My redder, my beminde
Malene Breytenbach
Hartklop
1
Adela kyk gespanne hoe die lint van die pad in die laatmiddagson na hulle aangesnel kom. Die pad maak draaie. Die bande van die MG-sportmotor met sy afslaankap skree kort-kort. Hulle is nog ’n hele ent van die groot herehuis Lynley Hall waar die viering plaasvind.
“Moenie so vinnig ry nie, Gary, dit maak nie saak as ons ’n paar minute laat kom nie,” raas sy, die benoudheid in haar stem onmiskenbaar. “Die funksie kan tog nie sonder ons begin nie.”
Sam Williams sal immers wag totdat sy hoofakteurs daar is voordat hy die voltooiing van sy weergawe van Pride and Prejudice begin vier. Hy het tog self gesê dié film, met haar as Elizabeth Bennet en Gary Manning as Mister Darcy, gaan hulle eindelik van die gesogste akteurs in die bedryf maak.
Gary lag haar toe met die mond wat as die soenbaarste in Brittanje beskryf is. ’n Mond wat sy al gesoen het en wat sy seker nog dikwels sal moet soen.
Sy draai haar oë weer na die pad . . . gil onwillekeurig toe ’n perderuiter voor hulle in die pad opdoem. Gary toet. Die perd skrik en gooi die ruiter dat hy voor die aankomende motor beland.
Die laaste wat Adela hoor, is Gary se harde kragwoord toe hy woes uitswaai en die verskriklike slag van die motor wat teen ’n boom bots.
Die laaste wat sy voel, is die impak . . . die pyn . . .
Adela word in ’n wit kamer wakker. ’n Naald in haar arm koppel haar aan ’n drup. Hartmonitors en allerhande toerusting omring haar bed. Sy voel met haar tong oor haar tande. Hulle is nog almal daar. Sy lig haar een hand, voel-voel aan haar kop. Die helfte van haar gesig is bedek. Haar regterenkel is in gips, haar lyf voel asof sy ’n korset aanhet, soos dié wat sy al in periode-films gedra het, en die pols van haar linkerhand is ook in gips.
Die ruiter, Gary wat uitswaai, die geluid van metaal wat frommel . . . Stadigaan skemer dit deur dat sy in ’n verskriklike ongeluk betrokke was. Gary, die spoedvraat, het al weer gejaag asof tien duiwels agter hom is in daardie oop, rooi veteraansportmotor waarvoor hy so lief is. Beslis nie die veiligste soort motor op die pad nie.
Hier lê sy nou, die slagoffer van die man en sy motor. Waar op aarde is sy? Waarom lê sy stoksielalleen hier?
Twee verpleegsters kom ingehaas. “Aha, you are awake, Miss Morgan,” sê die suster.
“Waar is ek?” vra Adela op Engels. Dit voel asof sy wol in haar mond het.
“In die intensiewesorgeenheid van Oxford Hospital. Dit is die naaste groot hospitaal aan die ongeluk waarin jy was.”
“Waar is . . . Gary Manning? Moenie vir my . . . sê hy is . . .”
“Nee, hy is nie dood nie. Hy is beseer en is ook hier, maar sy toestand is stabiel. Jy het meer beserings as hy opgedoen, maar gelukkig is jy jonk en sterk en sal jy herstel.”
“Wat . . . het met my gesig . . . gebeur?” Adela voel so benoud dat sy die woorde skaars kan uitkry.
“Dokter Jones is op pad. Hy sal verduidelik wat met jou gebeur het. Ons het jou naasbestaandes van die ongeluk laat weet. Baie mense is begaan oor jou. Ons kry heeltyd navrae.”
Die twee verpleegsters monitor haar, kontroleer die drup en haar polsslag, maak haar toe so gemaklik soos hulle kan. Ag, as haar ouers en broer, Vernon, tog net nie so ver was nie . . . Hulle het seker groot geskrik en sou al die pad uit Suid-Afrika moes vlieg.
Sy wil nog vrae vra, maar ’n kort mannetjie in ’n wit jas, met staalgrys hare, kom flink ingestap.
“Ons filmster is wakker,” glimlag hy. “Ons moes jou ’n ruk lank onder sedasie hou. Dit was nou ’n affêre toe jy en Gary Manning hier ingebring word. Ek is dokter Warren Jones, ’n ortopeed, een van die mense wat jou geopereer het. Jy het ’n gebreekte pols en ’n been in jou enkel is gekraak. Jy het ook veelvuldige kneusings, harsingskudding en . . . e . . . jou gesig het seergekry. Dokter Anderson sal aan jou verduidelik wat met jou gesig gebeur het. Hy is op pad.”
