“Jy moet wakker word dat jy kan eet en jou pille drink.”
“Wil nie.”
“Dis al donker, Dora, jy het heeldag geslaap. Mevrou Van Velden was hier met sop – spesiaal vir jou. Wil jy haar teleurstel en dit nie eet nie?”
“Nie honger nie.”
Sy draai haar kop weg, die kussing is nat.
Hy bly lank stil. Sy stilte word afgemerk met uitgerekte sugte.
“Jy van alle mense, wat altyd kla oor pasiënte wat moeilik is … Kan jy nie insien dat ons jou wil help nie?”
Sy voel vere. Is sy moeilik as sy te moeg is om haar oë oop te maak?
“Moeg …” probeer sy haarself regverdig.
“Dis hoekom jy iets moet eet en bad en jou pajamas aantrek en behoorlik in die bed klim. Ek vra jou mooi. Ek het ’n lang dag gehad en daar wag stapels toetse wat ek vannag nog moet merk, wees tog inskiklik.”
Dis hoe hy maak, stel sy werk bo hare, verwag van haar om terug te staan en haar roetine by syne aan te pas, etes volgens Jonnie se vergaderings op tafel, bed toe sodat hy kan slaap, al het sy nog takies wat sy wil afhandel …
Die sopkombuiskos!
Dora sit vervaard regop. Die bedliggie is aan, die gordyne dig getrek.
“En nou?”
“Ek kan nie onthou nie!”
“Wat nie onthou nie?”
“Of ek die groente by die vleis gesit het.”
“Watter groente?”
“Die sopkombuis-stowe!”
“Ontspan, Dora, mevrou Van Velden doen dit.”
“Is sy hier?”
“Nee, maar ek is baie lus en bel haar sodat sy met jou kan raas. Gaan jy nou opstaan?”
“Sy’t gesê ek moet lê.”
“Bad en eet eers, dan kom lê jy weer. Watse pil het jy gedrink dat jy so deurmekaar is?”
Grieppille en pynpille, ou bekendes. Dis asof die moegheid haar slaan met ysterstawe.
“Ek is moeg,” sê sy.
Jonnie trek sy asem diep in. “Ek gaan vir jou water intap.”
Hoe laat is dit? Die syfers op die wekker is dof, sy kan nie sien waar die arms staan nie. Halfagt, maar dit lyk verkeerd. Waar is haar handsak met haar bril? Sy gly van die bed af. Hemel, het sy tog nie heeldag in haar verpleegstersuniform gelê en slaap nie!
Dora staan langs die deurmekaar bed en haar kop is leeg. Geen lysies nie, geen name of adresse of besoektye nie. Waar moes sy gewees het terwyl sy geslaap het? Het hulle vir haar gewag, gewonder of sy nie meer omgee nie – moed opgegee, kwaad geword? Sy sal moet uitvind waar sy oral versuim het. Siekes en oues van dae is afhanklik van haar besoeke. Sy wil die beddeken regtrek, maar dit voel asof haar arms wil afbreek. Iewers in die huis speel die radio of die televisie. Seker die televisie, hulle luister net bedags radio.
Ouma Loesie moet gewas word, haar slop moet uitgegooi word. Oupa Moses is dalk al dood. Salmientjie se wonde is nog nie gesond nie, dit moet skoon verbande kry. Wie en wat nog? Sopkombuis. Emma het dit oorgeneem.
Dora laat sak die romp oor haar heupe en moet buk om dit van haar voete af op te tel. Sy is so dronk in die kop, sy gaan sit weer op die bed, vou die romp op haar skoot en stryk en stryk dit met haar hand. Tevergeefs, die kreukels wil nie uit nie.
Here, is dit griep hierdie? Watse soort dan? Ek’t lank laas so pap gevoel. Help my, asseblief, dat ek krag kry om op te staan en my pligte te doen.
“Bad is reg!”
Jonnie loer om die deurkosyn. Sy kan nie sy oë agter sy brilglase uitmaak nie, maar hy kyk in haar rigting. Hy bied nie aan om saam met haar te loop nie.
Die badkamer is ver, op die agterstoep. Te ver.
Sy veg teen die begeerte om weer op die bed om te kantel en nie op te staan nie.
