Sag fluister my hart
Schalkie van Wyk
Melodie
1
Sandri Blanchet sit voor die spieël en knipoog vir haar tannie Simone wat agter haar kom staan en bekommerd na haar kyk.
“Soms dink ek jy is te jonk en te mooi vir soveel verantwoordelikheid, my kindlief,” sê tant Simone met ’n spytige suggie en raak aan Sandri se skouer. Daar is darem nie net spore van kommer op haar tannie se gesig te sien nie. ’n Trotse bewondering straal ook deur.
Sandri glimlag onnutsig. “Ek is dankbaar tannie dink ses-en-twintig is jonk, maar hoe mooi ek kastig is …” Sandri kyk in die spieël na haar groen oë en swart hare wat oor haar skouers val. Sy haal haar skouers op. “Tannie is lief vir my en liefde maak enigiemand mooi.” Sandri lig haar hare van haar gesig af weg en begin dit vasmaak. “Om prinsipale te wees, ís ’n groot verantwoordelikheid, maar tannie het my mooi opgelei. Moenie so bekommerd wees nie.”
“Móét jy jou pragtige hare in so ’n onaantreklike bolla agter jou kop saamvat, Sandri?” vra tant Simone onthuts. “Glo my, kind, dit laat jou outyds, nie ouer of waardiger lyk nie. Dis ’n wonder die Blanchet-leerders het jou nog nie ’n bynaam soos ‘Oumatjie’ gegee nie!”
Sandri se laggie is onbesorg. “Ag, onnies en veral prinsipales kry altyd byname. Tannie het my self vertel toe groottante Alexandrie aan bewind was, is sy ‘Ou Giffie’ genoem omdat sy so streng was. Dalk noem ons leerders my ‘Klein Giffie’, tant Simone.”
“Dít glo ek darem nie, want die meisies hou van jou, Sandri. Maar jy hoef regtig nie elke dag donkerblou of grys tweestukpakkies en wit bloesies te dra nie. Jy is nie ’n kelnerin wat verplig is om ’n uniform werk toe te dra nie!”
“Tannie het van my bril vergeet,” koggel Sandri, tel ’n swart brilraam met groot, ronde lense van haar spieëltafel af op en sit dit op die punt van haar neusie. “Werklik waardig, nè, my tannie?” vra sy bedees en loer na tant Simone oor die raam van haar bril.
“Stuitig!” sê tant Simone kamtig vies en draai vinnig om, maar Sandri het klaar die effense glimlaggie gewaar. “Ja, toe, jou kamtige onskuld bedrieg die ouers en die leerders, maar ek weet jou oë spog met volmaakte twintig-twintig-visie. Skaam jy jou nie oor jou bedrog nie?” raas tant Simone.
“Nee, my knorrige tannie,” antwoord Sandri ongesteurd en kom orent. “Tannie was nou net besorg dat ek te jonk en mooi vir die verantwoordelikheid van prinsipale is. Met my bolla, bloesies en bril lyk ek darem al asof ek in die rol pas – en só is die helfte van die stryd reeds gewonne.” Sy sit haar arm om tant Simone se skouers en gee haar ’n bemoedigende drukkie.
Tant Simone sug. “Ek is nie werklik bekommerd oor jou bekwaamheid nie, Sandri. Jy het immers ’n doktorsgraad in Opvoedkunde en die skoolraad is beïndruk met jou inspirerende invloed op al die meisies. Dis jou oupa wat my weer laat twyfel oor my vakansieplanne terwyl jy die bestuur van die skool oorneem.”
Sandri bekyk haar tannie. Op sewe-en-veertig is tant Simone met haar donkerbruin hare, ligbruin, ambergoue oë en egalige gelaatstrekke nog besonder aantreklik. Die enkele lagplooitjies om haar oë is nouliks sigbaar en haar sonnige glimlag straal warmte en opregte belangstelling in haar medemens uit. Haar lang, slanke figuur lok selfs soms ’n tikkie afguns by die skoolmeisies uit.
“Wat kan oupa Everard nou eintlik doen? Hy het geen sê oor die Hoër Meisieskool Blanchet nie. Dit was nog altyd in die hande van die Blanchet-vroue, vandat Alexandrie die Eerste dit begin het. Hy het ook geen sê oor tannie nie. Oupa moet hom gerus by sy sakeryk bepaal.”
Sandri is lief vir haar oupa, maar hy kan vreeslik baasspelerig wees. Sedert haar ouma Heloïs drie jaar gelede oorlede is, is hy net erger. Eintlik kry sy hom jammer, want hy mis haar seker ontsettend. “Kom ons gaan eet nou ontbyt, my diep beswaarde tannie. Of is tannie te bedruk om te eet?” terg Sandri.
“Jy is ’n opperste snip, Sandri Blanchet, selfs al lyk jy hooghartig genoeg om van adellike afkoms te wees,” sê tant Simone gemaak vies, maar haak glimlaggend by Sandri in toe hulle saam in die breë gang afstap na die bopunt van die trap.
