Dr. Eve se Seksboek. Marlene Wasserman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene Wasserman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Руководства
Год издания: 0
isbn: 9780798171984
Скачать книгу

      

      Dr. Eve se Seksboek

      ’n Gids vir jongmense

      Regte • Verantwoordelikhede • Belonings

      Dr. Marlene Wasserman

      ILLUSTRASIES DEUR

      FRANCESCO NASSIMBENI

      Human & Rousseau

      Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

      Die uitgewer neem nie verantwoordelikheid vir die volhoubaarheid of akkuraatheid van die bronadresse, of eksterne of derde-party webtuistes, wat in hierdie boek aangegee word nie, en waarborg nie dat die inhoud van hierdie webwerwe akkuraat en toepaslik sal bly nie.

      Hierdie boek word opgedra aan my drie kinders:

      Sean, Jessica and Zia.

      Dankie dat julle my as ma gekies het.

      Voorwoord

      DIE GEBREK AAN AKKURATE EN BEHOORLIKE OPVOEDING vir ons jeug aangaande seks, seksuele gesondheid en identiteit in Suid-Afrika is heeltemal duidelik as ons die hoë aantal gevalle van seksueel oordraagbare infeksies (SOS’s), geslagsgebaseerde geweld, tienerswangerskap, MIV/VIGS en verkragtings in ag neem. Met die skrapse onderrig in skole, en dikwels nog minder tuis, word die jeug gedwing om van seksualiteit by vriende of meer waarskynlik deur hulle eie ervarings te leer. Dr. Eve hoop egter op ’n ander scenario, en noem dit.

      Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense is ’n leersame en reguit boek wat handel oor seks, jeug, gesondheid en genot. Die Gids gaan oor hoe om gemaklik te wees met jou eie liggaam sowel as met dié van ’n maat. Dit opper die regte vrae en verskaf die regte antwoorde. Die balans tussen goed nagevorsde inligting, besprekings, die vernietiging van mites, en pret is een van die grootste voordele van die Gids en maak dit ’n boeiende en genotvolle leeservaring.

      Dr. Eve se bespreking van MIV/VIGS is goed nagevors en meegedeel. Sy onthul die sorgwekkende situasie wat jongmense, sowel as elke mens, die hoof moet bied, maar is ook vinnig om te verduidelik dat met seksuele gesondheid en verantwoordelike gedrag, jongmense steeds gesonde en seksueel aktiewe volwassenes kan word.

      Soos met die Treatment Action Campaign se MIV/VIGS-geletterdheidsprogram oor behandeling, fokus dr. Eve op voorkoming en beklemtoon sy die noodsaaklikheid van kennis. Die gedeelte getiteld “MIV/VIGS: Mites en Wanopvattings” belig die epidemie se mees vernietigende mites, en fokus dan op die bespreking van die werklikhede daarvan. Sy kom by die kern van die probleem: MIV/VIGS bestaan wel en jy kan dit kry, maar met goeddeurdagte besluite kan jy die risiko vermy, maar steeds ’n gesonde seksuele lewe geniet.

      Dr. Eve glo baie sterk aan groter seksuele gesondheidsorg. Haar vermoë om die leser te boei, toon dat seksuele gesondheid ’n plek moet hê in die opvoeding van die Suid-Afrikaanse jeug, en die feit dat jy gekies het om hierdie boek te lees, wys dat daar ’n belangstelling en behoefte bestaan. Vir jongmense, asook vir ons almal, behoort inligting oor seksuele gesondheid oop en beskikbaar te wees, in plaas van geslote en beperk. Op die ou end leer dr. Eve ons dat met verantwoordelike gedrag, sowel as met genoegsame onderrig, seks veilig kan wees – maar meer belangrik – dit kan ook genotvol wees.

      Zackie Achmat

      TREATMENT ACTION CAMPAIGN

      Inleiding

      SUID-AFRIKA VERKEER in ’n seksuele krisis. Ons is die wêreldleiers op byna elke gebied van seksuele probleme: die HIV/VIGS-pandemie, hoë getalle van seksueeloordraagbare infeksies, ongewenste swangerskappe, seksuele mishandeling, bloedskande, verkragting en seksuele geweld van disproporsionele aard. Dié wat die meeste onder hierdie omstandighede ly, is ons kinders. Hulle is die onskuldige slagoffers. ’n Mens sou verwag dat daar ’n massa-aksie sou wees om ons jeug te beskerm en te red, van sowel die privaat as regeringsektors. Sekere stappe is al gedoen, maar ongelukkig lewer die strategieë wat toegepas word, nie die gewenste resultate nie. In teendeel, die voorkoms van seksuele misdade word elke dag groter.

