Uit die Beek 2017. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319357
Скачать книгу
want die groepsdruk is so groot om ook maar soos die ander kinders te praat en te doen. Dit is soms moeilik om anders te wees. Maar ons andersheid is juis ’n getuienis vir die ongelowiges.

      Dit is nie toevallig as ’n mens in ’n Christengesin gebore word nie. Die Here wil ons daardeur vorm en beveilig. Maar daar rus ook ’n groot verantwoordelikheid op ons wat ouers is. Ons moet so leef dat ons kinders ons kan respekteer. Ons voorbeeld sal maak dat ons kinders veilig is en langer leef (vgl. Ef 6:3). En al is daardie lewe nie noodwendig langer op aarde nie, loop dit in elk geval op die ewige lewe uit.

      Dit gebeur ongelukkig dat gelowige ouers se kinders hulle in die skande steek. Kinders moet dus van kleins af leer om hul ouers te respekteer en te gehoorsaam. Daar word vertel dat toe ds Andrew Murray as moderator van die sinode gekies is, hy elke keer uit eerbied opgestaan het wanneer sy pa gepraat het.

      GEBED: Dankie vir die ouers wat U aan ons gegee het, Vader. Help ons om hulle te eer, te gehoorsaam en te versorg.

      Lees vanaand in Deuteronomium 5:23-33 hoekom dit so belangrik is om die Tien Gebooie te gehoorsaam.

      DONDERDAG 12 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 6:1-13

      DIE ENIGSTE

      Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (6:4-5).

      GESELSVRAAG: Hoekom kan alle godsdienste nie reg wees nie?

      “Die grootste gebod in die wet,” het Jesus hierdie Skrifdeel genoem. Die Bybel se boodskap is duidelik dat ’n mens ’n persoonlike verhouding met die lewende God kan en moet hê. Hy openbaar Hom in die Skrif as die God van Israel, maar ook as die drie-enige God. “God is liefde,” skryf Johannes (1 Joh 4:16). Hy is baie meer as net die Skepper en Onderhouer van die heelal. Hy soek na ’n liefdesverhouding met sy skepsels. Hy maak ons sy kinders (vgl. 1 Joh 3:1). Maar Hy verander ons ook om soos Hy te wees en mekaar lief te hê (vgl. 1 Joh 3:23).

      Moses se boodskap aan sy volk – en aan ons – is dat daar geen ander God is as die Een wat Hom in die Skrif aan ons openbaar nie. Die Jode het dus die gewoonte om hierdie geloofsbelydenis minstens twee maal elke dag hardop te sê. Daarom sal jy gewoonlik vind dat hierdie woorde – die shemá – in ’n metaalhouer (mezuzah) aan die deurkosyne van Joodse huise vasgeskroef is.

      Ons het vandag ook gelees dat ons dit aan ons kinders moet oordra, van die oggend tot die aand (vgl. v. 7-9). Hoe kan ons dit doen sodat hulle dit hul eie kan maak? Gesels daaroor.

      GEBED: Here God, ons is lief vir U omdat U ons eerste liefgehad het. Laat u liefde vandag ook deur ons na ander vloei.

      Lees vanaand in Deuteronomium 6:14-25 hoekom dit belangrik is om te doen wat God van ons verwag.

      VRYDAG 13 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 7:1-11

      PARASKEVIDEKATRIAFOBIE

      Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees (7:6).

      GESELSVRAAG: Waarvoor is jy vandag bang?

      “Die vrees vir Vrydag die 13de” is die letterlike betekenis van die groot woord in vandag se opskrif. Niemand weet waar die bygeloof vandaan kom dat vandag gevaarlik kan wees nie. Dit is ’n nuwe bedenksel wat vir die eerste keer in 1869 opgeteken is.

      Die gedeelte wat ons vandag saamgelees het, herinner ons egter daaraan dat daar ander dinge is waarvoor ons baie banger moet wees. Ons moet bang wees dat ongelowiges ons van die Here sal afrokkel. In Moses se tyd was die oplossing uiters drasties. Maak almal dood wat jou moontlik kan verlei om die Here te versaak. Vandag doen ons dit nie meer so nie. Ons moet juis na sulke mense uitreik met die goeie nuus van Jesus, maar ons moet altyd op ons hoede wees dat ons nie self ook verlei word nie.