Oupa Everard plak sy koffiekoppie hard op die piering neer en gluur na Sandri en tant Simone wat hom vriendelik ’n goeiemôre toewens en aan die lang ontbyttafel gaan sit.
“Goeiemôre!” herhaal hy hul groet bot en laat dit soos ’n skelwoord klink. “Ontbyt word stiptelik om halfsewe soggens voorgesit, maar julle daag ’n kwartier later op en probeer nie eens verskoning maak vir jul laksheid nie. Is my woord nie langer wet onder my eie dak nie?”
“Oupa, argumente is nie goed vir die spysvertering nie, veral nie vir mans van agt-en-sewentig nie,” sê Sandri streng en kyk na tant Simone. “Hoekom moet ons onder hierdie dak woon?” vervolg sy kamtig ernstig. “Kom ons koop ’n groot woonstel nader aan Pretoria sodra tannie terugkeer van die buiteland.”
Sandri sien hoe tant Simone haar oë toeknyp en haar kop haastig laat sak, asof sy hoop om die onvermydelike uitbarsting van oupa Everard te ontduik. Vreemd, toe haar tannie prinsipale was, het sy dissipline sonder moeite in die skool gehandhaaf, maar in oupa Everard se teenwoordigheid verkrummel sy tot ’n hopie onsekerheid.
“Sandri, moenie my uittart nie!” waarsku oupa Everard, sy stem ’n donker rammeling in sy bors. “Jy is nog ’n bogsnuiter wat allermins die nodige ervaring het om die prinsipale van ’n skool te wees.”
“Rêrig nie, Oupa? Ek is al sedert Januarie in die pos, onder tant Simone se mentorskap. Die afgelope vier maande was die ouers en die skoolraad doodtevrede met my rol as skoolhoof.”
“Omdat een en almal besef Simone kloek oor jou soos ’n moederhen!” bulder oupa Everard en slaan met sy vuis op die tafelblad sodat die eetgerei rinkel. “As jy die geringste probleem ondervind, is Simone maar altyd daar om jou hand te vat en te help. Gaan jy my probeer wysmaak dat jy al jou probleme self kan oplos?”
“Só verwaand is ek nie, Oupa,” antwoord Sandri rustig. “Maar selfs wanneer tant Simone oorsee is, sal ons onderhoof, juffrou Minnaar, altyd byderhand wees om my te help en raad te gee, as ek dalk ’n tweede mening nodig kry.”
“Presies! Waarom kan Johanna Minnaar nie waarneem as prinsipale terwyl Simone in die buiteland gaan rondjakker nie?”
Oupa Everard se donker wenkbroue vorm ’n skerp kontras met sy sneeuwit bos hare en waaksame, swartbruin oë. Sy aristokratiese neus en ferm ken verleen aan hom die voorkoms van ’n diktator wat gewoond is om sy wil in elke situasie te laat geld. Sandri sug. Sedert haar ouma se dood, glo hy niemand is in staat om die Hoër Meisieskool Blanchet sonder sy hulp te bestuur nie. Ja, haar ouma was ’n uitstekende prinsipale, maar tant Simone was ook en sy wat Sandri is, is vasberade om in hul voetspore te volg.
Tant Simone maak haar rug reguit. Sy het blykbaar haar stem teruggekry, want sy antwoord oupa Everard: “Dit was nog nooit in my aard om rond te jakker nie, nie eens dertig jaar gelede nie, Pa. Ek reis en leer ken die kultuur van elke land wat ek besoek.”
“Is dit nie genoeg dat ons elke Desember as familie oorsee gaan nie? Hoeveel keer het jy nie al by ons wynplaas in Frankryk gaan kuier nie?”
“Ek gaan die hele Europa platreis, Pa, nie net Frankryk nie. My toer begin boonop in Amsterdam. En dis anders om alleen te reis …”
“Jy kan wag tot ná jou aftrede op vyf-en-sestig!”
“Pa het op agt-en-sewentig nog nie afgetree nie. Wag ek so lank, sal ek dalk ’n rolstoel en ’n verpleegster nodig hê om my te vergesel. Gun Pa my nie net één keer ’n bietjie vryheid nie?”
Oupa Everard beduie kwaai met sy hande om sy ergernis te beklemtoon. “Met alles wat jy van die Blanchet-vroue geërf het, was jy jou lewe lank vry om te kom en gaan soos jy wil. Jy het die onderwys as loopbaan gekies, Simone, daarom verwag ek dat die goeie naam en die toekomstige finansiële sukses van die skool altyd jou eerste prioriteit sal wees. Ek sê weer: Johanna Minnaar kan in jou afwesigheid as prinsipale waarneem, anders gaan julle leerders verloor.”
“Johanna is ’n uiters bekwame opvoeder, maar ‘onderhoof’ is in haar geval slegs ’n eretitel, Pa. Ek kan op haar