      Miskien is dit omdat die blote gedagte om kinders en seksualiteit in dieselfde asem te noem, die meeste van ons baie ongemaklik laat voel. Dus skep ons nuwe wette en beleidsake, installeer ekstra sekuriteitstelsels om ons kinders veilig tuis te hou. Maar die een ding wat ons nie doen nie, is om werklik met ons kinders te praat en hulle in te lig oor hulle seksualiteit en verhoudings.

      As ’n samelewing wil ons wegkruip agter indrukwekkende terme soos onthoudingsgebaseerde opvoeding; kinderbeskerming; goeie aanraking vs. slegte aanraking, ens. Ons wil selfs sensuur toepas op die media, as ’n desperate poging om hierdie seksuele krisis te hanteer. Bangmaaktegnieke word gebruik om tieners en jong volwassenes te keer om te doen wat tog so natuurlik vir hulle is. Ons vertel hulle dat hulle sal doodgaan, hel toe gaan, swanger raak of ’n slegte reputasie kry as hulle seksueel is. Ons voer hulle verkeerde inligting, maak hulle skaam, verban hulle van hulle rekenaars vir ’n week, skakel die televisie af as daar ’n seksuele toneel op is, met die hoop dat hulle verskrik en deurmekaar genoeg sal wees om vir nog ’n rukkie ‘rein’ te bly.

      Dit veroorsaak soveel onnodige spanning, alles omdat ons as ouers nie regtig die korrekte antwoorde het nie, of weet wat die beste benaderings is nie.

      Ek is ’n ma wat drie kinders grootgemaak het in, wat ek voel, ’n seksueel gesonde omgewing was. Ek is ook ’n kliniese seksuoloog, wat beteken dat ek heeldag met mense se seksualiteit en verhoudings werk. Miskien omdat ek professioneeel midde-in seksuele krisisse werk, het ek oor die jare seksualiteit op ’n baie gesonde manier in my lewe geïntegreer – dit beteken dat ek aan die etenstafel daaroor praat! Net so gemaklik as wat ons gesels oor die nuutste skindernuus by die skool of debatteer oor wêreldaangeleenthede, praat ek en my gesin oor ’n berig van ’n groep 12-jarige meisies wat orale seks aan hulle kêrels gee, sommerso terwyl ons die slaaibak aangee.

      Ek het hierdie boek geskryf vir elke Suid-Afrikaanse tiener en jong volwassene. Elke keer dat ek ’n veilige en professionele platform skep waar mense kan praat oor seksualiteit, vind ek desperate, onsekere en diep bekommerde ouers en tieners wat na vore kom met ’n behoefte om ernstig opgeneem te word en om die korrekte inligting en opvoeding te kry. Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense is ’n reaksie op hierdie oorweldigende behoefte en aanvraag.

      Hierdie boek volg drie belangrike beginsels, naamlik: Regte, Verantwoordelikhede en Belonings. Dit is eintlik baie eenvoudig. As ’n tiener het jy die reg tot die inligting in hierdie boek. Maar tesame met regte, is daar altyd verantwoordelikhede. Jy is daarvoor verantwoordelik om nie net ingelig te raak oor die feite van seksualiteit en verhoudings nie, maar ook om denkvaardighede aan te leer wat jou sal help om belangrike besluite te neem. Dan sal jy die belonings ontvang.

      Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense verskaf hierdie vaardighede: vaardighede om te dink, uit te stel, te verhoed, jouself te beskerm en om vreugde te put uit enige verantwoordelike seksuele aktiwiteite wat jy kies – hetsy dit alleen of saam met ’n maat is.

      As ’n ouer nooi ek jou uit om hierdie boek te lees. Dit sal jou inlig, jou verbaas en jou oë oopmaak vir ’n wêreld wat jy self dalk nooit ontdek het as ’n tiener nie – of dalk ontdek het, maar berou het oor jou ondervindings.

      Ek glo dit is baie gevaarlik om nie ons kinders in te lig oor hulle seksualiteit en verhoudings nie. Ek stem saam met navorsing wat bewys dat kinders wat omvattende opvoeding oor seksualiteit ontvang, hulle seksuele debuut heelwat later het en meer geneig is om veilige seks te beoefen.

      Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense is in lyn met ’n omvattende seksualiteit- opvoedingsprogram: onthouding word spesifiek aangemoedig, terwyl inligting oor seksualiteit binne ’n vaardigheidskonteks aangebied word.

      Om hierdie boek aan jou tiener of jong volwassene te gee, bied jou ’n wonderlike, leersame geleentheid om jou kinders toestemming te gee om hulle seksualiteit te verken op ’n veilige en verantwoordelike manier.