rosyne verander voor dit ryp genoeg was om te eet. Voëls het ingevlieg en die trossies leeggepluk. Hier en daar hang takkies met een of twee korrels toegepak van rooi perdebytjies. Elie beduie vir haar na die stoel langs hom waarop die kinders se handdoeke gestapel is. Hy haal dit af, hang dit oor sy stoel se rugleuning en gaan sit op die punt.
“Katryn kan hulle nie alleen dophou nie,” sê hy asof hy verskoning maak dat hy daar is. “Hulle is al hoe lank aan die gang. Vannag slaap hulle soos klippe.”
Toe sy ’n kind was, het Mother hulle meisies belet om te swem. Maar sy het haar soms dae lank in haar kamer toegesluit, en dan het hulle hul kans waargeneem en saam met die werkers se kinders in die rivier se swemgat gaan baljaar. Sy en Willem het jare gelede ook nes die kinders in Mispa se leidam rondgeplons. Nou die dag nog het hy saam met hulle ingeklim – nie sy nie, nie meer nie. Elie swem nie. Miskien sal hy inspring as een van hulle in die moeilikheid raak. Dis nie onmoontlik nie. Klein-Willem, Hercules en George hou ’n watergeveg en Maria en Annatjie swem soos voëls wat met afvlerke in die dam beland het. Katryn sit op die muurtjie met Cara wat sy halflyf in die water laat afsak. Lutz kielie haar voetjies. Sy skop na hom en hy hou nie op nie. Naderhand spat hy haar nat tot sy haar versluk en aan die huil gaan. Elie spring uit sy stoel uit op. Caroline is nie bekommerd nie, Katryn is daar om te troos.
“Daai mannetjie …” mompel Elie en gaan sit weer.
“Is dit oor hom wat jy Wuthering Heights vir my uitgesoek het?”
Hy kyk na haar, frons op sy kenmerkende manier. “Hoe so?”
“Heathcliff was ’n onopgevoede straatkind wat Earnshaw in Liverpool se agterbuurt opgetel het.”
“Lutz is nie ’n straatkind nie, ver van.”
“Hy en Maria raak erg oor mekaar.”
“Hulle is maats. Jy het mos nie besware dat seuns en meisies maats maak nie?”
“Nie juis nie, Maria kan haar man staan.”
“Anders moet ek met hom praat, maar hy hou nie van my nie.”
“Hy ken jou tog?”
“Juis.”
“Sy pa het jou ’n streep getrek.”
“Ongelukkig raak dit jou ook. Ek is jammer.”
“Ek ook – oor die onenigheid tussen ons.”
“Dit gaan verby, hoop ek.”
“Ja, en dankie vir die storieboek. Ek sal probeer om te onthou dat dit net ’n storie is.”
“Stories is selde net stories.”
Sy wil hom vra wie se storie sy dan tussen die lyne moet lees as dit nie Lutz en Maria is nie, maar Katryn kom aangedraf met Cara wat aan haar vasklou soos ’n nat katjie. Elie gee die handdoek aan en sy gaan staan haar in die son en afdroog. Wat ’n volmaakte klein lyfie! Caroline moet keer of sy loop soontoe en neem oor. Haar hart en hande trek saam. Trane prik haar ooglede. Sy dwing haar om weg te kyk.
Ag, Here, wie is ek om Lutz se pa te oordeel?
Katryn laai vir Cara op haar rug, sy loop verby kombuis toe.
Caroline lig haar hand en waai. Die kindjie waai terug.
“Oulik,” sê Elie. “Sy word baie oulik.”
Arme Elie, hy dink dis die Boere se gewoonte om hul kleintjies vir kinderoppassers aan te gee wat hulle grootmaak tot hulle kan hardloop en die volgende een sy opwagting maak. Dis op die punt van haar tong om hom te vertel dat Cara nes Lutz weggegooi is, maar sy doen dit nie.
“Sy is so lief vir Katryn,” sê sy vroom, “ek glo nie sy besef dat ek haar ma is nie.”
“Wat van die blommetjies wat sy vir jou aandra?”
“Dit was net een, en Katryn het haar aangepor.”
“Nogtans, jou jaar het goed begin.”
“Ek glo nie. Dis droogte. Willem is weg sonder om met my vrede te maak ná ons laaste rusie. Wanneer kom hy eendag weer terug, en wat dan?”
