Dokter Nel bly staan asof hy nie reg gehoor het nie. Toe draai hy terug.
“Nag, Fransie,” sê hy en loop.
“Nag, Pappa,” fluister die kind. Elizabeth sien hoe sy onderlippie bewe, en sy voel lus om die man storm te loop en hom te skud totdat sy tande klap. In stede daarvan, sit sy haar arm om die dun skouertjies en sê gemaak vrolik: “En wie is lus vir ’n bakkie roomys?”
Fransie se ogies blink. “Ek is!”
Sy help hom van die stoel af, en hy help haar om die borde kombuis toe te dra. Hy eet sy roomys sommer in die kombuis terwyl sy die tafel afdek en toe sy klaar is, neem sy hom boontoe na sy kamer.
“Ek kom nóú vir jou ’n storie vertel,” belowe sy. “Ek gaan net gou al die deure sluit.”
Toe sy terugkom, lê hy al in die bed, en sy gaan sit by hom. Sy kan dit nie verhelp om weer eens na al die dose speelgoed wat daar lê, te kyk nie. “Speel jy ooit met al hierdie goed?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
“Dis nie lekker om alleen te speel nie.”
“Het jy nie maatjies nie? Is hier nie ander kinders in die buurt met wie jy kan speel nie?”
“Ek weet nie. Ek speel met Bees.”
“O. Nou ja, môre sal ek en jy met die goed speel. Dit lyk vir my asof ’n mens wonderlike goed kan bou met die speelgoed wat jy hier het. Maar eers die storie. Hou jy van stories?”
Hy knik en sy begin vertel, maar voordat sy ver gekom het, is hy vas aan die slaap. Sy trek die laken oor sy maer skouertjies en sit net na hom en kyk, en sy wonder of iemand al ooit hierdie kind gesoen het. Sy onderdruk dié gedagte, want dit maak haar al hoe hatiger teenoor die kind se koue pa. Toe sy uitgaan, los sy die deur oop sodat sy hom kan hoor as hy dalk wakker word.
Onder in die kombuis was sy die skottelgoed en maak aan die kant. Sy is moeg en besluit om ook maar te gaan slaap, en sy wonder of sy in die studeerkamer mag ingaan om iets te kry om te lees.
Waarom nie? Sy pak die bul by die horings en loop in. Een leeslamp brand nog, en sy loop om die lessenaar om na die boeke te kyk. Haar aandag word getrek deur die foto in ’n silwerraam wat op die lessenaar staan, en sy tel dit op en bestudeer die gesig. ’n Baie mooi jong vrou, blond soos haar kind en met sagte, liefdevolle oë. Sy wonder wat die vrou sou doen as sy kon weet hoe haar kind behandel word, en met haar vinger teen die foto sê sy hardop: “Ek weet nie waarom iemand met so ’n sagte gesig soos joune met so ’n koue man getrou het nie, maar ek belowe jou ek sal Fransie mooi versorg en kyk of ek nie sy pa se houding kan verander nie.” Sy verbeel haar die mooi vrou verstaan wat sy sê en glimlag bemoedigend terug.
Uit die rak haal sy ’n boek, en sy is beïndruk deur die verskeidenheid leesstof. Die man het ten minste goeie smaak in boeke, moet sy toegee. Toe sy die deur weer agter haar toetrek, staan sy vir ’n oomblik en weifel en stap toe doelgerig kombuis toe. Sy moet ’n hele paar kassies oopmaak voordat sy kry wat sy soek, maar tien minute later loop sy uit met ’n skinkbord waarop ’n fles, ’n koppie en ’n bordjie winkelkoekies lê. Sy sit dit op die tafel in die gang neer sodat dokter Nel dit sal sien as hy inkom. Toe gaan sy boontoe, bad en klim in die bed.
Sy is nog wakker toe sy hom hoor inkom, en sy luister met gespanne aandag na sy voetstappe. Sy kan nie veel hoor nie, aangesien die dik tapyte alle geluide demp, maar ná ’n ruk hoor sy tog die geklingel van ’n koppie en die studeerkamerdeur wat oopgaan. Tevrede lê sy terug en raak gou aan die slaap in haar nuwe, luukse omgewing.
Sy het vas geslaap, reeds ’n hele paar uur lank, toe sy bewus word van ’n hinderlike geluid. Sy maak haar oë oop en lê ’n oomblik totaal verward totdat sy besef waar sy is en wat die geluid is. Dis ’n kind wat huil. Sy spring uit die bed sonder om eers haar japon aan te trek en hardloop na die kamer langsaan. Net voor sy ingaan, kyk sy om en sien dokter Nel se skraal figuur in die deur van sy kamer. Hý het wel ’n kamerjas aan en toe hy haar sien, tree hy terug en maak sy deur toe.
