“Dania skryf eksamen en ek glo nie sy is altyd daar as jy haar nodig het nie. Vra my, ek ken tieners.”
Dora se hart krimp. Skielik sien sy Dania op haar parmantigste.
Ek gaan Londen toe! Julle het belowe as ek sestien is, gaan ek Londen toe.
Dania is Maartmaand sestien.
Dit voel vir Dora asof sy iets vashou wat in haar hand kriewel om te ontsnap. Emma het die spyker op die kop geslaan. Dania sal nie lank meer hier wees nie, maar sy wil haar goedpraat.
“Sy doen genoeg en sy het haar skoolaktiwiteite.”
“Ja, sy’s ’n oulike kind, maar volgende jaar gaan sy koshuis toe.”
“Ek en Jonnie werk saam.”
“Dis mooi en goed. Julle is ’n voorbeeld vir die dorp, maar julle word nie jonger nie.”
Emma gooi drie lepels suiker in Dora se beker, ’n titseltjie melk.
“Soet,” sê Dora toe sy dit proe. Die hand waarmee sy haar beker vashou, bewe verskriklik – amper stort sy.
“Wanneer laas het jy jou bloeddruk laat meet?” vra Emma.
“Laas saam met jou.”
“Toe was dit laag.”
“Joune ook.”
“Wel, vandag voel ek beslis beter as jy, my goeie vriendin.”
Goeie vriendin! Beste vriendin! Van al die vroue met wie sy saamwerk, is Emma die een in wie se geselskap sy die meeste tyd deurbring. Saam het hulle babas in die wêreld gebring en sien grootword, hulle het lewens gered en dooies uitgelê, geen onderskeid getref tussen ryk en arm nie.
Soggens begin hulle hul dagtaak met gebed en Bybelstudie, nie met soet tee en troos nie.
Behalwe vandag – en dis haar skuld. Sy het hier op die stoel neergeplof en tee bestel sonder om Emma in ag te neem en die Here eerste te stel. Sy is siek, maar dis omdat haar sondes haar ingehaal het. Wat sou Emma sê as sy moet weet, wat sou die dorp sê? Wie kan dit hou? Nie sy nie! Sy bars in trane uit, haar gesig in haar hande.
Emma kom staan by haar en vryf haar rug. “Huil maar, Dora, jy was lank genoeg almal se steunpilaar, en nie een van ons dink daaraan dat jy ook van vlees en bloed is nie.”
Dora haal ’n snesie uit haar mou. “Jammer … huil al … heelnag. Jonnie het my gelos dat ek laat slaap. Ek was laat … met alles.”
Sy blaas haar neus, soek nog ’n snesie en kry een in die boks op die lessenaar.
“Het julle woorde gehad?” waag Emma dit. “Ek kan mos maar vra, of hoe?”
“Daar is ’n saak waaroor ek en hy nie saamstem nie.” Dora praat asof sy kaalvoet in ’n plaat duwweltjies beland het. “Ek is … bang.”
Ek is bang die kind kry seer, ek is bang ons verwoes haar lewe, ek is bang ons spat uitmekaar.
Emma sit haar hand op haar skouer. “Wat is dit, Dora?”
Dis byna nege-uur. Daar staan ’n tou mense voor die deur. Dit is nie nou die regte tyd nie, was nog nooit nie, sal ook nooit wees nie, tensy … Sy kan huil, maar sy hou haar in. ’n Halwe waarheid, dink sy, is beter as ’n volslae leuen.
“Dis oor Jo-Anne wat Dania uitgenooi het om in Londen te gaan vakansie hou.”
Emma se oë rek. “Is dít die groot ontsteltenis, dat Dania dalk so ver weg moet gaan?”
“Dis nie net die vakansie nie.” Dora bondel die snesie op en los dit op haar skoot. Sy vat die beker tee vas en drink ’n paar slukke. “Ek is bang sy hou haar daar.”
Dis uit, en Emma lag!
