Vers en Vlam. Jeanette Ferreira. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jeanette Ferreira
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Прочая образовательная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798171717
Скачать книгу
Die Italiaanse en die Engelse sonnet se uiterlike en innerlike bou is nou verwant. Rym speel ’n belangrike rol by al twee hierdie digvorme en met rymwoorde aan die einde van die versreëls verhoog dit beklemtoning van hierdie woorde. Enjambemente versterk die gedagte van gebeure of gedagtes wat onkeerbaar en onafwendbaar is. Enjambemente en die afwesigheid van leestekens waar spelreëls dit vereis, skep ook meerduidigheid. Soms vertoon ’n sonnet kenmerke van sowel die Italiaanse as die Engelse sonnet en dit is nie “verkeerd” nie, maar eerder ’n ontginning van die talle moontlikhede wat klassieke digvorme bied. En dit is dan die “Verhaal” in hierdie gedig: Die een wat wag, bepaal self die slot deurdat haar emosionele krag mooier word as dit (waarskynlik die geliefde of sy liefde) waarop sy wag.

      LEERFOKUS

      konflik

      krisis

      rym

      sonnet

      Post-lees

      Kontekstuele vrae

      1.Na watter “spiraal” word verwys in versreël 2 en wat is die betekenis daarvan?

      2.Uit watter woorde is “langsaamaan” saamgestel en wat bereik die digter daarmee?

      3.Wat is die funksie van die enjambement in versreëls 2–4?

      4.Die spreker in die gedig is ’n eksterne verteller – “’n vrou”, “sy” en “haar”, nie “ek” nie. Origens word die “verhaal” in die verlede tyd vertel. Wat is die funksie hiervan?

      5.Voltooi: As jy leer wag, verkry jy soms … wat waardevoller is as die persoon of ding waarop jy wag.

      Vir jou joernaal en/of in die klas

      Hier is ’n moeilike opdrag: Kyk of jy ’n sonnet kan skryf oor ’n gebeurtenis in jou lewe. Onthou dat rymwoorde ’n funksie het. Onthou ook dat die uiterlike bou en die tema/boodskap onlosmaaklik deel is van mekaar!

      H.A. Fagan

      (*4 April 1889 – †6 Desember 1963)

      FAGAN IS OP TULBAGH GEBORE en het sy jeug op Somerset-Wes deurgebring. Hy studeer aanvanklik in die godsdiens, maar verwerf later ’n graad in die regte in Londen aan die Middle Temple en het aan dié inrigting verskeie pryse verower in sy akademiese loopbaan. By die jong advokaat se terugkeer na Suid-Afrika was hy een van die eerste lede van die nuut gestigte Nasionale Pers se direksie asook assistentredakteur van Die Huisgenoot. Daarna het hy hom egter voltyds aan sy regspraktyk gewy. Hy was ’n volksraadslid en het in 1943 ’n regter geword, later ’n appèlregter en hoofregter en ’n senator. Fagan was in verskeie genres aktief: kortverhale, poësie, drama, asook ’n studie oor Suid-Afrika se rasseprobleme. As dramaturg (waarvoor hy die Hertzog-prys ontvang het) het Fagan ’n groter bydrae gelewer as digter, maar het met sy omdigting van “Nkosi sikelel’ i-Afrika” ’n belangrike spoor in die Afrikaanse poësie getrap.

      Pre-lees

      Bespreek in die klas:

      •Watter nut en waarde het ’n volkslied?

      •Waarom dink jy dit kan mense verenig of dalk van mekaar vervreem?

      “Nkosi sikelel’ i-Afrika” in konteks: Hierdie gedig het in 1949 in Soos die windjie wat suis verskyn. Dis waarom “Kosa” en “Soetoe” so anders gespel is as wat ons deesdae gewoond is. “Nkosi sikelel’ i-Afrika” (Xhosa) is in 1897 deur Enoch Sontonga, ’n onderwyser by die Metodiste Sendingskool, as gesang gekomponeer op ’n wysie van Joseph Perry. Die ANC het dit gedurende apartheid as amptelike lied en simbool van die anti-apartheidsbeweging gebruik. Dis tans die volkslied van Suid-­Afrika, Tanzanië en Zambië. Let wel, die gedig hierna is nie ’n volledige vertaling van die volkslied soos ons dit in Afrikatale sing nie, maar dit bevat wel frases daarvan. Let op die hoofse taalgebruik (“serafskoor” i.p.v. “engelekoor”, “almal verenigd” i.p.v. “almal saam”, “een tuiste” i.p.v. “een huis”, “vele volkre” i.p.v. “vele volke”).

