Adela stel haar aan haar ouers en broer voor. Milly groet hulle met die hand, gryp Adela se gesonde hand en druk dit. “Good grief, I had such a fright. Ek het die ergste gevrees. My beste kliënt . . . die een van wie ek die meeste hou. Die hele wêreld wil weet hoe dit met jou gaan en wat gebeur het. Die koerante is vol van jou en Gary. Sam sê natuurlik dit is eintlik ’n vorm van publisiteit vir die nuwe film, want as daar iemand was wat nog nie geweet het dat julle Elizabeth Bennet en Mister Darcy in die nuwe Pride and Prejudice speel nie, weet hulle dit nou. Die bewonderaars maak ons mal. Jy moet net sien hoeveel pos en blomme jy kry.”
Sy kyk in die vertrek rond waar daar verskeie ander ruikers staan. “Die plek lyk amper soos die tuine van Sissinghurst, so baie blomme is hier. Buite is ook heelwat.”
“Ek het gesê die personeel moet die blomme met my komplimente aan van die ander pasiënte gee,” sê Adela. “Niemand het my nog vertel wie die man was wat op die perd gery het nie. Hy was mos ook in die ongeluk betrokke.”
“Dis die eienaar van die landgoed Rigby wat aan Lynley Hall grens,” vertel Milly. “Blykbaar wou hy ’n eis teen Gary ingestel het vir roekelose bestuur, maar toe hy hoor wie seergekry het en hoe erg dit is, het hy dit teruggetrek.”
Daardie middag is daar ’n hele beroering om Adela se privaat kamer toe die vernaamste spelers in Pride and Prejudice saam met Sam Williams, die bekende rolprentregisseur en eienaar van ProFilms, kom kuier. Hulle word gevolg deur flitsende kameras wat natuurlik die aandag trek van die hospitaalpersoneellede en die pasiënte wat kan rondloop. Tot dusver het die verpleegpersoneel die verslaggewers en fotograwe van Adela af weggehou, maar nou kom loer van hulle by die deur in.
Adela se gesin en Milly moet terugstaan vir die groep wat die kollig met hulle saambring. Almal gee geskenke, sjokolade en blomme, groet en gesels vrolik, maar net te bewus van die aandag wat hulle trek.
“Ons kom net ons ondersteuning wys, my skat,” sê Sam, en soen Adela se hand teatraal. “Ons is almal ontsteld oor die ongeluk. En so bly dat jy en Gary dit darem oorleef het.”
Een vir een soen en dweep hulle. Die akteur wat die rol van Mr Bingley vertolk, wil Adela se hand nie los nie. Na dese sal dié manne se belangstelling seker kwyn as hulle eers gesien het hoe haar gesig nou lyk, dink Adela wrang.
“Ons wou eersdaags die rolverdeling vir Emma gedoen het, maar nou is jy ongelukkig nie beskikbaar nie,” vryf Sam sout in Adela se gewonde gemoed.
“Nee, ek sal seker ’n ruk lank nie in aanmerking kan kom nie,” sê sy. Hoe lank? Miskien vir altyd . . . Is haar loopbaan as aktrise, wat net mooi op dreef was, nou gekortwiek?
2
Adela kyk met ontsetting en oë wat vol trane skiet na die lelike rooi streep met steke op haar wang. Dit strek van onder haar oog tot by haar kakebeen. Daar is geen manier waarop so ’n streep met grimering weggetoor kan word nie.
’n Lang sug skeur uit haar. Ag, hemel tog, sy het nogal gemik vir die rol van Bathsheba in Far from the Madding Crowd en miskien die rol van die vroulike speurder in die nuwe misdaadreeks The Mykonos Murders. Die rol van Jane Austen se Emma is sy reeds kwyt.
Eendag sal sy haar loopbaan moet probeer hervat. Mits sy natuurlik kan. Mits almal haar nie afgeskryf en vergeet het nie. Mense het geen idee hoe die honde mekaar in dié kompeterende bedryf kan byt en verniel nie.
Sy is nog besig om in die handspieëltjie te kyk wat die verpleegster vir haar vashou, toe iemand hinkepinkend by die deur inkom. Dit is Gary Manning in ’n kamerjas en op krukke. Afgesien daarvan, is hy nog net so lank en aantreklik soos altyd, soos die twee verpleegsters wat bewonderend agter hom aansluip, bewys.
Adela kyk hom ondersoekend aan. Sy gesig is nie eens gekneus nie. Sy gelaatstrekke is so reëlmatig soos altyd.