“Wat is dit, Fransie?” vra sy besorg en trek die kind regop sodat hy teen haar skouer lê.
“Gedroom,” snik hy.
Sy streel oor sy hare, neem hom badkamer toe en gee hom ’n bietjie water om te drink. Toe bly sy langs hom sit totdat hy weer aan die slaap is. Was die man op pad na sy kind? wonder sy terwyl sy daar sit. Het dit al vantevore gebeur en indien wel, wie het die kind vertroos? Tog seker nie hy nie, anders sal die seuntjie nie so bang wees vir sy pa nie.
Sy sug en loop terug na haar kamer, en dit duur ’n geruime tyd voordat sy weer aan die slaap is. Sy kan maar nie oor die verwondering kom dat haar lewe so drasties verander het nie. En so vinnig. Sy verbeel haar sy kan haar pa hoor lag. Hy het nog altyd gesê sy is die soort mens wat vinnig en halsoorkop op ’n ding besluit. As sy moeg is vir haar huidige werk, besluit sy sommer nou dadelik om iets daaromtrent te doen. Maar selfs hý, dink sy geamuseerd, sal nie kan glo wat sy hierdie keer aangevang het nie. En daarby is daar ’n waarskuwende klein stemmetjie in haar agterkop wat haar daaraan herinner dat sy hierdie sonderlinge betrekking aanvaar het omdat die salaris goed is en haar onkoste laag; omdat sy vinniger sal kan spaar vir die oorsese reis wat haar droom is sedert sy ’n kind was. As sy die droom bewaarheid wil sien, durf sy nie betrokke raak by die kind nie.
Sondagoggend word sy wakker en lê lui om haar en rondkyk voordat sy besef dat sy die huishoudster is en vinnig uit die bed spring. Toe sy in die gang kom, sien sy Fransie op sy bed sit met ’n boek. Sy voel skuldig en help hom gou om aan te trek.
“Jy is seker al honger?” vra sy, want die enigste normale ding omtrent hierdie kind is dat hy blykbaar altyd honger is. Sy het al vergeet dat ’n kind ’n groot eetlus het.
“Ja,” sê hy. “Gaan ons weer pap eet? Bees hou nie van pap nie.”
“Is dit so?” vra sy. “Nee, ons sal spek en eiers eet en net waarvoor jy lus is. Waar eet jou pa?”
“Ek weet nie,” gee hy sy normale antwoord, en sy besluit dat die ontbythoekie seker daar is vir ontbyt; dus sal hulle dáár eet.
Dokter Nel is nie in sy studeerkamer toe sy hom gaan roep nie, en sy vind hom buite in die tuin met ’n tuinslang in sy hand. Sy is verbaas, omdat sy hom beskou as ’n man van die donker. Hy draai dadelik die kraan toe en volg haar na die kombuis waar Fransie al klaar geëet het en vra of hy mag gaan speel.
Elizabeth sit ietwat ongemaklik oorkant die man noudat die kind nie hier is om ’n gesprek mee aan te knoop nie.
“Dankie vir die fles wat jy gisteraand vir my uitgesit het,” sê die man meteens.
“Dis ’n plesier,” antwoord sy en probeer op haar kos konsentreer. Dis nie maklik nie, en sy wonder of sy ’n maagseer gaan opdoen onder hierdie nuwe bedeling van stil, ongemaklike etes. “Dokter Nel,” sê sy vasberade, “ek is heeltemal in die duister aangaande my pligte. Ek dink ons moet ’n bietjie gesels.”
“Wat wil jy weet?” vra hy.
“Wel …” Sy stoot ’n stukkie roosterbrood op haar bord rond. “Wie koop die kos? Van watter soort kos hou u? Wie koop die kind se klere? Sy klere is in ’n benarde toestand. Wil u vroeg in die oggend tee of koffie hê?” Sy voel sy moet praat terwyl die geleentheid daar is.
Hy glimlag effens en die verandering wat dit aan sy stroewe gesig maak, verbaas haar. “As ons klaar geëet het, kan u na my studeerkamer kom en sal ek u die huishoudelike geld gee. Ek vrees u sal self die kos moet koop. Gebruik my motor as u wil. Dis groter. Ek kan altyd met u motortjie spreekkamer toe ry as dit nodig is. U wil darem seker nie elke dag winkels toe gaan nie?”
Dié vreemde idee verbyster haar so dat sy skaars kan antwoord. “Nee,” stamel sy. “Natuurlik nie.”