“Wat krap aan jou gat?” wil TJ weet. “Jou sigrets verloor?”
“Die oukêrel is d-d-dood … morsfokken-d-d-dood.”
“Jissis, Snake! Wat meen jy?” TJ kyk om, sien Snake is doodernstig. Sy hande bewe terwyl hy ’n sigaret aansteek.
“Ek’t sy n-n-nek gebreek. Ek’t nie bedoel nie, m-m-maar …”
“Sy nek gebreek!” skree TJ. V gaan ’n gasket blaas!
“Hy’t my beetgekry aan die b-b-balls. Sy hande was s-s-soos nutcrackers. Toe pluk ek te h-h-hard aan sy ken. Ek’t net ’n s-s-snapgeluid gehoor. Nek moer toe. Af.”
“Bliksem …” sug TJ.
Daisy ry uit op die ou Brandfortpad. Hou altyd op die agterpaaie – een van V se nuwe gebooie vandat hulle amper hul gatte in Sandton gesien het.
Eers toe hulle ’n hele ent weg is, bel TJ. Hy sit die foon se luidspreker aan sodat die ander ook kan hoor. Sy hart klop in sy keel. Hoe gaan V reageer?
“Ja?” sê die manstem aan die ander kant.
“Ons is op pad. Die spoils is veilig in die kar.”
“En? Hoe lyk dit?”
“Jackpot. Het net vinnig gekyk toe ek gepak het. Drie necklaces met ’n shitload diamante, ’n moerse lot diamantringe, diamant-oorbelle, gerookte topaasringe, robynringe, borsspelde, bracelets, granaatstene wat in silwer geset is, tieroë … name it, dis daar. Tot ’n dosyn of wat Krugerrande.”
“Dit klink nie of jy juis opgewonde is nie?”
“Klein fokkoppie gehad. Die man is dood. Snake het sy nek per ongeluk gebreek. Die oom het hom aan sy knaters gegryp. Hy’t nie aspris …”
“Wat? Die man dood!”
“Ja.”
“Fokkit! Ons wil juis nie nou ’n gefladder in die cops se duiwehok hê nie. Nie so kort voor die Kaapse jobs nie. Niemand julle gesien ry nie?”
“Nee.”
Toe TJ aflui, ry hulle in stilte voort.
“Toemaar, V het julle nodig,” troos Daisy. “Op die heel ergste sal Snake beboet word.”
Haar hand gly oor TJ se been, stop tussen sy bene. Sy vroetel aan sy gulp se knoop. Hy glimlag. Sy weet ook net hoe om hom te laat ontspan.
5
Die oggendsonnetjie bak warm op Kassie se blaaie. Hy sit en lees koerant in Nuweland-polisiestasie se sementgeplaveide vierkantjie. Hy leun terug op die houtbank en steek sy eerste Lucky Strike van die oggend aan, trek behaaglik aan die soet rook. Vandat hy net vyftien op ’n dag rook, hou hy soggens uit tot sy longe nie meer kan nie.
Hy sug. Sal die verdomde goed een of ander tyd moet los. Vyftig is nie ’n goeie ouderdom om nog te wil rook nie.
Sy oë gly oor die berigte: korrupsie … stakings … hofsake … moord. Hy wil ’n berig op die binneblad oorslaan van ’n Bloemfonteinse moord, maar sy oog vang ’n naam.
Alwyn Calitz.
Hy skiet orent. Nee bliksem, dit kan nie wees nie!
Alwyn Calitz (83), bekende Bloemfonteinse sakeman en eiendomsontwikkelaar, is in sy woonhuis vermoor nadat twee inbrekers miljoene rande se juwele uit sy kluis gesteel het. Sy vrou moes vir skokbehandeling in die hospitaal opgeneem word …
Kassie se oë flits oor die res van die berig. Alwyn se nek is gebreek, sy arme vrou was in die studeerkamer vasgebind aan ’n stoel, onbewus daarvan dat hy dood lê in hul slaapkamer. Miljoene rande se juwele … Een spesifieke halssnoer met agt-en-dertig ingevoerde pienk diamante is meer as een en ’n half miljoen rand werd … Die polisie het nog niemand in hegtenis geneem nie.
Alwyn. Kassie skud sy kop stadig. Hy het nog in sy vakansietyd met Alwyn oor die foon gepraat. Die ou man het op sy ouderdom steeds voldag gewerk; Kassie moes hom in die aand bel om hom in die hande te kry.
