Maak jou huwelik affair-bestand. Timothy Kieswetter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Timothy Kieswetter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319821
Скачать книгу
>

      

      Maak jou huwelik

      affair-

      bestand

      Timothy Kieswetter

      Lux Verbi

      Skrywersnota

      Voordat ek oor enige onderwerp skryf, probeer ek eers genoeg marknavorsing doen en dalk sommer ook ’n bietjie uit persoonlike ondervinding praat. My vrou het egter gesê hierdie boek sal eerder ’n meer teoretiese boek moet wees.

      Dit is vir my belangrik om ’n duidelike definisie oor ’n onderwerp te kry. Toe ek begin rondspeel met ’n tema vir die boek, wou ek dit dadelik aan ’n duidelike definisie van ’n affair knoop. Ek het gou besef dit is moeiliker as wat ek aanvanklik gedink het.

      Die woordeboek beskryf ’n affair as ’n seksuele verhouding tussen twee mense, van wie een of al twee getroud is, maar net nie met mekaar nie.

      Affairs. Daar is nie regtig ’n sterk genoeg Afrikaanse woord daarvoor nie. Wat van buite-egtelike verhouding of egbreuk? Ja, maar dit klink soveel groter en erger as waarmee ons dink dat ons eintlik besig is. “Ek knyp net so ’n bietjie die kat in die donker”; “Dit is nie ’n verhouding nie”; “Ons is net vriende met byvoordele”; “Ons is net Facebook-pelle.”

      Juis daarom gaan ek die woord affair aanhou gebruik. (Jammer, al die Afrikaans-taalpuriste! My pa is ’n Engelsman, voer die saak gerus verder met hom.)

      Die probleem met die woordeboekdefinisie is dat dit glad nie ooreenstem met my kliënte se standaardantwoorde wat so duidelik hul “buitemuurse aktiwiteite” aan my verduidelik nie:

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons het nie penetrasieseks gehad nie.”

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Sy is nie getroud nie, en ek en my vrou gaan in elk geval skei.”

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek kuier net by prostitute.”

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons gesels net oor Facebook.”

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons drink net gereeld koffie saam.”

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek is nog lief vir my vrou.”

      ■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek voel niks vir daardie persoon nie.”

      Ons almal weet dat affairs sleg is en dat ons feitlik enigiets sal doen om onsself te kan verdedig en ons goeie naam en eer te beskerm, al is ons besig met ’n “soort-van-affair”, maar gelukkig is dit nie heeltemal ’n affair nie.

      Daarom kyk ons die kern van die saak heeltemal mis deur ’n definisie te probeer vind vir wanneer ’n affair regtig ’n affair is en wanneer dit ophou om een te wees. As huweliksberader werk ek met gevoelens, en nie met wie “reg” (in die groen sone) en wie “verkeerd” (in die rooi sone) is nie. Daarom gee ek nie om wie tegnies dit of dat gedoen het nie. Gaan pluis (of baklei) dit uit in die skeihof uit, want dit is waar hierdie “nie-affair” jou gaan laat eindig.

      Ek stel baie meer in die groter prentjie belang – in die emosionele prentjie, die gesinsprentjie, die Tuin van Eden-prentjie, die lewe-as-hel-prentjie. Ja, in die filosofiese definisie van affairs, buite-egtelike dinge en wat ons huwelike en intieme lewe skade doen.

      En om daardie breë definisie te kry moet ons bereid wees om ons bestaande sienings en persepsies rondom affairs eenkant toe te skuif en hierdie “Pandoraboks” met nuwe, vars oë te bekyk.

      Inleiding

      Affairs is verwikkeld en kompleks. Dit klink soos ’n goeie plek om by te begin.

      In elke liewe gesprek oor affairs, in al wat anonieme vraag op my Gesonde Seks-Facebookblad is, en selfs by paartjies wat berading oor affairs soek, reageer almal op dieselfde manier: “Nee, sies … Dit is verkeerd … Die sleg ding … Sy verdien beter … Die gras is altyd groener aan die ander kant … – Ja, want sy is vol daarvan.”

      Duidelik is ons gevoelens oor affairs en egbrekers reeds in sement gegiet en ongekompliseerd. “Kruisig hom! Stenig haar!”

      Die probleem ontstaan egter wanneer ons gevoelens en emosies só sterk oor ’n saak raak dat ons die vermoë om die kompleksiteit van die saak raak te sien volkome verloor. Om dan nie eens te praat daarvan om dit te probeer herstel óf voorkom nie.

