“Ek weet nie of ek kans sien om dit by te woon nie, Milly.” Die wonddekking is verwyder, en Adela vat liggies aan haar litteken. Dit voel opgehewe onder haar sensitiewe vingerpunte. Sy dink gedurig daaraan. Daaraan en aan dokter Beresford. Die twee is nou met mekaar verbind.
Milly kyk haar skewekop aan met simpatieke sjokoladebruin oë. “Ons kyk hoe voel jy oor twee maande. Dalk is daar soveel verbetering dat jy nie sal omgee om dit by te woon nie.”
“Goed, ek sal dit oorweeg, maar ek belowe niks. Terloops, jy lyk vandag weer oulik.” Adela glimlag vir Milly in haar kort pers-en-rooi rompie, rooi toppie en pers steweltjies oor gestreepte wit-en-swart kouse. Haar wit gebleikte hare staan stekelrig orent en sy dra silweroorringe en bypassende armbande. Die effek is aweregs, soos ’n rebelse tiener wat cool wil lyk, maar Milly is wat hulle in die bedryf noem “well-connected”, ’n werkesel en ’n organiseerder sonder weerga. Adela het lankal besef dat Milly nie onderskat moet word nie.
Sy lyk miskien nie formidabel nie, maar sy is dit gewis.
Milly grinnik. “Ag, dankie, Adela. Ek probeer tog so hard, maar ’n skoonheid soos jy sal ek nooit wees nie, al kry ek ook ’n nose job en ’n boob job, ’n bum lift, en ’n veloorplanting . . .”
“Maar kyk net hoe lyk ek nou!”
Milly se glimlag verdwyn. ’n Frons verskyn tussen haar geplukte wenkbroue. “Weet jy wat? Jy het nog alles: die figuur, die hare, die oë, die gesig. Dis net daardie streep op jou wang wat moet vervaag. Ek is seker daardie plastiese chirurg gaan dit wegtoor. Glo net.”
Adela sug en kry opnuut skaam. “Ek moet ophou om myself jammer te kry. Ek belowe ek sal nie weer daaroor kerm nie.”
“Môre word jy ontslaan. Dan neem ek jou in ’n rolstoel na daardie chirurg, en die proses begin. Jy sal sien. Dankie tog dat dit hý is wat Gary omgery het en nie sommer ’n boer of ambagsman nie. Hy het boonop nog ’n landgoed met perde ook. Ek het die plek gegoogle en dit is imposant. Daar kan jy in ’n luukse omgewing herstel.”
3
Milly het ’n bussie en twee assistente gereël om Adela na Rigby Clinic te neem. Sy sorg self vir die administrasie van die ontslag. Al wat Adela hoef te doen is om mooi te glimlag vir al die belangstellendes en nuuskieriges, en vir die hospitaalpersoneel wat haar afsien terwyl die ordonnans haar rolstoel uitstoot na waar die bussie geparkeer staan.
Adela wuif, groet, sê dankie en glimlag, maar is deurentyd ongemaklik bewus van haar toegeplakte wang en die geklik en flitse van kameras.
Daar is verskeie verslaggewers, en sy ys om te dink aan foto’s met opskrifte van die arme aktrise, die opkomende ster, wat soos ’n vertrapte insek uit die hospitaal kom en nou die wêreld braaf in die gesig moet kyk.
Gelukkig is Rigby nie ver nie, en sal hulle redelik gou daar wees.
Milly kom buk oor haar toe die rolstoel langs die bussie gestoot is en Adela ingelaai moet word. “Die paparazzi sal ons seker volg, maar by Rigby word hulle toegang geweier,” fluister sy. “Byt net vas.”
Die ordonnans en die twee helpers wat Milly gekry het, sterk jong manne wat vir ProFilms werk, tel Adela in haar rolstoel in die voertuig. Sy is verlig toe die deur toeslaan en die nuuskieriges van haar skei. Almal was baie goed en gaaf by die hospitaal, en sy waardeer die meelewing regtig. Die nuuskierigheid van die publiek is egter iets waarmee sy noodwendig moet saamlewe. Dit kan nogal uitmergelend raak. Mense let op na elke trek op haar gesig en elke gebaar. Sy het haar privaatheid lank gelede reeds ingeboet toe sy ’n aktrise geword het.
Terwyl hulle na Rigby ry, volg twee fotograwe op motorfietse. By Rigby se yslike ysterhekke, tussen hoë klipmure vir veiligheid en privaatheid, is daar hekwagte in uniforms. Die naam Rigby Clinic is opvallend groot op die hekke aangebring. Die wagte laat die bussie deur. Adela sien ’n prominente kennisgewingbord waarop daar staan dat toegang vir almal behalwe bona fide-besoekers, werknemers en pasiënte verbode is en dat oortreders streng vervolg sal word. Sy kyk om en sien deur die venster hoe die wagte toegang aan die fotograwe weier en hoe hulle stry.