“Haai, Adela, ek wou lankal gekom het, maar ek kon nie,” sê hy.
Sy sien hoe sy gesigsuitdrukking verander toe hy nader kom. Skok en afgryse spreek duidelik uit elke trek: sy groot blou oë, sy mond wat oopgeval het. Sy blik talm op die lelike rooi streep op haar wang.
“Oh, hell!” hoor sy hom sê.
Sy byt haar lip so hard dat sy bloed proe. “Jy dink ek is geskend, nè?”
Hy staan en balanseer op sy krukke langs haar bed, ignoreer die verpleegster met die spieël wat hom oopmond aangaap. “Wel . . . dit sal darem seker gesond word, of hoe? Jy kan miskien die rol van Scarface in . . .” Hy sluk sy woorde en het darem die grasie om te bloos oor sy blaps.
Adela is diep gekrenk en kwaad oor sy gebrek aan simpatie. “En wie se skuld is dié besering? Joune.”
“Ek is jammer, maar dis die skuld van die ou wat voor ons ingery het.”
“Nee, dis jóú skuld. Jy moes nie so vinnig gery het nie.” Sy kan die bitsigheid nie uit haar stem hou nie.
Sy kan aan sy geskokte uitdrukking sien dat hy ook nie van plan is om sy verhouding met haar, nou met die geskende gesig, voort te sit nie. Mans soos hy is net verlief terwyl ’n vrou mooi en glansryk is. Die vrou aan hul arm is deel van hul beeldpoetsing.
“Verskoon my, ek gaan terug bed toe,” mompel hy. “Wou net gou inloer.”
Met dié hink hy weg. Adela kyk hom agterna. Watter sieklike egoïs is hy tog nie! En sy het sowaar gedink hy is wonderlik. Ergerlik kyk sy na die verpleegster wat lankal moes geloop het, maar daar bly staan en na alles geluister het, haar oë vasgenael op die aantreklike akteur.
Gelukkig sluimer Adela weer in. ’n Verpleegster maak haar ’n rukkie later wakker. “Jy het ’n besoeker, juffrou Morgan. Hy kan glo nie ’n ander tyd kom kuier nie.”
“Wie is dit?”
“Dit is dokter Beresford.”
“Ek lyk seker ellendig.” Sy vat aan haar hare en vee slaap uit haar oë.
“Nee wat, jy is mooi genoeg.” Die verpleegster katrol die bed sodat Adela effens regop sit en gaan deur toe. “Jy kan inkom. Juffrou Morgan is wakker.”
’n Besonder lang man kom by die deur in. Hy kan maklik ’n kop langer as sy wees, skat sy, met breë, hoekige skouers en ’n lenige lyf in ’n netjiese blou baadjie en grys broek. ’n Spierwit hemp steek teen sy soel vel af.
“Good morning, Miss Morgan,” groet hy. Diep, strelende stem.
“Good morning . . . Doctor Beresford.” Sy staar in verwondering na hom. Die man is oorweldigend. Hemel, sy is mos gewoond aan baie mooi mans. Vir wat boul hy haar so uit? Ruk jou reg, Adela, betig sy haarself.
Hy kom staan langs die bed en kyk af na haar, donker oë ondersoekend. Intelligente oë, omraam deur swart wimpers, onder pikswart wenkbroue. Sy baard veroorsaak ’n ligte skadu onder sy vel.
“Ek is die man wat op die perd was wat julle amper omgery het. Ek moet darem byvoeg: Ek gaan ry gereeld perd op daardie pad en dit is die eerste keer dat ’n motor teen so ’n hoë spoed daar aangejaag gekom het.”
Dan is dit hý? Sy kyk skuldig na hom: “Gary hét te vinnig gery . . .”
“Die beroemde Gary Manning. Ja, hy het gans te vinnig gejaag. Op daardie pad in ’n landelike gebied is die spoedgrens hoogstens veertig kilometer per uur. Daar is dikwels skape, ruiters of plaasvoertuie in die omtrek.”
“Ek is jammer oor alles.”
“Jammer? Die ongeluk was mos nie jou skuld nie. Ek het niks ernstigs oorgehou nie en my perd het nie seergekry nie. Ek is jammer vir jou, want jy is sleg beseer.”
“Die verpleegster het gesê jy is ’n dokter . . .” Sy frons.
“Ek is die eienaar van Rigby Clinic,” sê hy. “My vennoot is Peter Baird. Ons is albei immigrante van