“Omdat jy jou oor jou broer, Waldus, kwel?”
“Ken jy my broer?” vra sy verras.
“Nee, maar Barry het na hom verwys. Hy het gesê hy wou jou met Waldus help. Het jou broer hulp nodig?”
Jana sit haar vurk neer en antwoord bekommerd: “Ek weet nie. Waldus is . . . Ek het . . .” Sy skep asem. “Moenie jou aan my steur nie, Wilhelm. Ons eet saam omdat ons ’n tafeltjie deel, maar ons ken mekaar nie.” Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. “Goeiste, dis byna tweeuur. Ek moet ry as ek betyds wil wees om . . . e . . . vir my volgende afspraak. Hoeveel skuld ek jou vir die ete?” Sy raap haar handsak op.
“Is dit my gesig?” vra Wilhelm.
Sy staar hom verward aan. “Ekskuus?”
“My gesig. Charmaine sê wanneer ek te lank na haar kyk, maak ek haar bang. Maak ek jou ook bang?”
“Dis nie hoe jy lyk nie, maar jou vraag oor my broer wat my ongemaklik laat voel. Daar skort niks met jou gesig nie, en jy weet dit. Wat het jou gesig in elk geval met die situasie te doen?” vra sy geïrriteerd.
“Alles. Ek en jy gesels ewe gesellig en leer mekaar geleidelik ken. Ek weet reeds jy het talle probleme, en jy besef ek dra net so ’n groot las plus vir Charmaine op my skouers rond, maar jy aanvaar my befoeterde gesig soos ’n goeie vriendin. Jy raak selfs van die opdringerige Barry ontslae sodat ons mekaar nog beter kan leer ken. Ons eet saam en net omdat ek bereid is om jou met Waldus te help, is jy skielik haastig om weg te kom,” antwoord hy gemoedelik.
“Ek is nie! Ek bedoel ek is . . . is haastig om te ry om my ander afspraak na te kom,” antwoord sy gefrustreerd en terselfdertyd skuldig omdat sy moontlik ondankbaar optree.
“As jy nie ’n selfoon het nie, leen myne, en sê vir die man jy sal ’n uur of wat laat wees. Of maak ’n afspraak vir môre of die volgende dag.”
“Ek het ’n foon, dankie, maar ek kan nie my afspraak kanselleer nie, want . . .” Sy onderbreek haar sin en soek naarstiglik in haar handsak rond toe haar selfoon begin lui.
“Dis hy. Sê vir hom jy kan nie met ’n mond vol kos praat nie,” stel Wilhelm hulpvaardig voor.
Jana tik die ontvangsknoppie en begin kalmerend: “Ek is so jammer ek . . .”
“Waar draai jy so, Jana? Dis hoe meisies aangerand en ontvoer word. Hul mense vergeet hulle by die skool en sodra die skoolhekke sluit, moet hulle op die straathoeke rondlê. Het jy geweet ek kan drugs op die straathoeke koop? Wil jy van my ’n druggie maak?” skree Danette so hard dat Jana haar foon wegruk van haar oor af en verdwaas saam met Wilhelm na die tirade luister.
Jana merk hoe Wilhelm se donker wenkbroue teen sy voorkop uitklim, bring die foon na haar oor en sê saaklik: “As jy nie saam met Hilda kan huis toe gaan nie, hardloop om die blok as enigiemand aan jou dwelms wil verkoop. Hou aan hardloop totdat jy my kar sien. Ek sal oor ’n halfuur daar wees.”
“Moenie simpel wees nie. Ek gaan saam met Hilda huis toe sodat ons weer saam ons huiswerk kan doen. Jy’t vanoggend gesê jy kom my haal . . . daarom mors ek nou ’n oproep op jou. Jy skuld my!” Die oproep word summier beëindig.
“Sy klink erger as Charmaine. Is sy ouer as ses?” vra hy simpatiek.
“Is Charmaine ses?” Jana is ergerlik oor Danette se optrede en Wilhelm se nuuskierigheid. Eers soen Barry haar asof hulle ’n vuurwarm verhouding het, en nou verskree haar ongeskikte suster haar asof sy ’n pateet is. Wilhelm glo heel waarskynlik sy is sonder ’n ruggraat of ’n persoonlikheid gebore.
“Ek wens sy was,” antwoord Wilhelm, die frons terug tussen sy wenkbroue. “Sy het my nog nooit verskree nie, maar aan die ander kant is sy so sag soos ’n malvalekker. Sy huil liewer as om rusie te maak wanneer ek haar nie haar sin gee nie. Ek wonder of dit ’n teken is dat sy nie ’n normale intelligensie het nie.”
