Carolien sug liggies en vertel hom van die bepaling van haar pa se testament.
“As ons net die paar diamante kan kry, sal ons weer op die been wees. Maar dis nog net ’n droom.”
“Goud,” sê hy half mymerend en toe sy na hom omdraai, kry sy die gevoel dat hy heeltemal van haar vergeet het. Sy gesig is geslote en sy oë is hard.
Carolien staan weer ongemaklik deur se kant toe. Die man maak haar senuweeagtig. Selfs wanneer hy glimlag, bereik dit nie sy oë nie. Daardie koel, blou oë bly kil, asof hulle altyd op hulle hoede is en die ander persoon opsom en weeg. Tog is sy oortuig daarvan dat as die kilheid daarin verdwyn, hy ’n ander mens sal wees. Sy onderdruk ’n rilling. Daar is ’n vae vrees vir hom by haar en sy sal dit nie nou waag om aan hom te raak soos sy gedoen het toe hy gelê en slaap het nie.
Hy kyk skielik op.
“Ek wil vandag nog vertrek.”
“U kan nie, meneer. U is nog glad nie gesond nie.”
Hy lag bitter.
“Wat met mý verkeerd is, kan medisyne nie regmaak nie. Nee, ek moet weg … so gou as wat ek kan.”
Sou hy dalk vir iets vlug? wonder Carolien. Dié moontlikheid is nie uitgesluit nie. Dalk vlug hy voor die gereg. Die gedagte stel haar geensins gerus nie. Tog kan sy dit net nie aanvaar dat hy ’n misdadiger is nie.
Hy moes die agterdog in haar oë gesien het, want hy lag sinies.
“Het ek jou nou op jou hoede gestel, vroumens?” Sy blik rus deurdringend op haar. “Dis goed … ’n mens mag nooit ’n ander vertrou nie. Dis ’n les wat ek vroeg in my lewe reeds geleer het. Slaan eerste en slaan hard, sodat jy seker maak dat die ander nie sal kan terugslaan nie.”
Carolien sluk hard.
“Dis ’n baie ongenaakbare houding, meneer.”
“’n Mens kan nie anders oorleef of jou ideale bereik nie.”
Die geluid van perdepote laat Carolien vinnig na die venster toe gaan.
“Hier is oom Gert nou,” sê sy fronsend. “Hy kom seker weer moeilikheid soek soos gewoonlik.”
Christiaan glimlag onderlangs.
Hendrieka staan op die stoep toe die kapkar voor die deur stilhou. Sy klem die geweer in haar hande vas. As Gert alleen gekom het, sou sy hom geblaker het, maar met Debora en Leentjie by kan sy nie so iets waag nie.
Gert lag opgewek toe hy Hendrieka sien.
“Dag, sus!” roep hy joviaal uit terwyl hy Debora met die trap ophelp. “Jy moet maar liewer die geweer gaan bêre. ’n Ongeluk gebeur tog so maklik.”
“As ek jou raak skiet, Gert Oosthuizen, sal dit geen ongeluk wees nie,” sê Hendrieka woedend.
Gert klop haar kameraadskaplik op die skouer.
“Kom nou, Drieka, ons is mos familie!”
Leentjie bly ietwat lugtig op die agtergrond. Sy het ’n heilige ontsag vir haar tant Hendrieka en sy is nie eens seker of haar pa sy man teen hierdie onverbiddelike vrou sal kan staan nie.
“Ek gaan na Carolien soek, tant Hendrieka,” sê sy nadat sy die tante gegroet het en toe maak sy haar vinnig uit die voete.
Sy kry Carolien in die vrykamer by Christiaan. Leentjie se oë rek groot toe sy die man op die bed sien lê en sy bloos ongemaklik.
“Ek is jammer, meneer, ek … ek het nie geweet dat u nog hier is nie.”
Carolien glimlag.
“Gaan dit goed daar in die voorkamer?” vra sy.
Christiaan kyk na die vaal meisietjie.
