Die wind waai in ons guns en ons nader die sebra. Hy loop stadig. Steeds kan ek nie sy besering sien nie. Ons probeer ongesiens parallel met hom kom. Dis makliker gesê as gedaan. As ons hom nou steur, sal hy oor die kruin verdwyn. Ons volg hom op ’n afstand en hoop hy bied self aan ons ’n geleentheid.
Dan gaan staan hy, asof hy bewus word van iets wat hom volg. Hy draai dwars en vir die eerste keer kan ons sy kop sien. Ek lig die verkyker.
Waar voorheen ’n oog was, blom ’n bloederige pappery uit sy skedel. ’n Swart bloedkoek sit al hard en donker teen sy wang. Ek staar verstom na die skade wat ’n haelkorrel kan aanrig. Dan draai die sebra weg en loop verder teen die berghang uit.
Ek en Greathead besef ons kans om nader aan die sebra te kom is beter as ons aan sy blinde kant bly. Stadig haal ons hom in. Sy geskende gesig is nou duidelik sigbaar. Die rou wond glim rooi in die oggendlig.
Stadig glip ek die veiligheidsknip af. Ek haal die geweer oor. Die sebra gaan staan weer. ’n .375 is ’n swaar kaliber; sy koeël val vinnig. Ek wil nog nader sluip, maar die sebra het my gehoor. Hy kan enige oomblik wegspring. Ek lê aan. Arme dier, flits dit deur my gedagtes toe ek die sneller afdruk.
Die koeël breek sy nek. Hy tuimel kop eerste na benede. Hy slaan ’n paar keer bollemakiesie teen die hang af voordat hy leweloos op ’n hoop bly lê.
Terug by die voertuie sê ek vir Inch en Marco om ’n span helpers te gaan haal om die sebra af te slag. Met die Land Rover sit ek en Greathead ons inspeksietog voort. Ons ry die gebied van die haelstorm binne.
Dis ’n toneel van totale verwoesting. Alle blare is van die takke gestroop en die bome staan kaal en grys teen die blou lug. In die tweespoorpad lê ’n mat versnipperde blare. Die grasvelde teen die hange lyk asof hulle met ’n sekel tot teen die polbasis geoes is. Die waterlopies wat ons pad kruis, is lelik verspoel. Ons ry stadig.
Dan begin ons die dooie diere sien, half begrawe onder die blaremat of verstrengel in die takke. Eerste ’n vlakhaas in die pad. ’n Grootkol-muskejaatkat met sy skedel vergruis. ’n Jong blouaap. ’n Bospatrys lê amper onsigbaar gekamoefleer tussen die blare. Soos vergete vlieërs hang ’n paar neushoringvoëls, ’n kwêvoël en ’n bloukuifloerie aan die kaal takke. Bo in die lug sirkel witrugaasvoëls, ’n berghaan en ’n paar kouvoëls. Jakkalsvoëls sit in die bome, op die uitkyk vir beseerde diertjies.
Greathead sien die klipspringer eerste, op ’n granietrantjie tussen brandnetel en wildesalie. Ek lig my verkyker. ’n Klipspringer het ’n unieke haarbedekking. Sy digte pels is grof en elke haartjie is dik en hol, amper soos ’n klein ystervarkpennetjie. Dié digte pelsmat vorm ’n uitstekende kussing teen die skerp rotse en bied beskerming teen ’n val as sy vlugvoetigheid hom in die steek sou laat.
Groot klosse hare hang los van die klipspringer. Sy vel is kaal waar die haelkorrels hom getref het. Ek kyk vas in hol oogkasse. Die jellie van sy oogballe hang in stringe langs sy gesig af.
Greathead lig die geweer van die rak af. Die klipspringer het ons gehoor. Hy strompel blindelings weg. Eers loop hy hom teen ’n laventelkoorsbessie vas. Dan kry hy ’n mate van rigting en verdwyn oor die rant.
“Ek gaan hom haal,” sê ek vir Greathead.
Ek trek my jagmes uit die skede en begin teen die rant uitklim. Aan die oorkant sien ek die klipspringer op die kruin van ’n rots. Die rant is besaai met granietblokke en ek vorder stadig. Dis ’n rammetjie met punthorings. Hy hoor my aankom en lig sy verminkte koppie om my rigting te bepaal.
Ek spring vorentoe om hom in te haal. Hy’s tog blind, ek sal hom mos maklik kan vang. Hy wip weg en land op ’n rotspunt hoër op. Daar staan hy in perfekte balans, ore gespits vir my beweging. Buite bereik. Ek klouter oor die rotse en probeer veld wen.
’n Klipspringer se kort bene eindig in klein, rubberagtige hoefies. Nog ’n aanpassing wat van hom ’n volmaakte bergdier maak, want daardie hoefies het verbasende kloukrag aan die oppervlak van enige rotswand. Die blinde klipspringer lei my in ’n makabere jaagtog oor die klippe. Foutloos spring hy van rots tot rots.
Totdat hy in ’n dopperkiaatloot vasspring en eenkant toe geskiet word. Hy herwin sy balans en vlug voort, verder van my af. Ek strompel en klouter oor klippe en rotse, mes in die hand. Growwe rotswande skraap my nerfaf. Netels klap my deur die gesig. Sweet stroom my af.
Dan duik die klipspringer weer in ’n bos vas en raak verstrengel. Nou moet ek spook om hom te bereik. My asem jaag. Hy spartel hom los en spring vorentoe. Paniek en verwarring kry die oorhand en hy loop hom vas teen ’n rotswand. Met ’n sywaartse sprong wig hy hom in ’n klipskeur in.
My hand sluit om sy nek. Ek trek hom by die skeur uit. Hy skop verbete. Ek moet hom teen my lyf intrek om te keer dat hy my raak skop. ’n Wanhopige blêr, hoog en lank, rys uit sy binneste. Sy blêr omvat sy gebrek aan begrip oor wat met hom gebeur het. Oor wat besig is om met hom te gebeur. Dit gee uiting aan sy helse doodsvrees. Ek voel hoe dit deur my siel sny.
Ek vat sy geskende koppie en buig dit agtertoe. Sy keel word ontbloot. My jagmes sny diep, deur sy strot en slagaar. Bloed stroom oor my hande, my knieë, my bene. Dit spat oor die klippe. Sy lyf word slap in my skoot.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.