Versamelde poësie. D.J. Opperman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: D.J. Opperman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Зарубежные стихи
Год издания: 0
isbn: 9780624075875
Скачать книгу

      Hul het met lis my plaas van my gevat,

      my adel weggeneem en in die stad

      stink krotte en vuil werk aan my gegee:

      fabrieke, klerewas en hardepad.

      ROOIDAG

      Nou is ek nog verkoper van koerante

      maar eendag sal ek een woord skree na alle kante

      om my ontnome erfenis te kry –

      veel meer as goud en diamante.

      MASSA

      As enkelinge toon ons groot genade

      aan die vyand, maar as massa op parade

      stoot ongekende magte ons tesaam

      tot wraak en gruweldade.

      GEBED

      Wat kan ons anders doen, o God,

      want in ons is daar ook ’n stuwing tot

      vrywees en ’n eergevoel? Wat anders

      na die vernedering en spot?

      Bloedrivier, 1938

      Bo kleur en tyd

      vlam hierdie môre

      oop in ewigheid.

      En teen ’n rooie daeraad

      sing wit-gerokte kore

      oor ’n volk

      nou in herdenkingsdaad

      opnuut gebore.

      En eenkant teen ’n helling peins

      ’n Zoeloe

      oor ’n ryk reeds lank verlore.

      II

      Môre-uur

      Uit watter duisternis het ek ontwaak

      nou dat die lig

      my oë seermaak

      en die eerste kier soos ’n late vuurvlieg

      tussen verwarde brame loswieg?

      nou dat die drome in my

      sku teruggly

      soos slange,

      terug na die oop monde

      van donkere gange?

      Bede

      My hart deur vele liefdes reeds verwarm

      kom nou na jou so uiters arm

      aan geloof, maar met die klein gebed

      dat jy my van ’n voorgevoelde ondergang sal red,

      dat jy na al die droom-vervreemde en verbroude,

      aan my ’n skoner drif sal gee; en met die bloue

      weerlig van jou liefde en jou toorn keer

      my na die stilte van gedagte weer.

      Naaldekoker

      Ek is die grys skrik

      wat soek tussen biesie en klip

      na water, soek na my beeld in jou

      met die trillende spel tussen vlug

      en skielike self-aanskou.

      Bouquet

      Ek stuur aan jou

      ’n ruiker rose

      in fyn papier gevou;

      dit gee aan my ’n eindelose

      kalm gevoel;

      want na gisteraand voel ek miskien

      sal jy my nie vandag wil sien.

      Ek stuur aan jou

      die vlekkelose

      half-oop rose.

      Rodar en Yrsa

      Rodar, die trotse, het met elke lied,

      of diertjie wat hy vang langs bos of bult,

      Yrsa sy heidenhart ru aangebied

      sonder ’n mededinger ooit te duld.

      Maar tog het hierdie liefde haar gekwel . . .

      tot sy een aand toe Thor deur takke ruis,

      as ’n bekeerde skugter hom vertel

      van Christus en Sy sterwe aan ’n kruis.

      Vol agterdog het hy wild opgespring:

      “Ek deel my liefde nie,” en met die spies

      onmagtig teen dié vyand haar gedwing

      om hom óf die Gekruisigde te kies.

      Toe gaan hy eensaam weer sy eie gang

      en snikkend het sy snags na hom verlang.

      Voorwinter

      Ek mis jou losgestorte hare teen

      my hals in hierdie kwynende seisoen;

      ek weet vereensaam in die nag alleen

      hoeveel ek nog vertrouelik wou doen.

      As strakgespanne palmvingers tril

      en bome nie meer blad of bloeisel dra,

      maar alles kaal word en die nagte kil

      dan brand in my die rooi poinsettia.

      Hooft

      Sy verse het met swier en groot getal

      maar ook kunsmatig soos ’n parkfontein

      se waters oopgeruis tot skone val

      van ewewig en klank en kleur en lyn.

      Die druppels het geblink soos blou kristal

      waarin die lig van Griek en die Romein

      se nuut-herrese son uit verre dal

      ’n rooi deur die versproeide woorde skyn.

      Veel woorde het hy so gestort – al was

      dit soms met waan, weet ek dit moes gebeur

      omdat my denke ook verskole hou

      onder die vorm, deursigtig soms soos glas,

      onder die wind-bewoë waters deur

      altyd die sku gestalte van ’n vrou.

      Verlange

      Hoe langsaam is die aande sonder jou

      as alles in die stiltes doelloos lyk

      en ek uiteindelik ’n boek oopvou

      maar ure na dieselfde woorde kyk,

      totdat ek weet wanneer ek so alleen

      verskeie beelde uit myself opwek,

      voer siel en siel bo alle skeiding heen

      tog soms ’n woordelose tweegesprek.

      Van al my vriende in die stad verskuil

      en hulle samekomste luid en leeg,

      word ek ’n eensaam afgeslote kuil

      wat net in dieptes van myself