Ek lyk soos ’n gedrog uit ’n horror movie. My spieëlbeeld het dik, swart strepe maskara op beide wange, blou oë met rooi raampies om en lang blonde hare wat lyk of dit nog nooit ’n borsel geproe het nie. Ek snuit my neus en droog die trane met die binnekant van my hande af.
My vingers bewe ongeduldig terwyl ek voel oor die knoppies van die materiaal oor my maag. Gmf! Sirkusmense sal mal wees oor die klere wat ek dra. Seriously. Ek het smaak! Ek pluk my swart korsetbloes uit en gooi dit op die grond. My lewe is soos in totally by die drein af. Asof dit my gaan red, draai ek die volume nog harder. Ja-a! Eerder Ellie Goulding.
“Pum, pum, pum-pum-pum . . .”
Met toe oë staan ek voor my spieël en dans.
Terwyl ek my stewels afrits en hulle op die vloer laat val, skud ek my nek uit lit. Die dromme pomp in my are. My skouers hou saam tyd. Die note is in my kop. Ek. Is. Ellie Goulding.
“Anything could happen,
Anything could happen . . .”
“Sit af daai blêrmusiek en trek vir jou klere aan.”
My arms ruk benoud oor my borskas. Amper ’n skouer uit lit uit. Vir wat staan sy en bekruip my?
“As jy so naak voor ’n oop venster staan en dans, gaan jy vir seker moeilikheid kry.” Ma se grysblou oë lyk vir ’n sekonde of dit wil flits. Toe is dit weer dood. “En ek het vir jou ouma gesê, grimering verniel net ’n mens se gesig.”
’n Tongklap glip uit. Ek kyk benoud verby Ma na die gang. As Pa my nou moes hoor tongklap, voel ek nooit weer die son op my vel brand nie.
“Ag, Ma-ha,” sê ek. “Ek het darem nog my vest aan.” Ek moes dalk eerder frokkie gesê het? “’n Mens kan tog seriously niks sien nie.” My oë rol dak toe. “En make-up was darem af.”
Dat Ma ouma Hanna se eie dogter is, sal ek net glo as ek die geboortesertifikaat self sien. Leithanie Johanna Diedericks was ’n ouma so na my hart. Ma, aan die ander kant, is meer iewers in die omgewing van my kleintoontjie rond.
“Jy beter mooi in jou spore trap, Sussie. Jou pa is nie een van jou vriende vir wie jy jou kan staan en opruk nie. Hy bly jou pa!” Sy swaai haar wysvinger voor haar gesig heen en weer. Dit sal nogal cool wees as sy haarself hipnotiseer. Maar dan bal sy haar vuiste op haar heupe. “Het jy die boks waarin my boeke was gevat?”
Natuurlik moes sy eers haar moederlike plig doen deur vir my te preek voor sy my van diefstal kon verdink. Sy het klaar besluit. Dit help nie eens ek stry nie. Ek steek dit seker in my kas weg, want ek het mos niks beters om met my tyd te doen as om deur boeke te blaai wat deur Noag self in die ark gebruik is nie.
“Dis seker in die hemel,” mompel ek geïrriteerd. Minstens kan Noag dit nou weer gebruik, voeg ek in my gedagtes by.
“Wat?”
“Um . . . die hemel alleen weet waar daai boks heen is, Ma. Ek het nie ’n clue nie.” Ek glimlag onskuldig.
Ma frons effens, maar dan is haar gesig weer onleesbaar. “Jou kamer gaan ook nie homself uitpak nie, Lehandi.”
“Sal dit nie nogal disco wees nie?” begin ek my openingstoespraak, maar ek sien sy gaan nie bly vir ’n redenaarskompetisie nie. Sy stap net penorent by die kamer uit en trek die deur weer agter haar toe.
En daar gebeur dit . . . my lewe is vir eens en vir altyd so dor soos ’n woestyn. Ek het dit geweet – wie anders se lewe sal so droog wees dat dit selfs ’n hand vol sand na ’n sappige stuk waatlemoen sal laat lyk?
Ek sit die radio af en gryp die eerste T-shirt wat ek bo in ’n boks kry. Ek pluk die swart materiaal oor my kop. “Born to be wild” staan in glitterpienk styf oor my rug gespan.
Ek gryp my selfoon en tik:
Is hier. Mis jou.
Ek stuur die boodskap en plak my selfoon op my lessenaar neer. Dit help net mooi niks nie. Reqita het ook nie op die vorige honderd SMS’e geantwoord nie.
