“So het meneer Meiring gesê, my kind, en dis hoekom ek vir jou ’n fles tee en ’n tuisgebakte koek gebring het.”
Hennie het net ’n glas melk en die laaste koue vleispasteitjie vir ontbyt gehad. Sy is honger en moeg gewerk, maar dis nie die enigste rede waarom sy bly is oor die gawes wat tant Lettie Jansen gebring het nie.
Oor ’n tweede koppie stomende tee vra sy huiwerig: “E … Mevrou, ek is dankbaar dat u gereeld sal inkom om met die afstof en skoonmaak te help, maar sien u nie kans om u huishoudkundige talente verder uit te brei nie?”
Hennie sien dat die ou dame nie mooi verstaan nie.
“Ek het groot planne. Ek wil ’n teekamer open. Die meeste van die boere kom ver om boeke uit te neem en ek dink ’n lafenis sal welkom wees. Die toegegaasde stoep is ideaal vir daardie doel. ’n Teekamer sal ekstra fondse inbring en ook dien om klandisie te lok. Ek het die ruimte. Stoele en tafels en skottelgoed sal ek koop. Al wat ek nog nodig het, is ’n baasbakster en iemand wat lief is vir gesels.”
Hennie het die laaste vereiste as lokaas bygevoeg. Tant Lettie Jansen is ’n ideale kandidaat. Sedert sy ’n halfuur gelede binnegestap het, het sy land en sand aanmekaar gesels. Van Hennie se eksentrieke oupa Drik, van die Meirings, van talle ander boere in die distrik, van haar kinders en kleinkinders wat in verre Kaapstad woon en van die goeie reëns wat net op die regte tydstip vir die beeste en ertappellanderye gekom het. Hennie het dit moeilik gevind om te reël op watter dae die ou dame Sesdorings toe sal kom om haar te help en die kwessie van losies het sy nog nie eers kon opper nie.
“Haai, hartjie, ek weet nie of iemand my ’n baasbakster sal kan noem nie,” sê tant Lettie met valse beskeidenheid.
Hennie weet watter antwoord van haar verwag word. Sy beduie na die heerlike sjokoladekoek op die eetkamertafel. “Daar is die beste getuigskrif wat enigiemand kan verlang. En as u altyd sulke lekker tee soos hierdie kan maak, hoef ons nie eers die biblioteek aan die gang te hou nie. Dan open ons liewer ’n restaurant.”
Hennie kan sien die ou dame geniet die komplimente.
“Jy is ’n liewe kind, wat weet hoe om ’n ou mens se hart bly te maak,” sê tant Lettie. “Hoekom was meneer Meiring bang jy en ek sal dalk nie kan stryk nie?”
Hennie vermoed dat Donnie die ou dame wou waarsku om miskien nie so baie te praat nie. Sy lug egter nie ’n opinie nie.
“Wat sê u, Tante? Sal ons twee vennote word?”
“Ek weet nie veel van boeke nie, my kind,” sê tant Lettie twyfelend. “Jou oupa wou my nooit hier toelaat nie. Hy het gesê ek kan tog nie lees nie, so ek moet met my besems en stoflappe maar net in die kombuis bly.”
“Tante hoef nie in die biblioteek te help nie. Die teekamer sal Tante se afdeling wees.”
“Nou maar, hartjie …” Die fletsblou oë agter die bril begin blink. “Dan dink ek sê ek ja.”
Hennie glimlag breed. Sy steek haar regterhand uit. “Welkom as vennoot in die nuwe besigheid, Talettie! Ons moenie al daardie koek opeet nie. Dalk kan ons dit bêre en volgende week teen halfprys aan die kliënte verkoop.”
“Nee, ek sal nuwes bak. Ek het baie resepte. Gaan ons etes ook verkoop?”
“Nee, ek dink voorlopig net koffie, tee en koek. Miskien worsrolletjies of botterbroodjies ook. Tante sal nie heeldag aan diens hoef te wees nie. Ek het gereken net van tien tot twaalf soggens en van twee tot vieruur in die middae. Ons sal moontlik iemand in diens neem om Tante met die opwas te help.”
Tant Lettie Jansen hou twee vereelte hande uit.
“Wat is met hulle verkeerd? Ek kan mos self opwas en sorg dat daar nie van jou nuwe skottelgoed breek nie, my kind.”
“Dink Talettie nie ons moet dalk plastiese koppies en pierings en borde kry nie?”
“Nooit gehoor nie! Hierdie nuwerwetse Japanse goed kan nie ’n porseleinkoppie se plek vat nie. Laat mos die tee soos blik smaak.”
Hennie het dit nog nooit agtergekom nie, maar sy stry nie, te bang haar nuwe vennoot trek kop uit. Sy maak ’n vinnige finansiële berekening, hoop dat die motorhawe haar nie ’n fortuin sal laat betaal nie en dat die elektrisiën redelike fooie het. Dan knik sy.
