Januarie kyk my ongelowig aan.
Ons jaag met die Land Cruiser terug kamp toe om die ander veldwagters en die nodige toerusting te gaan haal. Januarie sweep die manne op en gou is hulle in rep en roer. “Inkwe! Inkwe!” weerklink dit deur die kamp soos hulle skarrel vir grawe, pale en die groot grondseil.
Teen die tyd dat ons terugkom by die hok is die luiperd rasend. Ek tru die bakkie tot teen die hok. Die Pedi’s spring af en staan eenkant en kyk. Met die haelgeweer in een hand begin ek die takke van die hok af trek.
Januarie kom val langs my in. Sy nuutgevonde moed maak hom minagtend teenoor die ander wat onseker rondstaan.
“Kom help, julle bang bliksems!”
Een-een val hulle in.
Die luiperd werp hom na alle kante toe teen die hok en laat die Pedi’s verskrik terugspring. Hy spring sy neusvelle af teen die staalrooster van die hok se wande. Uiteindelik gaan lê hy grommend plat in ’n hoek, verskrik, woedend en wanhopig.
Gou is al die takke verwyder. Aan die boonste rame van die hok is vier staalringe vas, twee aan elke kant. Twee stewige houtpale word daardeur gedruk om die hok op die bakkie te lig. Ek, Januarie en twee van die Pedi’s lig die hok uit die ruigte uit. Die luiperd protesteer met luide brulle. Die sekelbosse laat bloedstrepe oor ons arms en bene en sweet slaan op ons gesigte uit.
“Vorentoe en lig hoog, manne!”
Iemand struikel en die valdeur haak teen die bakkie se klap. Soos die hok afsak, skuif die deur oop. Pedi’s spat in alle rigtings. Ek sien die gevaar. Ek het die haelgeweer teen die bakkie se wiel staangemaak om die hok te dra. Die gaping onder die valdeur is groot genoeg vir die luiperd om uit te kom en verwoesting te saai. Hy is te besig om hom teen my kant van die hok te werp om die gaping te sien, maar dis ’n kwessie van sekondes voor hy dit gaan raaksien.
Met al my krag beur ek die swaar hok boontoe. Dit voel of die are in my kop gaan bars. Sweet stroom oor my voorkop. Die hok sak nie verder nie, maar die gaping is nog groot genoeg vir die luiperd om uit te kom. Hy sal my eerste bykom.
’n Luiperd spring gewoonlik vir jou strot en haak sy voorkloue in jou nek of kopvel; met sy agterkloue krap hy jou binnegoed uit. Ek beur verbete met my laaste krag boontoe. Die hok lig ’n paar duim en die deur begin toeskuif.
Januarie verskyn aan die ander kant van die hok. Hy gryp die paal vas en beur. Die hok lig vry van die bakkie se klap en die deur skuif toe. Ons laat die voorkant van die hok op die klap rus om asem te skep.
“Dit was amper, Januarie . . . fokken amper.”
Ek hou die haelgeweer op die luiperd gerig terwyl die veldwagters die hok op die bak instoot en dit toetrek met die seil. Onder die seil klink dit of die luiperd bedaar.
Ek het ’n gunstelingplek in die reservaat. In die suidoostelike hoek is daar ’n mooi stuk sandveld omring deur sandsteenkoppe en ek kamp graag daar tydens patrollies. Dis ’n oop savanna met groot kameeldorings, sandvaalbos en raasblare. Daar is ’n paar groot panne wat vol loop tydens die reënseisoen.
Tans is daar baie water, maar in die droë seisoen hou ons een van die panne vol met ’n pypleiding wat ons ondergronds van ’n nabygeleë windpomp af aangelê het. Troppies sebras en tsessebes is lief vir hierdie grasveld en die kameelperde kom vreet aan die kameeldorings. In die omliggende rante wemel dit van dassies, bobbejane en klipspringers. Goeie luiperdkos. Dis waar ek die luiperd wil vrylaat.
Ek het soms al ’n ander luiperd se spore daar gekry, maar dit maak mos nie saak nie. Die reservaat is groot genoeg vir nog ’n luiperd.
Die rit van sestig kilometer terug reservaat toe verloop sonder voorval. By die ou plaasopstal wat my hoofkwartier is, laai ek die veldwagters af. Net Januarie en twee ander kom saam.
Ek ry na die stuk sandveld toe. Onder ’n dikbas met ’n oorhangende tak laai ons die hok af. ’n Tou word aan die valdeur vasgebind en oor die oorhangende tak gegooi. Ek maak die hok weer met die seil toe en neem die veldwagters terug kampong toe. Ek sal die luiperd alleen kom vrylaat.
Dis laatmiddag toe ek terug is by die sandveld. Die ander Pedi’s was tevrede om agter te bly, maar Januarie het daarop aangedring om saam te kom. Dis mos sy tier ook.
