Dan draai sy om, maar net Kamal is in die vertrek. Beryl is nêrens te sien nie en ’n nare voorgevoel oorval haar. Die Arabiese meisie is dalk reguit na die sultan om hom te gaan vertel wat gebeur het.
“Waar is die ander meisie?” vra sy.
“Sy is baie vinnig hier uit, saïda. Maar kom, ons moenie langer tyd mors nie.”
Sy volg Kamal in ’n lang gang af en verwag elke oomblik dat hulle ontdek sal word. Aan die ander kant van die huis verlaat hulle dit deur ’n deurtjie wat op die straat uitloop. Daar staan ’n rasjid met twee kamele en wag vir hulle. ’n Derde is reeds gepak met wat hulle ook al nodig sal kry.
Plotseling is dit asof die duiwel in die huis los is; stemme klink van oral op. Isabelle klouter haastig op haar kameel, gevolg deur Kamal.
Hulle ry senutergend stadig met die donker straat af, want ’n haastige vertrek sal te veel aandag trek. Die angs laai in Isabelle op. As hulle nou ontdek word, is dit klaarpraat met haar. Sy wens net dat sy aan Jarad kon verduidelik het; die dolk lê nog daar op die balkon waar haar aanvaller dit laat val het.
Voordat hulle om die hoek verdwyn, kyk sy terug na die huis. Skok ruk deur haar toe sy Jarad op die balkon sien staan. Hy kyk hulle agterna, maar lig nie sy hand in ’n groet nie. Hy staan net daar soos ’n standbeeld, trots en ongenaakbaar. En tog is daar ’n ander sy van hom wat sy leer ken het, ’n sy wat sy liefgekry het.
Trane begin oor haar wange biggel. “Ya habibi, ek is jammer …” fluister sy.
Dan is hulle om die draai en kan sy hom nie meer sien nie. Net die pyn en verlange bly klop in haar binneste.
Helu lê reeds anderkant die horison toe die son die volgende oggend sy kop bo die oosterkim uitsteek. Isabelle kan nie eens meer die toppe van die groen palms sien nie. Hulle het deur die nag dieper die woestyn in beweeg en bevind hulle aan die oostelike punt van die wadi Shibwan. ’n Entjie noord van die wadi begin die vreesaanjaende Rub’al Khali, die Leë Land – die streek waar daar net son en sand is … en die dood.
Kamal slaan die oggend kamp op waar die jebels in die sand wegraak. Na die kus se kant toe troon die kranse majestueus, maar hier naby die groot, woeste sandwoestyn is dit asof die aarde die jebels ingesluk het en steek net die punte daarvan bo die sand uit.
Hulle rus gedurende die warmste tyd van die dag, maar teen die middag is hulle weer op pad, want hulle moet die afstand tussen hulle en Helu so vinnig moontlik laat rek.
Isabelle is pootuit van die hitte.
“Waarheen is ons op pad, Kamal?” vra sy en probeer haar koel waai met ’n serp.
“Wie weet? Ons sal maar so rondswerf tot ons ’n teken van sjeik Jarad kry om terug te keer.” Hy het duidelik berus in sy lot.
Isabelle skud haar kop. “Ek gaan nie terug nie. Ek gaan probeer om uit Jemen weg te kom.”
Die Arabier kyk vinnig na haar. “Moenie probeer nie, saïda! Die sultan se manne sal u vang en dan sal u lot veel erger wees as om deur die woestyn te swerf.”
Sy sluk swaar en sy onthou daardie kosbare, brose oomblikke onder die sterrehemel.
“Hierdie land is te vyandig teenoor my. Ek wil teruggaan na Frankryk.”
“Wag dan net tot ons van sjeik Jarad gehoor het, saïda.” Daar is ’n amper pleitende toon in sy stem.
“Vir hoe lank, Kamal? ’n Week? ’n Maand? ’n Jaar? Jy weet dat dit selfs jare kan duur voor ons weer van hom hoor.”
Kamal frons diep en tuur oor die woestyn na die dansende lugspieëlings op die horison.
“Ek wil ook teruggaan, saïda … maar ek het die sjeik belowe dat ek u met my lewe sal beskerm. Die een wat die man met die mes na u gestuur het, sal nie rus voor u ook dood is nie.”
Isabelle glimlag weemoedig.
“Wat ’n mooi gedagte om ’n reis mee te begin, Kamal. Miskien moes ek maar liewer toegelaat het dat die man my doodmaak.”
“U moet rus,” ontwyk hy haar antwoord. “Vannag gaan ons na die watergat van Sharja. Daar sal ons vars kamele kry om verder mee te reis.”