“Goed, ons koop Chinese koppies.” Sy kry lag toe dit lyk of die murg-en-been-boeretannie weer haar neus wil optrek teen die buitelandse goed. “Bone china, Tante. Noritake of Royal Doulton. Net die beste vir Sesdorings Eiendoms Beperk.”
Tant Lettie Jansen is baie opgewonde oor die voorgenome besigheidsonderneming. Na hulle die finansiële aspekte van salaris, aanvangsvoorrade, kapitaaluitleg en spyskaartpryse bespreek het, sou sy graag nog wou kuier. Dog dis twaalfuur en sy staan teësinnig op.
“Van sit en staan, kom niks gedaan. My gekletsery sal nie die stof en spinnerakke laat verdwyn nie. Gaan jy maar met die boeke aan, hartjie, dan maak ek die biblioteek en woonstel skoon en gaan kyk dat daardie elektrisiën sy werk doen.”
’n Juweel, besluit Hennie. Sy kon nie ’n beter vennoot as Talettie Jansen gekies het nie. Sy voorsien ’n florerende besigheid en ’n mooi gesindheid tussen haar en die ouer dame. Tant Lettie het met gretigheid ingewillig om by haar te loseer. Sy is nie baie gelukkig by die mense vir wie sy op die oomblik huishou nie. Dis ’n jonggetroude paartjie met baie geld, maar sy kan nie met Sylvia Kirsten oor die weg kom nie. Mooi vroutjie en sy hoor Sylvia was glo ’n model in die stad, maar al wat sy heeldag wil doen, is om haar naels rooi te verf en in die son langs die swembad te lê. En dit nogal in so ’n skrapse ou dingetjie wat nie eers alles toemaak nie … En die rusies …! Dis seker omdat haar man baie ouer is en sy jong vroutjie nie verstaan nie. Nie dat ’n mens wil skinder van jou werkgewers nie, maar … maar hulle drink ook. Dis nie ’n plek vir ’n Christenmens nie, as Hennie sal verstaan wat sy bedoel …
Hennie het verstaan en begrypend geknik. Nee, Talettie sal baie gelukkiger wees om ’n teekamer te bestuur en so tussendeur te verneem of haar kliënte nie dalk ’n neef of ’n niggie of ’n vriendin of iemand het wat dalk ook sal belangstel om ’n lid van Sesdoringsbiblioteek te word nie. En hulle moet dit meld dat die nuwe eienares van plan is om die boekevoorraad aan te vul, sodat daar vir elkeen se smaak boeke te kus en te keur is …
“Dis die gees, Tante,” het Hennie gelag. “Sê vir hulle ek gaan een naweek spesiaal stad toe ry om boekklubboeke uit te soek en die jongste landboupublikasies aan te koop.”
“Ja, dis die gees,” herhaal Hennie geamuseerd toe sy hoor hoe daar in die kombuis kaste uitgeskrop word en tant Lettie die voorraad panne ondersoek om te besluit of hulle goed genoeg is vir die baksels vir die nuwe teekamer. Sy glimlag en verdiep haar weer in die outeursregister wat sy volgens die Dewey-stelsel begin aanlê het. Sy weet nie hoe haar oupa ooit in staat was om ’n boek op te spoor nie. Sover sy kon vasstel, het hy geen klassifikasiestelsel gehad nie. Dis digbundels, vakliteratuur, romans, reisbeskrywings, outobiografieë, woordeboeke en Engelse boeke sommer alles deurmekaar. Geen wonder hy het ’n ledetal van net driehonderd gehad nie. Hier is ook geen nuwe boeke nie en ’n minimum populêre lektuur en tydskrifte.
Om twee-uur kom tant Lettie die biblioteek met ’n skinkbord stomende kos binne. Sy lag vir die verrassing op Hennie se gesig.
“Ja, ek het daardie elektrisiën gewikkel! Weet mos te vertel tussen een en twee is sy etensuur, dan werk hy nie, dan sit hy in die son met sy toebroodjies. Toe vra ek hom wat moet ons intussen een en twee eet as hy te lui is om sy werk te doen. Die yskas en die stoof en die ligte werk nou weer. Daar was ’n kortsluiting. Hy sê die bedrading is oud, maar dit weet ek self. In die tien jaar wat ek vir jou oupa gewerk het, moes ek kort-kort op ’n primusstofie kos maak.”
Hennie het ’n paar kosbare ou boeke onder die stof op die solder gevind. Sy is opgewonde daaroor en bly toe Donnie Meiring aan die voordeur klop sodat sy haar vreugde met iemand kan deel.
“Kyk hier! ’n Getekende eerste uitgawe van Johannes van Wyk! Hier