“Charmaine klink verfynd, nie dom nie. Ek wens Danette het liewer gehuil as om so in my ore te gil. Hoekom is jy met Charmaine getroud as jy aan haar intelligensie twyfel?” vra Jana, onredelik kwaad omdat Wilhelm getroud is met ’n malvasagte vrou wat hy agter haar rug met ’n vreemde meisie bespreek.
“Ek en Charmaine is nie getroud nie,” antwoord hy moeg.
“Dan is sy nie ’n probleem nie. Verbreek jul verhouding en hou op frons. Dalk raak ’n ander meisie op jou verlief – en jy op haar, natuurlik. Hoeveel skuld ek jou vir my Griekse slaai? Die kelner het die spyskaart verwyder.”
“Betaal jou mansvriende nooit vir jou etes nie?” vra hy verwonderd.
“Nee. Ons werk almal en wanneer ons saam gaan eet, betaal elkeen vir sy eie ete en drankies.”
“Waar werk jy?” vra hy belangstellend.
“Ek het by . . .” Sy pers haar lippe ferm saam en gaan saaklik voort: “As jy vir my ete wil betaal, sê ek vir jou baie dankie. Maar ek moet nou dringend gaan.” Sy wil orent kom, maar hy gryp haar hand en vou dit in sy groot hand toe.
“Jy is doodbang om my te leer ken. Hoekom, Jana? Is jy familie van Herman Richter, die sakereus?”
Sy hoor nouliks sy vraag, haar oë vasgenael op die groot hand wat hare vashou. Sy moet probeer ontspan, maar hoe kan sy terwyl die warmte van sy hand hare omhul? Wat veroorsaak die hoendervleis op haar arms en die gevoel van opwinding in haar binneste? Is die sensasie wat oor haar senuweepunte rits ’n intuïtiewe waarskuwing dat sy met vuur speel as sy beter bevriend met Wilhelm Hoffmann sou raak?
“Nou weet ek aan wie jy my herinner: jy is ’n jonger weergawe van tant Engela Richter. Sy is jou ouma, nie waar nie?” vra Wilhelm toe sy bly swyg.
Jana probeer haar skok wegsteek en wikkel haar hand los. “Ek is jammer, maar ek ken nie ’n Herman óf Engela Richter nie. Dankie vir die geselskap en die ete. Tot siens, Wilhelm,” groet sy formeel, klou haar handsak onder haar arm vas en vleg tussen die tafels deur na die uitgang.
Sy weet nie of sy moet lag van verligting of huil toe Wilhelm haar nie na haar kar volg nie. Nee, sy het verstandig opgetree. Sy het ’n aaklige voorgevoel dat die kaartehuis van weelde waarin sy grootgeword het, binnekort ineen gaan stort. Wanneer dit in Summerside gebeur, sal dit natuurlik eers ’n groot skandaal wees en daarna sal almal vergeet van die Richters wat multimiljoenêrs was en bankrot gespeel het. Sy sien allermins kans om haar en haar gesin se verleentheid met Wilhelm te deel. Laat hy maar net ’n aangename herinnering bly, besluit sy met gedwonge aanvaarding en bring haar motor in beweging.
Jana drafstap die enkele treetjies op na die oop voordeur, oortuig daarvan dat Waldus tuis is. Sy steek in die voorportaal vas toe sy ’n vrouestem ’n bekende kleuterliedjie hoor neurie. Haar hart ruk in haar bors en sy volg met ’n gevoel van blye afwagting die klank van die stem.
Sy bly in die deur van die oostelike sitkamer staan en volg elke beweging van die ouer vrou, netjies geklee in ’n donkerblou rok, wat met ’n verestoffer in haar hand van die een na die ander meubelstuk beweeg terwyl sy neurie. Sy het tant Driekie Brewis van haar kort grys hare tot haar gemaklike skoene lief, dink Jana. Sy sluk seer aan die knop in haar keel wat haar stembande skielik smoor en fluister skor: “Tant Driekie!”
Driekie draai glimlaggend na haar, haar grysblou oë vriendelik, en maak haar arms oop. “Janatjie. Ek is so dankbaar jy is terug voordat die lawaaierige Danette of die ewig brandarm Waldus hul verskyning maak. Kom gee my ’n drukkie, kind. Jy weet ek verwag altyd ’n doodstyding wanneer jy met jou karretjie van die Kaap af huis toe ry.”
“Twee drukkies,” lag Jana en soen Driekie op die wang. “Tannie weet ek vra altyd vir Lukas du Toit om saam met my te ry. Hy is te suinig om brandstof te koop met die geld wat sy pa gereeld stuur. Hy spaar dit om meisies uit te neem, leen sy ma se kar gedurende sy vakansies of naweke tuis en betaal my kamtig deur my nou en dan op pad hierheen agter die stuurwiel af te los. Maar wat doen tannie met die verestoffer?”
“Agge nee, Jana, jy’s