14
Vaughn Cupido volg die skakel wat John Cloete vir hom gestuur het na die webwerf van Netwerk24.
Dis ’n storie wat in Rapport was. Die opskrif sê: Isabeau gesels met: Ernst Richter. Baas van Alibi wil nooit sy eie produk gebruik nie.
Hy begin lees:
Op sy swart T-hemp staan: “I went outside once. The graphics weren’t that great.”
En nou is hy weer buite, op die stoep van die Häzz-koffiewinkel in Stellenbosch se Ryneveldstraat (“want daar is wifi,” sê hy toe ons die afspraak maak). Ek vra of die “graphics” al beter is. Hy kyk na my. “Baie beter, noudat jý hier is …”
Ernst Richter (30) lag dan aansteeklik, hou sy hande verdedigend voor hom: “Dis te smooth, netnou skryf jy ek is ’n pick-up artist …”
“Ís jy?”
“Nee! Maar ek het ’n sin vir humor. En jy het my die gap gegee.”
“Vat jy altyd die gap?”
“Darem nie altyd nie.”
Een gap hét hy gevat – die een wat ontstaan het toe Suid-Afrikaners in hul massas begin aansluit het by webwerwe vir egbrekers: Richter het die afgelope week landwyd die voorblaaie gehaal met Alibi.co.za, ’n webwerf en slimfoon-app wat ontrouheid-leuens teen ’n prys verkoop.
“Sjoe, as jy dit só stel, klink dit vir my ook uncool,” sê hy, maar die groot glimlag wankel nie ’n oomblik nie. Dalk omdat vyftienduisend mense al sy app afgelaai het?
“Die publiek se steun is ’n groot verligting,” sê hy glad en vinnig, asof ’n mediakonsultant hom voorgesê het. “Ons het nie geweet wat om te verwag nie. En dis net weer ’n bewys: Daar is nie iets soos slegte publisiteit nie.”
Dít het hy in oormaat gekry, uit alle oorde: dominees, Christelike en gesinsorganisasies, selfs die Minister vir Vroue in die Presidensie. En ’n woordvoerder van die Departement van Justisie wat geskimp het dat die maatskappy se produkte “dalk nie wettig” is nie.
“Ons het ons huiswerk gedoen. Daar is nie ’n enkele aspek van Alibi (hy sê die woord op Engels) wat nie absoluut wettig is nie. Hulle kan maar kom kyk.”
Hy lyk nie na die baas van ’n liegplaas nie, hierdie oopgesig-klong, die enkelkind uit die Kaap se noordelike voorstede wat eens drome van kunstenaar wees gekoester het. Hoe op aarde het hy tot hiér gekom?
“Aag, jong, die lewe is mos maar wonderlik …”
Cupido se lesery word onderbreek toe sy selfoon lui. ’n Onbekende nommer. Hy kyk na die tydsaanduiding op sy selfoon – dis al amper tienuur.
“Cupido.”
“Dis Cindy Senekal.” Haar stem is versigtig en ’n bietjie bang.
Hy haat die oordra van die doodstyding. En die probleem is, hy weet nie regtig hoe naby Senekal aan Ernst Richter was nie. Die dossier sê net “a friend of the missing person”, maar uit die verklaring lyk dit baie na girlfriend. Dis hier waar hy vir Benna nodig het, met sy groter takt.
“Dankie vir die terugbel. Ek is baie jammer, maar ek het nie goeie nuus nie …”
Volkome stilte aan die ander kant.
“As jy dalk iemand by jou het wat jou kan ondersteun?”
Geen reaksie nie, tot hy vra: “Is jy daar?”
“Is Ernst dood?”
“Ek is baie jammer. Sy liggaam is vanoggend gevind.”
Sy uiter ’n enkele geluid van pyn. Cupido weet nie wat om te sê nie.
“Ek het so gedink,” sê sy eindelik.
* * *
Bietjie weird, in Cindy Senekal se sitkamer.
Sy is ’n blonde poppie: lang, reguit hare, slanke lyf, groot heuningbruin oë. Middel twintigs, baie mooi.
Tien voor elf, in ’n wit meenthuis met ’n groen dak in Kleingeluk, Stellenbosch, sit sy oorkant Cupido. Haar twee vroulike huismaats is boekstutte weerskant, elkeen hou een van Cindy se hande vas. Al drie het gehuil, al drie is nou in beheer.
Cindy, die sexy een, dan die dikketjie links, en regs is die wannabe wat nie so mooi soos Cindy is nie, maar baie try-hard – selfde blonde hairstyle, the works. Cupido weet, jy kan maar kyk: Mooi girls kom altyd met daai entourage, or a close facsimile thereof.
Die “bietjie weird” is die drie whitey girls se houding. Nie die eerste keer dat hy dit sien nie. Jy kry dit by die jonges wat nie die oorledene baie goed geken het nie. Hulle het nog nie regtig personal loss ervaar nie, hulle dink hulle weet hoe dit moet voel en lyk, nou fake hulle so bietjie. Dis asof hulle ’n reaksie na-aap wat hulle in ’n cop show op TV gesien het. Not quite convincing, maar dis omdat hulle nie heeltemal emotionally invested was in die victim nie. Hy was eintlik net ’n kennis.
“Dit het net so begin ernstig raak,” sê Senekal, onbewus van die woordspeling. “Ons het nie meer ander mense gedate nie.”
“Hoe lank was julle saam?”
“Ons het in Oktober vir mekaar op Tinder gekry. Maar ons het eers hier teen begin November regtig … jy weet …”
Dikketjie en Wannabe knik ernstig en vroom.
Hy weet nie. Hy’t al gehoor van Tinder, ’n dating app vir smartphones. Dis glo redelik brutal, die manier hoe jy iemand kan reject. Of blok.
“Julle het eers begin November begin date?”
“Ja. Jy weet … Ons het eers op Tinder gechat vir ’n ruk. Jy moet so versigtig wees, daar’s so baie weirdos daar buite …”
Dikketjie en Wannabe knik beamend.
“Het jy geweet wie hy was?”
“Obviously. Jy sign in op Tinder met jou Facebook profile.”
“En sy Facebook profile sê hy’s die baas van Alibi?”
“Obviously.”
“Wanneer het julle net vir mekaar begin date?”
“Twintig November,” kom dit vinnig en seker, asof dit ’n bakendatum is.
“’n Week voor hy verdwyn het?”
“Ja.”
Hulle het mekaar skaars geken, dink hy. But it’s a brave new world.
“Okay, vat my nou net deur julle relationship. Julle het op Tinder gechat tot einde Oktober. En toe begin julle mekaar sien vroeg November.”
“Ja. Ons eerste date was lunch by Liza’s. Jy weet, in Dorpstraat. Hulle peanut butter cheesecake is divine. Ek het vir hom gesê dis my favourite, toe surprise hy my. Ernst was mal oor surprises. Hy’t my in ’n helikopter om Tafelberg geneem.Van die Waterfront af. Hy’t net gesê, bring jou shades, Cin, toe gaan vlieg ons …”
“Hy’s ’n pilot?”
“Nee, nee, hy’t ’n helikopter gehúúr.”
“Hoe gereeld het julle mekaar gesien, ná die eerste date?”
“Die laaste twee weke voor hy … weg is …” Haar mooi gesig vertrek weer, en die twee vriendinne druk haar hande en vryf haar arms. “Sorry, ek