Ella bring nog ’n keer tee voordat Corinne tevrede is Annabel is gelukkig met al haar voorstelle. Die twee vroue staan op en Corinne stap saam met hulle tot by die deur.
Annabel sit haar hand op Corinne se arm. “Ek sal so bly wees as jy en Ella ook ons troue bywoon.”
“Dankie, maar dis regtig nie nodig nie, ek doen –”
“Asseblief?” val Annabel haar in die rede. “Jy voel al klaar soos ’n vriendin. En,” fluister sy en loer verby Corinne, “Quinn kon nie uitgepraat raak oor die sexy donkerkop van die blommewinkel nie. Hy het ons mooi gevra om hom ’n verskoning te gee om Ella weer te sien.”
Corinne se oë rek. “Ja?”
Annabel grinnik en knik. “Die Sutherlands laat nie gras onder hul voete groei nie. Ek en Doug ken mekaar net agt maande.”
“Ek en sy pa het mekaar net vier maande geken,” knipoog Alan se ma.
Annabel lag. “Sien? Nou toe, ons moet wikkel, ek het nog ’n laaste aanpassessie vir my rok.” Sy buk vorentoe en gee vir Corinne ’n drukkie asof hulle jare lank al vriendinne is.
En toe Annabel terugstaan, is Phoebe Sutherland ook by vir ’n drukkie.
Corinne kyk die twee vroue agterna. Sy sluk-sluk teen die vreemde knop in haar keel.
“Ek dink sy’s happy, of hoe?” vra Ella agter haar.
Corinne draai terug. “Ek sou so sê – ons is al twee uitgenooi na die troue.”
Ella sug. “Oe, wonderlik. Ek is mal oor troues!”
“Hm, skynbaar kon Quinn nie ophou praat oor jou nie.”
Corinne stap tot by die toonbank voordat Ella ’n geluid uitkry.
“Regtig?”
Corinne lag. “Regtig.”
“Maar wat van jou en Alan …?”
“Daar is nie ’n ek en Alan nie. Ek wil net die man ’n les leer. Dis al.”
Corinne gaan sit weer by die tafel. Sy wil die bestelling rustig deurgaan voordat sy dit deurstuur na die verskaffer. Die wilde galop van haar hart is maar net omdat sy opgewonde is vir Annabel se onthalwe.
6
“Ek het goeie nuus vir jou, Quinn,” sê Annabel. “Ons was vandag by die blommewinkel wat julle opgespoor het en …”
Sy praat verder, maar Alan kyk nie eens op nie. Doug en Annabel het hulle almal vir ’n braai genooi om die laaste reëlings van die troue te bespreek. Hy wil so gou moontlik klaar eet sodat hy hom kan gaan toesluit in sy kamer.
Hy het presies gekry wat hy wou hê – die belofte van ’n no-strings-verhouding met Corinne, die girl met die ketting om haar enkel en klingelende armbande wat hom uit sy slaap, uit sy werk en van sy verstand af hou. Hy behoort in sy skik te wees met homself. Maar hy is nie.
Tot by Doug se troue. Hy sal haar sien tot sy broer trou. Dis al waaraan hy kan dink. En wat dan? Sê nou dis nie lank genoeg nie? Na een aand saam met haar weet hy reeds hulle het meer gemeen as wat hy ooit kon dink.
“Alan!” roep Annabel en hy kyk op. “Ek praat met jou.”
“Jammer. My kop is by … by die werk.”
“Ek het vir Corinne en Ella van die blommewinkel ook na die troue genooi. Hulle bewys ons ’n groot guns en ek weet van minstens een van my aanstaande swaers wat baie opgewonde is daaroor.”
’n Hand vou om sy lugpyp. “Wie nogal?”
“Quinn.”
“Is jy nou simpel?” vra hy vies en gluur na Quinn. “Jy’s hopeloos te jonk vir haar.”
“Wat bedoel jy? Sy’s vir seker jonger as ek.”
“Van wie praat ons?” vra sy ma.
“Van Ella,” sê Quinn.
“Van Corinne,” sê Alan terselfdertyd.
