Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susanna M. Lingua
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624076810
Скачать книгу
hoor of daar ’n hotel op die dorp is –”

      “Moet jou asseblief nie oor ’n hotel bekommer nie, mevrou Zeeman. Julle drie is welkom om hier by ons in die huis te bly,” val sy Elmarie opgewonde in die rede.

      “Ons is net twee, nie drie nie, mevrou Dekker. Net Mark en ek kom vir ’n vlugtige besoek.”

      Hulle gesels ’n rukkie oor haar en Mark se voorgenome besoek en groet dan.

      Nou, besluit Elmarie, kan sy weer aandag skenk aan die volgende uitstappie – haar laaste uitstappie saam met Lafras, en sy sal beslis op haar beste moet lyk om hom nie in ’n verleentheid te bring nie.

      Terwyl Elmarie die drie duur aandrokke deurkyk wat Lafras die dag voor hulle huwelik vir haar gekoop het, lui haar voordeurklokkie, en lewer dieselfde Johannesburgse modewinkel twee yslike groot dose by haar af met ’n nota van Lafras.

      Nadat die afleweringsbode vertrek het, skeur Elmarie die koevertjie oop, neem die kaartjie uit en lees:

      Net ’n klein geskenkie vir môreaand se uitstappie, en hou jou hare asseblief in dieselfde styl wat jy elke dag dra. Baie dankie. Ek is seweuur op jou drumpel.

      Jou man … of moet ek sê gewese man?

      Lafras Zeeman

      Elmarie maak die dose oop en verloor byna haar asem toe sy ’n wit weselbontstola uit die eerste een haal. Die tweede doos bevat ’n silwerkleurige aandrok wat met elke beweging glinster … En hy noem dit ’n klein geskenkie!

      Sy pas die rok dadelik aan en is verras om te vind dat dit perfek pas. Gelukkig het sy haar silwerkleurige aandskoentjies nog net een maal gedra, dus is hulle nog feitlik nuut. Sy betrag die rok se hals met ernstige konsentrasie en besluit om net oorkrabbetjies daarby te dra – haar ontslape moeder se robyn-oorkrabbetjies.

      Elmarie gaan hang die rok versigtig in haar klerekas en bêre die fabelagtige stola met net soveel sorg. Sy is seker dat sy môreaand die bes geklede dame in die hele Johannesburg sal wees.

      6

      Elmarie is klaar aangetrek en net besig om haar hare te kam, toe die kinderoppasser, ’n derdejaar-universiteitstudent, haar opwagting by die woonstel maak. Die meisie kan ’n uitroep van bewondering nie keer toe sy Elmarie sien nie.

      “Ek het gister u en meneer Zeeman se foto in die koerant gesien,” sê die meisie, “en ek kan nou nog nie verstaan waarom meneer Zeeman nie die skeisaak verdedig het nie. U is so pragtig, hy sal nooit weer so ’n mooi vrou kry nie.”

      Daar is ’n geamuseerde glimlaggie om Elmarie se mond toe sy sê: “Jy kan daardie vraag oor ’n paar minute persoonlik aan meneer Zeeman stel, juffrou.”

      Die meisie kyk Elmarie verbaas aan toe sy sê: “Gaan u vanaand saam met meneer Zeeman uit, mevrou?”

      “Dis reg, ek gaan vanaand saam met my gewese man uit, juffrou. En as ek dit nie mis het nie, is dit hy wat nou daar aanklop. Sal jy net die deur vir hom oopmaak, asseblief?”

      Elmarie gaan haal gou haar aandsakkie en stola wat op haar bed lê, en kom byna saam met Lafras die woonkamer binne. Hy groet Mark vriendelik met ’n ligte soentjie op die voorkop. Hy kom orent en oombliklik val sy oog op Elmarie se bekoorlike gestalte. Etlike tellings neem sy grys oë haar hele persoon waar – van haar rok se soom tot by haar raafswart kroontjie. Toe tree hy vinnig nader, plaas sy hande op haar skouers en druk sy lippe saggies teen haar kroontjie.

      “Ek kon in die ganse Johannesburg nie ’n enkele rooi orgidee vind nie,” hoor sy Lafras sê, “toe moes ek maar ’n pienk orgidee neem.”

      Hy verwyder sy hande van haar skouers, neem die skouerruiker wat hy met sy aankoms op ’n geleentheidstafeltjie neergesit het en steek dit behendig vir haar aan.

      Elmarie bedank hom vir die pragtige skouerruiker en gaan staan dan voor die muurspieël om die orgidee teen haar skouer te bewonder. Die volgende oomblik verskyn Lafras se gesig ook in die spieël.

      “Jy is inderdaad ’n bekoorlike skepseltjie, my swartkoppie,” hoor sy hom agter haar sê. ’n Oomblik ontmoet hulle oë in die spieël, en Elmarie is bewus van die tere bewondering in sy oë.