      Ons hoef dus nie vandag met vrees te begin nie. Hierdie dag is niks anders as enige ander dag nie, want ons behoort aan die Here. Die Here se almag verander nie op Vrydag die 13de nie. Hy gaan ook hierdie dag saam met ons in. Ons Vader gaan saam na die skool en klas en ons werkplek. Ons kan Hom vandag geniet. Hy wil vandag met vreugde kyk hoe ons gaan wys dat ons aan Hom behoort.

      GEBED: Dankie dat ek vandag nooit alleen sal wees nie, Hemelvader. Help my om U elke oomblik te verheerlik.

      Lees vanaand in Deuteronomium 7:12-16 watter seëninge aan ’n gehoorsame lewenswyse gekoppel is.

      SATERDAG 14 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 7:17-26

      PASOP VIR DIE VALSTRIKKE

      Jy moet dit verafsku en as afskuwelik beskou; dit moet vernietig word (7:26).

      GESELSVRAAG: Watter valstrikke kan ons gesin bedreig?

      “Ons moet gereeld patrollies deur die park stuur om die valstrikke van draad te verwyder wat onwettige stropers daar stel. Dikwels is ons te laat om van die diere te red,” vertel ’n natuurbewaarder. Die gevaar van ’n valstrik is dat dit nie vir die prooi gevaarlik lyk nie. Tog is dit dodelik.

      Moses dra die Here se waarskuwing aan die volk oor. Wanneer hulle die beloofde land binnegaan, sal valstrikke vir hulle wag. Aan die een kant vrees vir die vyande (vgl. v. 21), en aan die ander kant die versoeking van die afgode wat met silwer en goud versier is (vgl. v. 25). Moenie met sonde speel nie. Dis dodelik.

      Vandag wag daar ook baie valstrikke op elkeen van ons. Dit kan ’n aanslag op ons eerlikheid wees, deur geldgierigheid. Dit kan vrees vir mense se dreigemente wees. Dit kan daardie “onskuldige” flirtasie wees met iemand met wie jy nie getroud is nie. Dit kan daardie gesellige drinkpartytjie wees en die “een vir die pad”, wat dikwels die oorsaak van noodlottige padongelukke is. “Hoe kan jy teen dwelms praat as jy dit self nie eers een maal ervaar het nie?” het al tot menige jong mens se val gelei. Dan is daar nog die dodelike versoeking om van ander mense te skinder.

      GEBED: Here, maak my oë oop vir die valstrikke van elke dag.

      Lees vanaand in Deuteronomium 8:1-9 hoe die Here ons deur dissipline sterker maak.

      SONDAG 15 JANUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:33-40

      ’N NUTTELOSE LEWE?

      Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys (119:37).

      GESELSVRAAG: Wat gee sin aan ’n mens se lewe?

      “Ek het niks meer om voor te leef nie,” is die slegte gedagtes wat mense soms aan selfdood laat dink. In sy boek Die doelgerigte lewe help Rick Warren ons verstaan dat daar vyf baie goeie redes is om te leef: 1. Om God te aanbid; 2. Gemeenskap van gelowiges; 3. Geestelike groei; 4. Diens aan ander; 5. Getuienis teenoor ander. Is jou werk op aarde al klaar? “Solank jy nog asemhaal, is jou werk nog nie klaar nie,” lees ek nou die dag.

      Hierdie psalm wil ons daaraan herinner dat God ’n doel het met elkeen van ons. Die psalmdigter se grootste vrees is dat hy ’n nuttelose lewe sal lei. Dit is iemand wat niks vir iemand anders beteken nie. Daarom besef hy dat die Bybel vir hom die gids moet wees wat hom op die regte pad sal lei.

      Kom ons gaan vandag kerk toe met die verwagting dat ons Here vir ons opdragte vir hierdie week wil gee. Hy wil ons elkeen gebruik om sy wil op aarde uit te voer. Ons is sy hande en voete. Sondag is dus nie net ’n rusdag nie. Dit is ook ’n luisterdag. Ons kan die TV en die radio afskakel en begin luister na wat God vir ons elkeen wil sê. ’n Woestynervaring – of ’n kragonderbreking! – is soms ’n baie goeie ding.

      GEBED: Here God, dankie dat U ook met my ’n doel het. Help my om my roeping voluit uit te leef.

      Lees vanaand in Psalm 119:41-48 hoe die Here se Woord ons elke dag wil lei. Kyk mooi waar die versoekings wag.

      MAANDAG 16 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 8:10-20

      PASOP VIR VOORSPOED

      Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf