Duet. Johan Ferreira. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Ferreira
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318183
Скачать книгу
as individu te eer en die lewe te vier wat ons deel. Amen

      9 Maart

      Stadig leef, stíl leef

      Psalm 131:2 – Maar ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed. (NLV)

      Dis ’n stil en warm Saterdag. Die geliefste is by ’n fotografiewerksessie vir die dag, die oudste weg Dullstroom toe vir vier dae saam met sy studentemaats, die jongste speel krieket in Pretoria tot laatmiddag.

      Ek en die honde sit in die verste tuinhoek, die spruit langs die westekant van ons huis weer kalm ná die somerreën. Ek verskuif hier onder die boom plante en pak klippe, gesels so dan en wan met my drie behaarde vriende.

      Ek gaan maak tee, steel die Kersuitgawe van Lééf en vat die pad terug tuin en water toe. Die jakaranda gooi my met pers bloeisels en die bure se roesrooi staffie lê en loer vir ons deur die heining met sy breë glimlag en klitsende stert.

      In die sewe jaar dat ek die saggeaarde Fergis ken, het hy grysbek geword. Ek blaai deur die uitgawe en gee ’n gil van lekkerte toe ek my Swanepoel-maats in die blaaie sien. Fergis se wenkbroue lig en hy wonder oor sy buurman. Rudi skryf oor die lewe en betekenis wat ons vind in mekaar se lewe, God ín ons.

      So dikwels is my naweke voller as die week se program. Hierdie asemskep-Saterdag was nie beplan nie, dis maar die gevolg van ander mense se beplanning. Ek voel ’n aanklag teen myself, die afskeep van my lewe en my stilwordtye. Want soos dit is, het ek ook grys geword, so onbewus van tyd wat loop.

      So met hierdie gedagtes bly sit ek sag hier onder die pers boom. Stadig leef, stadig leef.

      Kom ek genoeg kere tot stilstand om die dag te geniet?

      Vader, help my om my tyd te bestuur sodat ek kan stil word en by U uitkom. Amen

      10 Maart

      Pret werk soos wondergom

      Prediker 3:12 – Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.

      “Kom ons hou nou op werk en gaan hou piekniek op die strand,” kondig Johan skuins voor middagete aan, terwyl hy die piekniekmandjie uit die kas haal. “Dis nou genoeg vir een dag. Kyk net hoe mooi is dit buite.”

      Ons twee kuier by die seehuis om te skryf. Ons spertyd is om die draai en die kalf so te sê in die put. Ek self sou graag eerder nog bietjie wou werk, maar daar is twee partye in hierdie vennootskap. “Ek sit solank die wyn in die vrieskas,” sê Johan, terwyl ek repies groente sny. Ek pak sommer wat voorkom – olywe, kaas en bloedrooi kerstamaties saam met groentestokkies en ’n houertjie gegeurde roomkaas. My man is haastig!

      Onder op die strand is dit windstil. Ons stap seelangs tot ver anderkant die windkous waar Johan die hoogste duin as ons piekniekplek uitwys. Hy en Tinder, ons bruin labrador, is reeds draf-draf die duin uit toe ek bo kom. Ons maak ons sit hoog bo die see en kyk uit oor die verste einder van die oseaan waar ’n groot skip geanker lê.

      “My gunstelingplek in die hele wêreld,” sug Johan tevrede. Ons skink ’n glasie wyn en sit saam oor die mooi van alles om ons en staar. Vir lank bly ons so sit. “ ’n Mens kan nie werk sonder inspirasie nie,” sê Johan toe dit tyd raak vir omdraai huis toe.

      Sorg vir balans tussen werk en rus. Maak tyd vir pret en plesier. Dit is soos wondergom vir die huwelik in tye van druk.

      Here, dankie vir stilhouplekke langs die lewenspad wat ons weer inspireer en moed gee. Amen

      11 Maart

      Meer stilte, minder stres

      Psalm 37:5 – Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. (NLV)

      Stres ontstaan wanneer die tyd te min is vir die taak wat voltooi moet word, so sê ’n suksesvolle sakeman in my spreekkamer. En hy verduidelik hoe hy allerlei planne beraam om meer tyd te hê om sy doelwitte te bereik. Wat hy nie in gedagte hou nie, is dat die mens nog nie die vermoë ontwikkel het om meer tyd te skep nie. Daar is gewoon net soveel uur in een dag en dis die bestuur van daardie tyd waarin die antwoord lê.