Sharja, dink Isabelle toe Kamal na sy eie tent teruggaan. Dis net nog ’n naam, nog ’n klein stukkie groenigheid in die oneindige woestyn. Sy is al meer as ses maande in Jemen en sy weet nog so min van die land. Trane biggel oor haar slaap en drup op die grasmat waarop sy lê. Miskien moet sy na Khidr teruggaan. Jeanne sal minstens daar wees, en sy is darem nog ’n dun draadjie wat Isabelle aan haar vaderland bind.
Maar sy weet ook dat dit haar doodsvonnis sal wees. Khidr sal haar nie laat bly lewe na wat gebeur het nie. Nee, sy sal deur die woestyn moet swerf, ’n banneling sonder tuiste – maar sy het geen idee waar en hoe hierdie swerftog gaan eindig nie.
In Sharja kry Kamal vir hulle drie kamele. Hy sorg ook vir kosvoorraad en dan is hulle gereed om te vertrek. Hulle verlaat die klein oase in die voornag sodat hulle ver deur die nag sal kan reis. ’n Ligte wind waai oor die duine toe hulle vertrek. Isabelle wens dat sy net iewers ’n klip- of modderhuisie kan kry waarin sy kan bly, een waar sy kan bly slaap totdat alles verby is en sy terug is in Frankryk.
Sy draai haar abaya om haar gesig om die sand en stof uit te hou. Sy het dit aanvanklik moeilik gevind om op die rug van die kameel te bly, maar sy het die vreemde beweging van die dier al gewoond geraak. Om die tyd om te kry, dink sy aan Etienne le Riche, maar sy beeld is vaag en onherkenbaar. En sy probeer hul huis in Frankryk onthou, maar dit bring soveel hartseer dat sy haar gedagtes vinnig in ’n ander rigting stuur.
Teen dagbreek is hulle nog iewers op die uitgestrekte sandvlakte. Agtuur reeds dans die hittegolwe op die horison. ’n Dwarrelwindjie laat Kamal sy mantel oor sy kop trek en plat op sy kameel lê.
“En nou?” vra Isabelle toe Kamal weer orent kom.
“Die djins is gereïnkarneer in die warrelwinde, saïda. ’n Mens moet jou gesig van die onheil afwend.”
Isabelle sê niks. Sy en Kamal praat nie veel met mekaar wanneer hulle reis nie. Al verder trek hulle deur die dorre woestyn. Dis net hulle in die eindelose verlatenheid. Aanvanklik het die sandvlaktes en duine haar bang gemaak. Wanneer Kamal nie kyk nie, huil sy en verlang na die geilheid van die land wat sy eens geken het. Nou loop die een dag in die ander, met geen hoop dat dit ooit sal eindig nie.
Drie weke lank slof hulle van waterput na oase, om net weer in die woestyn in te gaan op soek na niks in die besonder nie. Dis ’n doellose bestaan wat Isabelle naderhand in totale moedeloosheid laat verval.
Kamal sien die gelatenheid in haar. Hy probeer haar opbeur, maar sy reageer nie meer op sy betowerende verhale nie. Net af en toe sal sy nog ’n stukkie qat eet wanneer hy dit in die hande kry. Dan is dit asof daar ’n bietjie lewe in haar kom, net om maar weer soos die eerste reëndruppels in die dor sand te verdwyn.
“Los my hier in die sand dat ek kan doodgaan, Kamal. Dit sal nie lank duur nie.”
“U moenie so praat nie, saïda. U is belangrik vir die sjeik.”
“Ja, Kamal, so belangrik dat hy my in hierdie vervloekte verlatenheid instuur. Ek glo jou, hoor.”
“Hy wou seker maak dat hulle u nie kry nie, dis al. Dis nie meer lank nie, saïda, hou net nog ’n bietjie uit.”
“Uithou tot wat, Kamal? Ek kan nie meer nie … en ek wil nie meer nie,” sê sy deur gebarste lippe.
Kamal is bitter ontsteld. Hy het sjeik Jarad belowe dat hy na Isabelle sal omsien. Nou is daar ’n leegheid in haar blou oë wat hom ongerus maak. Die waterputte van Aran is nog ver. Vannag sal hulle uit die kamele moet haal wat hulle kan en Shahira het rus nodig. Sy het meer as rus nodig, maar dis al wat hy haar kan bied.
In Aran is daar ook twee karavane wat die verkwikking van die waterputte kom opsoek. Kamal laat Isabelle alleen om na vars kos te gaan soek. Hy wil ook ’n boodskapper kry wat hy na Jarad kan stuur.
Sy