Adela voel asof haar bloed in ys verander. Gebreekte bene kan herstel, maar wat het haar gesig oorgekom? In haar beroep is haar gesig haar fortuin.
“Is Gary Manning . . . regtig oukei?” kry sy uit.
“Ja, hy sal regkom. Die motor het die boom aan jou kant getref, daarom is jy erger as hy beseer.”
“Daar . . . was ’n ruiter in die pad wat geval het. Lewe . . . hy?”
“Ja, hy het natuurlik hard geval en skok opgedoen, maar hy is darem nie ernstig beseer nie. A, hier is dokter Anderson nou.”
’n Middeljarige, lang, maer man, ook in ’n wit jas, kom in en glimlag vir Adela. “Ons pasiënt is by haar positiewe. Welkom terug in die land van die lewendes, juffrou Morgan. Ons is almal bewonderaars en ons sal ons bes doen om seker te maak dat jy herstel.”
Adela se oë brand. Paniekerig vra sy wat haar gesig makeer. “Is dit geskend?”
Die dokter kyk simpatiek na haar. “Daar is ’n lang sny op jou een wang. Die onderliggende been is gelukkig nie vergruis nie. Ons sal kyk hoe ons daardie sny kan minimaliseer sodat daar nie ’n opvallende litteken agterbly nie.”
“Dan ís ek mos geskend,” fluister sy. Dit beteken sekerlik die einde van ’n loopbaan as die mooi, jong heldin. En sy het net begin opgang maak in rolprente. Dit is die straf vir haar ydelheid. Haar hubris.
“Ek wil sien hoe dit lyk . . . hoe erg dit is.”
“Liewer nie nou al nie, juffrou Morgan,” sê die dokter. “Die steke en swelsel sal veroorsaak dat jy nie ’n realistiese beeld van jou besering kry nie.”
Trane loop uit haar oë, en die verpleegster kom dep hulle met ’n snesie.
“Toemaar, dit klink erger as wat dit is,” probeer sy troos. “Jy was ’n skoonheid en jy sal mos weer mooi wees. Word net gesond.”
“Dankie, suster,” sê die dokter, en sy staan tru.
You were a beauty, dink Adela. Dis wat sy gesê het. Dit voel asof ’n klip in haar bors lê.
Toe Adela wakker word, sien sy drie bekende gesigte: dié van haar ma, pa en broer. In haar hart is ’n opwelling van liefde toe sy besef hoe bekommerd hulle lyk.
Haar ma buk oor haar en soen haar. “Ai, my liewe kind, dankie tog jy het die ongeluk oorleef. Ons het so groot geskrik.”
“Dankie dat julle . . . gekom het,” fluister Adela.
“My arme ou sussie.” Haar broer kan sy skok nie wegsteek nie. Hy is self ’n internis en weet natuurlik wat die beserings alles behels.
“Hoe lank . . . is julle al hier?” prewel Adela.
“Ons is al van gister af hier, maar jy was uit soos ’n kers,” terg haar broer.
“Liefding, jy het so seergekry dat hulle jou sterk verdoof het,” sê haar pa, sy grys oë verdag blink.
“My gesig is geskend . . . lang sny . . . op my wang.”
“Ag, nee, my liewe kind, jy is nie regtig geskend nie. Ek is seker dit sal gesond word,” sê haar ma.
Haar pa soen haar op haar voorkop en vat die hand wat nie verbind is nie. “Jou regisseur is vreeslik bekommerd oor jou, maar hy en die ander mag nie in die intensiewe eenheid kom nie. Jou agent is omtrent rasend. Oulike meisie, duidelik baie begaan oor jou. Net jou naaste familie mag jou hier sien. Almal het hulle lam geskrik, maar Sam Williams sê hy is net dankbaar dat die film klaar geskiet is. As die ongeluk voor die einde van die verfilming gebeur het, sou dit glo alles ontwrig het. Dit klink nou nie juis baie simpatiek nie, maar die man het seker ’n punt beet.”
En hoe! dink Adela. Maar sy kan nie helder dink nie. Alles is vaag. Sy probeer inneem wat almal om haar praat, maar dis of hul woorde soos rook in die lug bly hang.
Die verpleegster kom in. Adela hoor haar sê dat haar gesin haar eers moet toelaat om te