Die loopbaangerigtes werk vir hom, hulle is altyd te vinde vir sy no-strings-beleid. En gewoonlik is sy nommerpas-date ’n aantreklike, lang donkerkop met ’n netjiese kapsel wat tuis is in snyerspakkies, ’n dame wat stemmige juweliersware soos pêreloorbelle verkies. Dalk sal hy wel eendag met só ene trou – ’n vrou wat ’n bate vir sy beeld in die sakewêreld sal wees – maar daarvoor is hy nog glad nie gereed nie.
Hierdie girl wat hy vanoggend ontmoet het, die een met die koringblonde hare, pas in geen boksie nie. Haar lang, amper deurskynende romp is allesbehalwe stemmig. En hy kan sy oë nie van haar ritselende en beslis onstemmige armbande afhou nie. Hel, as hy eerlik is, alles aan haar fassineer hom.
En verdomp, ’n paar verskietende oomblikke het sy hom teruggesoen. Maar sy kon ewe koeltjies wegstap met ’n breë glimlag terwyl die vuur in sy lyf dreig om hom te verteer.
Hy druk die deur oop en stap ’n tweede keer die dag haar blommewinkel in. Dié keer is sy lyf tot in sy tone gepantser teen die tornado wat wag, dié keer sal hy nie weer …
En toe sien hy haar. Sy gesels glimlaggend met ’n netjies geklede ouer vrou aan wie sy ’n ruiker oorhandig.
“Dankie, kind,” sê die vrou, haar stem sag en vol emosie. “Dis pragtig. Wat skuld ek jou?”
“Dis ’n geskenk van my en Ella, Rita. Baie geluk met jou verjaardag, ons wens jou net geluk toe. Dis wat hierdie lelies-van-die-dale vir jou sê,” sê Corinne en raak aan die wit blomme in die ruiker.
Die ouer vrou snuif. “Dankie, Corinne. Ek is so dankbaar vir iemand soos jy in my lewe,” sê sy en ruik waarderend aan die bos blomme. “Jy helder altyd my dag op.”
En nee, besef hy, al was hy dié keer voorbereid daarop om haar te sien, sy kry dit weereens reg om sy hart vinniger te laat klop. Sy ís presies so beautiful soos wat hy onthou. En sy het ’n hart vir ander – die vrou voor haar is amper in trane oor die ruiker.
Hy staan nog half oorbluf by die deur toe die vrou aangestap kom, haar kosbare blomme in albei hande vasgehou. Hy maak die deur vir haar oop en sy glimlag vir hom.
“Corinne,” roep sy en loer oor haar skouer terug. “Kyk net hierdie beeld van ’n man! En dan het hy nog maniere ook.” Met ’n wuif van haar hand is sy uit by die deur.
Corinne het werktuiglik opgekyk toe Rita na haar roep. Hy hou haar blik vas totdat hy reg voor haar tot stilstand kom.
“Alan, was daar nog iets?”
“Jou adres?”
Sy skud haar kop en kam haar vingers deur haar lang hare. “Ek … het weer gedink en …” Sy maak ongemaklik keel skoon. “Ek dink nie dis ’n goeie idee as ons tyd saam deurbring nie.”
“Hoekom nie?” vra hy en gee nog ’n tree nader sodat hul gesigte sentimeters van mekaar is.
’n Effens verbouereerde uitdrukking kruip in haar oë voordat sy wil-wil wegdraai. “Jou broer is ’n kliënt van my …” begin sy, maar hy gryp haar hand voordat sy kan wegstap.
“Twak,” sê hy. “Dis nie ’n verskoning nie.”
Haar een wenkbrou lig en haar armbande tart hom toe sy haar ander hand op haar heup sit. Heeltemal onbepland raak sy vingers met hare verstrengel.
Sy trek haar asem in. “Alan,” sê sy, die kenmerkende glimlag meteens weg, “dis te … veel, te vinnig, jy’t my sommer gesoen!”
“Hoe de hel dink jy voel ek? Ek stap hier in om my broer te help en daar is jy – blond, sensueel, jou hare los, jou armbande al klingelend en jy laat my vergeet wat my bleddie naam is!”
“Presies, ek weet!” Sy trek haar asem vinnig in en gluur hom verontwaardig aan. “Ek het ’n doodgewone dag gehad totdat jy hier ingestap het – groot, sexy, aantreklik. En binne ’n uur soen jy my en ek wou nie hê jy moes ophou nie! Dis belaglik. Ek ken jou glad nie en doen nooit so iets nie. Wel, natuurlik soen ek mans, maar nie binne die bestek van ’n uur nie!”
