ENA MURRAY
Regters oor gister
Jasmyn
1
“Mamsie, mag Eugenie maar weer hierdie naweek na ons toe kom?”
Anita Preller kyk op na haar dogter, ’n klein fronsie skielik tussen haar oë. “Ja, skat, natuurlik is sy altyd hier welkom, maar … is haar ouers gediend daarmee dat sy elke naweek saam met jou kom? As ek reg onthou, is dit nou die vierde agtereenvolgende naweek. Moet sy nie ’n slag na haar eie huis toe gaan nie?”
“Sy … e … wil nie graag nie, Mamsie. Kan sy maar kom?”
Die ouer vrou sit die tydskrif wat sy besig was om te lees neer en kyk haar dogter in die oë. Dis al ’n hele ruk dat sy voel daar skort iets met hierdie vriendin van haar dogter. Eugenie Bothma is ’n oulike kind en die vriendskap tussen die meisies dra albei ouerpare se goedkeuring weg. Hulle is al van skooldae af groot vriendinne. Dis maar onlangs eers dat Mignon se ma begin besef het Eugenie is stiller en meer ingetoë en dat dit ook ’n dempende uitwerking op haar dogter het.
Sy vra nou reguit: “Wat skort deesdae met Eugenie, Mignon? Is daar probleme in haar ouerhuis? Hoekom wil sy nie meer daarheen gaan nie?”
Mignon draai half onwillig na haar ma. Sy het geweet die een of ander tyd sal daar ’n verduideliking gegee moet word. Nou is so goed soos later.
“Eugenie gaan deur ’n baie moeilike tyd, Mamsie.”
“So kom ek agter.”
Mignon neem langs haar ma plaas. “Eugenie het vasgestel dat sy … sy is nie haar ouers se eie kind nie.”
Anita se gesig verstil. Sy aarsel. “Trek sy haar dit só aan?”
Mignon kyk geskok op. “Maar natuurlik! Liewe hemel, dis … iets verskrikliks!”
Anita laat haar oë sak voor die intense blik van haar dogter. “Hoekom, Mignon? Hoekom is dit iets verskrikliks? Daar is honderde aangenome kinders wat …”
“Wat wat? Nie weet waar hulle vandaan kom nie? Is dit nie iets verskrikliks nie? Om nie te weet waar jy vandaan kom nie? Om nie te weet watter bloed deur jou are vloei nie? Watter slegte bloed …”
Dis die ouer vrou se oë wat nou ontsteltenis uitstraal. “Hoekom moet dit juis slegte bloed wees, my kind? Daar is …”
“Dit kan nie anders as slegte bloed wees nie, want as dit nie was nie, sou ander mense jou nie grootgemaak het nie. Dan sou jy jou pa en ma geken het, sou hulle jou grootgemaak het. Dan sou die mense wat jou aangeneem het, dit nie vir jou weggesteek het soos Eugenie se ouers gedoen het nie. As daar nie iets was waaroor jy jou moes skaam nie, waarvoor jy selfs bang behoort te wees nie, iets in die bloedlyn wat besmet is nie …”
“Mignon, my kind, jy praat so maklik oor hierdie dinge, so veroordelend, maar …”
“Mamsie het nie Eugenie se snikke gehoor en die onsekerheid in haar oë gesien nie. Dit moet ’n verskriklike gevoel wees om skielik op ’n dag uit te vind jy weet nie wie jy werklik is nie. Jy kan dalk by jou eie ma in die straat verbystap en dit nie weet nie. En wie kan dalk jou ma wees? Daardie vrou wat vandag in die groot, blink motor rondry … of daardie straatslet?”
“Mignon!”
“Maar dit is so. Ek praat net die waarheid. O, ek weet hulle soek vandag uit – die regte kinders vir die regte ouers. Soos in ’n skoenwinkel waar jy aanpas totdat jy die regte skoen vir die regte voet kry. Maar ’n skoen is ’n dooie ding … en ’n kind is iets van vlees en bloed. En daardie kind word groot, en hy weet nie uit watter fabriek hy kom nie – van die agterstrate, of van ’n dwelmhool, of van ’n dranksessie of ’n wilde orgie of …”
“Mignon, hou op!” Anita vou haar bewende hande styf inmekaar, probeer om haar stem ook onder beheer te kry. “Daar is ook kinders wat uit die wonderlikste mense gebore word, maar wat weens omstandighede afgestaan en aangeneem moet word. En kinders en pleegouers word vandag baie fyn gekeur.”
