Hanna. Maretha Maartens. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Maretha Maartens
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319678
Скачать книгу
opkom.

      Hoe bly was sy dan! So bly dat sy soms met lofwoorde op haar lippe wakkergeskrik het. Ek wil nie meer hier wees nie, het sy in die eerste oomblikke ná die wakkerword gedink. Maar sy was terug, soos lank tevore wanneer sy ná ’n groot rusie tussen haar pa en ma wakker word, met Nemuel wat haar voetsole met ’n tarentaalveer kielie, of met die gedempte geluid van haar ma se snikke.

      Haar ma het haar ouma se oë al snikkend toegedruk en die koue kyk was weg. Dit het gelyk asof ouma Seruja slaap. Maar só slaap niemand nie, het sy, Hanna, gedink. Só huil diegene wat aan ’n slapende mens se wang of boarm raak, ook nie. Só ’n brandpyn het jy nooit in jou keel en bors wanneer jy by ’n slapende, lewende mens staan nie. Uit dit wat die doodslaap genoem word, sal geen rams­horing die slaper ooit kan wakkermaak nie. As die almagtige God dit nie doen nie, sal die dooies nooit weer wakker word en opstaan nie.

      Dit was byna ’n verligting om haar ouma in die linne­kleed toe te draai. Om haar willose lyf egter dié kant toe en daardie kant toe te draai, om haar kop tussen jou hande te vat en op te lig om haar ken vas te bind en haar in haar doodskleed te kry, was verskriklik. Om só te moet om­gaan met die een wat jou altyd onder kruisverhoor geneem het oor hoe jy nog lewe! Om een van diegene te wees wat die naaktheid van ’n oumens bedek! Maar die linne­kleed het haar weer met ’n waardigheid beklee. Sy was goed be­dek en eerbaar in skoon linne, soos wat sy haar hele lewe lank was.

      Met Elkana kon sy maar net oor die dubbele verlies praat. Ouma wat die dag van haar dood in die veld be­grawe is met die grafsteen afgewit sodat niemand ooit in die donker op haar graf sou trap nie. Die voetpaadjie na haar ma toe wat sou toegroei, want wie was daar nou na wie sy wat Hanna is, sou wou loop? Die res was haar eie las om te dra, haar bagasie, haar straf. As hy moes weet … Die rede vir haar onvrugbaarheid sou oop en bloot voor hom wees.

      O, Adonai, help my tog! In sy regskapenheid en sy on­geveinste egtheid het Elkana, die nasaat van Suf en een van die klein oorblyfsel in Israel wat die knie nie voor vreem­de gode buig nie, my met sy eie hand en hart as vrou ge­kies. Daar was geen tussenganger, geen voor­brand­maker en onderhandelaar nie. Elkana het alleen met my pa kom praat. Hy het gebid vir die regte vrou, het hy vir my pa gesê. ’n Mens van vlees en bloed kan immers op so baie maniere op ’n dwaalweg beland. En watter seën kan enig­iemand verwag as hy buite die wil van die Here is? Hoe kan ’n mens se nageslag eerbied vir die Here hê as die vrou wat hulle vir jou in die wêreld bring en hulle saam met jou moet opvoed, nie in nederige gehoorsaam­heid aan die Here leef nie?

      “Ek het die Here gevra om die regte vrou vir my uit te wys, my vader,” het Elkana daardie dag gesê. “Hy het dit gedoen. Daarom is ek hier om u te vra of ek Hanna vir my as vrou mag neem. U weet ek is nie ’n jong man nie. Soos ons voorvader Isak het ek vir baie jare maar net gehoop, net van ver af verlang om in die weelde van ’n eie gesin te kan leef en ’n vrou te hê wat die Here dien.”

      Wat het haar pa daardie dag gedink? Daar was Elkana, sy oë so sonder valsheid soos sy siel. En daar was haar pa, onpeilbaar en onvoorspelbaar. Seun van verwoes­ten­de woede, het haar ouma Seruja hom eenkeer genoem, Boanerges7. Die dreuende donderweer het seuns op hier­die aarde – manne van die donder. Wanneer ’n man kwaad is, weet jy wie se seun hy is.

      Die opregtheid in Elkana was soos die kleur van sy hare. Sy hare het hy nog nooit gehenna soos wat Sebadja, sy familielid Sagaria se swaer, tot die verbasing van die vroue in die geheim gedoen het nie. So kastaiingbruin soos sy hare was toe sy hom die heel eerste keer sonder sy kopdoek gesien het, so het Elkana se dik bos hare al die jare gebly. Die diep rooibruin sou uiteindelik in sy ouder­dom vanself versilwer. Die kroon van die ouder­dom, het sy geweet, sou hom pas.