Moeisaam, versigtig kom sy orent en skuifel na haar laaikas waar sy skoon onderklere en haar japon uithaal. Jonnie is reg, sy sal beter voel ná die bad, dan kan sy aantrek en haar pligte gaan nakom, al is dit laat. Haar pasiënte is oor die algemeen geduldig. Hulle het niemand anders nie, sý moet hulle versorg.
Voel-voel in die gang af, stadig dat sy nie omval nie.
Dania staan in haar oop kamerdeur, haar oë groot.
“Kan ek Antie help? Antie moenie val nie.”
“Liewer nie, netnou val ons al twee.”
Die kind trek haar kop in haar skouers, sit haar hande voor haar mond.
“Ek sal regkom,” sê Dora en wend ’n moedige poging aan om normaal te loop. Amper struikel sy oor die treetjie af stoep toe.
Dis eers toe sy in die bad wegsink en haar oë toemaak, die water se lafenis om haar lyf laat spoel, dat sy logies kan dink. Ek is siek, besef sy, en dis meer as net griep. Die moedeloosheid wat my oorval, gaan hand aan hand met my gemoedstoestand. Ek herken dit, die gevoel het al by my kom spook, meer dikwels as Jo-Anne ’n slag haar draai hier gemaak het en ek my moet dwing om op haar positiewe eienskappe te konsentreer. Sy is my eie dogter en ek ken haar nie meer nie. Woon mos op ’n eiland wat ek nog nooit besoek het nie. Sy is nie meer die kind wat ek grootgemaak het nie, maar ’n vrou van veertig. Toe my ma veertig was, was sy ’n ouma van ses! Jo-Anne dra stywe jeans en hakskoene. Sy loop haar pad alleen, so sê sy. Vir al wat hulle weet, woon sy in sonde saam met iemand. Haar vriende van wie sy soms foto’s aanstuur, is ’n mengelmoes van nasies wat mekaar omhels. Sy skilder haar huis en omgewing in reënboogkleure, Londen asof dit die Nuwe Jerusalem is, haar kerk asof Jesus self daar preek.
Sy baklei nie, praat altyd geduldig, altyd met respek, glo daaraan dat jy jou ouers moet eer, maar dat elke mens waarmee jy te doen kry, die reg op ’n eie mening het. Jonk en oud is hier op aarde om mekaar lewensruimte te gun. Nou het sy besluit dat Dania die waarheid moet hoor!
Dora laat sak haar kop in haar hande. Hoe ontrafel jy ’n kraaines van leuens sonder om ou wonde aan die bloei te sit en nuwes toe te dien? Trane vorm warm in haar oë.
Hemelvader, is ek dan die een wat hulle nie ’n lewe saam gun nie? Is ek die een wat nie my sondes wil bely en vergifnis kry nie? Wil ek eendag voor u regterstoel staan met verwyte? Is dit U wat hierdie bal aan die rol gesit het, U wat ons dwing om ons leuens oop te vlek? Niks gebeur tog sonder u wil nie?
Iemand klop aan die badkamerdeur en sy skrik.
“Dora, is jy nog in die bad?”
Weer Jonnie.
“Ek klim uit.”
“Jy moet sê as jy hulp nodig het.”
Verbeel sy haar of hoor sy daardie tergklankie in sy stem? Sy trek nie eens meer voor hom uit nie! Daarvoor is sy te sag en mollig, papperig soos dit ’n ouma betaam. Lank terug het sy ’n lyfie soos Jo-Anne gehad. Toe sy so oud soos Dania was, was sy net so sportief, en blitsvinnig op die atletiekbaan. Niemand sal dit vandag glo nie. Daar is baie dinge oor haar wat niemand vandag sal glo nie.
Ses
Dis Vrydagaand. William het Jo-Anne gevra om saam te gaan Covent Garden toe, die Kersversierings is glo vanjaar iets om te beleef. Sy was nie juis lus nie, maar hy het haar ná skool voorgekeer terwyl sy op pad na haar motor was. Minuskule sneeuvlokkies het in die lug rondgedans en ’n yswindjie het gewaai. Sy was haastig om uit die koue te kom.
“Ons kan ’n show gaan sien,” het hy gesê. “Miskien daarna