Dikketjie en die Wannabe troos en huil so ’n bietjie saam.
Wannabe gee ’n sneesdoekie aan. Cindy Senekal snuit.
“Hy’t gesê, ek’s my eie baas, ek plug by jou skedule in …”
“Het hy oor sy werk gepraat?”
Sy knik, snuit en sê dan: “Obviously. Sy werk, sy start-up was sy lewe. Dis letterlik ál waaroor hy gepraat het.”
“Het hy ooit iets gesê oor moeilikheid? Iemand wat vir hom kwaad is?”
“Jy’t hom nie geken nie …”
Obviously, dink Cupido.
“Almal was mal oor hom. Álmal. Hy was nooit in ’n slegte mood nie, hy was hyper, die hele tyd. Hy’t gesê, Cin, ek is op ’n permanent high, life’s an adventure, kyk net waar het dit my gevat.”
“Maar ek hoor daar was mense wat hom met die dood gedreig het.”
Groot oë. “Genuine?”
“Hy’t nooit iets daaroor gesê nie?”
“Nee! Wie’t hom gedreig?”
“Alibi het emails gekry. Anonymous.”
“Ek weet niks daarvan nie. Hy’t … nooit iets gesê nie.”
“Hy’t niks gesê van probleme, bietjie tension by die werk nie? Of in sy personal life?”
“Nee, ek sê jou, hy was die positiefste mens in die hele wêreld …”
“Okay. So jou statement sê julle het die aand wat hy verdwyn het ’n dinner date gehad.”
“Ja.”
“Sy foonrekords sê jy was die laaste een met wie hy daai dag op sy sel gepraat het. So vieruur se kant. Wat het julle gepraat?”
“Oor die aand se date.”
“Net die hoe laat en waar?”
“Ja.”
“Jy sou hom by die restaurant ontmoet?”
“Ja.”
“Hy’t jou nooit by die huis kom oplaai nie?”
“Altyd.”
“Hoekom nie daardie aand nie?”
“O. Ja … Hy’t gevra of ek hom by die Deli sal kry.”
“Hoekom? Het hy gesê?”
Sy frons. Die twee vriendinne frons empaties saam. “Nee. Dis weird, noudat ek daaraan dink … Met ons eerste date het ek hom by Liza’s gekry. Jy weet, ek wou seker maak hy’s legit … Maar van toe af het hy my altyd kom haal. By die werk, of hier. Tot daardie aand.”
15
Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: My pa het die familienaam gekry. Guillaume. Die probleem was, dis omtrent al wat my pa van die Du Toits se kant af gekry het. Hy het baie meer getrek op ouma Hettie se kant van die familie. Hy’t ook nie oupa Jean se sportgene gekry nie. Dis ook seker nie heeltemal …
Met my seun se geboorte ses weke terug het ek soort van ’n openbaring gehad. Mens kyk na jou kind, en jy soek jouself in hom. Jy wil so half hê hy moet soos jý wees. Vader weet waarom, want ek het so baie foute, dis seker maar ’n ego-ding, of miskien is ons so gebou, soos die evolusie-ouens sê – hoe meer ons van onsself in ons kinders sien, hoe meer wil ons hulle koester, of so iets. En dan kyk jy na jou kind, en jy sien stukkies van jouself, en stukkies van jou vrou, maar dis eintlik belaglik, want kinders … mense is soos ’n komplekse wynversnit, daar is stukkies van oupas en oumas, pa’s en ma’s, ’n hele mengelmoes. Maar eintlik is hulle heeltemal nuut. Uniek. Hulle eie mens.
Toe ek dit besef, toe het ek weer oor my pa gedink. Hy was nie regtig soos Ouma se mense nie. Hy was net hy.