      Elkana het valsheid nog altyd ’n lae soort boosheid ge­noem. In die tyd toe hy haar huis gebou het, het hy twee van Sagaria se kleinseuns reguit daaroor aangespreek. Dié twee het hom in daardie tyd nie altyd in die oë gekyk nie. Terwyl hulle hul pa se vee oppas, het hulle Elkana se bok­ke met klippe gegooi. Elkana het hulle op heterdaad be­trap waar hulle hul niggies en eie oudste susters afloer terwyl die meisies hul reinigingsbad neem. Die oudste van die twee het dit ontken dat die spoeg spat, soos ook die aan­tyging dat hy in die jaar toe hy 15 was by die beelde naby Gilgal met ’n prostituut omgang gehad het.

      As Elkana dié twee dan iewers sou teëkom, was dit sha­lom! en shalom! uit albei monde. En: “Hoe lyk die wolke vir Oom? Is daar reën aan die kom?”

      Elkana se uitgangspunt was nog altyd dat valsheid en boosheid soos dorings en distels aangepak en uitgeroei moet word. Daarom het hy die twee een middag nader geroep. “Kom hierso. Daar is iets wat ek vir julle wil sê – of eerder móét sê.”

      Daar was onderlangse blikke en nekhare wat jy onder albei se ma’aforet kon sien rys. Hulle het egter nader­ge­staan, hardgebak soos gebakte stene. Die een het gesê: “Ons kan nie eintlik lank bly nie. Ons gaan vannag bokke oppas. Daar is wolwe in die rante. Maar Oom wou iets sê?”

      Elkana hom hom nie van stryk laat bring nie. “Valsheid is ’n skuilplek wat nie lank skuiling bied nie, my seuns. Dit is soos ’n gat in die sand. Jy dink nog jy het ’n weg­kruipplek, dan begin die sand by die gat inloop. Jy raak daarin vasgeval.”

      Hulle het eers na mekaar en toe verby Elkana gekyk. “Is daar fout dat Oom so met ons praat?”

      “Julle weet goed dat ek julle gesien het toe julle die bokke met klippe bestook en jul susters afgeloer het.”

      Hulle het ongemaklik rondgetrap. Uitgevang. “Hý het daarmee begin,” het die oudste die jongste beskuldig.

      “Dit lieg jy,” het die jongste teruggekap. Hulle het gesis en na mekaar gepik soos slange doen wat in die holtes geskuil het van ’n kraalmuur van gestapelde klip as jy die muur afbreek.

      Elkana het sy arms gekruis en gewag. “Ek dink ek moet later vanaand oorstap na jul pa toe.”

      Hulle het geskrik. Hul pa, Sagaria se jongste seun, was ’n man wat maklik met die vuis geslaan het.

      “Ek is jammer, Oom,” het die oudste onmiddellik gesê.

      “Ons luister na Oom,” het die jongste ook ingeval. “Oom doen wat Moses gesê het, en ons luister.”

      Elkana het sy linkerwenkbrou gelig en die oudste het so byna-byna gesoebat. “Oom skerp die gebooie by ons in. Oom praat met ons daaroor – beter as wat my pa dit kan doen, Oom. Oom weet van sy beeldjies. My pa praat nie meer so met ons soos Oom nie.”

      Die jongste het ook nog iets van die voorskrifte van die Here geweet: “Oom graveer die waarheid op ons voor­koppe in. Oom bring nog daardie merk op ons voorkoppe aan, Oom.”

      Na dié gesprek het Elkana lank met ’n diep frons tussen die oë geloop. Dae lank was hy stil – ’n Leviet in rou oor die afvalligheid en leegheid van sy volk.

      HOOFSTUK 7

      Jerogam, haar skoonpa, was wakker en het in sy vertrek onder in die huis gehoes kort voordat die swaarder vonnis oor haar uitgespreek is. Sy het nie geweet wat kom nie. Sy het dié vonnis nie verwag nie.

      “Jou pa bly hoes,” het sy nog opgemerk. “Moet ek nie dalk vir hom ’n bietjie heuning …”

      “Los die heuning,” het Elkana gekeer. “Laat ons liewer oor hóm praat, oor my pa.”

      Dit was die waterskeiding tussen alles wat was en alles wat vir haar voorgelê het.

      Daar het ’n gevoel van onrus oor haar gekom. ’n Swaar medewete waaroor sy nie presies seker was nie.

      Dit was dié soort wete wat haar ouma Seruja gehad het voordat mense na aan haar sou sterf. Haar ouma wóú nie vooraf weet nie en sy het selde oor die voorafwetes gepraat. Sy het daaronder gely.

      “Ouma kan geld uit dié ding maak,” het haar broer Jispan by meer as een geleentheid gesê, “soos die ou vrou by En-Dor.”

      “Watter ou vrou?” het Nemuel nog gevra. Hy het vir hom ’n nuwe rietfluit langs die binnevuur gesit en kerf, want dit was in die winter.

      “Die heks van En-Dor,”