      Juis daarom skryf ek nou hierdie boek oor affairs, cheaters, egbrekers, geheime, skelmpies, wegsteekkansies, dubbele lewens, one-night stands, pornografie, chat-sites, ekse, fantasieë, onskuldige en skuldige vriendskappe.

      Verskeie studies en gewone lewenservarings leer ons dat affairs die grootste pyn en seer is wat ’n persoon kan beleef, afgesien van die dood van ’n geliefde. Maar is dit nie presies wat ’n affair is nie? Dit is die dood van jou huwelik. Die dood van liefde. Die dood van vertroue. Die dood van gevoelens. Die dood van alle dood, want jy leef nog, die sleg ding leef nog en die skelmpie leef nog. (Maar nie vir lank nie.)

      Dit is juis al hierdie dinamika wat dit geweldig moeilik maak om ’n boek oor affairs te skryf wat meer inligting en woorde bevat as: “Staak dit!”; “Moenie dit doen nie!”; “Wat dink jy doen jy?”; “Skei hom en krap haar oë uit!”

      Weens die kompleksiteit van affairs en die sterk emosies wat dit ontlok, gaan ek nie eens probeer om die hele “Pandoraboks” oop te maak nie. Vir eers wil ek net saam met jou daarin loer. Ons gaan op ’n vars, nuwe en ander manier na affairs, huwelike en liefde kyk sodat ons die slaggate kan raaksien voordat ons daarin trap.

      Met hierdie affair-boek gaan ek slegs fokus op die hoofredes wat ek oor die jare in my beradingskantoor teëgekom het. Die woord “hoofredes” is dalk nie ’n akkurate beskrywing daarvan nie, want elke affair se redes is uniek en veelsydig. Kom ons kies eerder die woord “slaggate”. Sommige mense swik ’n enkel om die eerste draai, waar ander mense vir jare daarmee wegkom om landloop in die wildernis te doen sonder om ’n voet verkeerd te sit.

      Soos ek dit sien, het ons twee opsies: Ons kan voortgaan om vas te hou aan ons “perfekte” huweliksprentjie, dat so iets nooit met ons sal gebeur nie, of ons kan opgewasse raak vir al die slaggate in die huwelik en dit doelgerig probeer vermy.

      Die eerste deel van die boek gaan oor die tipiese verval tot kniediep in ’n affair – van “Dit sal nooit met my gebeur nie” tot “Hoe het ek myself in hierdie gemors laat beland?”. In elke hoofstuk word gefokus op een van hierdie slaggate, wat soveel mans en vroue reeds in die affair-lokval laat beland het. Die tweede deel van die boek gaan oor die herstel ná ’n affair. Hoe om weer ’n suksesvolle toekoms daarna te bou, hoe om te vergewe en weer onvoorwaardelik lief te hê, al sal jy nooit die pyn kan vergeet nie.

      Hierdie boek skryf ek vir almal: die gelukkige paartjie wat nog in die wittebroodfase is; die paartjie wat ná jare lange getroude lewe verveeld raak met mekaar; die paartjie wat mekaar nie meer kan verdra nie; die persoon wat ’n affair begin het; die persoon wat verneuk is. Hierdie boek skryf ek vir my en my vrou.

      Affairs verwoes lewens. Dit plaas jou in ’n hel op aarde. Dit ontneem jou kinders van gelukkige kinderjare.

      So, kom ons sit regop en luister met ons hart sodat ons ons huwelik affair-bestand kan maak.

      Deel 1

      Die ontwikkeling van ’n affair

      Ek wil sommer begin deur te sê: Affairs het niks met seks te doen nie. Soos baie dinge in die lewe, eindig dit gewoonlik met die seksuele. Hierdie boek gaan oor voorkoming, nie om te skree: “Aha, jy is besig met ’n affair, wêla kepêla!” nie. Hoe langer ons aan ons bestaande “seksuele” definisie van affairs vashou, hoe skraler is die kans dat ons ooit die gevaar sal kan sien voordat dit gebeur. Geen man het “per ongeluk” seks met ’n ander vrou nie. Seks gebeur nie net vanself nie. Seks is die eindresultaat van ’n aanloop van gebeure.

      Selfs met iets so oombliklik soos ’n one-night stand gebeur seks nie net vanself nie:

      ■Jy