Milly kyk in die truspieël na die fotograwe. “Sien jy, hier is jy veilig. Ons moet net hoop niemand kry dit reg om oor die muur te klim en jou te bekruip nie.”
“Ag, so beroemd en gesog is ek nou nog nie,” sê Adela.
Milly kyk verbaas na haar. “Dis eenvoudig nie waar nie. Jy maak vinnig opgang en word een van ons bekendste aktrises.”
Dat Milly so in haar en haar blink toekoms glo, was nog altyd vir Adela inspirerend en bemoedigend. Milly troos en onderskraag haar soos die liefdevolste suster denkbaar. Ter wille van Milly en haar liefdevolle toewyding gaan sy probeer positief wees. Sy sal baie tyd hê om oor haar lewe en toekoms te dink.
“Jy is lief, en ek waardeer alles wat jy vir my doen,” sê sy opreg.
Milly glimlag breed. “Niks is te veel of te erg nie, hoor. Jy is my belangrikste projek.”
Hulle ry op ’n geplaveide pad tussen ’n laning hoë eikebome deur. Agter die bome strek groen velde waar Adela perde en selfs ’n paar wollerige wit skape sien wei. ’n Enorme grys klipgebou wat soos ’n landelike paleis lyk, steek hier en daar tussen die bome uit. Op die dakke is skoorstene afgeëts.
“Dit lyk soos ’n stel vir ’n soort Downton Abbey-verhaal,” merk sy verwonderd op. “Of ’n landgoed in Jane Austen se verhale. Dit lyk sowaar nie na ’n kliniek nie.”
“Nee, dis seker waarom dit so duur is,” sê Milly. “Dit kos glo ’n fortuin om hierheen te kom. Dit is vir seker nie vir die armes bedoel nie.”
En dokter James Beresford het aangebied dat sy verniet behandel kan word, dink Adela, opnuut verbaas dat so iets moontlik kan wees. Watter soort man is hy werklik? Besonder goedhartig? Doen hy dit uit medemenslikheid en miskien skuldgevoel? Hy was vriendelik dog formeel.
Hy het nie op haar gereageer soos mans gewoonlik op haar reageer nie. Daar het nie openlike bewondering uit sy oë gestraal nie en hy het nie ligweg met haar geflankeer nie. Maar hoekom sou hy ook terwyl sy in so ’n patetiese toestand is? Hy is ook so aantreklik dat hy gewoond aan vroue se aandag moet wees. Dan is hy boonop ’n plastiese chirurg met ’n imposante landgoed.
Sy belangstelling in haar is bloot as pasiënt. Hy sien haar soos ’n motorwerktuigkundige ’n stukkende motor sien – as iets wat herstel moet word.
Sy wonder egter heeltyd oor hom. Probeer, maar kry hom net nie uit haar gedagtes nie. Nou gaan haar nuuskierigheid uiteindelik bevredig word.
Die aansig van die paleisagtige gebou herinner so sterk aan Mister Darcy se huis in Pride and Prejudice dat Adela verwonderd deur die venster daarna staar. Hier is egter borde wat aandui dat die hoofgebou die administrasiegebou is en dat vleuels die kliniek en velsorgeenheid onderskeidelik huisves. Daar staan ook verskeie voertuie in ’n parkeerterrein, waaronder ’n splinternuwe ambulans. Mense beweeg in en uit. ’n Kennisgewing dui aan: Reception. ’n Ander een met ’n pyl dui aan: Deliveries.
Daar is ’n oploop vir rolstoele langs die breë trappe aangebring. Van naby kan sy nou sien dat Rigby nie ’n familie-herehuis is nie, maar eerder ’n hospitaal.
Een van Milly se assistente stoot Adela by die oploop op, tot op ’n stoep en deur die enorme voordeure wat na die ontvangstoonbank lei.
Hulle gaan ’n saal met ’n hoë gewelf binne.
Voor hulle is ’n enorme toonbank waaragter twee mans en twee vroue in spierwit uniforms werk. Op die toonbank is rekenaars en telefone. Die groot ruimte is helder verlig. Wel, die toebehore is beslis van die modernste, dink Adela, al skep die plek die indruk van ’n antieke paleis. Sy kyk na enorme landskaptonele in goue rame wat aan die mure hang. Dit is beslis ’n fusie tussen die oue en die nuwe.
Hier gaan sy veilig voel en ontspan.
Terwyl Milly deur die prosedure gaan om haar ingeboek te kry, sien sy dat mense haar diskreet dophou. Hulle staar nie openlik soos in die hospitaal