Saam verwyder ons die seil. Die luiperd raas en brul, sy stert klap heen en weer teen die vloer van die hok. Sy neus is nerfaf geskaaf en sy kloue bloei. Ek bewonder nog vir ’n paar oomblikke die pragtige dier. Dan neem ek die punt van die tou wat oor die tak hang en loop na die bakkie toe.
Ek en Januarie klim in die kajuit. Ons maak die deure toe en draai die vensters halfpad op. Een van die ou veldwagters het vertel dat ’n luiperd wat uit ’n hok kom ’n omgekrapte dier is. “Jy staan nie sommer bo-op die hok en trek die deur oop nie. Hy gaan jou vir seker opfok.”
Vanuit die bakkie trek ek die tou styf. Dit gly oor die tak en die valdeur skuif stadig oop. ’n Rukkie bly die luiperd nog grommend lê. Dan besef hy wat aangaan. Soos blits skiet hy by die hok uit. Ek sien hoe sy goue gespikkelde lyf in die lang gras verdwyn.
Die luiperd se instink is om so ver moontlik van die hok en die mense weg te kom. Hy is te vol vrees en woede om die pyn van sy rougeskaafde pootkussings, gebreekte kloue en nerfaf neus te voel. Kop omlaag laat vat hy oor die savanna na die ruigtes aan die voet van die rante. Die oop grasvlakte in daglig maak hom kwesbaar. Gou word hy verswelg deur die blinkblaar-wag-’n-bietjie en ander struikgewasse tussen die rotse.
Steeds hardloop hy aan, maar nou voel hy veiliger. Sy skerp sintuie lees vinnig die onbekende terrein waarin hy hom bevind. Hy draai skerp en met ’n paar spronge verdwyn hy in ’n beboste klofie wat teen ’n rantjie uitloop. Verskuil deur horingpeultjieboom, stamvrug en wildesalie verdwyn hy oor die kruin, weg van die afgelope ure se skrikwekkende ervaring.
Diep in die koppe verminder hy spoed en slaan oor na ’n drafstap. Nou raak hy bewus van die uitputting en pyn, die oorweldigende dors. Dit neem hom nie lank voordat hy reënwater in ’n rotspoeletjie kry nie. Hy hurk en drink langsaam. Die water is ’n lafenis, maar die pyn klop in sy bebloede neus en pote. Uitputting oorwin sy vrees. In ’n graskol onder ’n struik tussen twee rotse gaan lê hy en begin lek sy pote en neus. Hy probeer sy waaksaamheid behou in die vreemde omgewing, maar die dag was te veel vir hom. Die son sak oor die sandsteenrantjies en dis nog nie behoorlik donker nie, toe laat sak hy sy kop op sy pote en slaap.
In die nag word hy wakker. Hy sien sy omgewing duidelik, maar hy is gedisoriënteer; hy weet nie waar hy is nie. Hy is seer en honger en dors. Tog sê sy instink iets is nie pluis nie. Skielik weet hy. Oral teen die bosse, boomstamme en rotse hang die reuk onmiskenbaar. Nie die gehate mensreuk wat hy voortaan altyd met gevangenskap sal vereenselwig nie, maar ’n ander reuk, ander gevaar.
Hy is in die gebied van ’n ander luiperdmannetjie. Die reuk aan die rotswand vertel hom dat die ander luiperd sterk is. Oud en wys. Hyself is nog jonk en onervare. Hy moet hier wegkom. Padgee of sterf.
Hy staan op om weer water te drink. Sy pote is koud van die stil lê en elke tree op sy teer pootkussings is pynlik. Sy hele lyf is styf en die honger knaag. Hy moet kos kry en dan die pad vat, terug na sy eie gebied.
Hy begin die koppe verken. Hy ruik oral kos. Dassie en bobbejaan, maar nie naby nie. Telkens rus hy, maar die beweging maak hom warm en verlig die pyn.
Dagbreek kry hom op die kruin van ’n koppie. Onder hom lê die bosveld welig en nat van die dou. ’n Dassiefamilie kruip uit ’n skeur en gaan sit teen ’n rotswand, styf teen mekaar, om in die eerste sonstrale te ontdooi. Die luiperd hou hulle stip dop vanuit die skadu’s. Van bos tot rots sluip hy nader, tot teen die rotswand. Al sy sintuie is toegespits op die jag. Hy vorder ongesiens tot ’n paar meter van die dassies af.
Met een sprong is hy tussen hulle. Die dassies skrik te laat en sy tande sink agter die nek van die grote in. Die ander skarrel vir rotsskeure. Die luiperd se voete gly oor die bros sandsteen en met die wriemelende dassie in sy bek tuimel hy oor die afgrond. Behendig land hy op sy pote tussen die nat gras en dorings ’n paar meter ondertoe. Sy kloue bloei van