      Met ’n sagte blos op haar wange draai sy van die spieël af weg en sê met ’n verleë glimlaggie: “Jy moet my liewer nie voor juffrou Snyman vlei nie, Lafras. Sy wonder reeds waarom jy nie die skeisaak beveg het nie.”

      Lafras praat met die kinderoppasser, maar sy oë rus op Elmarie toe hy sê: “Juffrou Snyman, ek het nog altyd gedink dit is ’n onsinnige man wat sy vrou dwing om by hom te bly wanneer sy hom nie meer wil hê nie. Hy kan mos altyd later weer probeer om haar toegeneentheid te wen as hy vind dat die lewe gans onmoontlik is sonder haar.” Hy kyk na sy polshorlosie en sê bedaard: “Ons sal nou moet gaan.”

      Hy hang die pragtige stola behendig om Elmarie se skouers. Hulle sê vir Mark nag, groet juffrou Snyman en vertrek.

      Eers toe hulle in die motor sit, sê Elmarie: “Ek moet nog vir jou dankie sê vir hierdie duur aandrok en fabelagtige stola, Lafras. Ek besef dat jy dit uitsluitlik gekoop het sodat my voorkoms jou nie vanaand in die skande moet steek nie, en om daardie rede het ek dit aanvaar. Ek wens net jy wil dit liewer nie doen nie, want ek weet nie hoe ’n mens dankie sê vir sulke duur geskenke nie.”

      “Nou goed, ek sal jou wys hoe jy dankie kan sê, want ek kan nie belowe dat ek jou nooit weer ’n geskenk sal gee nie,” val hy haar sag in die rede. Die volgende oomblik is sy net bewus van sy lippe wat hare met klein, sagte soentjies liefkoos. Sy arms sluit meteens om haar en sy voel hoe sy lippe hare met ’n vreemde dringendheid opeis.

      Lafras is duidelik ontwrig toe hy eindelik sy kop oplig en haar uit sy arms vrylaat. Ook vir Elmarie voel dit asof ’n weerligstraal haar skrams getref het. ’n Man het haar nog nooit met soveel gevoel gesoen nie. Sy weet sy moet iets sê, maar op die oomblik kan sy aan niks dink nie.

      “Ek vrees jou grimering is nou daarmee heen, swartoog, en jy kan my maar klap as jy wil,” hoor sy Lafras boetvaardig sê. Hy skakel die voertuig se enjin aan en trek sonder meer weg.

      Na ’n rukkie vra hy egter: “Waarom is jy so stil, Elmarie? Is jy nou baie kwaad vir my omdat ek jou gesoen het?”

      “Nee, ek is nie vir jou kwaad nie, Lafras,” sê sy, nou weer kalm en bedaard. “Ek sit maar net en wonder waarom ek nie vir jou kwaad is nie. As dit iemand anders was, sou ek hom lankal geklap het dat hy sterre sien. Dit moet bepaald wees omdat ons vir tien dae soos getroudes saamgewoon het – behalwe natuurlik dat ons nie dieselfde kamer en bed gedeel het nie. Met so ’n saamwonery leer ’n mens mekaar ken, en later voel dit regtig of julle ’n soort gesin is. En dan wou jy my natuurlik ook wys hoe ’n mens dankie sê vir ’n baie duur geskenk.” Die laaste sin voeg sy hom met ’n sweem van ’n glimlag toe, wat sy oog nie ontgaan nie.

      “Wel, ek moet sê ek het baie gewaag om jou so hartstogtelik te soen, swartkoppie. Met so ’n roekelose optrede kon ek die hele aand vir jou bederf het, en daarvoor sou ek myself nooit kon vergewe het nie. Jy sien, ek voel dieselfde as jy wat ons huwelik betref. Na ons verblyf in Durban het dit vir my ook gevoel of ons drie ’n gesin is. En noudat ons huwelik ontbind is, voel dit vir my vreemd om myself weer as ongetroud te beskou.”

      “Dit is bloot omdat jy die afgelope ses weke in ’n groef beland het, Lafras,” verduidelik Elmarie gemoedelik. “Sodra jy weer al die gesogte plekke in Europa besoek en omring is van al jou vriende, sal jy bly wees omdat jy ongetroud en vry is om die lewe te kan geniet soos dit jou behaag.”

      “En jy? Wat gaan jy doen, meisie, noudat jy weer ongetroud en vry is?” wil Lafras op sy gewone, bedaarde manier weet.

      “Ek wil Mark eers vir ’n week of wat na sy grootouers toe neem; daarna sal ek maar weer by die ou firma aanklop vir werk, en die drade van my lewe opneem waar ek dit drie maande gelede laat lê het,” vertel sy, en sien toevallig dat hy ook nog steeds sy trouring dra.

      “Ek weet nie hoe kan so ’n pragtige meisie soos jy tevrede wees met so ’n saai lewe