“Hulle roof mense hier by Modderdamweg se groot robot, Lavis se jongens. Dan hol hulle hier in met die polieste agterna. Soms hoor ek hulle kap, dan loer ek deur die venster, dan’s dit die yster-railings wat hulle by die grootpad uitslaat.”
Sy hoor skote, sy hoor meisies gil as hulle vir verkragters weghol. Jare se fyn luister het haar geleer: As die klein hondjies huil, is dit ’n hut wat iewers afbrand.
“Dignity” was die woord wat opgeborrel het in Zuma se staatsrede toe hy praat oor die “second phase of our transition”.
“Dignity? My dignity is deur die gat getrek.”
Haar ken hang. Sy wys om haar. “Is dít dignity? Kyk in watter omstandighede lewe ek. Om te skyt in ’n emmer – is daai dignity?”
In die hoek van haar slaapkamer, onder ’n prent van ’n olifant, staan die toilet-emmer met ’n hoop geskeurde koerantpapier langsaan. Sy lig hom op. Jeyes Fluid skommel bruin onderin. Langs haar bed staan twee groot vullisdromme vir die water wat deur die dak stroom as dit reën. Die een is driekwart vol, te swaar om met haar “60-jarige, ou lyf” uit te dra; so nou staan dit maar daar en vol word.
Die mat is klam, die kamer ruik na muf en vanieljegeur-wierook.
Op die kombuisrak: ’n botteltjie pienk naelpolitoer, Robertsons se neutmuskaat, gifbolle (“goed vir sere”) en “dawidjieworrel” (“hoofpyn”) en ’n klomp takkies wat sy gebruik “vir allerhande dinge”, sê sy geheimsinnig.
Katriena en Suzy Wong, haar ander bok, staan en trap modder in hul kampie. Eenkant lê ’n pop se kop. Die gesig kyk anderkant toe, asof die prentjie te erg is.
“Dis my bokkinders dié, my kínners. Hulle moet nog gaan wei, ek vat hulle veld toe. Oppas vir Katriena. Sy stamp. My boud is nog blou van laas week.”
Heeltyd dreun vliegtuie laag oor. Soms ruik sy hul petroldampe – “hulle change gears hier reg bo ons vir die neersit”.
Haar gunsteling is British Airways, want hulle’s pragtig. En besides daai, sal sy dit laaik om in Engeland te gaan bly.
Dalk is dit beter as hier.
Haar ouma se mense was nogals Skotte, deel sy. Simpsons.
“So ek gaan maar op ’n fantasy ride to Scotland, whatever.”
Terwyl Jaco foto’s neem, poseer sy skewekop, een voet skalks gelig. “Moet ek nou model speel vir my swaargeit, hè?” giggel sy.
“Oe, my seun kry ’n bybie as hy hoor ek praat met julle. Hy steek dit klaar weg dat sy ma in ’n plakkerskamp bly.”
Haar dogter is ’n prokureur. “Bý UCT se law school klaargemaak. Sy’s nou in Amerika, getroud met ’n Jood. Mrs Matthew Spira.”
Haar pa bly in ’n skemahuis in Lavis. “Hy lyk soos ’n Boereman, ek dink my oupa was ’n Boer. Blou oë. Ek praat sometimes met hom, maar jy kan nie orals met jou probleme hardloop nie. Ek moet maar die lewe aanvaar soos dit is.”
Mrs Spira stuur nie vir haar geld nie. Ook nie haar pa nie. Al by wie sy geld kry, is Sassa (die Suid-Afrikaanse maatskaplikeversekeringsagentskap). R1 350 se pensioengeld, op die eerste van elke maand.
Dis taxigeld daghospitaal toe. Geld vir mieliemeel, “bietjie oatsies”, partykeer groente en ’n vleisie op pay-day.
Wat haar die meeste vang, is winter. “Dit vang vir my lelik. Ek was twee jaar lank siek gewees oor ek met klam hare, vasgebolling op my kop, gaan slaap het. Toe kom die kopverkoue. Nou’s ek bang vir hare was.”
Grace se “triple challenges of poverty”.
Die koue éét mens hier tussen die plasse water – en baie het tering, het vigs, en hóékom gebruik hulle nie daai kondome nie…?
“Maar gelukkig vir my doen ek jare nie meer daai dansie nie, verstaan.” Haar man? “O djirre, moenie vra nie.”
