“Dis nou simpel,” kom dit afgehaal van Danette. “Ek wed Jana het net teruggekom omdat sy moeg is van vertaling en nie ’n man in die Kaap kon kry nie. Mevrou Brewis, ek wil nie blomme hê nie, maar ’n duisend rand kontant sal baie welkom wees.”
“Sal jy saam met ons tee drink, Danette?” vra Driekie, doof vir die skimp.
“Tee is vir ou mense,” antwoord Danette en kyk tartend na Jana, “en vir werkende oujongnooiens. Ek sal ’n Coke drink, en aan gemmerkoekies peusel terwyl ek TV kyk,” sê sy, haar streng dieet blykbaar vergete.
Jana betrag haar agterdogtig. “Hoekom is jy vandag so vroeg klaar met jou huiswerk, Danette? Of het jy baie leerwerk om te doen?”
“Hope. Maar ek moet eers my oorwerkte breinselle laat rus. Ek studeer in sarsies van twintig minute, anders ooreis ek my brein,” lig Danette haar in. Sy haal ’n koeldrank uit die yskas en ’n pakkie gemmerkoekies uit ’n kombuiskas en loop neus in die lug uit die kombuis uit.
“Die meisiekind amuseer my grensloos,” merk Driekie met ’n gedempte laggie op.
“Amuseer? Tannie het Job se geduld. Ek is lief vir my kleinsus, maar sy tree soos ’n bedorwe kleuter op wanneer sy nie haar sin kry nie,” sê Jana geïrriteerd.
“Sy aard na jou pa, Janatjie. Sy loop oor van selfvertroue en glo die lewe is haar speelbal, maar is eintlik ’n goeie kind. Waldus en selfs Hilda van Rooyen se broer, Danie, beskerm haar en Hilda teen jong mans wat te vrypostig raak. Danette en Hilda is gelukkig doodbang vir drank of dwelms. Ek neem aan dis Waldus en Danie wat die twee so bang gepraat het, want jy ken jou ouers: hulle glo julle is omring deur beskermengele, want hulle bespreek nooit probleme of gevare met julle nie.”
“Goeie maniere en etiket was nog altyd belangriker vir Mamma: soos om ons werknemers altyd formeel aan te spreek. Ek veronderstel skatryk mense voel meerderwaardig teenoor ons gewone werkersklas,” sê Jana mymerend.
Driekie lag spontaan. “Ek is bly jy behoort tot die werkersklas, kind,” terg sy en sit ’n koppie tee voor Jana neer. “Wanneer gaan jy kyk wie vir jou die pragtige ruiker gestuur het?”
“Ek weet al,” antwoord Jana misnoeg en maak die kaartjie traag oop. Sy snak hoorbaar na haar asem toe sy die kaartjie lees, kyk Driekie met groot oë aan en sê oorbluf: “Maar hy weet tog nie waar ons woon nie.”
Driekie glimlag ingenome. “Hy weet, want hy het ’n ruiker gestuur. Mag ek nou Danette speel en vra wie hy is?”
Jana kyk vinnig na die gangdeur en antwoord gedemp: “Die man saam met wie ek vanmiddag geëet het, Wilhelm Hoffmann.”
“Aha,” kom dit alwetend van Driekie.
“Daar is niks om oor te aha nie, tannie. Danette het my gebel terwyl ons geëet het en . . . die simpel Barry Dreyer het my voor Wilhelm gesoengroet, maar die pes is weer inderhaas weg. Barry was gretig om aan Wilhelm voorgestel te word, maar ek het voorgegee ek ken hom nie. Selfs al ken Wilhelm my ouma Engela, sal sy nooit vir hom my adres gee nie – dis nou te sê, ás sy weet waar ons woon.”
Driekie huiwer oomblikke lank, ’n kwelfronsie tussen haar wenkbroue, en vertel hoorbaar onwillig: “Jou ouma vra my nooit uit nie, maar daar is ’n geringe moontlikheid dat sy wel jul adres ken, my kind. Sien, sy en jou oupa woon al jare lank in een van die oorspronklike ou wonings in Summerside, redelik na aan die gholfbaan.”
“O,” kom dit afgehaal van Jana. “Dalk het ek haar al by ’n inkopiesentrum raakgeloop sonder om te weet sy is my ouma Richter. Dis effe gemeen van haar dat sy weier om my te ken. Ék het mos nie met haar rusie gehad nie.”
“Jou ouers is jou eerste lojaliteit, Janatjie,” sê Driekie paaiend en lê haar hand op Jana se arm. “Jou ouma doen nooit inkopies by ’n inkopiesentrum nie – so min soos wat jou ma dit sou doen. Haar persoonlike ontwerper bespreek haar nuwe uitrustings met haar en sorg dat al haar wense uitgevoer word. Geld kan die meeste dinge koop, my kind.”
Jana sluk moeisaam aan ’n mondjievol tee. “Dis waarom ek môreoggend my werkgewer in die Kaap moet bel en daarna hier werk gaan begin soek. Waldus en Danette sal doodeenvoudig met die huiswerk moet help.”