Mignon byt op haar lip. Haar ma het nie Eugenie se oë gesien daardie dag toe sy uitgevind het sy is nie haar ouers se eie kind nie. Haar ma weet nie van die nagte wat sy in die universiteitskoshuis saam met Eugenie deurgeworstel het nie; die verskriklike wroeging en hartseer wat Eugenie moes deurmaak nie … en die vrese waarmee sy van daardie dag af moes worstel nie. Eugenie is ’n mediese student, en sy het presies gaan naslaan watter ellendes en besmetting die bloedlyn kan dra. Wat ’n mens onwetend op jou nageslag kan oordra; die onherroeplike leed wat jy jou dierbares op dié wyse kan aandoen.
“Mamsie, ek weet hulle keur vandag baie goed, maar ’n klompie jare gelede het hulle dit nie gedoen nie. En feit bly, waar gaan hulle heen met die kinders wat uit ongewenste ouers gebore word? Sover ek weet, is daar nie spesiale inrigtings waarin sulke kinders opgeneem word nie. Wat word van die kind wat die slet baar? Of die naoes van ’n orgie?”
“O, Mignon, asseblief, hou op om daardie woord so te gebruik!”
“Watter een, Ma?” Sy swyg toe sy haar ma se oë sien, en weet sy moet liewer hierdie gesprek beëindig.
Op haar beurt is Anita jammer dat die gesprek ooit begin het. Sy voel haar ingewande bewe, probeer desperaat om haar kalmte te herwin en nugter te dink. “Jy voel baie sterk saam met Eugenie,” sê sy met bewende lippe en sien haar dogter knik.
“Natuurlik. Haar ouers het haar al die jare bedrieg.”
“En haar al die jare al hul liefde en sorg ook gegee.”
“Hul bedrog kanselleer dit heeltemal uit.”
“Hoe kan jy dit sê, Mignon? Beteken twintig jaar se liefde, sorg en opoffering dan niks nie?”
Mignon sug, draai haar kop weg. Haar ma verstaan nie. En langs haar sug die ouer vrou ook. Mignon verstaan nie. Vandag se jongmense … Hulle noem ’n ding op sy naam en hul veroordelings is so kru en kras soos wat hul woordeskat soms is – ongenadig.
Mignon steek skielik haar hand uit, neem haar ma s’n in hare terwyl haar oë versag. Sy het nou net vir ou Mamsie ontstel. Sy is van die ouer garde, en nie daaraan gewoond om so openlik oor dié dinge te praat nie.
“Jammer, Mamsie.” Sy glimlag vir haar ma. “Ek weet net een ding … Van nou af sal ek nie een aand nalaat om die liewe Heer te dank vir my ouers nie. ’n Mens aanvaar jou ouers maar altyd as vanselfsprekend. Dis nie so nie. Dis ’n groot genade om jou eie pa en jou eie ma te ken en lief te hê. Ek is innig dankbaar dat daardie voorreg myne is. Maar juis daarom voel ek so innig jammer vir Eugenie. Kan sy maar die naweek saamkom?”
Anita Preller knik, sien haar dogter opstaan en uitstap … en sy druk haar bewende vingers teen haar lippe vas.
Sy sit nog so toe haar man binnestap. Toe hy oorbuk om haar te groet, vra hy: “Was dit Mignon se karretjie wat ek so pas by my sien verbyry het?”
“Ja. Dit was sy. Sy was net vir ’n heen-en-weertjie hier. Sy en Eugenie kom die naweek huis toe.”
Haar man frons liggies. “Al weer?”
“Ja. Sit, my man. Ek sal nou vir jou gaan koffie haal, maar eers moet ons praat.”
Hy kyk haar ondersoekend aan, merk nou eers op dat sy vrou baie bleek lyk. “Skort daar iets?”
Sy sug, kyk eers op haar hande af en dan op. “Ja. Dit gaan oor Eugenie, Mignon se vriendin.”
Op pad terug na die kampus is Mignon se gedagtes ook vol van Eugenie. Sy voel weer hoe haar hart in simpatie saamkrimp. Sy sal daardie spesifieke dag nooit vergeet nie. Eugenie het by hul kamer ingestap gekom, voor die venster gaan staan en na buite gestaar. Sy het verbaas opgekyk van die stuk werk waarmee sy besig was.
“Wat doen jy hier? Het jy dan nie nou ’n lesing nie?” Eugenie het nie geantwoord nie, en Mignon het die verfkwas neergesit.
“Eugenie … wat makeer? Jy’s doodsbleek! Voel jy sleg?”
“Ek makeer niks nie.”
Mignon het haar fronsend beskou. “Vir my lyk jy soos die dood. Moenie koppig wees nie. Kom lê liewer …”