Met ’n bedroefde sug sleep ek my lessenaar se stoel tot voor die venster, tel my gordyne van die vloer af op en klim op die stoel om die hakies aan die reling te kry. Met die gordyn se bopunt in my hand, tuur ek buitentoe. Dis nogal vreemd om ’n teerpad te sien. So anders as stofstrate wat sorg dat stof bo, onder en rondom alles saampak.
Alles is stil buite. Behalwe vir ’n figuur wat om die hoek gedraf kom . . . My knieë raak lam. My hart mis ’n skop. Donker hare. Breë skouers. Merske kuite!
“Wat ’n hunk!” fluister ek en die stoel wankel onder my voete. Ek kyk vinnig terug na my toegetrekte kamerdeur. My geheim is veilig. Ek voel twee rooi kolle op my wange brand. Is ek besig om siek te word? Dit moet die tekort aan stof wees. Of die aaklige kleur teen my mure?
Nee! Ek wens. Is dit dan hoe ’n regte crush voel? My eerste crush. Of altans my eerste crush ná meneer Benadé – my vorige rekeningkunde-onderwyser.
My hand glip na my mond. Nee! Hoe is dit moontlik? Die donkerkop het verdwyn! Spoorloos. Asof hy agtergekom het wat in my kop broei – muisneste, met baie hartjies en vlinders.
Ek pluk vies aan die gordyn om dit toe te kry. ’n Benoude gil glip uit toe ek my balans verloor en verniet na die muur gryp voordat ek hard met die vloer kennis maak. Hoeveel betaal ek vir die stukkie grond tussen my bed en my venster? Eina, oe! Sal twee bloukolle werk? Een teen my linkerheup en die ander een voel ek op my elmboog brand.
Soos ’n kreupele hinkepink ek tot by my lessenaar. Asof ek reeds beenaf is oor die donkerkop onder in die straat. Laat ek net eers asem haal.
Ek val op my bed neer en soek na die boek in my handsak. Stadig sak ek tot op die naat van my rug, kruis my bene by my enkels en vou die boek by die boekmerk oop.
My lewe maak sin as ek in my verbeelding iemand anders kan wees. As ek, die heldin, my held op die laaste bladsye vind. Dit is ook al waar ek ’n boyfriend kan hê. Al wanneer ek kan droom en kan vergeet.
My wange brand. Ek gooi die boek op die bed langs my neer en sug hardop. Asof ek so gou sal kan vergeet. My voete skop ’n denkbeeldige monster in die lug weg. Hy spat in tien kleiner monstertjies wat elkeen hulle beurt afwag om my aan te val.
Hoe maak ’n mens nuwe vriende ’n maand voor die skool vir die vakansie sluit?
Hoekom gebeur alles altyd met my?
Hoekom moes my pa my ma gaan staan en verneuk het? Dis totaal en al belaglik.
Dit voel of my kamer se mure my gaan versmoor. Dis asof die aardbol op sy kop staan. En my wêreld waarin my pa my held was, is soos ’n soppy love story waarvan die credits nog oor die skerm hardloop. Oor en uit. Net die trane wil nie stop nie.
Ek gee ’n lang sug. Een wat ek eers diep intrek terwyl ek my lippe styf toeknyp. Die vars lug kielie my verhemelte. My lippe vorm aan die een kant ’n uitlaatpyp. Die drukking laat my wange vir ’n sekonde opblaas, maar toe is dit uit en my gedagtes weer skoon. Arg! Anders as my kamer. Kan ek nie maar so hard sug dat hy hom sommer vanself opruim en uitpak nie?
Dis Maandagoggend en ek behoort al gewoond te wees daaraan dat almal my aankyk asof ek ’n freak is. Maar dit is nie dieselfde gesigte wat voorheen gekyk het nie. Dit is ook nie dieselfde meisies wat agter hulle hande praat toe ek op die skool se stoep verbystap nie.
Ek’s nuut, so freaken what! wil ek uitskree. Maar dit sal meer media lok as wat One Direction se weed joint gekry het. Die klok het eeue gelede al gelui, maar soos elke skool het hierdie een ook sy droë kolle wat nog op die stoepe rondslenter.
Met ’n benoude hart gaan staan ek stil voor ’n klas vol nuwe gesigte. Die stuk papier wat die skool se sekretaresse minute gelede in my hand gestop het, voel of dit my brand. Ek kyk af na die klasrooster net om seker te maak dit het nie vlamgevat nie. Of eerder om al die starende gesigte te vermy.
Moet