Luitenant Daan Nolte skud sy kop. Hy beduie na sersant Robbie August langs hom. “Ek en Robbie was by almal, ons het onderhoude gevoer met amper twintig huiswerkers. Niemand het Maria geken nie. Die meeste huiswerkers daar rond is sleep-ins. Hulle ken mekaar, maar hulle het geen kontak met dié wat daagliks van buite inkom nie.”
“Ek het ook met die taxibestuurders gepraat,” sê August. “Nie een van die klomp wat daai area serve weet van ’n Maria nie. Hulle drop-off zone is ook ’n hele entjie van die moordhuis af. Hulle laai soggens ’n moerse lot mense af en weet nie eintlik wie hulle is of waar hulle werkplekke is nie.”
Daniels knik. “Ek sien in die verslag julle het geen vreemde vingerafdrukke gekry nie.”
“Nee, mevrou Barlow sê die inbreker het handskoene gedra,” sê Nolte. “Da Silva het die plek gefynkam vir ander forensiese leidrade. Absoluut níks van belang gekry nie.”
“Voetspore buite?” vra Daniels.
August skud sy kop. “Die grootste deel van die erf is gepave.”
“En julle sê hy het toegang tot die erf gekry deur die veiligheidshek?”
“Ja,” sê Nolte. “Volgens mevrou Barlow is die hek al lank stukkend, hulle was van plan om dit reg te maak. Sy dink die huiswerker het dit natuurlik vir die inbreker gesê.”
“En die rollie wat julle tussen die struike gekry het? Kon julle al iets uitvind daaroor?”
“Dis ’n gesteelde Smith & Wesson, reeksnommer afgevyl,” sê Nolte.
Daniels frons. “Ek kan nie verstaan dat hy sy wapen weggegooi het nie.”
“Ek dink hy’t gepanic,” sê August. “Hy wou ontslae raak van die evidence. Natuurlik bang gewees die skoot het die aandag getrek van die security firm wat die strate patrol.”
Daniels sug. Die druk gaan opbou oor dié saak. Barlow was ’n bekende promotor in beroepsbokskringe. Die media gaan binnekort begin om die SAPD te kruisig omdat daar nog nie ’n verdagte is nie.
Hy weet ook nie of Nolte die regte speurder vir die saak is nie, maar hy het geen keuse gehad nie. Cliffie Arendse is toegegooi met ander sake en Kassie Kasselman was met vakansie. Daniels sou veel eerder die saak vir Kasselman wou gee, maar hy kan Nolte nie nou afhaal nie. Die man is desperaat om homself te bewys as ’n goeie speurder en hy verdien die kans om ’n grote te hanteer.
“Ons is in ’n bleddie doodloopstraat, kêrels,” sug Daniels.
Hy leun terug in sy stoel, wetende hy moet die storie nou subtiel hanteer. Daar is heelwat afguns onder die speurders teenoor Kasselman. Sy suksesse word daaraan toegeskryf dat hy altyd die kans kry om die grotes te hanteer. Maar Daniels weet van beter. Kasselman benader dinge anders as enige ander sterfling en dís wat hom ’n uitsonderlike speurder maak.
Daniels kug voor hy praat. “Daan, ek dink nou sommer aan iets. Waarom vra ons nie vir Kassie om gou sy oor hier te kom gee nie? Jy ken vir Kassie. Hy dink dalk aan iets wat ons nog nie oorweeg het nie.”
Nolte frons hewig.
“Nie dat ek dit oorweeg om die saak vir hom te gee nie,” sê Daniels vinnig. “Julle twee doen ’n goeie job, maar ons is nou in ’n hoek.”
Nolte haal sy skouers op. “Ek het nie eers geweet Kassie is al terug van vakansie nie.”
“Hy’t vandag weer begin,” sê Daniels.
Nolte knik. “Ja, laat kom hom maar. Dit kan seker nie kwaad doen nie.”
Die gebrek aan geesdrif is opvallend in die jonger man se stem. Daniels besluit om hom nie daaraan te steur nie. Hy trek die telefoon nader om Kassie te bel.
• • •
Victor gaan sit steunend op sy bed. Hy leun vorentoe en stut sy kop in sy hande, elmboë op sy knieë.
Alles is vir hom nog onwerklik. Dis sy laaste dag in hierdie plek. Tien jaar van foltering, vasgevang tussen vier vuil selmure, ingehok soos ’n aap in ’n dieretuin, blootgestel aan die sinlose praatjies van sewe ongeletterde skarminkels.