Daar, sy het dit uitgeblaker, alles wat sy opgekrop het!
Elie reageer nie dadelik nie. Sy kan opstaan en loop, maar sy wag, want sy het hom ’n vraag gevra.
Eindelik skuif hy hom reg, maar praat asof hy met homself praat. “Mispa is syne. Hy sal terugkom wanneer die droogte gebreek is. Hy kom ná die reent.”
Donderdagmiddag vyf Februarie maak Willem ’n aantekening in sy boekie: Vandaag voor Lombaard en syn huisvrou gegroet. Trek morgen met dageraad noordoos in het richting Clocolan.
Hy druk die boekie in sy binnesak en gaan help vir Danster en Rooivalk om die wa te laai. Die honde draai kwispelend om hulle rond, klaar snuf in die neus dat hulle gaan pad vat.
Die nag wat volg, raak weer eens te lank. Willem is meer wakker as aan die slaap. Hy kyk oudergewoonte na die sterre en probeer uitwerk hoeveel uur voor die gloed verdof en die môrester opkom. Sy lippe is skurf en sy mond smaak na die witblits waarmee hy dit uitgespoel het voordat hy kom lê het. Hy is nie lus om op te staan en water te drink nie. Hy kyk tot die hemel so laag afsak dat hy benoud raak en moet regop sit en asem skep. Dis asof daar dié tyd van die nag geen skeiding tussen aarde en lug is nie. Steek hy sy hand uit, verbeel hy hom hy raak aan sterstof. Dit sing en die sterre, so voel dit vir hom, raas harder as al die insekte saam. Hul hoë note sny deur sy kop, dit hou nie op nie. Hy druk sy ore toe, maar tevergeefs – die geloei het hom van kop tot tone ingeneem. Niks, selfs nie die veraf gebrul van ’n bergleeu, kan enige verskil maak nie. Dis asof die hemel uitmekaar gaan bars en die almagtige God enige oomblik in al sy glorie sal verskyn, gereed om sy septer deur Willem Roelof Basson se bors te boor en sy hart uit te ruk. God kyk deur die sterre en sien wat Hy wil sien. Dit weet Willem immers van kleins af. Hy word dopgehou en nie net op Mispa nie. God sien hom en Georgina in haar bed in Kimberley. Hy sien die kind wat in haar groei, die sonde, sy sondes en sy nageslagte se sondes tot in die derde geslag. Onvergeeflik, als wat hy gedoen het – en Georgina. Vrees druk die lewe uit sy lyf, sy skouers trek saam, hy voel God se asem teen sy wang.
Met bewende lippe prewel hy: “Here tog, ek kan nie sterf nie, nie nou nie! Ek gaan ’n einde maak aan my en Georgina. Sy moet Kaap toe en die kind vir aanneming afteken, ek sal betaal vir die trein en die losieshuis en die hospitaal. Ek sal betaal, maar sy moet alleen gaan. Help my, dan kom ek nooit weer naby haar nie. Ek sal Klaas mark toe stuur, ek sal vir Kestell-kinderhuis geld gee, my bydrae vir die kerk verdubbel. Help my met hierdie saak en help Mispa met reent sodat ek huis toe kan gaan en my pligte daar doen, voor ek van my kop af raak.”
Is dit trane, is dit snikke wat sy skouers ruk? Kaptein is wakker. Hy kruip nader, kom skuur teen hom, gee klein tjankies, lek die nattigheid van sy wange. In die swak lig sien hy die dier se oë sag glim, voel hy die pyn in sy borskas skietgee. Sonder dat hy wil, hoor hy Georgina se stem.
“Ek het jou lief. Ek sal jou altyd liefhê, selfs as jy teruggaan na Caroline en my nooit weer wil sien nie. Ek sal aanhou om jou lief te hê. Ek sal jou liefhê, al val die hemel en skeur die aarde middeldeur. Ek sal jou in my graf nog liefhê.”
“Dis hoe ek ook voel,” het hy toe gesê.
“Ek kan nie sonder jou leef nie.”
“Ek ook nie.”
Net so, so het hulle trou aan mekaar beloof. Elke keer as sy hart inmekaar trek, wil hy glo dat sy nooit ooit vir hom sal lieg nie, onthou hy sy belofte aan haar. Dit keer hom om en skeur hom weg van elke