Gaan sy eendag hier doodgaan?
Sy kyk verbaas op.
“Nee, willie! Miskien kom daar nog ’n way uit, mens weet nooit. Jy kom bly hier oor daar nie ’n anner uitweg is nie, gehoor. Daar issie werk nie, daar íssie. Die blou mense vat al die werk, hierdie miljoene swartblou kwerekweres.”
Hoe sý hier beland het, nou “dááis ’n separate storie”.
Grace en haar kinders het 13 jaar gelede in ’n baksteenhuis in Uitsig gebly. “Toe was ek nog iemand.”
Toe raak ’n kind in die omgewing vermis en die gemeenskap beskuldig Grace dat sy die kind gesteel het. Sy moes vlug vir hul boendoehof, gaan wegkruip in plakkerskampe.
“En toe word ek niemand in hierdie niemandsland met my bokke en my alleengeit.”
Die vermiste kind het glo laas jaar haar verskyning gemaak, mét ’n baba, en Grace is Menseregtekommissie toe om haar “vuil naam” skoon te kry.
“Ek is opgesluit en weer gelos en my naam is my naam en ek soek millions vir my naam. My hele lewe is opge*& hierdeur.”
Sy sluk. Nou wáár’s die vuurhoutjies, soek haar hande rond, lus vir rook, bewerig gepraat.
Dan skuifel sy uit, verby die bokke, “huurder” toe in die ander hut, ’n groot Xhosa met krukke en ’n kuitwond wat sukkel om gesond te word. Car accident, Mama, wys hy, ’n jaar en twee maande gelede.
Uit sy “disability” betaal hy haar R100 ’n maand. En ’n vuurhoutjie, vandag. Sy steek op, suig haar stompie Pacific Blue holwang.
Die reën swiep in ons gesigte terwyl ons terugstap kar toe.
Grace staan by haar hek, gaan nie in nie, kyk vir ons in die reën terwyl ons wegry verby die Rastas, verby die pype tot in Modderdamweg. Weg.
Daardie nag waai die wind. Dit storm. Ek onthou haar hoë bed, die komberse se hobbels onder ’n ou sunfilter-gordyn wat deken geword het. Die amper-vol drom water.
En ek druk die elektriese kombers tot by drie.
Junie 2014
“Want jy’s nié in beheer nie”
Wilma van der Bijl is in 1987 as Mej. Suid-Afrika gekroon, het daarna haar graad in aptekerswese voltooi en is deesdae die eienaar en bestuurder van ’n Engen-vulstasie in Plattekloof in Kaapstad. In Junie 2005, op die ouderdom van 42, is borskanker by haar gediagnoseer en het sy ’n dubbele mastektomie ondergaan. Sy sê dit het haar uitkyk op die lewe radikaal verander. Sy doen deesdae baie motiveringspraatjies om mense wat deur dieselfde donker dieptes gaan te help en te motiveer.
Haar glimlag is van hoë oktaan, soos die brandstof wat sy deesdae by haar vulstasie in Plattekloof, Kaapstad, verkoop.
Sy staan met die petrolpomp in haar hand, al 1,83 m van haar.
Die noordwester waai haar kuif in haar oë, pluk aan haar rokpant, haar pienk serp en almal – álmal – vergaap hulle aan haar.
“Kyk,” wys sy opgewonde na die uitsig, “dis vandag ’n bietjie dynserig, maar ’n mens kan die hele Kaap van hier af sien: Bloubergstrand, die hawe en daar lê Tafelberg.”
Dis of Wilma van der Bijl alles helderder sien nadat borskanker in 2005 by haar gediagnoseer is.
“Ek’s die tyd gegun, ek is gesond … en so dankbaar daarvoor.
“Dit voel vir my of ek elke oomblik moet vasgryp.”
Ons onthou haar op voorblaaie 24 jaar gelede toe sy as 24-jarige donkerkop-apteker van Oudtshoorn Mej. Suid-Afrika geword het. Sy’t haar eie stempel op die glanstitel afgedruk: Dié van ’n aweregse langbeen wat eerder boomklim en perdry as bodder met vals wimpers en warmkrullers.
Sy was steeds die meisiekind wat Desembers by die Bakke in Mosselbaai vakansie gehou het.
Daar’s die gesinsgrappie oor die