Die afgelope paar weke was die ergste. Hy moes die paar luukse artikels wat ’n tronkvoël met sy karige toelaag kan bekostig, gebruik om die bewaarders om te koop om hom na hierdie sel te verskuif. Ook dat hulle moes stilbly oor die afslag van twee jaar wat hy gekry het op sy twaalfjaarvonnis.
Hy kyk met weersin na sy selmaats waar hulle in twee kringe sit en kaart speel. Hy hoop om hulle nooit weer in sy lewe raak te loop nie.
Hy grinnik. Een van hulle sal hy beslis nie weer raakloop nie.
Dié gedagte laat sy maag op ’n knop trek. Die risiko is groot, maar hy het geen keuse nie. Dis noodsaaklik vir sy plan. En hy gaan nie daarvan afwyk nie.
Soos gewoonlik wanneer sy gedagtes in daardie rigting neig, sak hy op sy knieë af, strek hom op sy maag op die sementvloer uit en stoot sy lyf met forse arms van die vloer af op.
“Een, twee, drie …” begin hy saggies aftel aan die honderd-en-twintig opstote wat voorlê.
Hy word nie moeg nie, want sy kop is op ’n ander plek.
2
Daniels onderdruk met moeite ’n glimlag toe Kassie by die kantoor instap. Die veteraanspeurder het vir hom ’n nuwe windjekker aangeskaf. Weer ’n rooie soos hy die afgelope paar jaar dra, maar dié een se kleur is aansienlik helderder as die verbleikte oue. Die oue het boonop ’n winkelhaak in die een mou gehad en verskeie vetkolle en sigaretbrandmerke.
Almal by die stasie het in die stilligheid oor Kassie se windjekker geskinder. Party het tot weddenskappe aangegaan oor wanneer die onooglike kledingstuk selfs vir Kassie onaanvaarbaar sou raak. Da Silva gaan lekker smile, dink Daniels, hy het voorspel Kassie gaan ná sy vakansie terugkom met ’n nuwe een. Daar’s glo al byna agthonderd rand in die Kassie-windjekkerboerpot.
Kassie se skraal figuur met die geboë houding sak in die stoel langs Nolte af. Dit lyk altyd asof die man van onderdanigheid aanmekaar gesit is, dink Daniels. Kassie vryf oudergewoonte senuweeagtig oor sy platgeroomde hare. Daniels vermoed hy is een van net ’n hand vol wesens in die nuwe millennium wat dié spesifieke room nog gebruik om sy hare styf teen sy skedel te plak. Dis beslis nie van die blink jel wat die jongetjies gebruik om hul hare punt in die wind te laat staan nie.
“Ek vertrou jy het jou vakansie darem geniet, Kassie. Was jy iewers heen?” vra Daniels.
“Nee, ek was maar besig met my seëls,” sê Kassie verleë.
Weer sukkel Daniels om nie te glimlag nie. Kassie se beheptheid met sy posseëlversameling is ook ’n oorbekende feit én gewilde besprekingspunt by die stasie se skinderbrigade. Was die man vir drie vólle weke in sy woonstel in Goodwood met sy seëls bedrywig? wonder Daniels, maar hy vra eerder nie. Daar kan beswaarlik ’n meer sieldodende manier wees om jou waardevolle verloftyd te verwyl.
“Kassie, ek en Daan-hulle wil gou jou mening hoor oor die Barlow-moordsaak,” sê Daniels.
Kassie se wenkbroue lig. “Barlow?”
Dis vir Daniels duidelik dat Kassie nie gedurende sy vakansie koerant gelees of nuus geluister het nie. Barlow se dood was talle kere voorbladnuus en die plaaslike radiostasies gons daaroor. Hy gee Kassie ’n volledige oorsig van die gebeure.
“Ja, dit klink na ’n moeilike een … moeilik,” sê Kassie met ’n frons terwyl hy oor sy ken streel.
Daniels moet strek om die pak foto’s oor die hope lêers op sy lessenaar vir Kassie aan te gee. “Foto’s van die moordtoneel.”
Terwyl Kassie baie tydsaam deur die foto’s kyk, kan Nolte skaars sy irritasie verberg. Ná ’n lang, ongemaklike stilte kyk Kassie op na hom.
“Het