“Popcorn en ’n Slush Puppy en iets soets om te eet,” sê Belinda. “Ek het ure laas geëet.”
“Jy’s baie expensive, Baby,” glimlag Louis voordat hy na die lang ry mense loop wat geduldig wag om iets te koop. Pakke vol goed waarmee hulle jou gaan irriteer met ’n geritsel en ’n gevroetel, dink Jurie, maar hy sê niks.
“Ek gaan piepie,” sê Belinda. “Jy word maer, koop vir jou ook ietsie soets. Jy kan doen met ’n homp kalorieë as jy my vra.”
Jurie hou haar dop terwyl sy wegstap. Die mooi lyfie in ’n nou denim en wit toppie en die bos lang blonde hare. Klein maar alles in proporsie, sê Louis altyd.
Sou hulle al saamgeslaap het? wonder Jurie. Hy wonder of Louis sal sê. Louis sal. Dis soos hy vir Louis ken: sê as iets met hom gebeur in hierdie lewe. No secrets.
Hy dink nie Belinda sal sommer nie. Maar hy wil liewer nie weet nie.
Hy konsentreer nie op die fliek nie en sukkel om die storie te volg. Die spul in die ry agter hulle wat kliphard girts-girts aan hulle popcorn help ook nie. Louis en Belinda hou handjies vas.
“Ek gaan ’n draai loop,” fluister Jurie vir Belinda.
Sy wil iets sê, maar hy glip vinnig uit. Hy ry met die roltrappe af en stap by die sentrum se sydeur uit, verby die mense wat sit en eet by die string restaurante in die stegie.
Op die sypaadjie gaan staan hy en steek ’n sigaret op. Trek diep in en blaas die rook lank en stadig uit. Hy staar na die motors wat by die parkade inry. Almal lyk reg vir die aandjie se pret.
Hy kyk op sy selfoon hoe laat dit is. Die fliek moet darem nou einde se kant toe staan. Hy stap terug. Hy gaan sê hy het maagpyn of iets en dat hy die burger-etery gaan oorslaan. Miskien sal hy sê hy moet gaan leer, maar hy twyfel of hulle hom sal glo. Hy gee nie om nie.
Miskien kan hy nog vanaand met iemand se kar gaan ry. Dit sal hom laat chill, weet hy.
HOOFSTUK 7
Hy gaan nie vandag skool toe nie. Hy vermoed hy gaan môre ook nie skool toe nie. Hy was actually nogal min by die skool sedert Januarie.
“Bly jy weer by die huis vandag?” vra Hope met ’n houtlepel in die hand.
Hy ignoreer haar vraag. “Wat eet ons?”
“Jy soek vir moeilikheid, Jurie, jou pa is nie dom nie.” Sy rinkel verontwaardig die breekgoed in die wasbak. “Hoe gaan jou punte lyk? Jy’s in matriek! Jy kan nie vir altyd hier rondhang nie.”
“Jy gaan beroerte kry as jy so stres,” sê hy terwyl hy sy bord vol skep. “Jy kook mooi, Hope. My mammie het jou mooi geleer, of het jy my mammie geleer? Useless information. Ek wil actually nie weet nie.”
Hy gaan sit voor die televisie en blaai al kouende deur die kanale. Daar’s niks wat hom interesseer nie.
Sy geblaai stop by kanaal 302. Die animasiekanaal vir die liewe kindertjies.
Hy glimlag. Hulle sal nog leer die lewe is meer as ’n vrolike geboink. Hy het ook jare gelede gedink die lewe is ’n vrolike gehuppel in reënboogkleure en dan live almal happily ever after.
Hy skakel die televisie af en dwaal ’n ruk deur die huis. Gaan staan in sy pa se kamer. Die kamer ruik nou net na sy pa en nie meer na sy ma nie.
Naskeermiddel en deodorant, wit seep in die badkamer. Die vloer voor die stort is nat.
Hy maak sy pa se kas oop, tel een van die sakdoeke op wat in ’n netjiese hopie lê en ruik daaraan. Die kas se binnekant het ’n reuk wat iets in sy onderbewussyn wakker maak. Hy weet nie wat nie.
Sy pa het ’n spesifieke reuk, soos wat sy ma altyd gehad het. Dit laat hom na iets verlang, maar hy kan dit nie vasvat nie. Dis net ’n gewaarwording, buitelyne sonder inhoud. Soos die prentjies wat hy kleintyd met vetkryt ingekleur het. Hy weet net daar was ’n tyd toe hy anders oor sy ma en sy pa gevoel het as nou. Maar dis vaag en hy kan nie woorde of emosies daaraan koppel nie.