      Lees

      Nkosi sikelel’ i-Afrika

      1.Uit duisende monde word die lied gedra.

      2. Ek sluit my oë; soos ’n serafskoor

      3. val daar stemme strelend op my oor:

      4.“Nkosi sikelel’ i-Afrika” –

      5.ons vra U seën, o Heer, vir Afrika.

      6. Ek kyk, en sien die skare voor my staan:

      7. Zoeloe en Kosa, Soeto en Sjangaan,

      8.en ek, ’n Blanke – vele volkre, ja –

      9.almal verenigd om Gods seën te vra

      10. op net een tuiste, net een vaderland,

      11. want die Alwyse het ons saam geplant

      12.en saam laat wortel in Suid-Afrika.

      13. “Nkosi sikelel’ i-Afrika” –

      14.seën, Heer, die land wat vele volkre dra.

      WOORDVERKLARINGS

      Alwyse: God / Eng.: God, All-Wise

      Blanke: wit persoon; pejoratiewe woord / Eng.: white person; derogatory word

      serafskoor: engelekoor / Eng.: angelic choir

      strelend: aangenaam, wat jou goed laat voel / Eng.: caressing, pleasant

      volkre: volkere, nasies / Eng.: nations, people

      wortel: wortelskiet, groei / Eng.: take root, grow

      Pitkos: Hoewel dit ’n sonnet is, het die digter nie streng by die vorm daarvan gehou nie. Lank voordat dit die volkslied geword het, is hierdie gesang al wyd ge­sing, vandaar ook die spreker in hierdie gedig se aangrypende belewenis daarvan. Die wonder daarvan is dat vele verskillende kulture hier dieselfde wens uitspreek, naamlik ’n versoek dat die Heer – wie ook al die leser as “Heer” beskou – hierdie land sal seën sodat al die inwoners in vrede saam sal leef.

      LEERFOKUS

      alliterasie

      herhalings

      rym

      sonnet

      teenstelling

      Post-lees

      Kontekstuele vrae

      1.Noem twee redes waarom die spreker sy “oë” in versreël 2 “sluit”.

      2.Haal die vergelyking in versreëls 2–3 aan en verduidelik waarom dit ’n besonder gepaste beeld is.

      3.a.Skryf die rymskema van die gedig neer.

      b.Watter afwyking van die verwagte rympatroon merk jy op?

      c.Verduidelik die funksie van hierdie besondere rympatroon. Toon die herha­ling wat in die gedig voorkom aan.

      4.Verduidelik die doel van hierdie herhaling.

      5.Hoe kan jy met die inhoud van die gedig identifiseer?

      Vir jou joernaal en/of in die klas

      Beskryf die gevoelens en die gedagtes wat deur jou gemoed skiet by die aanhoor van die volkslied tydens ’n openbare geleentheid, soos voor ’n rugbywedstryd of wanneer julle as skool dit saamsing.

      Diana Ferrus

      (*29 Augustus 1953)

      FERRUS, GEBORE OP WORCESTER, is ’n prosaskrywer, digter en storieverteller. Sy behaal ’n graad in sosiologie en bedryfskunde as hoofvakke en ’n honneursgraad in vrouestudies. Sy is verbonde aan die administratiewe afdeling van die Universiteit van Wes-Kaapland, aanbieder van skryfslypskole in Kaapstad en besit ’n uitgewery. Ferrus is veral bekend vir haar gedig oor Sara Baartman, ’n Khoivrou wat in die 19de eeu onder valse voorwendsels na Europa geneem is, in tragiese omstandighede daar gesterf het en wie se oorskot later na Suid-Afrika teruggebring is. Ferrus het dié gedig geskryf terwyl