      In hierdie psalm gee God ’n duidelike leidraad tot minder stres. Êrens in jou dag moet jy genoeg tyd inruim (dus, tyd wegneem van ’n ander aktiwiteit) om tyd deur te bring in sy heilige teenwoordigheid. Dit is wanneer jou gees vernuwe en die fokus vir jou dag herskryf word.

      Verlede jaar ontmoet ek in Nashville ’n Amerikaanse psigiater wat sy liefde vir God wetenskaplik uitleef. Sy navorsing bevind dat ’n groep ouer toetslinge se breinkapasiteit verhoog het nadat hulle vir twee weke elke dag 12 minute lank gefokus het op die karaktereienskap van God as liefdevolle Vader. Hul geheue is blywend verbeter, hul fokus is skerper en hul gemoed meer positief.

      Deur tyd aan God-stilte af te staan kan jy dus jou stresvlakke verminder. Vir die meeste werkende, aktiewe mense is selfs net die blote gedagte aan ritualistiese stilte stresvol! Sluit ’n ooreenkoms met jou maat en begin met 5 minute elke dag van stilte, geen lees, geen musiek, geen praat. Net jy en jou Skepper. Fokus op God as liefdevolle Voorsiener. Daar is weinig om te verloor.

      Wat keer my om stil te raak? Aanvaar die uitdaging!

      Liefdevolle Vader, openbaar Uself aan my in my stilte. Amen

      12 Maart

      God kom eerste, geld tweede

      Psalm 39:7-8 – Die mens is net ’n bewegende skaduwee. Al sy gejaagdheid is tevergeefs: Hy versamel rykdom, maar weet nie wie dit gaan gebruik nie. Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop. (NLV)

      Ons leef in ’n kapitalistiese samelewing. Die kerk of staat regeer lankal nie meer die wêreld nie, want geld is die grootbaas. Dit help ook nie dat ons in ontkenning daarvan leef nie, want binne hierdie sisteem moet ons die balans vind wat God van ons verwag. Ons moet egter ook betekenis vind in hierdie tyd van die wêreldgeskiedenis wat God gekies het dat ons sou leef.

      Êrens in die dolle gejaag moet ons daarna streef om in ons verhouding met God opreg te bly – ook, en veral, in ons huwelik. Dis binne die huwelik dat ons waargeneem word soos nêrens anders in ons lewe nie. Daardie persoon is meestal daar en sien die beste en die slegste van ons lewe. As hierdie verhouding veilig is, kan dit daartoe lei dat groot en betekenisvolle groei in die individu plaasvind. As die verhouding primêr onveilig is, word die stres van verhoudingskonflik onuithoudbaar groot.

      Een van die doeltreffendste maniere om jou finansiële doelwitte gegrond te hou in Christus, is om gereeld hierdie gesprekke met jou lewensmaat te hê. Dis hier waar ons toets of ons nog op die regte spoor is. Hou kritiek liefs buite hierdie gesprekke. Fokus op ondersteunende en positiewe opmerkings wat jou maat se gedrag opbou, eerder as afkraak. Bid as paar saam oor jul doelwitte en uitdagings oor geld – dit verander die inhoud van jul gesprek onmiddellik na ’n belewenis saam met God.

      Is God die hoof van my (en ons) geldsake?

      My God wat alles in my lewe voorsien, ek staan in dankbaarheid vir die voorsiening in my lewe. Amen

      13 Maart

      Soek jou antwoorde by God

      Jesaja 40:29-30 – Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. (NLV)

      Een Vrydagoggend tydens ’n woeste week bekyk ek my in die spieël en sien my pa se gesig. Ek is te moeg om te lag, maar deel darem die belewenis met ’n ewe lammerige Christine. Ek verstaan toe meteens hoekom my pa soms net moeg was. Die lewe haal jou soms in en dan moet jy rus.

      Hoe ouer ek word, hoe skamer kry ek vir my voortvarende alles-weet-jongman-houding. Ek hoor my eie stem in die praat van my seuns wanneer hulle raad gee aan ma oor kos maak en motor bestuur. Ek moes êrens krag vir lag vandaan kry toe die jongste meneer een oggend grimeringraad aan sy ma uitdeel! Die jeug se onverskrokke selfvertroue is hierdie keer mooi en snaaks.

      In