“Hoe lyk dit asof jy geskrik het?”
Leentjie sluk hard.
“Jou ma loop met die geweer rond en my pa maak asof alles ’n grap is. Ek het geweet dat ek en my ma nie moes saamgekom het nie.”
“Daar sal niks gebeur nie,” stel Carolien haar niggie gerus. “Solank jou pa net nie kom neul oor Langlaagte nie.”
“Maar dis juis hoekom hy gekom het!” roep Leentjie uit. “George Harrison het goud op ons plaas gekry en nou wil my pa julle plaas ook hê.”
Christiaan kyk fronsend na Leentjie.
“George Harrison? Is dit nie die man wat in Australië gesoek word vir bedrog nie? Julle sal versigtig moet wees.”
Leentjie kyk met groot oë na Christiaan.
“Maar ek het die goud self gesien, meneer. Hy het ons nie dáármee bedrieg nie.”
Christiaan haal sy skouers liggies op.
“Dit mag nogtans die man wees wat gesoek word. Ek sê nie dat hy julle gaan verkul nie. Hy kan tog niks daarmee bereik nie.”
Uit die voorkamer klink daar skielik harde stemme op en Carolien draf na die kamerdeur.
“Ek hou hierdie plaas, Gert Oosthuizen!” roep Hendrieka uit. “Ek verkoop geen duim grond aan jou of enigiemand anders nie!”
“Maar ’n honderd pond is baie geld!” brul Gert omgekrap. “Dis drie keer meer as wat ek jou verlede keer aangebied het!”
“Jy sal duisende ponde met my plaas maak!” Hendrieka mik in die rigting van die geweer, maar Gert raap dit voor haar weg.
“Nie so haastig nie, ou sus!”
“As jy dood is, Gert, dan is die plaas mýne!”
Debora sit bleek en verskrik in ’n hoek.
“Julle sal tog nooit tot ’n vergelyk kom nie,” sê sy paaiend. “Buitendien word die plase dalk nie eens geproklameer nie.”
Carolien draai om na Christiaan.
“So gaan dit elke keer. Hierdie keer bied hy my ma darem meer aan, maar nog nie naastenby genoeg nie.”
Christiaan sit regop.
“Sal julle dames my asseblief verskoon?” Hy beduie na sy klere.
Leentjie maak haar haastig uit die voete.
Carolien kyk na die siek man.
“Jy hoef nie op te staan nie. Hierdie geveg sal nog lank duur en jy kan alles hiervandaan hoor.”
“Uit, vroumens!”
Sy bly staan waar sy is en kyk skewekop na hom.
“As dit jou in die bed sal hou, bly ek net hier.”
“Moenie jouself bluf nie, meisiekind,” sê hy en pluk die komberse van hom af.
Carolien vlug bloedrooi van verleentheid uit die kamer.
Intussen maak Gert en Hendrieka nog steeds rusie. Debora se vermanings val op dowe ore. Gert se aanbod het gestyg na honderd-en-vyftig pond, maar Hendrieka wil nie toegee nie. Sy besef dat sy nou vir die eerste keer haar swaer aan die kortste ent laat trek.
“Jy is nie skelm genoeg nie, Gert,” sê Hendrieka tevrede. “Daar moet ’n baie goeie rede wees hoekom jy so angstig is om my plaas te kry.”
“Wanneer die delwers kom, gaan hulle buitendien jou plaas vat!” brul Gert. “Jy sal nie ’n duim daarvan mag verkoop nie!”
“Dis my saak! Ek weet hier is goud op my plaas, maar jý sal nie die vrugte daarvan pluk nie! Dan sal ek eerder sterf!”
“Jy is ’n koppige ou bokooi, Hendrieka!”
“Dis nóg ’n rede waarom jy dit nie sal kry nie! Jy is gedurig besig om my te beledig!”
“Dis al wat jy verdien!” skreeu Gert. “Hierdie plaas behoort aan my! Jy het