“Ag nee, Dora! Hoekom sal Jo-Anne dit wil doen? Sy is jonk en lewenslustig, ’n tiener is die laaste ding wat sy nodig het om haar lewe om te krap. Ons ken mos vir Jo-Anne – sy toer die wêreld vol. Wat sal sy tog met Dania daar maak? Buitendien, Dania is ingeskryf by Hoërskool Graafwater en sy sien so uit daarna, niks sal haar in Londen hou nie. Wens Jo-Anne wil mý uitnooi. Kan ek nie in haar plek gaan nie?”
Jo-Anne het haar pastei net halfpad geëet. Sy skuif dit eenkant toe en kyk oor die eetsaal na die kinders om die tafels. Soos gewoonlik soek sy na een wat soos Dania lyk, al is dit net naastenby. Daar sit genoeg om van te kies, sommige wat sy nog nie voorheen raakgesien het nie.
“Is jy nie honger nie?” vra William en wys met sy vurk na haar bord.
“Te sout,” sê sy en skuif dit oor na hom.
Dis middagete-tyd en sy en William Morgan hou saam toesig.
“Jy mors met kos,” sê hy en val weg.
Tipies manlike alleenloper. Hy kook nie self nie, en die porsies wat hulle by die skool inskep, is belaglik klein vir ’n groot man soos hy. Soms eet sy net haar slaai en gee die res vir hom.
“Jammer ek het gisteraand se ete by jou gemis,” sê hy toe hy sy mes en vurk neersit.
Sy het hom ook na haar sopaand toe uitgenooi, maar die tyd het met sy kooroefening gebots. William kom van Cardiff in Wallis en is, soos die meeste Walliesers, geseënd met ’n stem soos dié van ’n engel – ook maar goed, want hy is nie juis aantreklik nie. Nogtans het hy ’n aantreklike persoonlikheid en kan grappe vertel wat jou laat krul van die lag.
“Vandag se pastei,” sê hy, “laat my wonder wat hulle met daai blou hoenderhaan op Trafalgar Square gaan doen.”
“Vervang met ’n pienk hoenderhen?” stel Jo-Anne voor.
Hy lag. “Julle feministe kan gerus die plein vir die manlike chauviniste los. Min mense het in elk geval ’n idee wat die haan veronderstel is om te versinnebeeld.”
Al wat Jo-Anne weet, is dat sy nie anders kan as om te glimlag as sy die slag op Trafalgar Square beland nie. Die blouselblou haantjie staan ’n kordate vyf meter hoog op sy voetstuk, ’n helder spatsel kleur op die grys plein met sy ewe grys standbeelde, almal van mans, en almal met dieselfde aangeplakte haantjie-houding – nes Danny Koopmans, die man wat haar lewe verwoes het. Eintlik sal sy bly wees as die haantjie kan bly staan tot Dania kom kuier, sodat sy ’n aanknopingspunt kan kry om haar teen die spoghaantjies van die lewe te waarsku. Hulle het selfvertroue, hulle het planne en hulle is harteloos selfsugtig.
William se stem dring tot haar deur. “Jo-Anne, het jy gehoor wat ek sê?”
Sy skud haar kop.
William glimlag. Hy het klein ogies en ’n stomp knoets van ’n neus, maar sy gesig versag as hy glimlag. “Jou gedagtes dwaal.”
Ja, na sonnige Suid-Afrika waar die kinders sit en sweet oor hul eksamenvraestelle.
Sy vat die laaste sluk van haar koffie, wat intussen afgekoel het. “Ek dink aan Dania en wat sy van daai haantjie te sê sal hê.”
“As sy hier is voor die volgende kunswerk opgesit word.”
“Sy kom in April.”
“Fantasties, jy kon toe alles uitsorteer!”
“Min of meer. My pa is makliker as my ma.”
William se glimlag verdwyn, hy lyk besorg. “Is jy seker dis ’n goeie idee, om die verlede te gaan staan en oopkrap?”
Sy knik. “Anders sal ek nooit my kind terugkry nie.”
“Jy kan haar vir goed verloor.”
“Dis die kans wat ek waag.”
“Dapper vrou.”
Die klok lui. Nog ’n uur en die skooldag is verby. Omdat dit eksamentyd is, is daar geen klasse nie, net studietoesig. ’n Halfuur