Dis ’n oomblik doodstil om die tafel. Toe slaan Finlay met sy hand op die tafel en lag. “So, jy is nog nie oor die girl nie.” Hy beduie vir sy ma en Annabel. “Hy het haar sommer dadelik uitgevra, maar sy het skynbaar verstand, sy het nie ingestem nie.”
“Nie dat dit iets met jou te doen het nie, maar ek het haar gisteraand uitgeneem,” kners Alan uit. Eers toe die woorde uit sy mond is, besef hy wat hy gesê het.
Annabel en sy ma trek hoorbaar asem in.
Sy ma leun vorentoe. “Het ek reg gehoor? Het jy gisteraand vir Corinne uitgeneem?”
Hy skuif sy stoel agteruit en staan op. Vir dié sirkus is hy nie verder lus nie. “Ons het gaan uiteet. Sy is oulik, maar nie die tipe girl oor wie ek ernstig kan raak nie, ons …”
“O?” vra sy ma, haar wenkbrou opgetrek tot bo teen haar haarlyn. “En hoekom nogal nie?”
“Sy … ek …” Hoe de hel beantwoord hy die vraag?
Edward lag. “Ma weet mos. Hy hou van vroumense wat sulke formele klere dra en wie se hare so styf om hul koppe gedraai is, hul oë trek behoorlik skrefies. Corinne is heeltemal te sexy vir ons Alan.”
“Dis nie stywe vroumense nie, hulle is net … stemmig,” sê hy vies. “En Corinne … ek …”
“Stemmig?” vra sy ma. “Sê asseblief vir my jy het dit nie vir die pragtige kind ook gesê nie?”
Alan vryf oor sy gesig. Hoe de hel het hy in die situasie beland? “Ek stel nie belang in ’n mooi pop met ’n leë kop nie.”
“Corinne is nie ’n pop met ’n leë kop nie – waar kom jy daaraan? Weet jy dat sy op universiteit was en ’n graad het? Nie dat dit iets sê nie. Jy het ook ’n graad en kyk hoe onnosel is jy!” Sy ma gee hom ’n vernietigende kyk.
Alan staar stomgeslaan na haar. Hy was ’n aand saam met die vroumens uit en sy ma weet meer van haar af as hy.
Hy hap in die lug. “Wat ek doen op ’n date, het niks …”
Sy ma gooi haar hand in die lug. “Hy het. Hy’t sowaar vir haar gesê sy’s nie stemmig genoeg nie. Kan jy dit glo? Alistair, wat het jy jou seuns geleer?” vra sy ontsteld vir sy pa.
“As hy onnosel is, is dit nie my skuld nie.” Sy pa gee hom ’n geamuseerde kyk. “Jy kan doen met ’n … minder stywe meisie.”
“Ek het oop kaarte met haar gespeel, soos wat ek altyd doen met iemand wat ek uitneem. Sy is heeltemal te vinde daarvoor dat ons uitgaan sonder enige verwagtinge. Wanneer ek trou, moet dit iemand wees …” Hy kyk hoopvol na Doug. “Jy weet waarvan ek praat. Dit moet tog iemand wees wat jou kan ondersteun en wat met ons kliënte kan gesels … nie iemand in ’n romp met lae en lae net nie!”
Sy ma trek haar asem skerp in. “Wel,” sê sy en kyk na Finlay en Edward. “Ek dink sy’s ’n pragtige kind en as jul broer te onnosel is om dit raak te sien, hoop ek een van julle maak ’n plan.”
“Boeta,” lag Doug en staan ook op. “Ek kan maar net vir jou sê, die kliënte is die laaste ding waaraan ek dink wanneer ek by Annabel is.” Hy gaan staan agter die stoel van sy aanstaande bruid en vou sy arms van agter om haar. “Ek weet nie waar jy aan jou idees kom nie, maar as ’n stemmige girl jou gelukkig maak – go for it. Die lewe is kort.” Hy buk af en soen Annabel teer.
Alan kyk weg. Die intieme oomblik tussen sy broer en sy aanstaande ontstel hom. Al waaraan hy kan dink, is Corinne.
“Wat is dit met jou en vroumense met stywe hare en stywe klere?” vra Quinn. “Ek skrik my morsdood vir sulke girls en kon nog nooit verstaan wat jy in hulle sien nie.”
“Ek