Alwyn Calitz was een van die grootste seëlversamelaars in die land en hy en Kassie het gereeld inligting uitgeruil. By die laaste filateliekongres in Johannesburg het Alwyn nog aangebied om Kassie se verblyf te betaal in die vyfsterhotel waar hy tuisgegaan het. Hy was geskok dat Kassie in ’n eenster bly in die vrot deel van die middestad. ’n Goeie man gewees. Kassie glimlag. As multimiljoenêr het Alwyn natuurlik nie ’n benul gehad watse afskeepsalaris ’n kapteintjie in die SAPD verdien nie. Hy was net so geskok dat Kassie met ’n Greyhound-bus Johannesburg toe gekom het.
Kassie vou die koerant toe, nie meer lus om verder te lees nie. Die bleddie sigaret smaak bitter in sy mond. Hy staan op. Hy sal Alwyn se vrou moet bel wanneer sy uit die hospitaal ontslaan word. Hy ken haar nie goed nie, maar hy’t haar jare gelede een aand in Bloemfontein ontmoet toe hy saam met ’n groep seëlversamelaars by hulle aan huis geëet het. Hy onthou nou nog die lekker souskluitjies vir nagereg.
Terug in die kantoor roep Felicity hom. “Die kolonel wil jou sien. Jy’t nou lank genoeg gerus, tyd vir ’n nuwe saak.”
Kassie stap na Daniels se kantoor. Hy dink nie Felicity het ’n benul van hoeveel dossiere by hom en Rooi Els lê nie … Klein sakies waarvan die los drade nog nie vasgeknoop is nie.
• • •
Die stof lê dik op die vensterraam. Die plek is vrek vuil, besef Victor. Hy plof sugtend op die kateltjie neer. Stryk met sy hand oor die donkerblou kombers. Die woonstel staan leeg sedert sy ma se dood, en dis nou al amper twee jaar. Hy sal moet inspring en skoonmaak.
Hy glimlag wrang. Hy het tien jaar gelede presies hier gesit toe hulle by die woonstel ingebars en hom in boeie geslaan het. Vir bykans ’n derde van sy lewe is hy uit die samelewing verwyder, toegesluit om kwansuis onskuldige kindertjies teen hom te beskerm.
Vanoggend het hy nog wakker geword in die vuil, grys sel. Die bewaarder het hom vroeg wakker gemaak en na die uitpasseerkwartiere begelei. Die helfte van sy selmaats was nog nie eers wakker nie. Victor het nie in die rigting van die eenoogman gekyk nie. Gelukkig het die bliksem glo ’n lekhart gehad. Soos hy die tronkowerhede ken, sal hulle nie regtig die moeite doen om sy dood ordentlik te ondersoek nie.
Victor het sy klere van tien jaar gelede ontvang. Hy kon uiteindelik ontslae raak van die growwe oorpak en die sieklike, soet geur van tronkwaspoeier vir ewig uit sy neusvleuels verban.
Toe die laaste traliehek agter hom toeslaan en hy ’n taxi op die sypaadjie nader wink om hom hierheen te bring, kon hy nie ophou glimlag nie. Hoe lank het hy nie gedroom van hierdie dag nie?
Sy oë het die veranderde omgewing nuuskierig ingeneem: motors wat meer vaartbelyn lyk, nuwe winkelsentrums en geboue met vreemde handelsname. Die rassesamestelling van die area is opvallend anders, met talle stalletjies op straathoeke soos in die res van Afrika. Hy was geskok oor die vervalle toestand van die woonstelblok.
Tog kon niks sy vreugde demp nie. Toe hy die woonsteldeur oopsluit, het die muwwe reuk van ’n plek wat lank toegestaan het hom net vir ’n oomblik laat terugdeins. Hy het hardop gelag. Die hel is verby. Hy wil nooit weer terugdink daaraan nie. Hy wil nou net vorentoe kyk.
Die afgelope tien jaar het hy baie tyd gehad om te dink – dis immers al handeling wat nie met tralies begrens was nie. Hy’t veral oor sy toekoms probeer dink. Maar hy het hom elke keer vasgeloop in sy korttermyndoelwitte. Hy kon nie daarby verbykom nie.
Hy weet hy sal eers sy toekomsplanne kan maak wanneer hy sy selfopgelegde take uitgevoer het. Nie net ter wille van sy eie sielevrede nie, maar ook ter herinnering aan sy oupa en sy pa. En noudat hy daaraan dink: ook vir sy brose ma se onthalwe. Haar verdriet was destyds hartverskeurend.
Ondanks dié slegte herinneringe glimlag hy tevrede. Hy het gisteraand die eerste hekkie suksesvol oorgesteek.
Die fluitjieblaser is stil.