Hy ruik aan sy pa se pakke wat in ’n netjiese ry hang, die dasse, die kouse netjies in bondeltjies gevou, almal in skakerings van grys. Hy maak die leerhouertjie met mansjetknopies oop. Sy pa dra dit nie meer nie.
Soos ’n spul soldate op aandag staan sy pa se leerskoene netjies in gelid onder sy pakke. Hy buk en tel een op, ruik daaraan. Dis asof sy pa en die skoene wat na mens ruik nie een prentjie wil word nie.
Wanneer het sy pa soos water geword wat na niks proe nie? Was sy pa maar altyd so?
Hy maak die kas toe en gaan sit op die groot bed met die roomkleurige duvet. Hy kyk deur die venster waar hy die sproeiers in die tuin hoor spuit. Piet is vandag hier, onthou hy. Die gras gaan gesny word en dan die kante. Die tuin gaan lyk soos die slag toe sy ma dit oorweeg het om vir ’n tuinkompetisie in te skryf.
Hy draai na die ingeboude kas aan die linkerkant, naaste aan die venster. Sy ma se kas. Hy kyk aandagtig na die wit deur en die deurknoppe met ’n blommetjiepatroon wat sy nog spesiaal van iewers ver bestel het.
Hy staan op en stap tot voor die kas. Huiwer voor die deur. Vat aan die blommetjieknop. Draai dan om en loop uit.
In sy kamer gaan lê hy op die bed. Staar na die plafon. Kom ná ’n rukkie orent en gaan sit voor sy lessenaar. Maak Outlook oop. Hy dink eers en dan tik hy:
Liewe Maanskyn
Wimp het gister ’n spoedkaartjie deur die pos gekry. Moenie lag nie, ek wou ook eers.
Ek is seker jy sou dit ook nie glo nie. Kan hy actually vinnig ry? Maar toe sien ek sy gesig. Dit het gelyk soos daai dag toe hy van die polisiestasie af gekom het.
Onthou jy nog daai dag, of was dit toe al lekker pilletjie-pilletjie vir jou? Ek wou eers vir hom sê: Wimp, dis net ’n blerrie spoedkaartjie. Jy hét mos R500 vir ’n spoedkaartjie.
Toe gaan sit hy by die kombuistafel en kyk lank na die suikerpot. Toe skuif ek liewer. Party issues is nie joune nie.
Boetie
(Onthou jy nog, of is ek nou confused? Was dit Ouma wat my so genoem het of was dit jy? Whatever. Boetie, nogal. Julle was oorspronklik.)
Hy lees die boodskap ’n paar maal, sy vinger gereed op die stuurknoppie. Dan vee hy dit uit en skakel die rekenaar af.
Hy gaan lê weer op sy bed.
HOOFSTUK 8
En dan land jy per ongeluk in die skool se swembad, in die tweede kwartaal van graad 11 toe jy sestien jaar en nege maande oud was.
Net toe jy begin dink het dis nou verby: jy het nou die pogings om die bekers weg te dra, ontgroei.
Die gestoei op die rugbyveld, die gekreun op die tennisbaan, die simpel gehollery saam met die res van die landloopspan tussen die jakarandabome en blaffende honde in Pretoria se strate. Dis vir altyd verby, dis agter jou, jy het dit nie meer nodig nie. Jy gaan nie eendag geraam met ’n stralekransie bokant jou kop teen die skoolsaal se muur hang nie, en dis lankal nie meer vir jou ’n issue nie.
Die swemoefening so vroeg in die oggend was die nuwe modegier vir wanneer jou strafpunte by die skool kookpunt bereik het. Belaglik, soos baie dinge wat die powers that be in dié plek bedink.
Maar jy hou jou in. Whatever. Jy was baie lanklaas in die swembad by jou eie huis. Swembaddens is nie eintlik meer jou ding nie.
Bibberend staan julle in ’n ry op die rand van die swembad, die graad 11’s met die strafpunte wat so mooi aangeteel het. Hande oormekaar oor die crown jewels gevou, staar julle na die jong, fris onderwyser, die kampsersant wat swem afrig. As hy nie by die swembad rondhang nie, beman hy die IT-sentrum.
Al is dit nou eers April, is dit koud. Die eerste periode van die dag om presies te wees, en die son het nog nie die skaduwees agter die swembad se hoë muur verdryf nie.
Die