“Ons kan die vertrekke wat ons nie gereeld gebruik nie toesluit om ons huiswerk te verminder. Jy gee mos nie om as ek tydelik weer hier woon nie, Jana?”
Jana staar haar verlig aan en glimlag sku: “Tannie hoef nie eens te vra nie. Die huiswerk is my plig, want ek kan nie bekostig om . . .”
“Ek sal vir ons etes sorg en hier en daar skoonmaak,” val Driekie haar beslis in die rede. “Terwyl jou ouers oorsee is, sal daar nie partytjies deur Waldus en Danette gehou word nie, want ek sien nie vir soveel werk kans nie. Dra die blomme na jou suite toe, Jana. Ek merk jy kyk kort-kort daarna.”
Jana ignoreer Driekie se tergende glimlag en tel die ruiker op. Wilhelm is ’n bedagsame man wat haar met ’n ruiker bedank omdat hy haar tafeltjie met haar kon deel. Dis al. Wilhelm het sy Charmaine. Hy is veels te befoeterd om haar persoonlik te kom besoek en te bedank, selfs al ken hy haar adres. Maar wie het hom vertel? Dis tog jammer hy het nie vir ’n kort rukkie kom kuier nie, want sy het sy knorrige geselskap geniet. Vreemd, sy het nog nooit tevore aangetrokke gevoel tot ’n man wat nie weet hoe om te glimlag nie.
Jana kyk besorg na die lang, skraal Waldus wat, geklee in ’n vuilerige gholfhemp, jeans en drafskoene, haar privaat sitkamer binnekom, die deur agter hom toedruk en met sy duime in sy broeksakke gehaak, op haar afstap en haar skuins op haar oor soen. “Ek het nie geweet jy’t kom kuier nie. Naand, Sus.”
Sy steek haar hand uit en lê dit teen sy wang sodat hy gebukkend bly staan. “Hallo, my liewe, verslonste kleinboet. Jy het ’n stoppelbaard en jou hare hang in jou oë en kruip oor jou kraag. Is dit in die mode om arm en verwaarloos te lyk?” vra sy, haar oë laggend in syne.
Hy vee sy lang, swart kuif uit sy oë en sak op ’n gemakstoel oorkant haar neer, sy regterbeen oor die armleuning gedrapeer. “Ek is vrek arm en diep in die skuld. Ek kan jou nie sê hoe jammer ek is dat Pa-hulle weg is nie. Jy kan my nie dalk met ’n paar rand haak nie?”
“Nee, ek kan nie. Maar bieg eers: hoekom is jy vrek arm en in die skuld? Ek kan nie onthou dat jy ooit skuld gemaak het nie.” Jana doen haar bes om nie soos ’n bekommerde ma te klink nie.
“Wel . . . dis nie werklik skuld nie. Ek bedoel, ek het drie duisend rand by Pa gekry om vir my handboeke vir varsity te koop, maar toe koop ek die boeke tweedehands by ’n paar van die manne. Die rokers raak so desperaat dat hulle hul boeke spotgoedkoop verkoop,” vertel hy en pluk-pluk aan ’n los garinkie aan sy hemp, sy onderlip tussen sy tande vasgebyt.
“Jy klink soos ’n uitgeslape sakeman. Wat het jy met die res van die geld gedoen?”
“In een van Barry Dreyer se talle skemas belê. Ek sê jou, Sus, ek was só ver van my eerste miljoen af,” beduie hy met sy wysvinger en duim millimeters van mekaar af, “toe trek ’n spul ou mense kleinkoppie. Barry het my ’n ekstra duisend uit sy eie sak geleen, maar nou kan ek dit nie terugbetaal nie. Hy gaan my skuld verdubbel as ek dit nie binne ’n maand terugbetaal nie. Wat die duiwel gaan ek doen? Barry dreig om my kar te vat, maar ek dink dis op Ma se naam. Is jy seker jy kan my nie help nie?”
“Ek is doodseker ek gaan nie help om Barry se afdreiggeld te betaal nie,” antwoord Jana wrokkig. “Liewe land, Waldus, al ons vriende weet hulle moet so ver moontlik van die agterbakse Barry af wegbly. Hy het al vier, vyf jaar die reputasie dat hy bejaarde pensionarisse of goedgelowige weduwees met sy gladde tong en sjarme oorreed om geld in sy skemas te belê. Die mense laat hulle maklik ’n gat in die kop praat, want die waarde van die rand daal en lewenskoste styg. Sommige is soos jy: gierig om met geleende geld te dobbel.”
“Dobbel? Dis ’n bietjie kras gestel, Sus. Barry maak soos Pa: hy ken die geldmarkte en belê in eiendom. Pa glo ek moet eers ’n graad kry voordat hy my meer oor die aandelemark leer, maar jy weet tog ek hou die pryse van aandele dop vandat ek twaalf of dertien was. Barry is bereid