Pa was … Dit is moeilik om hom te beskryf, juis omdat hy so deurgeloop het onder oupa Jean. Pa was sag, maar nie swak nie. Pa was sensitief. Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, want ouma Hettie was nie eintlik sensitief nie. Sy was stérk. Miskien kon sy nie bekostig om sensitief te wees nie … Ek weet nie …
Nou moet jy kyk hoe die sterre opgelyn het vir Pa: Oupa Jean was nie in sy hart ’n boer nie. Hy het nie regtig ’n liefde vir die wingerd of wynmaak gehad nie. Wyn, die mistiek, die geheimenisse daarvan het hom ontwyk. Maar hy wou gesien word as ’n wynman, as die baas van die geskiedkundige plaas, hy wou die aura van wynboer hê as hy saans in die Stellenbosch Klub saam met sy maters gaan drink het.
Hy wou sy KWV-kwota … As jy ’n kwota gehad het, kon jy elke jaar soveel kiste Roodeberg en ander wyne by die KWV kry, en dan was almal jou vriend. Hy wou daardie … aansien ook gehad het. En hy het vasgeklou aan die aura van die amper-Springbok, die ou wat vir sy land sou gespeel het, as dit net nie vir die beenbreuk was nie.
Hy wou daardie somtotaal van ’n reputasie, daardie beeld hê wanneer hy by vroue aanlê. Dit was sy ander ding, behalwe die hand-om-die-blaas-drinkery saam met pêlle by die klub. Die affairs wat hy gehad het. Chronies, dis asof hy nie kon vrede maak dat sy goue losloopjare deur Ouma se swangerskap weggevat is nie, hy wou nog die player wees, die ou wat kon vat en altyd kon kry.
So oupa Jean was afwesig, in die eerste ses, sewe jaar ná my pa se geboorte. En toe is Pa skool toe, en hier in graad twee of drie, toe speel hy sy eerste rugbywedstryd, en oupa Jean sien skielik hoe sy seun die eer van die Du Toits moet herstel, hoe sy seun die hoogtes gaan bereik wat hom ontneem is.
Ouma Hettie het vertel, sy het haar seun én die afrigter én die skeidsregters almal ewe jammer gekry, want oupa Jean het langs die veld gaan staan, met oefeninge en met wedstryde, en op almal geskree. En hy het skielik self vir Pa begin afrig op die plaas. Bal gegooi en geskop, maar sonder geduld. Hy wou gehad het Pa moet sy natuurlike talent hê, en hoe meer hy besef het dit is net nie daar nie, hoe meer het hy geskree en geraas.
So het dit vir drie seisoene aangegaan. Ouma het vertel sy moes dit al vroeër gestop het, maar toe is sy al swanger met haar derde kind, en sy moet die plaas én die huis aan die gang hou, en daar was minstens interaksie tussen pa en seun, al was dit nie positief nie.
Maar toe gryp sy in, toe Pa elf of twaalf was, toe sê sy vir oupa Jean dis genoeg. Aanvaar dat die kind nie jou talent het nie. Ondersteun hom, laat hom die sport geniet op sý manier.
Oupa Jean het uitgestorm klub toe. En van daar af het hy net nooit weer regtig in sy seun belanggestel nie.
16
Cupido kry eers kans om alleen met Cindy Senekal te praat wanneer sy saam met hom kar toe stap.
Hy moet haar vra oor die dagga in Richter se Audi. En die seks in die kar, want die forensiese verslag sê die semen op die sitplek was minder as twee weke oud. Touchy subject, even in this day and age, jy kom nie net uit en jy vra: “Luister, het jy vir Richter in die kar genjaps?” nie, ’cause why da’s loss en grief, al is die helfte so bietjie geforce. As die njaps nie met haar was nie, gaan sy uitfreak. But then it’s important for the investigation, so vra moet hy vra.
As Benna hier was …
“Juffrou,” sê hy, dankbaar vir die halfdonkerte van die straat, “ek moet ’n klomp forensic goed probeer uitklaar. En van daai is so bietjie uncomfortable …”
Sy kyk vraend na hom. Help hom nie.
“Hulle het dagga da’ in sy glove box gekry …”
“Dagga?” Haar teenvraag kom te vinnig, en die verstywing van haar lyf gee haar weg.
“Ek is nie hier oor recreational drugs