’n Rooi blos kruip teen haar nek op. Sy kreun hardop, ruk haar hand uit syne en druk haar gesig in haar hande. “En ek kan nie glo ek het dit hardop gesê nie,” fluister sy terwyl sy deur haar vingers na hom loer.
Haar woorde het ’n onmiddellike uitwerking op sy lyf en met ’n swetswoord trek hy sy broek reg. Sy laat sak haar hande en beweeg vinnig tot agter die toonbank.
“Soos ek gesê het, dis nie ’n goeie idee nie. Ek …”
Die foon lui. “Ek moet antwoord,” pleit sy. “Gaan asseblief … weg? Ek … jy … moenie so vir my kyk nie!” fluister sy half desperaat en tel die gehoorbuis op.
Soos die spreekwoordelike skim verskyn Doug meteens van agter ’n rak. Hel, wanneer het hy ingeglip? Dis die allerlaaste mens wat Alan nou wil sien.
“O, hier is jy! Ons het gewonder wat van jou geword het. Ons is op pad. Wat maak jy nog hier?”
Voordat sy broer verder kan praat, is Alan reeds by die deur uit. Die laaste ding wat hy nou nodig het, is aanmerkings van sy broers. As hulle moet agterkom hoe die girl met hom toor, sal hy nooit die einde daarvan hoor nie.
Toe hy voor in die motor klim, slaan Quinn hom van agter op die skouer. “Het jy sowaar die hots vir die vroumens? Al wat ek kan sê, is sy is ’n groot verbetering op die kantoorjuffers wat jy gewoonlik uitneem. Sy lag maklik en lyk nie of sy honger ly nie.”
“Ja, seriously. Ek het al baie gewonder hoekom hou jy so van vroumense wat so teringmaer is en sulke vreeslike formele klere dra,” sê Edward. “Dis onnatuurlik!”
“En dan praat ek liewer nie van die stywe bollas wat hulle dra nie. Kry jy ooit kans om hul hare darem bietjie deurmekaar te krap?” terg Finlay.
Alan brom net onderlangs.
“Julle mos gesê,” skaterlag Finlay. “Watch this space – ons het wragtig nog ’n troue voor Krismis.”
“Is jy nou heeltemal besimpeld?” snou Alan sy broer oor sy skouer toe.
Doug skakel die motor aan. “Jy het nie die uitgeboulde uitdrukking op jou gesig gesien toe jy agter die girl aangeloop het nie – ons het.”
Alan vryf gelate oor sy gesig. “Sy’s ’n oulike girl en ja, ek het probeer om haar weer te sien, maar sy wil nie, einde van storie. Soos julle so pas opgemerk het, sy is in elk geval glad nie my tipe nie. Julle weet van al die moeilikheid by die werk – kan ons asseblief eerder daaroor praat?”
“Dalk dié dat jy nie so ver kom om te trou nie – jy moet dalk ’n ander tipe girl probeer uitneem,” raas Doug gemoedelik voordat hy oor die probleme met hul verskaffers begin praat.
Alan kyk by die venster uit en probeer sy lyf, sy hartklop, sy libido in beheer kry. Die hele situasie is so onwerklik. Die vroumens is reg – hulle twee saam is beslis nie ’n goeie idee nie.
3
“… en toe kom sy hier uitgestap, haar wange bloedrooi en haar oë skitterblink!” voeg Ella handeswaaiend by.
Tannie Lisa lag en klap haar hande. “Nou wat het in die kombuis gebeur?” vra sy opgewonde vir Corinne.
Corinne konsentreer op die rangskikking voor haar en maak asof sy nie hoor wat gesê word nie. Die anemone lyk mooi hierby en … sy kyk na die emmers wat om haar staan. Natuurlik, die delphiniums. Ridderspoor, soos dit algemeen bekend staan. Sy druk ’n delphiniumtak in die bos blomme. Haar hand vries. Wat doen sy? Onthuts staar sy na die ruiker waarmee sy besig is. Soos altyd, spoel haar emosies oor in die blomme wat sy rangskik, maar goeiste, anemone en ridderspoor?
“Kyk na die blomme wat sy vandag gebruik,” fluister Ella hard genoeg sodat Corinne dit kan hoor. “Van Dinsdag af ignoreer sy al die ander blomme, tot die pragtige gerberas wat ons ingekry het – dis net tulpe wat liefde verklaar,